Neem 'n geloofsprong!
Verwelkoming:
Mag ons ’n verheldering van ons geloofsoë beleef…
Votum/seëngroet:
Stilword…
“”Wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry.”
Skriflesing:
Mat 16:21-28
Preek:
As gemeente is ons in ’n oorgangsfase. Ds Hugo het verlede jaar afgetree. Mardi het by ons aangesluit. Ds Schalk tree hierdie jaar af. Ons weet al vir ’n geruime tyd as gemeente dat ons met minder permanente personeel sal moet regkom. Ons wil ’n nuwe leraar beroep vir volgende jaar. En dit alles gebeur teen die agtergrond van die ontwrigtendste wêreld-gebeurtenis in die onlangse geskiedenis. In hierdie tyd, as ’n spesifieke gemeente in ’n spesifieke plek, vier ons Pinkster as die fees van die vernuwing van ons roeping.
Dit is nie eintlik deel van ons tradisie om saam te probeer onderskei wat ons as ’n gemeente se roeping is nie – maar ons kan nie anders nie – want daarsonder het ons nie ’n identiteit en ’n visie nie, daarsonder verloor ons ons stem as getuies van ons Koning en sy koninkryk.
In die onderskeidende reis, hou ons die heeltyd ons as gemeente se nuwe leuse in gedagte, wat ons glo die Here aan ons gegee het. Geliefd. Gevorm. Gestuur. Gisteraand het ons gesels oor hierdie ononderhandelbare skakel – om ingeskryf te wees in Jesus se skool van dissipelskap, van navolging, waar ons strewe is om klein weergawes van ons Leermeester te word. Maar die klem nou in Pinskstertyd, is op die Gestuur – op die Getuiewees – want dit is eintlik waarop dit alles uitloop – die Goeie Nuus is nie net vir ons bedoel nie!
Die Missionale beweging is ’n wêreldwye groep mense uit alle moontlike kerke wat oortuig is dat die kerk gedefiniëer word deur haar roeping en getuienistaak. In 2004 verskyn daar ’n boek wat ’n belangrike rigtinggewer was in hierdie beweging: “Treasure in Clay Jars: Patterns in Missional faithfulness.” In hierdie boek gaan kyk die skrywers na 9 gemeentes wat deel is van die netwerk wat werklik uitgestaan het in hulle bereidwilligheid om ’n geloofsprong te neem en op selfopofferende manier getuies te wees in hulle gemeenskap. Een gemeente het self hulle hele kerk uit ’n welgestelde buurt geskuif na ’n arm buurt en self daar gaan bly tussen die mense na wie hulle geroep is!
In die bestudering van die patrone wat hulle waarneem in hierdie gemeentes, het hulle aanvanklik nie die neem van risiko’s as ’n patroon erken nie, maar mettertyd agter gekom hoe belangrik dit is. My vertaalde weergawe van hoe hulle hierdie patroon beskryf, klink min of meer as volg(S6):
Die Missionale kerk leer hoe om risiko’s te neem ter wille van die evangelie. Dit verstaan haarself as anders as die wêreld, weens ons deelname aan die lewe, dood en opstanding van ons Here. Dit vra vrae, dikwels bedreigdende vrae, oor die kerk se gevangene-wees van haar kultuur. Ons worstel ook met die etiese en strukturele implikasies van die kerk Missionale roeping.”
Moenie nou vashaak by die groot woorde nie, kom ons pak dit ’n bietjie uit! Einde Maart het ek met julle gesels oor die Bybel as bril uit Rom 12:1-2. Ek weet jy sal nou niks daarvan kan onthou nie, maar miskien onthou jy die wêreldkaart waarmee ons begin het – en hoe ons persepsie uitgedaag word as jy ’n ander weergawe van ons wêreld sien. Paulus skrywe in Rom 12:2 dat ons nie aan hierdie sondige wêreld gelyk moet word nie (maar God moet toelaat om ons denke te vernuwe.)
Ek het ook verwys na die vertaling van NT Wright wat die hart van Paulus se bedoeling so goed weergee: “Don’t let yourselves be squeezed into the shape dictated by the present age.” Sonder doelbewuste oorgawe aan God, sonder ’n bewustelike, onder leiding van die Heilige Gees, ontmaskering van die werkswyse en waardes van ons kultuur, sal die krag van die stroom ons doodeenvoudig meesleur. Op ons eie het ons geen verweer nie!
Ons gedagtes, ons verbeelding, ons begeertes, ons liefdes, alles word daardeur gevorm. Maar God se koninkryk lyk anders. Jesus kom draai ons wêreld op sy kop. Of miskien is dit beter om te sê Jesus draai ons wêreld weer reg. Sy gedagtes, sy verbeelding, sy passie, lyk anders as die wat ons ken en goedkeur. Sy mag en gesag gaan kom nie dominering, onderdrukking en geweld nie, maar deur selfprysgawe in onvoorwaardelike liefde. Lewe kom deur dood. Die pad na oorwinning en heerlikheid loop deur die kruis.
Jesus se beloftes is omvangryk, maar so ook die prys wat Hy van ons vra. Daar is geen veilige middelgrond nie. Dit is nie altyd so maklik om presies te onderskei wat beteken navolging van Jesus in ons tyd en omstandighede nie – ons leef in ’n mal, vinnige en komplekse wêreld. Maar… ons weet verseker dat ons Hom nie kan volg as ons altyd veilig speel nie – as ons nooit risiko’s neem nie – as ons altyd wil klou aan ons eie gemak, veiligheid en voorspoed nie.
“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry.
Wat sal dit ‘n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor, of wat sal ‘n mens gee in ruil vir sy lewe?”
Paulus vra iewers – hoe sal mense kan glo as niemand hulle vertel nie? In dieselfde asem kan ’n mens vra: hoe sal die wêreld weet daar is ’n alternatief as niemand hulle wys nie? Wil jy regtig ’n dissipel wees, ’n navolger van Jesus? Is jy bereid om alles te gee om jou ware lewe te vind? Sal ons as gemeente, Jesus genoeg vertrou om saam te begin waag, geloofspronge te neem; bereid te wees om foute te maak en te leer – om grense oor te steek?
Mandie Ersamus wat Heart NPO begin het, het 2 weke gelede haar storie by ons getuienisbediening kom vertel. Sy het arm grootgeword by haar Ouma en Oupa, maar hulle was mense wat geloof, selfrespek, dissipline en mede-menslikheid by haar ingeskerp het. Sy gee haar lewe vir ander. Sy is meer in die “schemes” soos sy dit noem, as hierdie kant van die rivier. Sy werk in Smartietown en Hillside, twee van die armste gemeenskappe in die Paarl-Vallei. Daar bedryf sy en haar span twee papkombuise wat twee maaltye per dag aan ’n paar honderd kinders, bejaardes en gestremdes gee wat by hulle geregistreer is. Hulle was kinders en maak hulle netjies vir Skool. Hulle versorg die bejaardes. Hulle maak huise reg. En die gemeenskap moet self inspring om te help kosmaak en om hulle gemeenskap skoon te hou.
Sy is vir my ’n lewende voorbeeld van hoe navolging van Jesus lyk. Haar skatte is almal in die hemel. Daar loop sulke mense onder ons. As ons gaan kyk wat hulle doen en by hulle leer, sal ons dalk waag om soos hulle, in ons eie menswees en gawes, te begin leef in die koninkryk van God. Amen.
Oordenking:
Raak stil by die Here… Kom o Skepper Gees (maak ons nuut, gee ons U wysheid en onderskeiding…)
- Met watter indrukke en vrae los vanaand se boodskap jou? Kan jy iets van die Here se stem in hierdie Pinkstertyd begin onderskei?
- Sien jy jouself as ’n dissipel? Hoekom of hoekom nie? En ’n Getuie?
- Watter Christen in jou onmiddelike kring inspireer jou met hulle dissipelskap of getuiewees? Wil jy nou commit om meer tyd saam met hulle te spandeer?
- Wat is jou grootste gemaksone? Hoe sal die eerste tree lyk om buite jou gemaksone te begin beweeg?
Môre aand:
Doen net weer die basics! Ons gaan kyk na die 4 kenmerke van die kerk uit Hand 2 – en hoe kragtig die basiese dinge van kerkwees is, wat ons dalk al as ’n gegewe aanvaar.
Responsoriese gebed en seën:
U het alles aan my gegee.
Aan U, Here gee ek dit nou terug.
Alles behoort aan U.
Doen daarmee wat U wil.
Gee my net U liefde en u genade.
Dit is genoeg vir my. Amen.
