JES. 62:1-9 (12/1/20)

 

#  Wanneer mense swaarkry, gebeur dit nie altyd een-een nie.

  • Dit gebeur mos ook dat groepe mense saam swaarkry.
  • Dink maar net aan hoe die Jode al in die geskiedenis as ’n groep gely het.
  • En wat dan heel eerste by ’n mens opkom, is natuurlik hulle verskriklike lot tydens die Tweede Wêreldoorlog.
  • Ek en Mariëtte het al ’n slag ’n draai in Kaapstad gaan maak by die spesiale museum wat handel oor die slagting onder die Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog, met ongeveer 6 miljoen wat gesterf het.
  • En hierdie museum is regtig ’n ontstellende plek om te besoek, maar ook baie nodig.
  • Veral sodat ’n mens net weer kan besef dat geweld eintlik nooit die regte oplossing vir ’n probleem kan wees nie.

 

#  Maar as ’n mens nog verder teruggaan in die swaarkry-geskiedenis van die Jode dan was daar bv. ook die tyd toe hulle as ballinge weggevoer is na Babilonië.

  • Dit het so ver terug as in die sesde eeu voor Christus plaasgevind. En dis eintlik baie moeilik om jou voor te stel hoe so ’n ballingskap-ervaring moes gewees het, wanneer ’n hele volk, of amper ’n hele volk, weggevoer is na ’n ander land toe.
  • Jy verloor jou besittings, en jy word heeltemal ontwortel, en in die ander land moet jy nou as ’n slaaf gaan werk en leef.
  • Jy word omtrent van alles wat vir jou belangrik is, ontneem.
  • En dit is natuurlik ook ’n groot toets vir jou geloof.
  • Want waar is die Here dan?
  • Hoekom help en red Hy ons nie?
  • En vir Israel, wat die volk van die Here was, moes hierdie vraag ekstra pynlik gewees het.
  • Hoekom help en red die God van die verbond ons nie?
  • Het Hy dan van ons vergeet?
  • En vir ’n baie lang tyd het daar dan ook geen redding en uitkoms vir hulle gekom nie.
  • Hulle moes maar tevrede wees om as ballinge daar in die vreemde land te bly leef.

 

#  Maar dan breek daar tog ’n dag aan dat Israel weer kan teruggaan na hulle eie land toe.

  • ’n Bevel is in Babilonië uitgevaardig dat die ballinge na hulle land mag teruggaan en dat die tempel in Jerusalem herbou mag word.
  • En ’n mens kan dink dat daar baie groot blydskap was en dat die mense van Israel met groot verwagting terug is na hulle land toe.
  • Uiteindelik kon hulle weer huis toe gaan!
  • Maar blykbaar het dit toe veral vir die eerste ongeveer 20 jaar baie moeilik gegaan met die ballinge wat teruggekeer het.
  • Van die herbou van die tempel het daar in daardie tyd nog niks gekom nie.
  • En met die eerste oeste het dit nie goed gegaan nie.
  • En die ballinge het gevind dat omtrent alles eintlik in hulle afwesigheid verander het.
  • Hulle moes bv. sukkel om hulle eie grond weer terug te kry van die mense wat intussen daarop gaan woon het.
  • En om alles te kroon, was die situasie nou dat daar ’n groot verskeidenheid afgode in hulle land aanbid is.
  • So, hulle het baie daarna uitgesien om terug te wees in hulle eie land, maar wat hulle toe daar aantref, was ’n uiters moeilike situasie om te hanteer.
  • Probleme op probleme.
  • En, soos iemand gesê het: “Soos ’n mens kan verwag, het die mense na hierdie situasie gekyk en onmiddellik een gevolgtrekking gemaak: Die Here het ons in die steek gelaat.”

 

#  En nou is dit teen hierdie agtergrond dat die profeet in Jes. 62 met die mense van Israel praat.

  • En wat sê hy vir hulle?
  • Watter boodskap het hy om hulle mee te bemoedig?
  • Op ’n manier, dink ek, word die hele boodskap van die profeet in vers 4 vir ons saamgevat.
  • Dáár staan dit so treffend: “Die Here het jou lief, en jou land behoort aan Hom.”
  • Die een ding waaraan die ballinge, wat teruggekeer het, nie moes twyfel nie, was die liefde van die Here.
  • Al het hulle Hom so baie teleurgestel, en al het hulle sy straf al so baie keer verdien, sy liefde was nog steeds die belangrikste saak waaroor die profeet met hulle kon praat.
  • “Die Here het jou lief, en jou land behoort aan Hom.”
  • En dit laat ’n mens ook dink aan wat die Here op ’n ander keer deur die profeet Hosea vir Israel gesê het.
  • In Hos. 11 vra die Here vir hulle: “Hoe kan Ek jou prysgee? Hoe kan Ek jou laat vaar?  Hoe kan Ek jou vernietig? … Ek kan dit nie oor my hart kry nie.  My liefde brand te sterk.” 
  • En dít is wat Jesaja eintlik ook nou vir die mense van Israel sê: Die liefde van die Here vir julle brand ontsaglik sterk!
  • Ja, dit gaan nog baie sleg nadat julle teruggekom het uit Babilonië.
  • En daar is nog meer as genoeg probleme en uitdagings.
  • Maar aan een ding moet julle nie twyfel nie.
  • En dit is die Here se liefde vir julle!
  • Aan sy liefde vir julle kan julle altyd vashou!

 

#  Maar dan kom daar nog iets by in die profeet se boodskap aan die mense.

  • En dit is die belofte dat dinge wel weer sal verander.
  • In vers 2 sê die profeet: “Die nasies sal sien dat jy gered is, Jerusalem, al die konings sal sien dat jy mag het.”
  • En net ’n bietjie verder, in vers 4, sê hy: “Jy sal nie meer die verstote vrou genoem word nie, en jou land nie meer die een wat verlate lê nie. Jy sal genoem word: ‘Die een vir wie die Here liefhet,’ en jou land: ‘Die een wat aan die Here behoort.”
  • Die beeld wat die profeet hier gebruik, is dié van ’n vrou wat deur haar man verstoot is.
  • En dít is dan ook waarskynlik wat die ander volke se mense oor Israel en Jerusalem gesê het: Die Here het julle verstoot en vergeet.
  • Julle God het sy rug op julle gedraai.
  • En dít is dan seker ook hoe dit vir Israel gevoel het: dat God sy rug op hulle gedraai het.
  • Maar julle omstandighede sál verander, sê Jesaja.
  • Dit sal beslis verander.
  • En in vers 5 beskryf hy eintlik reeds iets van die verandering as hy sê: “Soos ’n bruidegom bly is oor sy bruid so sal jou God oor jou bly wees.”
  • Jy sal nie meer die verstote vrou genoem word nie, maar die bruid oor wie haar bruidegom bly is.
  • Dít is hoe die Here Israel en Jerusalem se situasie sou verander.
  • Dít is hoe ingrypend Hy dit sou verander: van verstote vrou tot bruid!

 

#  Maar terwyl Jesaja hierdie wonderlike dinge vir die mense van Israel gesê het, was die beloftes van die Here natuurlik nog nie vervul nie.

  • Terwyl hy besig was om hierdie wonderlike dinge te sê oor die Here se liefde en sy planne vir hulle, het die moeilikheid daar rondom hulle nog blou in die blom gestaan.
  • En daarom doen die profeet nog ’n belangrike ding.
  • Hy spoor die mense van Israel en Jerusalem aan om te bly bid tot die Here.
  • Hy sê in vers 6 en 7 vir hulle: “Julle wat die Here aan sy beloftes moet herinner, julle moenie stilbly nie. Julle moenie stilbly nie totdat Hy Jerusalem herstel het, totdat Hy die hele wêreld die roem van Jerusalem laat sing het.”  
  • Jesaja sê vir die bannelinge wat nou terug is in hulle eie land: Julle moenie ophou bid totdat die Here gedoen het wat Hy belowe het nie.
  • Bly herinner Hom aan sy beloftes!
  • Volhard in julle gebede!
  • En so het Jesaja dan vir die moedelose en teleurgestelde Israeliete ’n wonderlike stuk bemoediging en sommer ook praktiese raad kom gee.
  • Hy sê: Moenie vergeet hoe groot die liefde van die Here vir julle is nie.
  • Hou styf daaraan vas!
  • En moenie daaraan twyfel dat die Here julle omstandighede sal verander nie.
  • En terwyl julle wag dat dít gebeur, hou aan om te bid.
  • Hou aan om die Here aan sy beloftes te herinner.

 

#  Nou, dit kan mos maklik gebeur dat ons eie omstandighede ook vir ons te veel word. 

  • Dit kan maklik gebeur dat ons ook soos die ballinge van destyds moedeloos en teleurgesteld word omdat ons probleme dalk net te veel of te groot is.
  • Omdat ons dalk net nie lig kan sien in die donker van ons eie lewe of van ons wêreld nie.
  • En dit laat dink my aan die Joodse legende wat vertel van die twee rabbi’s wat sit en redeneer het oor die Messias, en of die Messias dalk al na die aarde toe gekom het.
  • Hulle het toe albei uit die Ou Testament aangehaal, en hulle het na geleerde mense se standpunte verwys, en hulle het mekaar behoorlik bestook met argumente.
  • Maar uiteindelik het die een rabbi toe, om die gesprek te probeer beëindig, na die venster toe gestap en vir die ander een gesê om uit te kyk.
  • “Kyk buitentoe,” het hy gesê, “en kyk hoe lyk die wêreld. As die Messias reeds hier was, sou dit nie so gelyk het nie.”
  • En as ons vandag deur die venster kyk, na die wêreld waarin ons leef, en dalk na ons eie lewe, voel ons dalk ook lus om soos hierdie rabbi te sê: “As die Messias wel gekom het, sou dit nie so gelyk het nie.”
  • Al die probleme in die wêreld, en in ons eie land, en dalk vanoggend in my eie lewe, kan ’n mens maklik oorweldig laat voel.

 

#  Maar, baie belangrik, dan kom Jesaja vanoggend en hy sê vir ons: Die omstandighede wat jy sien wanneer jy deur die venster kyk, is nie die belangrikste om in ag te neem nie.

  • Nee, die belangrikste om in ag te neem, is die liefde van ons Here.
  • Die belangrikste is om te onthou dat Hy ons lief het met ’n liefde wat soos ’n vuur in Hom brand.
  • Met ’n liefde wat selfs so ver gegaan het dat Jesus sy lewe aan ’n kruis vir ons kom opoffer het.
  • Hierdie liefde is baie belangriker en ook baie groter as die slegste omstandighede waarin ons ons mag bevind.
  • En daarby het ons die belofte van die Here dat Hy die wêreld nie los soos dit nou is nie.
  • Ons het die belofte dat Hy elke oomblik in ons wêreld werk, en dat Hy uiteindelik met ons na niks minder as ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde op pad is nie.

 

#  Ons staan vandag nog hier heel aan die begin van hierdie nuwe jaar.

  • En die vraag is: Wat sien ons as ons vanoggend deur die venster kyk, soos die rabbi in die legende
  • En wat is daar wat vir ons in hierdie prentjie wat ons sien te veel is, wat vir ons oorweldig?
  • Wat is daar wat ons moedeloos maak en wil laat tou opgooi?
  • Ons kan maar net weer gaan leer by dit wat Jesaja al so lank gelede, in Jes. 62, gesê het.
  • En ons kan maar net styf vashou aan die Here se oneindige groot liefde vir ons.
  • Aan sy brandende liefde vir ons.
  • En aan sy beloftes, waarvan die Bybel vol is.
  • En intussen?
  • Intussen wil die Here ons gebruik in mekaar en in ander se lewens.
  • Wil Hy ons veral gebruik om sy liefde met ander te deel.
  • En wil Hy ook hê dat ons Hom in ons gebede aan sy beloftes sal bly herinner.
  • Hoe het Jesaja nou weer vir die mense van Israel en Jerusalem gesê?
  • Hy het gesê: “Julle moenie stilbly nie totdat die Here Jerusalem herstel het, totdat Hy die hele wêreld die roem van Jerusalem laat sing het.”
  • So, ook met ons gebede, al is dit hoe sukkel-sukkel, maar ook met ons gebede kan ons in hierdie nuwe jaar help bou aan God se ewige koninkryk.

 

AMEN

 

css.php