Doen weet die "basics"!

Verwelkoming:

Ek hoop jy ontdek weer die waarde van die reismetafoor hierdie week – ons verken God se weg stukkie vir stukkie saam met Hom – ons ken nie die pad nie, maar Hy ken dit en ons volg Hom… en terwyl ons op pad is geniet ons die ontdekkings langs die pad. 

Votum/seëngroet: 

Stilword…

“”Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel…”

Skriflesing:

Hand 2:41-47

Preek:

Kom ons herinner net weer onsself waarmee ons besig is: Ons glo dat God se Gees tydens Pinkstertyd ons roeping wil vernuwe – ons weer wil wys wie ons is en na wie toe ons gestuur word. Ons glo dit is iets wat ons saam moet leer doen, as ’n gemeente, elke liewe een van ons moet deel wees van die proses en onsself daarvoor gee. Daar is geen bloudruk daarvoor nie, dit gebeur in afhanklikheid van God en in vertroue op die leiding van die Heilige Gees. Dit gebeur teen die agtergrond van ’n spesifieke tyd en plek. En dit gaan nie maklik wees nie: Jesus vra volle oorgawe, maar juis sodat ons kan deel in die volheid van sy lewe. Ons laat gaan ons ou lewe ter wille van ‘n lewe in die koninkryk. Ons gee ons menslike sekuriteite op, ter wille die groter vryheid, vreugde en doelgeritheid wat ’n lewe van navolging van Jesus bring. 

Na ’n warrelwind begin in Lukas se vertelling van die opwindende gebeure wat aanleiding gegee het tot die ontstaan van die kerk (Jesus se hemelvaart, die uitstorting van die Heilige Gees, Petrus se Pinksterdagpreek en die 3000 nuwe gelowiges), is daar hierdie konsolideringsfase waar die kerk as ’n gemeenskap begin vorm aanneem – waar die basiese waardes en praktyke van die kerk gevestig word. Wat ons in hierdie gedeelte kry word dikwels na verwys as die 4 merkers van die kerk, wat nou saamhang met mekaar en die een nie sonder die ander kan nie; maar kom ons kyk gou een vir een daarna:

  1. Die leer van die apostels: Die boodskap van die evangelie. Ons dominees weet dat ons nooit eintlik iets nuuts aan julle vertel nie, maar eintlik ’n herinneringstaak het. (Hopelik kry ons dit darem soms reg om dinge weer op vars en relevante maniere oor te dra!)  Maar ons kan nie sonder daardie konstante herinneringe en herontdekking van waarhede nie – Juis, omdat soos ons onsself gisteraand herinner het, die invloed van ons kultuur se waardes en perspektiewe altyd weer dreig om ons gedagtes en begeertes te domineer – keer op keer moet die Waarheid van die Goeie Nuus, die boodskap oor die koninkryk, weer die waardes van die koninkryk van die wêreld ontmasker. 
  2. Die onderlinge verbondenheid: Geloofsgemeenskap – die uitleef van ons band met mekaar omdat ons saam aan Jesus behoort – omdat ons deur Hom en rondom Hom versamel word. Dit is meer/sterker as vriendskap, maar dit sluit dit in. 
  3. Die gemeenskaplike maaltyd (breek van die brood): Die breek van die brood is die vroeë Christene se verwysing na die eenvoudige maaltye wat hulle gereeld gedeel het as ’n herinnering van daardie laaste maaltyd wat Jesus saam met sy dissipels in die Bo-vertrek gedeel het. Dit was hulle manier om die dood en opstanding van Jesus in die kern van hulle gesamentlike lewe te hou – vir ons hou dit verseker met die nagmaal verband.
  4. Gebed: Vir die vroeë Christene was gebed ’n uitvloeisel van hulle oortuiging dat God naby gekom het – dat hemel en aarde in Jesus aan mekaar verbind is en dat gebed ons manier is om bewustelik te bly in die teenwoordigheid van God en om verwonderd te leef op hierdie oorvleuelingsplek tussen hemel en aarde. 

Dit klink na basiese, alledaagse “kerkgoed” wat ons tog gereeld doen, of hoe? Dit is tog nie baie nuut of radikaal nie? Onthou dat die meeste van ons uit ’n lang tradisie kom waar ons hierdie goed doen – bes moontlik al van kindsbeen af het julle as familie gebid en kerk toe gekom. Maar kom ons onthou ook ons wortels; hoe dit was aan die begin. Verbeel jou die eerste bekeerlinge uit die heidendom (of in ons wêreld dalk iemand wat ’n totale sekulêre lewe lei sonder enige geloof) wat niks van hierdie wêreld van die evangelie, van kerkwees en gebed ken nie; hoe sal jy dit dan beleef? En stel jou ’n wêreld daarsonder voor: sonder die gereelde verkondiging van die Woord en die implikasie daarvan vir ons lewe, sonder die onderlinge behoort, liefde en versorging van gemeentewees, en sonder die wondergawe van gebed – oop gesprek met en aanbidding van die een ware God!

Ten spyte van die snelle uitbreiding van die familie, het die vroeë Christene geglo hulle is net mooi dit, een familie wat as ’n familie saamleef. Alles is almal s’n – grond, besittings, geld. Ons kan sekerlik vandag goeie argumente uitmaak hoekom die leefstyl nie ‘n volhoubare ekonomiese model is nie, maar die punt is, hulle het besef, as hulle ’n familie is, dan moet hulle ook een word; m.a.w. lewe wat hulle glo. Die Bybel leer ons dat ons doop, ons gedeelde geloof, ons onderlinge verbondenheid/gemeenskap, alles ’n bevestiging is dat ons broers en susters van Jesus self, en dus van mekaar, geword het; en dat hierdie, ewige familie van ons, belangriker is as is ons bloedfamilie (en wyer ook as die ras/taal/kultuur – familie waaraan jy behoort).

Dit was hierdie alternatiewe lewenstyl van die eerste kerk wat die “goedgesindheid van die volk” gewen het en die ruimte geskep het waar “die Here elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg” het. Een van die patrone van ’n Gestuurde/missionale gemeente (uit die boek Treasure in Clay jars) word beskryf as: “Praktyke wat God se bedoeling vir die wêreld demonstreer.” En dan beskryf hulle dit as volg:“Die kerk se lewe as ’n gemeenskap is ’n demonstrasie van God se bedoeling vir die lewe van die hele wêreld. Die praktyke van die kerk beliggaam wedersydse sorg, versoening, liefdevolle verantwoordbaarheid en gasvryheid. ’n Missionale gemeente word gekenmerk deur hoe Christene teenoor mekaar optree.”  Of soos Jesus in Johannes 13:35 sê: “As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

Ek sê weer, julle, dit is nie asof ons niks van hierdie dinge doen nie; daar is wonderlike voorbeelde hiervan in Paarlberg gemeente! Maar miskien moet ons dit net weer toe-eien as sentraal tot ons roeping, as die hart van ons getuiens – en ons met nuwe ywer daarop toelê. In ’n gevestigde kerk soos ons s’n, het die oortuiging oor jare gegroei dat die kerk gaan oor die rol en persoon van die professionele godsdienstige, die dominee en oor die dienste wat hulle aan mense bied. 

Die eerste kerk het geweet hulle lewe voor die belangstellende, maar kritiese oë van die wêreld. Hulle was oortuig dat hulle lewe saam as geloofsgemeenskap ’n manifestasie moes wees van die koninkryk van God. 

Wat sien die wêreld tans as hulle kyk na die kerk? Dit breek my hart – ek vermoed hulle sien ’n groep mense wat die punt radikaal mis – wat nie lewe wat hulle bely nie en wat gedurig oor alles en nog wat baklei. Ons kan nie verantwoordelikheid neem vir alles wat in die openbare domein gebeur nie – maar ons kan verantwoordelikheid neem vir wie óns as gemeente is en hoe ons saamleef. 

Om eintlik net te raak wie ons is: 

Ons is God se geliefdes wat Hy onvoorwaardelik liefhet, so ons het onvoorwaardelik lief, ons is uit genade deur Jesus gedien, so ons dien sonder om te oordeel; 

ons is geseën en ons word versorg, so seën en versorg ander. 

Ons is vergewe, so ons leef vergewensgesind. 

Vandat ek in Paarlberg gekom het, praat ons baie oor gasvryheid. Ek dink dit is ’n goeie manier om ons droom saam te vat. Christelike gasvryheid gaan oor die volkome aanvaarding van en verwelkoming van die “vreemdeling”, die “ander”, wie hulle ookal vir my mag wees. Ek sien Jesus in my mede-mens na my toe kom. Ek herontdek goed wat so min geag word in ons kultuur as heilig en van ewigheidswaarde: om net tyd te maak om na iemand te luister; regtig te luister. Om iemand anders se laste te dra. Om grense oor te steek… Hoe lyk dit prakties? 

Jy steek ’n grens oor as jy jou huishulp nie net in die huis laat rondhardloop nie, maar haar vra om saam met jou te sit en tee drink – om haar uit te vra oor haar lewe; om haar te vra om by jou gesin aan te sit vir ete… Daar is nog honderde sulke maniere hoe jy onverwags engele as gaste kan ontvang.

Watter gemeente wil ons wees, Paarlberg? Wil ons Jesus volg? Amen.

Oordenking:

Raak stil by die Here… Kom o Skepper Gees (maak ons nuut, gee ons U wysheid en onderskeiding…)

  • Watter een van ons “basics” het jy vanaand weer ontdek? Hoe kan jy meer daarvan leef in ons gemeente?
  • Kyk na die gesigte van die mense om jou… ken jy hulle name en stories? Staan ’n gesig uit met wie jy voel jy moet gaan kennis maak?
  • Kan jy in hierdie mense vir Jesus sien? Kan jy hulle aanvaar as jou ewige familie – belangriker as enige ander verbintenis?
  • Vir watter genade wil jy nou die Heilige Gees vra?

Responsoriese gebed en seën:

U het alles aan my gegee.

Aan U, Here gee ek dit nou terug.

Alles behoort aan U.

Doen daarmee wat U wil.

Gee my net U liefde en u genade.

Dit is genoeg vir my. Amen.

css.php