Preek- 14 April 2019: Wie sal ek toelaat in my skoene? - Luk 10:25-37
Verwelkoming:
Mag jy bewustelik op pad wees, saam met Jesus na Jerusalem hierdie week. Dit is regtig waar die tekkie die teer slaan, as jy padlangs agter Jesus aan wil stap!
Stilword:
Wat moet jy vir Jesus gee? Wat wil jy van Hom kry vanoggend?
Seëngroet:
Jesus kan vir jou gee wat jy vanoggend die nodigste het: hoop, troos, krag, liefde, vrede, rus…
Skriflesing:
Luk 10:25-37
Preek:
Dit is ons tweede keer wat ons stilstaan by hierdie tema en ook by hierdie gelykenis. Die ritme van die skoen nooi ons uit om op ons disspelskapspad te vra: In wie se skoene nooi Jesus my uit om te loop? Ons het laasweek geleer dat die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan ons beweeg nuwe oë te kyk na die mense wat ons as vyande beskou of eerder wil vermy. Die skandaal van die gelykenis is, dat die Samaritaan, dalk Jesus self is, en dat ons die God wat veral in die gesig van die “ander” (selfs ons vyand) na ons toe kom, heeltemal kan mis.
Ons kyk weg en ons vermy sekere mense (soos die priester en die Leviet), want ons kan ons hande vuil maak, ons kan ons reputasie verloor en ons kan onsself baie moeite op die hals haal. Maar as draers van die naam van Jesus (God se Seun wat in ons almal se skoene kom loop het) kan ons nie anders nie. Ons moet (al is dit sukkelende, klein tree) begin gee, nader aan ander. Miskien moet ons net eers begin om die ander se nood raak te sien en om Jesus se hart van “innig jammer kry” aan te leer.
Deesdae dwing soveel onopgeloste kwessies in die wêreld ons om te fokus op ons verskille, ons verskille in herkoms, ons verskille in hoe ons die geskiedenis verstaan, wat regtig die oorsprong van ons probleme is. En omdat daar so baie onsekerheid is, soek ons iemand om te blameer, ’n eenvoudige manier om al ons bedreigings uit die weg te ruim. Maar saam met al die foutsoekery, blamering en aanvalle op ander, kom verhoogde konflik; en in plaas daarvan dat ons nader aan ’n oplossing beweeg, skep ons net nog nuwe probleme; nog meer geweld en wraak, nog meer gebreekte verhoudinge en wantroue.
Om ’n Christen te wees is nie maklik nie. Jesus se oproep om agter Hom aan te kom en saam met Hom ons kruis op te neem en ons lewe te verloor, is nie ligte woorde nie. Maar ons leer om te sterf vir die koninkryk van die wêreld sodat ons die vrye, heerlike lewe in God se koninkryk kan lewe. Ons word so maklik ingetrek in die patrone en ritmes, die denkwyses en houdinge van die wêreld, veral omdat ons instink tot selfbehoud so sterk is. Om te sterf aan die patrone van die wêreld, moet die lig van God voorkeurtoekoms op ons pad val; en die lig kom na ons in die 3D vorm van Jesus se stories, wat Hy ons nooi om van binne te beleef en uit te leef.
Dit is ’n nuwe leefwêreld waarin ons nuwe ritmes en patrone, nuwe gedagtes en houdinge leer ken wat nie ons eerste natuur is nie, maar wel deur die genadige werk van die Gees ons tweede natuur kan word. En tussen al die verskillende rolspelers in vanoggend se verhaal, kan dit dalk ook sinvol wees om ons in die mees passiewe een, die mees anonieme een, se skoene in te leef. Want dikwels val die skille van ons oë af en sien ons ons naaste werklik as ons naaste, wanneer ek die een is wat nie ’n keuse het nie; wanneer ek in die posisie is dat ek nie self kan regkom nie en doodeenvoudig die medelye, die helpende hand van die naaste wat dan oor my pad kom, moet aanvaar.
Ons weet nou al dat hierdie gelykenis (en ons tema) ons konfronteer met die vraag: In wie se skoene nooi Jesus my om te gaan loop? Miskien is ’n ander manier om die vraag te vra: Wie is die laaste persoon op aarde wat ek ooit oor sal wil dink as die “goeie ou” of die held? En miskien sal ons die skandaal van die gelykenis beter verstaan as ons die vraag vra uit die oogpunt van die slagoffer, die ou wat halfdood en kaal (dink net aan daardie totale desperaatheid en kwesbaarheid) daar langs die pad gelê het, en miskien klink dit dan so: Wie is die heel laaste mense van wie ek sal wil afhanklik wees, aan wie ek sal wil vra om my lewe te red? Wie is daar wat jy heimlik eerder hoop om te bekeer, of te fix, te beïndruk, beheer of red? – Maar hopelik nooit ooit nodig kry nie?
In Lydenstyd nooi Jesus ons om te leer om sy voorbeeld te volg en nie ons kwesbaarheid en pyn te vermy nie, maar om met hoop en oortuiging daar in te stap in die geloof dat Hy dit van binne as sal genees en gebruik tot sy verheerliking. As ons weghardloop van ons pyn en ons broosheid hardloop ons ook weg van onsself en al die diepste konneksies met God en ander wat ons lewe sin gee.
Op die gebroke pad, val al die definisies van “ons” en “hulle” weg. As jy bebloed in ’n sloot lê maak dit nie saak wie se hulp jy sal verkies, of wat jou geloofsoortuigings is, of met wie se politieke standpunte jy saamstem nie. Wat saakmaak is of daar enige iemand is wat sal stop, jou regtig in jou nood sal raaksien, en aan jou medelye sal bewys voor jy doodgaan.
As dit nog nie met jou gebeur het nie – jou ontmoeting daar op die donker pad nie, dan gaan dit nog. Die lewe spaar niemand nie. Dalk is dit in ’n hospitaalkamer, langs ’n oop graf, na ’n huwelik wat misluk het, of ’n werk wat verloor word. Dalk na een of ander storm, verraad, ’n besering of daardie diagnose. Eendag, iewers, vir ons almal gaan dit gebeur.
En wanneer dit gebeur, dan gaan dit nie jou sterk opinies of oortuigings wees, of jou prestasies of die mense met wie jy jou omring wat jou gaan red nie. Al wat gaan saakmaak is vinnig jy jou trots kan sluk en die helpende hand wat na jou uitgestrek is gaan aangryp; daardie hand wat jy dalk gehoop het om nooit vas te hou nie.
Ek het self gesien hoe iemand op sy hospitaalbed bevry is van harde rassisme. Ek het saam met Hilze in die onkologiekamer gesien hoe mense van verskillende agtergronde en oortuigings een groot familie word.
“Wie is my naaste?”, het die wetgeleerde gevra. Jou naaste is dié een wat jou beskaam met haar/sy liefde. Jou naaste is dié een wat al jou kategorieë uitdaag en jou verras met ’n vars gesig van God.
Ontdek jou naaste in nood; of dit jou nood is of hulle s’n. Moenie bekommerd wees oor wat jy moet doen of sê nie. Dit het ons kankerreis ons weer geleer; in jou uur van nood is jou behoeftes eenvoudig. Jy het nie antwoorde of raad nodig nie. Net iemand wat by jou sal sit, vir jou sal bid, en vir jou sal verseker van hulle liefde; iemand wat bereid is om saam met jou in die ongemak te wees; saam met jou verslae te wees.
Sien jou naaste se nood raak. Beweeg nader. Hou dit eenvoudig. Gee ’n bietjie tyd. Wees ’n oor. Deel ’n koppie koffie of ’n ete, al is dit uit ’n take-away bak op die bankie in die park.
Wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry? Doen dít en jy sal die lewe verkry. Amen.
Stilword/gebed:
Watter naaste wys die Here vir jou na wie jy nader moet beweeg? Wat gee Hy aan jou as die eerste treë?
Seën:
U het alles aan my gegee
Aan U, Here, gee ek dit terug
Alles behoort aan U
Doen daarmee wat U wil
Gee my net u liefde en u genade
Dit is vir my genoeg
