Preek - 1 Des 2019: Net Jesus - 1 Joh 5:6-13

TEKS:

6 Die Een wat deur die water van sy doop en die bloed van sy dood na ons toe gekom het, is Jesus Christus; nie net deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die getuie daarvan, en die Gees is die waarheid. 7 Daar is dus drie wat getuig: 8 die Gees en die water en die bloed, en die drie se getuienis stem ooreen. 9 Ons aanvaar mense se getuienis, hoeveel te meer die getuienis van God, want dit is God wat getuig, en die getuienis handel oor sy Seun. 10 Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in sy hart; wie God nie glo nie, maak Hom tot leuenaar, omdat hy nie die getuienis glo wat God oor sy Seun gelewer het nie.11 En die getuienis behels dít: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun. 12 Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie. 13 Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo. (1Joh 5:6 – 13)

PREEK:

Sommige mense dink om Christen te wees, is ‘n goeie ding. Dit maak ‘n mens se lewe net nog beter. Amper soos om ‘n kar te koop met lugversorging in – mens kan seker sonder lugversorging, maar dis darem baie beter in die warm dae om een in jou kar te hê. So dink mense, en die moontlikheid is daar dat elkeen van ons by geleentheid ook so dink of leef: Dis darem beter om ‘n Christen ook te wees. Dit voeg waarde aan jou lewe toe om darem ook ‘n Christen te wees. Dit, mense, is ‘n leuen van die duiwel. Ons mag dit nooit glo nie. Wat dan? Dalk help die volgende verhaal ons om dit te verstaan.

 

Baie jare gelede was daar ‘n baie ryk man wie se groot liefde in die lewe was om saam met sy seun kunswerke te versamel. Hulle twee het reg oor die wêreld gegaan om net die beste skilderye by sy kunsversameling te voeg. So was daar teen sy mure werke van die meesters soos Picasso, Van Gogh, Monet en Rembrandt. Maar op ‘n dag breek daar toe oorlog uit en sy seun word opgeroep vir diens. Na ‘n paar weke kry die pa die verskriklike nuus dat sy seun gedood is terwyl hy besig was om ‘n medesoldaat wat gewond was na veiligheid te dra. Sy hart was stukkend en hy was gebroke.

 

‘n Hele ruk later, klop daar iemand aan sy deur. Toe hy oopmaak staan daar ‘n jong man. Hy vra of hy kan inkom. Hy vertel hom toe dat hy die soldaat is vir wie sy seun na veiligheid gedra en eintlik sy lewe so gered het. “Maar”, sê hy, “ek is ‘n skilder en het iets om vir u te gee”. Die ou man maak toe die pakkie oop. Dit was ‘n skildery van sy seun. Seker nie ‘n kunswerk nie, maar duidelik ‘n afbeelding van sy seun wat dood is.

 

Die volgende lente het die ou man baie siek geword en sterf ‘n paar dae later. Die kunswêreld was in ekstase want hulle het gehoor dat die man se kunswerke na sy dood opgeveil sal word. Die dag het aangebreek en kunsversamelaars van regoor die wêreld het opgedaag om te bie op hierdie kunswerke van onskatbare waarde. Die afslaer begin toe deur eerste die skildery van die man se seun op te veil. “Wie gee my R500?” het hy gevra. Daar was ‘n lang stilte. Niemand het in die onbekende skildery van die man se seun belanggestel nie. Toe skree een van die bieërs van agter af: “Wie gee tog om vir die portretjie? Dis net ‘n tekening van die ou man se seun. Kom ons vergeet dit en gaan aan na die meer belangrike skilderye”. “Ja, ja” het dit oral opgeklink, maar die afslaer sê toe: “Nee, die skildery moet eers verkoop word. Wie sal die seun koop?” Uiteindelik sê ‘n ou vriend van die man: “Ek het die seun geken. Ek wil dit graag hê en sal R500 daarvoor gee.” “Enigiemand met ‘n hoër bod?” het die afslaer gevra. “Vir die eerste maal, vir die 2de maal, vir die 3de maal, VERKOOP!” Almal het hande geklap, want nou kon hulle met die regte veiling begin. Maar toe sê die afslaer: “Dames en Here, die veiling is oor.” “Wat bedoel jy dis oor. Ons het nog nie begin nie! Wat van al die ander skilderye wat miljoene rande werd is?” Toe sê die afslaer: “Die testament van die man bepaal duidelik dat die een van die seun koop, die res kry.” En daarmee was dit verby.

 

Weet julle, op ‘n manier is dit eintlik maar wat die Bybel vanoggend ook vir ons sê:

12 Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.

 

Aan die begin het ons gesê: Daar is mense wat dink dat dit goed is om ook ‘n Christen te wees. Dit maak mens se lewe net ryker en voller en beter. Maar dis nie hoe ons vanoggend die Here se stem hoor nie. Die hele teksgedeelte speel as’t ware in twee kante af. Die een kant is die lewe en en die ander kant is die dood.

 

By die Here is daar net net twee moontlikhede: Of jy het die lewe, of jy het nie die lewe nie. Daar is nie grade van ‘n bietjie lewe en ‘n bietjie meer lewe en nog meer lewe en dan die heel beste is as jy ‘n Christen is nie. Mens is nie effens getroud of bietjie meer getroud nie. Jy mag dalk worstel met jou huwelik of dit mag beter gaan of baie goed gaan, maar jy is of getroud of nie getroud nie. Net so met die lewe in Jesus Christus. Jy het dit of jy het dit nie. Die volgende vraag dus: Hoe kry ek dan die lewe? Ook daar gee die Bybel die antwoord: Net deur sy Seun. Net deur in Jesus te glo, deur al my vertroue op Jesus te plaas vir my redding en die nuwe lewe deur Hom. Ons sien almal uit na Kersfees. Dis dan waneer ons weer dink en onthou dat Jesus gekom. Waarvoor? Vir watter rede? So gee die Bybel self die antwoord:

Dít verseker Ek julle: ek is die ingang vir die skape. 8 Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie. 9 Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry. 10 ‘n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed. (JOHANNES 10:7 10)

 

Daar is geen ander manier om die ware lewe te kry as deur Jesus Christus nie. Ons kan nie ook vir Jesus liefhê en dien en dink dat ons gered sal word en ook op aarde die ware lewe sal hê nie. Ons Here is ‘n God van ware liefde, maar dis alleen deur Jesus wat ons die ware lewe kan ontvang.

6 Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. (JOHANNES 14:5 6)

Wat beteken dit vir ons van Maandag tot Saterdag? Die gevaar is baie groot vir elkeen van ons dat ons ons lewens leef soos ‘n poskantoor met ‘n hele klompie posbusse. Wanneer ek oor my huwelik dink, dan het ek ‘n posbussie waarin ek my huwelikspos bêre en dit gebruik as dit nodig is. Maar ek het ook ‘n posbussie vir my geldsake. Wanneer dit kom by geld, dan het ek dar my eie stel reëls. So het ek ook ‘n posbussie vir wanneer ek saam met my pêlle is en een vir sport en een vir politiek ens. Natuurlik het ek ook een vir my Godsdiens. Hy is selfs ‘n bietjie groter as die ander. Maar die groot probleem is dat hulle nie veel met mekaar te doene het nie. Wanneer ek oor my geld en besittings dink, het dit nie noodwendig veel met my huwelik uit te waai nie en as ek oor die politiek dink, dan het dit niks met my godsdiensbussie te doene nie. Of as ek baraivleis hou met my pêlle, dan is ek een mens, maar as ek Sondag na kerk tee drink saam met my broers en susters, dan is ek ‘n ander mens as langs die blaaivuur. Dis dan wat mens maklik begin dink dis nie te sleg om ook ‘n Christen te wees nie – jy’t immers nog ‘n posbussie by in jou lewe. Die Bybel sê juis dit is ‘n plan van die duiwel want:

 

12 Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.

En die lewe wat die Bybel hier van praat is ook dié lewe van politiek en sport en getroud wees en skoolgaan en vakansie-hou en braai en alles. Wanneer nie net ‘n posbussie nie, maar die hele poskantoor van my lewe aan Jesus behoort, dan en net dan, het ek die lewe. Wanneer ek vakansie hou dan moet ek ook onthou: “Ek behoort aan Jesus en moet vakansie hou soos Sy kind.” Wanneer ek oor my geld en besittings besluit en ‘n begroting opstel of dinge koop, moet ek ook vra: “Hoe sal Jesus dit doen as Hy ek was?” As daar nog dele van my lewe is waarin ek doelbewus sê: “Hier het die Here niks mee te doene nie!”, dan HET EK NIE DIE SEUN NIE EN OOK NIE DIE LEWE NIE!

 

Die vraag wat ek hoor aan ons elkeen gevra word is: Is Jesus die sentrum van jou lewe? Is Hy die Een wat jy volg in alles? Is Jesus die middelpunt van jou lewe waaruit die res van jou lewe bepaal word of is hy soos een van die speke in jou lewenswiel? As Hy nie die middelpunt is nie, gaan jy die lewe mis.

 

Maar daar is nog ‘n waarskuwing wat ek hoor in Johannes se brief.

 

Sommige mense is ernstig daaroor dat Jesus vir ons die lewe, die ewige lewe gee en dat ons deur Sy bloed verlos word. Maar waar sommige mense nie eintlik dink dat Jesus so belangrik is vir die lewe nie, is daar ander wat daarvan oortuig is dat ek en jy nie sonder Jesus gered kan word nie. Maar, dan nie heeltemal net Jesus nie. Dan glo hulle ons word gered deur Jesus, MAAR jy moet ook….. en dan kom daar sulke dinge by soos:

 

  • Op ‘n sekere manier gedoop word.
  • Die Bybel op sommige punte verstaan soos ek dit verstaan.
  • Of om darem ‘n sekere stadaard van lewe te hê.

En dis juis ook ‘n slenter van die duiwel om ons sekerheid van ons te steel en ons oë net effens van Jesus alleen af tehaal en te kyk na onsself of ander dinge.

 

Dit terwyl ons lees:

 

Rom 3:21-24  Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie,  (22)  maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo.  (23)  Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie,  (24)  maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.

 

Natuurlik kan ek mos nie Jesus liefhê en dan lewe soos ek wil nie, maar ek wil graag lewe soos Jesus juis omdat ek aan Hom behoort.

 

Wie is Jesus vir jou? Dalk ‘n “nice to have” maar nie eintlik in die middel van jou lewe nie? Of is Hy vir jou baie belangrik, maar moet daar altyd nog iets bykom?

 

Mag die Here ons help om ons hele lewe oor te gee aan die Seun, aan Hom, en Hom alleen, wat in Bethelem gebore is vir jou en my, want: Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.

Amen.

css.php