My siel dors na tevredenheid

Verwelkoming:

Ons vier die koms van die Heilige Gees vandag. Die Gees wat Jesus onder ons en in ons laat voortleef – wat ons herinner aan alles wat Hy geleer het en wie Hy was – die Gees wat ons tot kinders van God maak en ons laat roep: Vader!

Votum/seëngroet:

“Só sal dit in die laaste dae wees, sê God:

Ek sal my Gees uitstort op alle mense:

julle seuns en julle dogters sal as profete optree;

julle jongmense sal gesigte sien;

julle oumense sal drome droom.

18Ja, op my dienaars en my dienaresse

sal Ek in daardie dae my Gees uitstort,

en hulle sal as profete optree.

19Ek sal tekens bo in die lug

en wonders onder op die aarde gee:

bloed en vuur en rookwolke.

20Die son sal pikdonker word

en die maan bloedrooi

voordat die groot en glorieryke dag van die Here kom.

21So sal dit dan wees:

elkeen wat die Naam van die Here aanroep,

sal gered word.

Skriflesing:

Jes 55:1-5

Preek:

Hierdie week het ons geleer van die waarde van ons siele. Die dieptepunt van ons menswees – en dat elkeen van ons die verantwoordelikheid moet aanvaar vir die versorging van my siel. My siel is ’n gawe – net aan my geleen. My siel bestaan voor God. My siel se onbeperkte begeerte en behoeftigheid is die spieëlbeeld van God se onbeperkte genade en goedheid; sy onbeperkte vermoë om te kan gee. Daarom het my siel ewigheidspotensiaal.

Daarom moet ons seker maak ons leef in die sirkel van genade, nie die sirkel van werke nie. Want sielsgesondheid bepaal my hele lewe! Alles vloei, soos in Jesus se lewe vanuit God se aanvaarding. Ek leef met ’n ligte siel in hierdie swaar wêreld. En so ontdek ek wat my regtig onderhou(sustenance), wat my regtig betekenis (significance) gee en sien ek die verskil wat ek kan maak in hierdie wêreld (achievement) – alles as genade!

Soos julle kan sien begin die sirkel van werke by my eie pogings om iets te bereik – en die sirkel van werke is dodelik vir my siel!

Die Bybel sê my siel is honger en dors of leeg – nooit tevrede nie. Die ander aspekte van my lewe kan almal verslaaf en vasgevang word. My wil kan nie die kompleksiteit van die lewe en die konstante stroom van keuses, gedagtes en emosies navigeer nie. My verstand (mind – gedagtes en emosies) dwaal, vorm obsessies met verkeerde goed, en vorm patrone wat my vasvang. My liggaam se begeertes raak maklik my baas. 

Ons ontevredenheid as mense kan meestal teruggevoer word na ons verdwaalde, verslaafde siele wat afgesny is van God – die enigste rusplek vir ons siele. 

En dit is die ironie van die siel. Die siel kan nie vir sy eie vervulling/tevredenheid sorg nie, maar kan ook nie sonder vervulling/tevredenheid bestaan nie. Ons is gemaak vir sielsbevrediging – iets wat ons siel net in God kan kry. Ons siel smag na sekuriteit, na liefde, na betekenis, en dit is net by God wat ons dit in ’n vorm kan kry wat regtig bevredig. 

En dit is hoekom Jesus gesê het “want wie sy lewe (siel) wil red, sal dit verloor, maar wie sy lewe (siel) ter wille van My verloor, sal dit red. Want wat help dit ‘n mens as hy die hele wêreld as wins bekom het, maar sy siel verloor of skade aangedoen het?” 

Soos ons dus ook deur die loop van die week geleer het – ons siel sal nooit tevredenheid vind as jy bevrediging van jou behoeftes die doel van jou lewe maak nie. Dit is hoekom ons eintlik moet leer om dankbaar te wees vir oomblikke waar ons eie behoeftes/verwagtinge nie realiseer nie – dit skep ’n geleenteid om sielsbevrediging net in God te oefen.

’n Ander woord vir hierdie sieltevredenheid, of die weg daarheen, is dankbaarheid. Een van die belangrikste aspekte van ’n Christen se lewensbenadering. Soos Paulus in Kol 3 skryf: “Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer. As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar. Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. Leer en vermaan mekaar, in alle wysheid, deur met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God te sing. En wat julle ook al doen, in woord of daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus, terwyl julle God die Vader deur Hom dank.” 

En dankbaarheid/sielstevredenheid, is ook altyd ’n vorm van erkenning aan God – van aanbidding. 

Meer goeters, meer ervarings, bring nie meer dankbaarheid nie – maar ’n bewustheid van God se teenwoordigheid en sy goedheid. Dit is ’n manier om na die lewe te kyk en altyd die goeie te erken. 

Hier wys John daarop dat dankbaarheid altyd drie faktore in berekening bring. Dit begin by die Latynse woord wat “goed” beteken, naamlik “bene”. En julle sal nou ontdek watter woorde alles hiervan afgelei word en hoekom – maar ongelukkig sal ons nou die Engels moet gebruik:

Bene-fit. Om dankbaar te wees moet jy ’n geskenk ontvang en dit erken as goed, gunstig, mooi, waardig. “Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie…Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al jou siektes genees, wat jou lewe vrykoop van die graf, jou kroon met troue liefde en ontferming, wat jou begeerte met die goeie versadig. Soos ‘n arend word jou jeug dan weer nuut.” (Ps 103:2-5). 

Dankbaarheid vereis ook dat daar ’n “Bene-factor” moet wees.  Weereens die bene deel wat goed beteken, saam met ’n woord wat ons aan factory herinner. Dit verwys na die een wat goed doen – iemand wat die goeie “produseer”. Om waarlik dankbaar te wees, moet ons nie net die gawes as goed identifiseer nie. Dit gebeur nie per ongeluk nie – dit kom van Iemand af – Iemand wat goeie bedoelings met jou het. Vir ’n siel om tevredenheid te vind, moet ons kan raaksien en glo dat die goeie in ons lewe van God af kom – en nie deur ons eie meriete of prestasie nie. 

En dan is daar die Beneficiary”. Die een wat hierdie goeie gawes van God ontvang. En dit is ek en jy. Jy is die begunstigde van die gawes van God wat jou beste belange in gedagte het – en ons lewe uit die voortdurende aksie van sy sorg, soos die mossies en die veldlelies… 

Ons kan nie dankbaar wees vir iets wat ons glo ons op aanspraak kan maak nie (entitled) – en sonder ’n dankbare hart kan kwyn die siel. 

Tussen ons en ’n dankbare lewe, staan natuurlik ons trots/ego. Ons sondigheid maak ons eintitled. Die oortuiging dat hierdie gawe of ervaring wat oor my pad kom, regtens myne is – ek verdien dit. Hoe meer jy glo dat jy verdien, hoe minder dankbaar sal jy wees. Kyk maar hoe dit werk: hoe meer ons het, hoe minder dankbaar is ons geneig om te wees. Daarom vereis dankbaarheid ’n ingesteldheid van nederigheid. Nederigheid laat die self krimp en die siel verruim. Om die goeie te erken as ’n gawe en nie as verdienste nie, skuif jou buite jouself tot in die teenwoordigheid van God. 

Dan het ons nog een bene om mee af te sluit: “Bene-diction” wat mos seën(wens) beteken. Dit beteken letterlik goeie woorde. Miskien kan ons meer gereeld ons dag met die volgende geloofsgewoonte afsluit. Maak ’n lys van die dinge waarvoor jy werklik dankbaar is – die goeie in jou lewe wat jy erken as gawes van God. En dan gaan jy weer deur jou lysie en jy maak daarvan ’n “benediction” oor jou lewe:

“Ek loof U, Here, vir die gawe van lewe…”

“Ek loof U, Here, vir die skoonheid wat ek vandag in die sonsondergang kon sien…”

“Ek loof U, Here, vir die gawe van die mense in my lewe…”

Deur dankie te sê, wil jy die goeie op ’n manier teruggee aan God – en dit voed jou siel. Ons voel nie altyd outomaties dankbaar nie, maar ons kan dit oefen deur die “benefits” te erken wat ons “Benefactor” aan ons as sy “Beneficiaries” gegee het.

Onthou altyd, jou siel is die stroom en jy is die onderhouer daarvan. Jy siel is jou diepste menswees voor God – ’n siel wat behoeftig en hunkerend is, en wat net in God ware rus en tevredenheid vind. 

Orden jou dae so dat jou siel kan floreer in die konstante stroom van goedheid, liefde en genade wat van God af stroom. Amen. 

Nagmaal:

Die nagmaal is perfekte sielskos

Dit gee alles waarna ons siele hunker – Jesus Christus self.

Die nagmaal wys ons, sy offer hou aan gee – dit was nie net eenmalig nie.

Sy genade, goedheid en getrouheid is genoeg – dit maak ons siele lig – en dit gee ons genoeg krag vir elke kruis wat ons in sy Naam moet dra.

Liggaam: Hy is vir ons die brood van die ewige lewe

Wyn: Ons sal eendag saam met Hom feesvier by die Bruilofsmaaltyd. 

 

 

css.php