Preek – 10 November 2019: God se beloftes aan ons – Kol 2:6-15
SKRIF:
Kol 2:6-15 Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe, (7) in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul. (8) Pas op dat niemand julle van Hom af wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is nie. Dit is dinge wat berus op die oorlewering van mense, op wettiese godsdienstige reëls en nie op Christus nie. (9) In Hom is die volle wese van God beliggaam, (10) en in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid. Hy is die hoof oor elke mag en gesag. (11) Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis wat deur mense verrig word nie, maar met die besnydenis deur Christus, en dit bestaan in die wegneem van die sondige natuur van die mens. (12) Dit het by die doop gebeur deurdat julle toe saam met Hom begrawe is. Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook saam met Hom opgewek, omdat julle geglo het in die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het. (13) Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. (14) Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem. (15) Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer.
PREEK (Deel A)
Ons het vanoggend ‘n Reeks preke met 2 episodes. ‘n kort een oor die doop en ‘n kort een oor die nagmaal. So, sit gemaklik. Ek belowe om nie onnodig lank te wees nie.
Vanoggend is ons so bevoorreg om as’t ware 2 keer deur die Here aangeraak te word. Deur die sakrament van die doop en die sakrament van die nagmaal. Nou, wat beteken ‘n sakrament? Want dit is van die doop en die Nagmaal is. In besonder: wat beteken die doop? Ek wens so daar was geleentheid dat ons in groepe met mekaar kan deel hoe ons dit verstaan, maar daar was ‘n tyd wat ek gedink het dat die doop eintlik maar net vir ons herinner aan wat Jesus aan die kruis gedoen het. Dat die water ons herinner daaraan dat Jesus ons sondes afwas deurdat hy daarvoor betaal het aan die kruis. Of, omdat die kinders nie eintlik verstaan waaroor dit gaan nie, ouers se belofte aan die Here voor die gemeente om die kindjie so groot te maak dat hy/sy ook vir Jesus sal liefhê. Is dit was die doop beteken?
Natuurlik is dit goed om onsself dikwels ter herinner aan wat Jesus aan die kruis vir ons gedoen het. En net so is dit verskriklik belangrik dat ons as ouers ons kinders van die Here vertel – waar anders sal hulle daarvan hoor in hul kleintyd as ons dit nie doen nie. Maar is dit wat die doop vir jou en my en vir die 3 kinders wil kom gee?
Ja, daar is kerke wat dit so sien dat die doop ons herinner aan wat God lank terug gedoen het toe Hy sy Seun aan die kruis vir ons gegee het en daarom is die doop eintlik net iets wat maar bevestig wat in die Evangelie staan. Hulle sien dan die doop as iets wat ek kom doen om aan God te belowe dat ek aan Hom gehoorsaam sal wees. Daarom wil hulle nie klein babatjies doop nie. Hulle sê hulle is nog te klein om te verstaan wat dit beteken en om hulself aan God te verbind. Hulle sien dan die doop as ‘n daad van gehoorsaamheid aan die Here. Baie van die dinge wat hulle sê is natuurlik waar, maar is dit wat die doop wil sê?
Ek wil julle nie toegooi met tekste nie (kom praat met my gerus as jy tekste soek), maar die Gereformeerde siening , waarvan ek met my hele hart oortuig is, sien die betekenis van die doop effens anders en die siening maak ‘n reuse verskil in ons geloofslewe. Hoe sien ons dit? Hoe verstaan ons hoe die Bybel oor die doop praat?
Om dit dalk beter te onthou, wil ek graag ‘n voorbeeld gebruik. Nou, voorbeelde het sy gevare maar dit help my om dit beter te verstaan.
Maar nou wil ek nie oor iets praat wat julle nie ken nie. Wie van julle het al ‘n geskenkbewys ontvang – of ‘n “voucher” in goeie Afrikaans? Seker die meeste van ons. Nou weet ons hoe werk ‘n geskenkbewys. Gewoonlik word die bedrag daarop aangedui waarvoor jy iets kan koop en dan ook jou naam en soms ook die vervaldatum. Ook die doop is nie net ‘n algemene belofte wat vir almal aangebied word en wat ek dan, wanneer ek die Here Jesus aanneem, ondergaan as ‘n toewyding aan die Here nie. Nee, die doop is iets wat vir jou persoonlik, by die naam, gegee word deur God self! Dit is in jou naam uitgemaak! Daarom kan mens maar Geskenkbewyse (as die vervaldatum reg is) selfs gee vir baba’s wat nog nie verstaan nie sodat hulle dit later kan gebruik. Met die doop kom sê God vir jou persoonlik: “Ek het vir jou lief en ek gee vir jou die lewe, die ewige lewe, hier op aarde en na jou dood vir ewig.” Maar nou beteken die geskenkbewys ook nie iets vir jou as jy dit nie gebruik nie. Maar dit vra niks anders van jou as om dit te gebruik nie. As God deur die doop die grootste geskenk van alle geskenke vir jou en my kom gee, kan ek besluit om dit in die laai te los en nie te gebruik nie. Maar as ek dit gebruik, as ek God se aanbod aanvaar, dan noem ons dit geloof. Dan neem ek die Here se aanbod aan sonder dat ek iets daarvoor gedoen het. Is dit nie wonderlik nie! Daarom kan ook babatjies die geskenkbewys van die doop ontvang en later glo. Die voorbeeld wat ek gebruik het, antwoord nie alles nie, maar dit help ons om dit toe te eien vir my persoonlik. Elkeen wat vanoggend hier sit en gedoop is, het reeds die bewys van God se lewe in jou lewe persoonlik ontvang. Kom ons wees nou ook getuies hoe 3 kindertjies hulle bewys, beloftes, van God ontvang.
PREEK (Deel B)
En nou is ons by die 2de episode oor ons Reeks oor die sakramente. Dié keer is dit oor die 2de sakrament: Die Nagmaal.
Kom ons lees eers die gedeelte waar Jesus die Nagmaal ingestel het:
Mark 14:22-24 Terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir hulle gegee met die woorde: “Neem dit, dit is my liggaam.” (23) Toe neem Hy ‘n beker en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle, en hulle het almal daaruit gedrink. (24) Hy sê vir hulle: “Dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie mense vergiet word.
Soos met die doop, verstaan ons ook nie altyd hoe wonderlik die betekenis van die nagmaal is nie. Ek onthou baie goed hoe daar ‘n omie was uit die vorige gemeente waar ons was (hy is nou al oorlede) wat vir ‘n lang tyd na elke nagmaalsdiens gekom het, maar elke keer nie die nagmaal wou gebruik nie. Êrens het hy en iemand anders ‘n uitval gehad en hy wou nie die nagmaal gebruik voordat die saak nie opgelos is nie. Vroeër jare is die tug op ‘n baie wettiese manier in ons kerk toegepas en as “straf” mag mense dan vir ‘n tyd nie die nagmaal gebruik het nie. Daarom is daar ook in die verlede voorbereidingsdienste gehou sodat mense hulself reg kon instel en hul lewens in orde kry voor hulle die nagmaal gebruik. So is daar vandag ook kerke wat die nagmaal sien as ‘n daad van gehoorsaamheid waarin jy jouself toewy aan die Here en die reguit pad stap. Ek wil eerlik sê: As ek net die nagmaal kan gebruik as my saak met God 100% reg is, sal ek seker nooit die nagmaal kan gebruik nie. Dis amper soos om eers jouself te probeer dokter tot jy gesond is voor jy dokter toe gaan! Vir seker is die nagmaal nie maar net ‘n item op my sondaglysie nie. Dis ‘n saak wat my lewe raak en waaroor ek ernstig moet wees. Daarom skryf Paulus aan die gemeente van Korinte:
1 Kor 11:28-29 Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink, (29) want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur ‘n oordeel oor homself.
Geen gelowige kan die nagmaal ligtelik opneem nie, maar dan nie omdat ek so goed moet wees om dit te gebruik nie, maar juis omdat ons besef dat dit gaan oor die offer van Jesus vir my persoonlik aan die kruis!
Daar is ander wat weer dink dat die nagmaal eintlik maar soos ‘n herinneringspapiertjie teen die yskasdeur is. Dit laat my net weer onthou wat Jesus lank terug aan die kruis vir alle mense gedoen het en dat ek dit ook kan glo. Dis dan net ‘n teken, ‘n simbool wat my herinner aan wat Jesus baie jare terug vir alle mense gedoen het. Dis eintlik dan dieselfde as die Evangelie op ‘n tasbare en sigbare manier.
Maar vriende, soos wat ons as Gereformeerdes dit verstaan, beteken die nagmaal baie meer as dit! Ek sê weer: ‘n Beeld kan nie alles verduidelik nie, maar dit help my tog om dit beter te verstaan en te beleef. Ek sluit aan by die beeld van die doop wat soos ‘n Geskenkbewys werk wat God vir my persoonlik gee en wat net vra dat ek dit sal gebruik, dit sal glo.
Ek weet nou nie van julle nie, maar in my lewe het die duiwel al dikwels my laat twyfel. By my doop het die Here vir my alles kom gee wat nodig is om die lewe deur Jesus te ontvang, maar dan kom daar oomblikke wat ek wonder of ek goed genoeg is om gered te word, om myself God se kind genoem te word. En dan is dit asof die duiwel in my oor fluister:
“Dink jy, jy gaan dit maak? Wat van die sonde en daai keer toe jy geweet het wat om te doen en dit nie gedoen het nie. En dan noem jy nog jouself ‘n predikant!” Ek hoop dis nie net ek wat dit so beleef nie, maar dis sulke tye wat ek wonder of ek dit ooit gaan maak. As ek vir gedoopte lidmate soms vra of hulle seker is van hul redding, dan kry ek soms die antwoord: “Wel, ek probeer”. Of “Ek hoop so”.
Jy sien, God het met my doop reeds die lewe persoonlik aan my gegee sodat ek dit kan vat, kan glo. Maar later in my lewe begin ek dan daaraan twyfel. Dis dan wanneer ek die voorbeeld van ‘n Betalingsbewys wil gebruik – daai strokie wat jy by die kassier kry na jy betaal het.
En dit is presies wat die sakrament van die nagmaal vir jou en my kom gee.
So het ons nou-net gelees:
(24) Hy sê vir hulle: “Dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie mense vergiet word.
Daarom sê ons as Gereformeerdes dat die sakramente nie net ‘n teken is nie maar ook ‘n seël is. Soos in die ou dae die merk in was van die koning se seëlring bewys dat die dokument eg is, so is ook die nagmaal ‘n bewys dat God se belofte aan ons eg en vir altyd persoonlik vir ons waar is.
God het aan my die lewe gegee en dit is reeds betaal deur sy bloed aan die kruis. Ek en jy mag dit glo en hoef nie meer te twyfel nie en kan die lewe wat God vir ons gegee het, gaan lewe. Maar ons is mense en oor ‘n maand of twee, twyfel ek weer en daarom gebruik ons die nagmaal gereeld – om ons weer en weer te verseker dat die skuld vir my reeds betaal is.
Ek nooi almal van julle nou om weer God se betalingsstrokie, sy belofte van trou, die nagmaal saam met my te vier.