1 PET. 2:4-8 (10/5/20)

 

 

#  Dit is nou al weke lank dat ons nie op ’n Sondagoggend in die kerkgebou kan bymekaar kom nie. 

  • En dalk lê daar ook nog vir ons ’n klomp sulke Sondae voor.
  • Ons weet nie.
  • Maar miskien moet ons juis daarom nou vir onsself vra: Wat is die kerk nou eintlik, en waaroor gaan kerk wees?
  • Kerk is tog nie net die gebou waarin ons Sondae bymekaar kom nie.
  • En dit kan tog nie net gaan oor die eredienste op Sondae nie.

 

 

#  So, kom ons vra vanoggend: Wat is die kerk nou eintlik, en waaroor gaan kerk wees?

  • En as ons hierdie vraag vra, is daar sommer baie in die Bybel wat vir ons kan help met die antwoord.
  • Dink maar net aan al die beeldspraak wat ’n mens in die Bybel oor die kerk raakloop.
  • Die kerk word bv. vergelyk met ’n mens se liggaam, en met ’n trop skape, en met ’n wingerd.
  • Hier in 1 Pet. 2 word die beeld van ’n gewone huis of ’n gewone gebou gebruik.
  • En Petrus leer met hierdie beeld vir ons ’n hele paar baie belangrike dinge omtrent die kerk.

 

 

#  So, kom ons kyk ’n bietjie wat sê hy oor die kerk as hy dit met ’n gewone huis of gebou vergelyk.

  • Heel eerste verwys Petrus na Jesus.
  • En hy noem vir Jesus “die lewende steen.”
  • Hy is “die lewende steen.”
  • En dan verduidelik Petrus daarby dat Jesus die hoeksteen is van die gebou wat opgerig word, van hierdie geestelike gebou.
  • En in die Bybelse tyd was die hoeksteen van ’n gebou ’n baie belangrike element van daardie gebou.
  • Die hoeksteen is heel eerste gelê en het op ’n manier blykbaar eintlik die vorm van die hele gebou bepaal.
  • En nou sê Petrus dat Jesus die hoeksteen van die kerk is.
  • En daarom moet alles wat ons as gelowiges in die kerk doen of aanpak, op ’n manier op Jesus as hoeksteen rus.
  • Hy en sy liefde moet die rigting bepaal wat ons inslaan in die kerk.
  • Hy en sy liefde moet vorm gee aan wat ons in en deur die gemeente doen en ook aan hoe ons dit doen.
  • Jesus is die hoeksteen van die kerk.

 

 

#  Maar Petrus noem vir ons nog ’n baie belangrike ding omtrent Jesus.

  • Jesus is nie net ’n lewende steen of die hoeksteen van die kerk nie.
  • Hy is ook, volgens vers 4, die steen “wat deur die mense afgekeur is.”
  • En wat beteken dit?
  • Hierdie woorde van Petrus herinner ons aan die lyding wat Jesus hier op aarde kom ervaar het.
  • Dit herinner ons aan hoe Jesus deur so baie mense verwerp en verneder en verag is.
  • Hy het hier op aarde kom ly en selfs ook gesterf, want mense het Hom afgekeur.
  • In hulle oë was Hy nie ’n bruikbare hoeksteen nie.
  • Was Hy nie Iemand op wie jy jou lewe of die kerk sou kon bou nie.
  • Maar God die Vader het anders gedink.
  • Hy maak Jesus die hoeksteen.
  • Soos vers 7 wat ons gelees het, sê: “Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword.”
  • En so beklemtoon Petrus hoe uiters belangrik Jesus is wanneer ons praat of dink oor die kerk.
  • Ons kan eintlik nie oor die kerk praat of dink en nie op daardie selfde oomblik ook oor Jesus nie.
  • Die eerste ding wat ons oor die kerk moet sê, is: dit is iets waarvan Jesus die hoeksteen is.

 

 

#  Maar nou weet ons: die kerk bestaan mos nie net uit Jesus alleen nie!

  • Dit bestaan ook uit mense.
  • En watter mense?
  • Die Bybel leer vir ons dat elkeen wat deur Jesus verlos is en lewend gemaak is, deel is van sy kerk.
  • Ook u en ek as verlostes is deel van sy kerk.
  • En Petrus gebruik eintlik dieselfde benaming vir ons as vir Jesus.
  • Hy noem nie net vir Jesus die “lewende steen” nie maar ook vir ons.
  • Hy praat in vers 5 ook van ons as “lewende stene.”
  • Eers is ons dood as gevolg van ons sonde, net so dood en leweloos soos die bakstene waarvan ons eie kerkgebou of woonhuis gebou is.
  • Maar as Jesus ons verlos, word ons elkeen ’n “lewende steen.”
  • En daarom is daar nie net ’n lewende hoeksteen in die kerk (d.w.s. Jesus) nie, maar is daar ook ander lewende stene.
  • En dit is elkeen van ons as gelowiges.

 

 

#  So hier het ons nou hierdie besondere prentjie wat Petrus vir ons gee van die kerk.

  • Die kerk, sê hy, is eintlik ’n geestelike gebou, met Jesus as hoeksteen, en elke gelowige as ’n lewende steen.
  • En nou is dit natuurlik baie belangrik dat ons sal vra: Maar wat word van ons as lewende stene verwag?
  • Hoe moet my lewe as ’n lewende steen in die kerk van die Here lyk?
  • Hieroor sou ’n mens natuurlik baie lank kon gesels, want die Bybel gee vir ons so baie riglyne oor wat die Here van ons as gelowiges verwag, oor wat die Hoeksteen van die kerk van die lewende stene verwag.
  • Maar ek wil dit alles graag vanoggend in net 2 basiese riglyne opsom.
  • En ek wil dan eerste sê: ’n Lewende steen is iemand wat moeite doen met sy of haar verhouding met die Here.
  • Niks is belangriker as ons verhouding met die Here nie.
  • Daarom het Jesus ook die eerste deel van die wet opgesom deur te sê dat ons God bo alles moet liefhê – met ons hele hart en ons hele siel en ons hele verstand en met al ons krag.
  • En hierdie tyd van inperking maak dit seker vir ons moontlik om regtig goed te kan besin oor ons verhouding met die Here.
  • En om dalk ’n bietjie ekstra tyd te kan maak vir gebed en stil wees by Hom.
  • Dit is tog duidelik uit die Bybel hoe belangrik dit is dat ons die Here gereeld sal aanbid, en dat ons sal dankie sê vir alles wat ons van Hom ontvang, en ook ons skuld teenoor Hom bely.
  • ’n Lewende steen in die kerk staan in ’n lewende verhouding met die Hoeksteen van die kerk.
  • En die krisis van die Korona-virus kan vir ons ’n gulde geleentheid wees om nader te kom aan die Here.
  • Hoe sê die digter van Ps. 73? “Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees.”
  • ’n Lewende steen is net gelukkig naby die Hoeksteen, in die regte verhouding met die lewende Hoeksteen, Jesus.

 

 

#  As ons vra: Wat verwag die Here van my as ’n lewende steen in sy kerk? dan is daar vir my ’n tweede breë riglyn.

  • En wat is dit?
  • Dit is dat ons ook moeite moet doen met ons verhouding met ander mense.
  • Nie net met ons verhouding met God nie, maar ook met ons verhouding met ander mense.
  • Jesus het die tweede deel van die wet opgesom deur te sê dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself.
  • En ek dink ons kan ook maar sê dit gaan oor moeite doen met ons verhouding met ander mense.
  • Dit kan tog seker vir ons soos ’n praktiese definisie van liefde wees: om te sê ons moet moeite doen met ons verhouding met ander.

 

 

#  Nou, in hierdie tyd van inperking hoor en sien ons gelukkig juis hoe mense bereid is om moeite te doen en ander te help.

 

  • En op hierdie punt gaan dit dan veral oor ons verhouding met mense wat in nood verkeer.
  • Maar dít is een van die dinge wat ’n lewende steen in die Here se kerk doen: hy of sy doen moeite vir ander wat swaarkry, of dit armoede of siekte of hartseer of eensaamheid of wat ookal is.
  • ’n Lewende steen help waar hy of sy kan.
  • Help om nood te verlig.
  • En die vraag is: Hoeveel moeite is ek bereid om te doen vir mense wat in nood verkeer?
  • Hoeveel moeite is ek bereid om in daardie verhoudinge waar mense my nodig het, in te sit?

 

 

#  Maar in hierdie tyd is die meeste van ons ook binne die ruimte van ons eie huis as ‘t ware ingehok saam met ander gesins- of familielede.

  • En hier is die vraag: Hoe tree ek as lewende steen in die Here se kerk nou teenoor die ander op?
  • Hoe leef ek my Christenskap hier in my eie huis uit?
  • Dis juis met skok dat ons hoor dat gesinsgeweld toegeneem het in die tyd van inperking.
  • En dít moet seker vir ons almal ’n waarskuwing wees.
  • ’n Mens kan so maklik jou woede of frustrasie op die mense naaste aan jou uithaal.
  • Maar as lewende steen moet ek bid dat die Hoeksteen, Jesus, se liefde my sal vul en vorm, en dat ek elke dag moeite sal wil doen om my verhouding met die mense rondom my te bevorder.

 

 

#  Ek hoef seker nie vanoggend vir u te sê dat die verhouding/e waarin ons staan van ons die gelukkigste mens op aarde kan maak nie.

  • Maar dieselfde verhouding/e kan mos ook van ons die ongelukkigste mens op aarde maak, waar dit skeefloop.
  • As lewende steen roep die Here my om ander se geluk te bevorder.
  • Roep Hy my om regtig moeite te doen met my verhouding met ander en om so my liefde teenoor hulle uit te leef.

 

 

#  Ons vra vanoggend: Wat is die kerk nou eintlik, en waaroor gaan kerk wees?

  • En gelukkig gaan dit nie in die eerste plek oor ’n kerkgebou nie.
  • Dit gaan oor ons verhouding met God en ook oor ons verhoudinge met ander mense.
  • Dit gaan heel prakties oor die moeite wat ons bereid is om te doen met ons verhouding met die Here en met ons verhoudinge met ander mense.
  • En daardie moeite se naam is liefde: liefde vir God bo alles en vir ons medemens soos onsself.
  • Ja, dit gaan in die kerk heel prakties eintlik maar net oor liefde!

 

 

AMEN

css.php