SPR. 1:1-7, 20-33 (11/8/19)

 

#  Een van die uitstaande kenmerke van ons tyd is die geweldige klomp kennis en inligting wat tot ons beskikking is.

  • Sommige mense praat daarvan as ’n kennisontploffing, iets wat veral in die laaste klompie dekades plaasgevind het.
  • Daar is soveel kennis en inligting beskikbaar dat ’n mens skoon oorweldig voel daardeur.
  • Dink maar net aan alles wat vandag op die Internet of in biblioteke beskikbaar is.
  • Jy kan eintlik maar net verwonderd staan daaroor.
  • En nou is dit mos al ’n geruime tyd ook so dat jy maar net jou selfoon kan uithaal, en ’n paar letters intik, en die inligting ontplof sommer so in jou hand.

 

#  Maar nou is die vraag: Wat het al hierdie kennis en inligting ons gehelp?

  • Het dit van ons wêreld ’n beter plek gemaak?
  • Aan die eenkant het die baie kennis en inligting natuurlik te doen met die groot wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang wat reeds gemaak is, bv. op mediese gebied of wat rekenaars of vervoermiddels betref.
  • Dit het ook te doen met allerhande dinge wat ons lewe vir ons vandag makliker en geriefliker maak, dinge soos wasmasjiene en yskaste en lugversorgers.
  • So, die baie kennis en inligting herinner ons aan die eenkant aan groot vooruitgang.
  • Maar daar is ongelukkig ook ’n ander kant aan hierdie saak.
  • Ons groter kennis en wetenskaplike vooruitgang het ons bv. ook gehelp om wapens te kan vervaardig waarmee massas mense in oorloë dood gemaak kan word.
  • En met ’n klomp moderne dinge, wat ons deur ons groter kennis kan vervaardig, soos bv. plastiek en allerhande chemiese middels, is ons ook besig om die aarde te besoedel en ernstig te beskadig.
  • So dis nie te moeilik om raak te sien dat al ons kennis en inligting nie net van die wêreld ’n beter plek gemaak het nie.
  • Op verskillende maniere is ons selfs nou slegter daaraan toe as vroeër.

 

#  So kom ons sê dit maar reguit: Ons menslike kennis en inligting en wetenskaplike vooruitgang strek nie net tot ons voordeel nie.

  • Dit laat ons ook nie noodwendig reg optree teenoor ander of die regte besluite neem nie.
  • En daarom moet ons vanoggend erken: By al die kennis en inligting wat ons het, kom daar tog iets kort.
  • By al die kennis en inligting is daar iets anders wat ons sommer dringend nodig het.
  • En wat is dit?
  • Die Bybel noem dit wysheid.
  • Ons kom wysheid kort.
  • En in die Bybel is dit dan veral die boek Spreuke wat met ons hieroor praat en ons ook laat besef dat ons ’n soort geestelike onderskeidingsvermoë nodig het.
  • En baie belangrik: Hierdie onderskeidingsvermoë of wysheid is iets wat ek net kan verkry as ek in die regte verhouding met die Here staan.
  • Ek kan dit net verkry as ek Hom volg en Hom dien.
  • Ons kan ook sê: Hierdie wysheid is iets wat ek net kan hê as die Here dit aan my skenk in my verhouding met Hom.
  • So dit gaan beslis nie maar net oor my eie slimmigheid of geleerdheid of kennis nie.
  • Nee, ware wysheid is ’n gawe van God wat ek net kan ontvang wanneer ek die pad saam met Hom stap.

 

#  En nou is dit interessant dat die gedeelte wat ons gelees het, wysheid as ’n vrou voorstel!

  • Vers 20 en 21 sê: “Wysheid is ’n vrou wat langs die straat staan en roep, sy laat haar stem hoor op die stadspleine, sy roep bo die rumoer uit, by die ingange van die stadspoorte sê sy wat sy te sê het.”
  • Hoekom wysheid hier as ’n vrou voorgestel word, is iets wat die geleerdes ’n bietjie laat kopkrap.
  • En dit kan ons mans seker so ’n bietjie jaloers laat voel!
  • Maar heel moontlik wil die Spreukedigter daarmee sê dat wysheid iets baie aantreklik is, iets moois, soos ’n mooi vrou.
  • En gelowiges behoort daarom hierdie wysheid met hulle hele hart te begeer, want dit is iets baie moois.

 

#  Nou, wat gebeur wanneer ek mev. Wysheid se raad in my lewe volg?

  • Sy sê self in vers 23: “As julle luister na my teregwysing, gee ek julle my wysheid in oorvloed en leer ek julle my woorde begryp.”
  • En in vers 33 sê sy: “Maar wie na my luister, sal veilig wees en hoef geen ramp te vrees nie.”
  • En met hierdie woorde, lyk dit vir my, wil die Here vir ons sê dat Hy ons al die wysheid wil gee wat ons in hierdie wêreld nodig het.
  • Hy wil ons daardie spesiale kennis en insig gee wat ons sal help om die lewe met al sy moeilike vrae en groot uitdagings te kan hanteer.
  • Hy wil ons daardie spesiale kennis en insig gee wat ons sal help om reg op te tree teenoor ander mense en om die regte besluite te neem wanneer ons by die kruispaaie in ons lewe kom.
  • In Fil. 1:9 en 10 sê Paulus hy bid dat die gelowiges in Filippi se “liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat hulle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom.”
  • En dít is waarmee die Here ons wil help, om dié dinge te kan onderskei waarop dit werklik aankom, m.a.w. dié dinge wat werklik belangrik is.
  • Hy wil vir ons wysheid skenk sodat ons kan weet wat die werklik belangrike dinge in sy oë is.
  • En daarom kan ons ook sê: Mev. Wysheid leer ons wat die werklik belangrike dinge in die Here se oë is.

 

#  Maar nou moet ons ook vra: Maar wat gebeur as ek nie mev. Wysheid se raad in my lewe wil volg nie?

  • Want ek kan mos besluit om my nie aan haar raad te steur nie.
  • En in daardie geval sê mev. Wysheid in Spr. 1:30 en 31: “Julle het my raad verontagsaam en elke teregwysing van my geminag. Julle sal die vrugte van julle optrede pluk, julle sal van julle eie planne walg.”
  • En net in die volgende vers, vers 32, sê sy: “Die onkundiges se dwaling kos hulle die dood, die dwase word vernietig deur hulle selfversekerdheid.”
  • As ons nie wil luister na mev. Wysheid nie, m.a.w. as ons nie die Here se raad wil volg nie, sê die Bybel baie reguit, is ons dwaas.
  • Al het ons al die kennis en inligting wat ons moontlik kan hê, maar ons volg nie die Here se raad nie, dan is ons dwaas, en is ons op ’n pad wat niks goeds beloof nie.
  • Dan is ons op ’n pad wat ons nêrens sal bring nie, want dis ’n pad wat ons net verder van die Here af wegneem.

 

#  En waarom sou dit tog so wees dat ons eerder ons eie kop wil volg as die wysheid van die Here?

  • Waarom wil ons ons nie laat leer deur die Bybel se mev. Wysheid nie?
  • Een van die redes hiervoor, dink ek, word in Spr. 1:32 vir ons genoem en dit is ons selfversekerdheid.
  • Dit is mos hoe ons dikwels is: te selfversekerd.
  • Ek laat my nie voorsê deur iemand anders nie.
  • Ek weet wat ek wil hê, en ek besluit self oor my lewe.
  • Ek is ’n mondige en selfstandige mens, ’n mens van die 21ste eeu.
  • Ek het al die kennis en insig wat nodig is.
  • Ek laat my niks vertel nie!
  • Só selfversekerd is ons baie keer.
  • Maar ongelukkig maak ons selfversekerdheid ons blind vir ons eie dwaasheid.
  • En wat nodig is, is dat ons sal besef hoe beperk ons insig eintlik maar is.
  • Wat nodig is, is dat ons nederig sal wees voor die Here oor ons eie gebrekkige insig en dat ons Hom sal toelaat om ons te leer.
  • Die Chinese filosoof Confucius het eeue gelede reeds gesê: “Wysheid is om jou eie dwaasheid te besef.”
  • En dis hierdie besef wat ons elkeen so nodig het: die besef van ons eie dwaasheid.

 

#  Ons wil maar so graag ons eie kop volg.

  • Ons wil maar so graag op ons eie insig staatmaak, al maak ons ook op dié manier so baie foute in ons lewe.
  • Maar baie belangrik: Ons hoef nie op hierdie dwase doodlooppad te bly nie.
  • In Ps. 32:8 sê die Here: “Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou.”
  • Die Here wil ons self onderrig en leer.
  • Hy wil self ons groot Onderwyser wees, ons groot Leermeester.
  • En ons weet dat Hy veral sy Woord gebruik om ons te leer.
  • As ek by Hom in die klaskamer gaan sit, is sy Woord die handboek wat Hy gebruik om my te leer.
  • En daarom is dit so belangrik dat ons ons ook sal verdiep in die Here se Woord.
  • Dat ons ons gereeld daarmee sal besig hou en behoorlik sal stil word sodat ons die Here se stem in sy Woord met ons kan hoor praat.
  • Dis waar ons wysheid kan ontvang, ware wysheid: Wanneer ons stil is voor die Here en werklik besig is met sy Woord, wanneer ons ons iewers afsluit van die onrustige gejaag van hierdie lewe, en stil is by die voete van die Here, ons groot Leermeester.

 

#  Die handboek van die wysheid is die Woord van God.

  • Maar nou kan ons natuurlik nie oor die Woord van God praat en nie ook oor Jesus Christus praat nie, die Woord wat mens geword het.
  • 2:2 en 3 sê: “Die geheimenis van God is Christus, en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind.”
  • In Jesus, sê hierdie verse, is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind.
  • En wanneer ons in die regte verhouding met Hom staan, kan ons ook in hierdie wysheid deel.
  • Met sy Gees wat in ons woon, word dit vir ons moontlik om self ook met wysheid op te tree.
  • En in Jesus se voorbeeld en lewe sien ons natuurlik ook duidelik wat wysheid is.
  • Ons sien dit bv. in sy optrede teenoor mense, soos die Bybel ons daarvan vertel.
  • Ons hoor dit ook wanneer Hy besig is om mense oor die koninkryk van God te leer.
  • In Jesus se voorbeeld en lewe en woorde sien en hoor ons wat ware wysheid is.
  • En nou moet ons ook onthou dat ongelowige mense dit nie so sien en verstaan nie.
  • Hulle sien die wysheid van God eerder as dwaasheid.
  • Wanneer Paulus in 1 Kor. 1 skryf oor Jesus se dood aan die kruis, verwys hy ook hierna.
  • En dan sê hy: Vir die slim en geleerde mense van daardie tyd, was Jesus se kruisdood om ons te verlos, ’n stuk onsin.
  • Dit was in hulle oë dom en dwaas.
  • Dis mos wat onsin is!
  • Dis dom en dwaas.
  • En dít is wat baie slim mense destyds (en seker vandag ook) van Jesus se kruisdood gedink het.
  • Maar dan sê Paulus in 1 Kor. 1:25: “Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense.”
  • En dít is dan wat ons elkeen by Jesus kan kry: ’n groter wysheid as die wysheid van mense.
  • ’n Groter wysheid as al die kennis en inligting en geleerdheid van mense.

 

#  Die Here het iets baie spesiaals wat Hy vir ons as sy kinders wil gee, iets om ons elke dag op ons lewenspad te help.

  • Hy wil vir ons sy wysheid gee.
  • Hy wil ons in sy wysheid laat deel, dié wysheid wat groter is as die wysheid van mense.
  • Dié wysheid waaroor mev. Wysheid, volgens Spreuke 1, so dringend langs die straat en op die stadspleine en by die stadspoorte staan en roep.
  • En dit is hierdie wysheid waarsonder ons tog nie vir een oomblik moet probeer lewe nie!

 

AMEN

css.php