Preek – 1 September 2019: "Buite die laer" – Heb 12:28-13:16
Verwelkoming:
Ons lewe is soos ’n reis; maar ons het mede-reisigers; ons geloofsfamilie
Kinderoomblik:
Het julle al gehoor mense sê jou huis is waar jou hart is?
Jou huis is daar waar jy welkom voel, behoort, tussen mense is wat jou liefhet…
Het julle onlangs vakansie gehou op ’n vreemde plek? Moes julle dalk trek? Mens voel partykeer maar vreemd (en partykeer is die avontuur en die nuwe dinge lekker). Maar op ’n stadium verlang jy huis toe; na die dinge wat vir jou bekend is.
Maar as jou mense vir wie jy lief is by jou is, dan kan die omstandighede maar vreemd wees, maar jy weet jy is nie alleen nie; jy weet iemand sal sorg vir jou en planne maak…
Die Bybel sê maak nie saak waar ons as gelowiges bly nie, dit is nog nie ons regte huis nie. Ons regte huis wag vir ons by Jesus. Ons bly op pad, reisigers.
Het julle al uit, of vreemd gevoel? Of jy nie lekker pas of hoort nie?
Jou huis is waar jou hart is. Gee jou hart vir Jesus. Hou styf aan Hom vas. Wees lief vir die mense wat saam met jou glo in Hom; hou styf aan hulle vas. Die avontuur saam met hulle is die moeite werd; die huis wat Jesus vir ons reghou is wonderliker as wat ons ooit sou kon droom.
Votum:
Wat gebeur met jou as jy as gelowige in 2019 hierdie hoor?
Heb 11 en 12
37 Gelowiges is met klippe doodgegooi, in stukke gesaag, met die swaard vermoor. Hulle het rondgeswerf in skaapvelle en in bokvelle. Hulle het gebrek gely, is verdruk en mishandel. 38 Die wêreld was hulle nie werd nie; hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge en het in grotte en in gate in die grond gelewe. 39 En hoewel daar oor hulle almal vanweë hulle geloof met soveel lof getuig is, het hulle nie verkry wat beloof is nie, 40
omdat God vir ons iets beters beoog het, sodat hulle nie sonder ons die voleinding sou bereik nie.1 Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, 2 die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. 3 Hou Hom voor oë wat so ‘n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.
Skriflesing: Heb 12:28-13:16
Preek:
Ons leef in ’n tyd waar daar ‘n totale gebrek aan sekuriteit is. Ons voel onveilig; party van die dinge wat ons so onveilig laat voel is uniek aan SA, maar die meeste is eintlik maar verskynsels wat regoor die wêreld voorkom. Ons voel fisies onveilig. Ons voel ons lewens, ons privaatheid en ons eiendom is in gevaar weens misdaad. Ons voel finansieël onveilig. Ons weet nie of ons ekonomie dit gaan maak en of ons finansieël gaan oorleef nie. Ons voel in terme van ons identiteit onveilig; of die goed wat vir ons kultuurskatte is en hoe ons onsself verstaan en ons plek vind in hierdie wêreld, soos Afrikaans, van ons af weggeneem word af verag word. Ons voel ons waardesisteem word bedreig; soms voel dit asof alles wat reg was nou verkeerd is en andersom. Verder is daar nog die klimaat wat ons verskriklik onveilig laat voel en wonder oor ’n leefbare ruimte waar daar nog genoeg water sal wees en ons nie letterlik sal doodbrand nie.
En met al hierdie onsekerheid, is die tipe leierskap waaraan ons blootgestel word nou nie juis ’n versekering nie; van Cyril wat sy bes probeer teen die oormag tot karakters soos Trump en Boris Johnson en Bolisario (die president van Brasilië wat klaarblyklik nie omgee dat die Amasone afbrand nie) sien ons niemand wat ons ons uit die gemors gaan help nie. Oor iets soos die migrasie van miljoene mense wêreldwyd sou ons ook nog lank kan praat. Ons kan maar met mekaar eerlik wees: dit is moeilike tye.
Ons is vandag hier as gelowiges bymekaar. Gelowiges wat nie gevrywaar word van hierdie dinge nie. Gelowiges wat ook nie altyd weet of gereed is om vanuit hulle geloof te reageer op hierdie wêreld nie. Veranderinge gebeur net al hoe vinniger en ons word moeg. Ons verstaan nie. Ons verloor moed. Haak af. Val terug. Trek terug in ons kokonne, ons persoonlike hoekies, fokus op pret of ons eie welvaart en sukses, trek laer saam met die mense wat dieselfde is as ons. En laertrek werk net goed as jy die vyand kan identifiseer: swartmense, buitelanders, moslems, gays, liberales, of wie ookal ons kan blameer vir alles wat verkeerd loop.
Maar waar lê ons sekuriteit as gelowiges eintlik? Moet ons verwag dat hierdie wêreld dit vir ons gaan bied? Moet ons verbaas wees as ons hier soos vreemdelinge voel of behandel word?
Reeds vanaf die verbond met Abraham, is God se mense vreemdelinge, pelgrims sonder ’n vaste tuiste. Gen 12:1 “Die Here het vir Abram gesê: Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat ek jou sal aanwys.” God se Woord/beloftes, sy getrouheid soos uitgedruk in die verbond, is Abraham se sekuriteit, en hy trek, Hy volg God op die pad wat Hy wys. In Egipte is Abraham se nageslag slawe, vreemdelinge en bywoners. As God hulle roep na die beloofde land, raak hulle reisigers in die woestyn vir 40 jaar lank, sonder ’n land en ’n vaste huis. Selfs in die beloofde land kom hulle nooit heeltemal tuis nie en binnekort is hulle weer ballinge, vreemdelinge in ’n vreemde land, weg van familie, grond en tempel.
En dan vind hierdie storie van God se pelgrimsmense sy hoogtepunt in Jesus. Jesus verlaat ook sy tuisland, sy “familie” om ’n vreemdeling te word tussen vervreemde mense. Hy gee al sy sekuriteit prys. As daar op ’n dag ’n Skrifgeleerde na Jesus kom en vir Hom sê: “Meneer ek sal U volg waar U ookal gaan,” dan antwoord Jesus: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die Mens het nie eens ’n rusplek vir sy kop nie.”
Jesus kom in ’n tyd waar God se mense laer getrek het. Hulle het alles gedoen om met hulle godsdiens, hulle wet, hulle eetgebruike, hulself te probeer afskerm/distansiëer van die heidense en onderdrukkende Romeine; maar juis daarom kon hulle nie in diens staan van God se verlossende plan vir die wêreld nie.
Die effens ingewikkelde gedeelte van vers 10 af oor die offerdiens van die ou orde en die offer wat Jesus gebring het, het eintlik ’n redelike eenvoudige en kragtige betekenis. In die ou offerstelsel het die Priester die bloed van die offers in die heiligdom ingebring en net hulle liggame is buitekant die stadspoort verbrand. Maar Jesus bring sy liggaam en sy bloed as ’n offer “buite die laer” daar in die stukkende, deurmekaar en besmette wêreld. Want so het Hy ook geleef. Hy het die ou idee van “reinheid” dat jy jouself moet afskerm en weghou van sekere mense, afgebreek. Hy het tyd spandeer met tollenaars en sondaars, sy hande op melaatses gesit, gestremdes en siekes genees en geselsies aangeknoop met prostitute; tot groot ontsteltenis van die laetrekkers..
En daarom gaan die mense wat die nuwe verbond verstaan en bereid is om Jesus te volg in hierdie wêreld, ook nou na Hom waar Hy steeds leef en werksaam is; buite die stadspoort, buitekant die laer. En ons sal ook die smaad dra wat Hy gedra het. Ons sal ons kruise moet opneem en ons lewens moet gee, want “ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige” (v14). Ons is nie burgers van hierdie wêreld nie, maar van die hemel. Ons het ’n onwankelbare koninkryk ontvang en om vry te bly van die valse sekuriteite van die tydelike koninkryk moet ons gereeld herinner word aan ons status van vreemdelinge, bywoners, pelgrims.
As vreemdelinge en bywoners, is daar niks wat regtig ons s’n is nie; nie ons eiendom nie, nie ons status, ons kultuur of selfs ons lewe nie. Ons leef vir die belofte. En daarom kan ons as gelowiges, as ’n gemeenskap van vervreemdes, ’n tydelike tuiste bied, binne ons gemeenskap vir ander vervreemdes.
Gasvryheid is van die begin af een van die belangrikste kenmerke van die kerk van Jesus. Die heel eerste gemeenskap van gelowiges verkoop al hulle goed en deel alles met mekaar. Die wêreld is nie hulle woning nie. Hulle besoek mense in die tronk en versorg siekes. Ons teksgedeelte gryp terug na die gasvryheid van Vader Abraham wat die drie besoekers ontvang het en toe engele met die goeie nuus van Sara se swangerskap “as gaste gehuisves” het (v2).
Bybelse gasvryheid is natuurlik meer as die ekstra moeite wat jy vir ’n ete saam met jou vriende doen. Regdeur die Bybel word sekere mense en ons optrede teenoor hulle aan die hart van ons geloofslewe geplaas. In die OT hoor ons gereeld van die vreemdeling (basies maar ’n immigrant) en die volk se houding teenoor hulle. Ek 22:21 is ’n goeie voobeeld:
“Jy mag nie ‘n vreemdeling verdruk of laat swaarkry nie, want jy was self ‘n vreemdeling in Egipte.”
Reeds in die OT word ons hantering van armes direk met die hart van ons geloof in verband gebring; Amos maak dit duidelik; wat ons teen hulle doen doen ons teen hulle Skepper na wie se beeld hulle gemaak is. Jesus sit ook hierdie tradisie voort. Ook Jakobus tel ’n OT motief op as hy sê:
“Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan…”
Ons lewens as Christene in hierdie wêreld en in hierdie tyd moet ’n voorbeeld wees van ’n beter alternatief. Ons moet bv. ons huwelike eerbaar hou in ’n tyd van seksuele losbandigheid (soos Heb ons waarsku), maar ons moet Jesus veral ook volg in hierdie liefde wat jou uit die laer uit neem. God se heiligheid beteken nie dat ons ons eenkant hou, afskerm van die wêreld, onttrek, blameer, stereotipeer en veroordeel nie.
Christene in hierdie tyd moet veral gekenmerk word deur hulle liefde vir die vyand (Mat 5):
43 “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ 44 Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê , en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg 45 sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. 46 As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie? 47 En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie? 48 “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”
Buitekant die laer het Jesus die ware voorbeeld geword van ‘n kind van die Vader. Wat sal gebeur as ons Hom daar ontmoet? Hoe sal ons optrede wees teenoor die vreemdeling, die arme, die weduwee, die weeskind van ons dag? Die wat sonder agentskap is, sonder mag in die sisteem, uitgelewer, gestigmatiseer: die straatmens, HIV, die gay gemeenskap, die immigrant? By wie gaan ons staan? Watter beleid gaan ons ondersteun? Waar gaan ons ons hande vuilmaak?
Mag Jesus se woord ons bly pla, totdat ons na Hom gaan, buite die laer: Mat 7:21
“Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.
Want ons vreugde lê ook daar, die vreugde en sekuriteit om Jesus self in die geringstes te ontmoet. Dit is ons voorsmaak van die ewige vreugde van die onwankelbare koninkryk. Amen.
Doop:
Die groot versoeking is om in hierdie wêreld heeltemal tuis te kom; om ons so oor te gee aan hoe hierdie wêreld werk, aan sy ritmes en patrone, dat ons heeltemal inpas.
Want ons soek sekuriteit; en die wêreld belowe dit op verskillende maniere, maar hy kan dit nie vir ons gee nie.
Geloof het sy eie risiko’s, maar dit sit ons op die pad van ewige sekerheid; in die hand van die God wat alles, ook vir ons in sy hande hou; dit God wat ons voete rig op die pad van ons ewige bestemming waar ons finaal tuis, veilig sal wees.
Langs die pad is daar koeltekolle, en soms oases; vandag is so een.
Daar is veral ook mede-reisigers wat God vir ons gee. Hy leer ons van die belang van gemeenskap op hierdie manier; want dit is sy hart, dit moet ons diepste identiteit vorm en ons diepste sekuriteit aan ons gee; dat ons saam aan Hom behoort;
Hy bevestig dit uit sy genade, ook aan die kinders van gelowige ouers.
