Preek – 13 Oktober: "In die tussentyd" – Jer 29:1-11

Kindertyd:

Ons bevind onsself baie keer in omstandighede waarin ons nie wil wees nie. Vir die grootmense sal dit dalk dinge wees soos al die slegte stories in die nuus oor land en die wêreld. Vir ons kinders is dit dalk dinge soos ’n juffrou of meneer by die skool waarmee jy nie oor die weg kom nie, probleme tussen jou ouers, of ’n boelie wat jou nie wil uitlos nie.

So, en nog baie erger was dit vir Daniël en sy drie vriende Sadrag, Mesag en Abednego. Hulle was slawe in ’n wrede en ongelowige koning, Nebukadnesar se land, Babel. Nadat Daniël (soos ons laasweek gehoor het) die koning se droom uitgelê het, het Hy erken dat Daniël se God die grootste is, maar duidelik verstaan hy nog nie lekker nie.

Nou het hy ’n nuwe plan om homself belangrik te laat voel en hy het ’n beeld laat bou(sy eie opgemaakte god!) wat 30m hoog is!! Al die belangrike mense is genooi om vir die inwyding van hierdie monster. En, so is dit toe aangekondig, as die musiek begin speel, dan moet almal dadelik buig voor hierdie beeld.

Uiteindelik sou Daniël se vriende voor ’n groot keuse te staan kom: buig voor die beeld, of word in die warmste vuuroond ooit gegeooi! Ons is ook baie keer in situasies waar dit so moeilik is om op te staan vir wat reg is. My hele groep vriende spot of boelie iemand. Almal kyk ’n fliek met lelike goed in, of gebruik die Here se Naam op ’n lelike manier. Of almal praat negatief van die land se toekoms en van ander rasse en ons gaan maar saam.

Uit S, M en A se storie leer ons dat die Here vir sy kinders sorg. En dat gewone mense ’n verskil kan maak as hulle glo. Uiteindelik so Nebukadnesar erken: “Aan die God van Sadrag, Mesag en Abednego kom die eer toe, Hy wat sy engel gestuur het en sy dienaars gered het. Hulle het op hulle God vertrou en het die koninklike bevel verontagsaam en hulle was bereid om hulle lewe te verloor eerder as om enige god behalwe húlle God te dien of te aanbid.”

En hy het beveel dat almal nou die enigste ware God, ons God, moet dien!

Ek sien hoe die Here vandag werk in ’n meisie, Greta Thunberg, 16jr oud van Swede. Augustus verlede jaar, het sy toe sy 15 was, alleen gaan betoog voor die Sweedse parlement teen die vernietiging van die natuur. Boonop het sy Asperger sindroom, iets wat baie mense as ’n probleem sal sien, maar sy sien dit as ’n gawe.  Nou, net 13 maande later, is daar miljoene mense wat haar voorbeeld volg en optogte regoor die wêreld hou en werk om die Here se skepping te red. Al praat sommige mense lelik van haar, hou sy aan om op te staan vir wat reg is.

Votum/ seëngroet:

Stilword: in watter moeilike omstandighede, waaruit jy wens jy kan ontsnap, is jy nou?

Die Here sê: “Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder.

Skriflesing:

Jer 29:1-11

Preek:

Ons as moderne mense het ’n hele paar uitdagings as dit kom by die lees en verstaan van die Bybel. Ons is individualisties en daarom vergeet ons maklik dat die Bybel se skrywers en eerste lesers nie so was nie. Hulle het nie aan hullself in isolasie gedink nie. Vir hulle het dit nie oor die “ek” gegaan nie, maar oor die “ons”. Die Bybel kom nie tot sy reg as jy die heeltyd dink dit gaan net oor jou eie klein persoonlike wêreldjie nie.

Ons het ook ’n sekere ervaring van tyd. Moderne mense is haastig. Ons wil hê dinge moet vinnig gebeur. Ons het ook nie altyd meer so goeie aanvoeling vir waar ons in die storie inpas nie, van ons geskiedenis, ons voorgeslagte. Ons vergeet dat daar dinge soos tydvakke en seisoene in ons lewenstorie en die opeenvolging van geslagte is. Ons dink die hele Bybel moet nou, op alles hier in my tyd en omgewing van toepassing wees.

En ons het verval in ’n tydsgees waar positiwiteit, geluk en optimisme amper ’n godsdiens op sy eie geword het. As jy positief is trek jy positiwititeit en jy bepaal jou eie geluk, is min of meer die mantra. Wat ons dink het groot krag, maar ons moet pasop om te dink dat positiewe denke eintlik maar dieselfde is as geloof nie. “As jy dit kan droom kan jy dit doen!”, hoor ’n mens baie. Geloof is dan: as jy jouself oortuig dit sal waar word sal die Here dit laat gebeur.

Ons raak vervreem van onsself as ons met alle mag en mening probeer om onsself net die heeltyd positief te programmeer (om nie eers te praat van die skuldgevoelens wat ons by ander mense soos depressielyers aanwakker nie.) Ons vermy alle ongemak, pyn en onaangename emosies. En op die lang duur doen dit net mooi die teenoorgestelde as waarvoor ons gehoop het; ons het minder vrede, minder heelheid en minder blydskap.

En dit alles bring ons nou terug by ons teksgedeelte van vanoggend. Ons almal ken Jer 29:11 soos wat dit al in soveel getuienisse en Christelike motiveringspraatjies aangehaal is: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie. Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!” Ek dink julle kom agter waarheen ek op pad is. Ons misbruik die Bybel as ons versies soos hierdie uit hulle konteks uitruk en ’n generiese belofte van die Here aan my persoonlik op enige gegewe tyd van my lewe maak.

Jy kan altyd staatmaak op die Here. Sy liefde en getrouheid staan vas. Maar dit beteken nie dat alles altyd sal uitwerk solank jy dit net met ’n positiewe gesindheid benader nie. Wat ons gedwing word om te leer (en daarvoor kan ons die Here dankbaar wees want dit bring ons nader aan die hart van geloof) is hoe belangrik geloofsonderskeiding is. Die Bybel is ’n getuienis van mense se pad met God; ’n gesagvolle getuienis oor God se storie met sy mense; ’n storie wat nog nie klaar is nie, maar ook in en deur ons op pad is na sy voleinding. Daarom is die Bybel nie ’n statiese reëlboek met sulke vaste betekenisse aan alles wat iemand in die geskiedenis daarvoor uitgedink het nie.

Dit is so dinamies en persoonlik soos die God wie se Woord dit na ons toe dra. En kom ons herinner onsself maar weer: Die Bybel het geen gesag wat nie van God af kom nie. Ons aanbid nie die Bybel nie, maar vir God wat Homself daarin openbaar; en die diepste waarheid oor Wie Hy is sien ons altyd in Jesus.

Ek is deel van ’n groter geheel waarin die Woord van God na my toe kom. Ek het ’n storie en ek is deel van ’n groep mense, familie, my “stam”, my nasie (SA) met hulle storie. Ek het ’n plek: Noorder-Paarl, voorstedelik, sekere bure, ’n gemeenskap. Ek leef op ’n sekere tyd met sekere tendense, sekere globale gebeurtenisse, leiers, tegnologie en al hierdie dinge se impak op my.

En wanneer ek dan die Bybel lees, bewus van hierdie geïntegreerde wêreld waarmee ek kom, asook die volheid van die wêreld van my geloofsgenote in die Bybel (hier die Israeliete) dan raak die Woord van God aan my in die Bybel nie minder persoonlik en dinamies nie, maar meer. Dit is dalk nie klinkklare pasgemaakte antwoordjies nie, maar ek word ingenooi en deelgemaak van God se groot plan met alles en almal. Dit lei tot ware verhouding, ware gemeenskap met God en met mekaar; en dit (en nie persoonlike antwoorde en doelwitte nie!!) waarvoor God ons gemaak het.

Want ons kan nie in geloofsonderskeiding gaan sonder mekaar nie. Ons is in ’n tyd waar baie van ons vaste sekerhede verkrummel. En dit is nie net ’n slegte ding nie! Ons kan weer leer om broos te wees. En leerbaar. Nederiger oor ons oortuigings. Weer leer om te luister en om ander mense in hulle eie stories, menswees en omstandighede raak te sien. Ons sal saam moet soek, in gemeenskap. En dit vra groter volwassenheid van ons. Nog ’n goeie ding! Ons sal, soos Richard Rohr sê, ons skadu-werk moet doen. Leer om ons volle self, ons ware self aan onsself, aan ander mense en aan God te wys, want daarsonder is daar ook geen ware gemeenskap nie. Ons sal moet soek waar ons motivering, ons vooroordele vandaan kom, en dit moet bring na God se lig.

En as ons dan saam na Jer 29 kom, in kwesbare gemeenskap, mag ons sien hoe ons ons eie ervarings van ballingskap kan bring: van vervreemd voel, oor dinge wat te vinnig verander, ons kinders wat oorsee gaan en ons land wat soms lyk of dit wik op die randjie van die afgrond en ons regtig wonder of ons ’n toekoms het. En in die sekuriteit van gemeenskap met God en met mekaar, in hierdie gemeenskap van liefde, kan ons hierdie ervarings en vrese eerlik verwoord.

En dan kan ons weer ervaar dat God regtig met ons op pad is, regtig met ons praat. Nie altyd finaal en kristalhelder nie, maar op maniere wat ons roer en beweeg en laat groei op dieper maniere, wat ons leer vertrou, hoop gee, en nuwe moontlikhede oopsluit.

Die Here se mense sou terugkeer na Jerusalem (en selfs toe sou dit nie aan die verwagtinge voldoen nie). Maar dit sou eers 70 jaar later gebeur. ’n Hele generasie sou dit nie sien nie. Dit is moeilik om te wag en te vertrou, en om jou nie te laat mislei deur die vals profete wat ’n quickfix belowe nie.

Die grootste deel van ons lewe word geleef in tussentye. En as ons dit nie erken nie, as ons die heeltyd besig is om te wag vir “iets” om te gebeur, dan gaan ons kronies gespanne en onvergenoegd wees. En dit is nie wat die Here vir ons gedagte het nie!! Wat die Here vir ons verseker wil gee is hoop. Dit is sentraal tot ons geloof. Maar dan sal ons die sin van die tussentye, van sekere seisoene in ons lewe, moet aanvaar en leef.

Hoe bevorder ons die “belange van hierdie stad”. Hoe leef ons gelowig, opbouend, gesond in die hier en nou?

Jy plaas die toekoms en die uitkoms in God se hand. Want geloof in Jesus, so getuig Paulus in Fil 4, leer jou om in alle omstandigede te leef. Hy weet wat dit is om oorvloed te hê en om gebrek te ly, sê hy. Dit is wat dit beteken om “tot alles in staat te wees deur Christus wat my krag gee.” (Fil 4:13 natuurlik nog ’n versie wat ons altyd in konteks moet lees!). Of soos Jesus self leer, ons bekommer ons nie oor môre nie, want môre bring sy eie bekommernis. In die hier en nou leef ek my lewe in God se teenwoordigheid. In gemeenskap met Hom en ander mense.

Ek gebruik geleenthede om ’n lewe te maak en om goed te wees vir ander wat oor my pad kom. Ek sien raak en waardeer wat God my gee. Ek “bou huise, lê tuine aan, trou en bring kinders in die wêreld…” Terwyl ek leef, lééf ek.

En al voel ek vervreem, beroof van my regte of my ruimte om te bestaan, of om myself te wees, al voel ek ek hoort nie meer hier nie of ek sou eerder iewers anders wou wees, sien ek raak dat hierdie plek, gemeenskap, dorp, land, se belange ook my belange is; dat ons lotsverbonde is aan mekaar; selfs aan die mense wat ek verantwoordelik hou vir hierdie ballingskap, wie “hulle” ookal mag wees.

Ek leer om my vyande lief te hê en vir hulle te bid.

Ek kyk waar die Here my menswees, my gawes, my hulpbronne kan gebruik waar dit die meeste saakmaak, waar die grootste nood is. Ek vind my sin, vir my bestaan, vir hierdie tyd, in my roeping, in wat ek kan beteken vir ander, in waar ek ’n verskil kan maak.

Want al weet ons nie waar ons gaan eindig nie; ons weet God is met ons op pad. Ons weet Hy sal ons nie los nie; en ons weet, op die regte tyd, sal daar vir ons uitkoms wees, want die dag sal kom dat al sy beloftes, al sy grootste en wonderlikste beloftes, sal waar word. Amen.

css.php