16 Mei 2021: Jou 2de natuur word nr 1 – Rom 6:6-13
Verwelkoming:
Dankie dat jy hier is en saam gaan op ons reis om meer te onderskei van ons roeping as getuies in God se koninkryk!
Votum/seëngroet:
Stilword… (Rom 8)
“Julle het die Gees ontvang wat ons tot God laat uitroep “Abba”! Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is…”
Skriflesing:
Rom 6:6-13
Preek:
Ons het vanoggend begin deur te sê dat Pinkster ’n tyd is vir die vernuwing van ons roeping. En ook dat dit nie in isolasie kan gebeur nie. Ons is die liggaam van Christus. ’n Oor, ’n arm of ’n toon kan nie alleen funksioneer nie, hulle het die res van die liggaam nodig. Ons het ook gesê dat ons roeping weer en weer gebeur, in verhouding met die lewende God. Dit is persoonlik, dit kom tot ons as unieke persone, maar altyd binne die konteks van ’n spesifieke geloofsgemeenskap – dit staan in diens van die roeping wat God vir die hele gemeente het. En dit gebeur op ’n spesifieke tyd en plek. God se plan kry weer en weer hande en voete in die regte, stukkende wêreld.
Ons het ook gepraat oor getuiewees wat aan die hart van ons roeping lê – enige iets wat ons doen en is in elk geval ons getuienis, of ons dit besef of nie. Een van die vrae, het ons ook vanoggend gesê wat ons onsself moet vra, is “wie?” Wie is die mense wat getroue getuies, getroue verteenwoordigers kan wees van die koninkryk van ons nuwe Koning? Hoe lyk hulle en hoe word hulle gevorm om so te lyk?
En daarom gesels ons vanaand oor die “Gevorm” deel van ons gemeente se leuse. Die gedeelte wat ons saamgelees het praat oor waarhede wat ons op verskillende maniere in die hele Nuwe Testament aantref. In geloof het sekere beginselgoed met ons gebeur. Dit is ’n voldonge feit – die verlossingsgeskenk wat God in genade aan ons gegee het. Iets wat ons nie doen nie, maar wat van buite af aan ons gedoen word.
Ons sondige natuur is gekruisig.
Ons sondige bestaan is beëinig.
Ons het saam met Christus gesterf en ons sal saam met Hom leef.
Ons is nou vir die sonde dood en ons lewe saam met God.
Maar ons is ook besig om dit te word! Of soos Henri Nouwen dit so mooi beskryf, besig met ’n “process of becoming”.
“If it is true that we not only are the Beloved (Geliefd!!), but also have to become the Beloved; if it is true that we not only are children of God, but also have to become children of God; if it is true that we not only are brothers and sisters, but also have to become brothers and sisters . . . if all that is true, how then can we get a grip on this process of becoming? If the spiritual life is not simply a way of being, but also a way of becoming, what then is the nature of this becoming?”
Daarom kan Paulus ook in dieselfde asem aangaan met ’n oproep, juis omdat ons is moet ons ook word! “Moenie toelaat dat die sonde langer oor julle heerskappy voer nie… Stel elke deel van jou liggaam in diens van God as werktuig om te doen wat God wil.”
Jesus het dissipels geroep en aan die einde aan hulle die opdrag gegee om te gaan dissipels maak (LW, nie bekeerlinge nie!). ’n Dissipel is ’n leerling en ’n student, maar ook meer as dit – dit is ’n navolger van ’n Rabbi/Leermeester, wat nie net wil weet wat sy Leermeester wéét nie, maar soos hy wil begin lééf en lyk – eintlik ’n klein weergawetjie van hom wil word.
Die bekende Dallas Willard, wat sy lewe gewy het aan die konsep van dissipelskap, sê dat ons kerke vol sit van bekeerlinge wat geensins die doelwit het om ’n dissipel te word nie. Soos regtig verbruikers wil ons die voordele van geloof, God se genade en verlossing vir onsself ontvang, sonder om te besef dat ons roeping is om getuies, verteenwoordigers, voorbeeld te wees van ons Koning en sy koninkryk! (In watter kategorie sou jy sê val jy?)
Vinnig iets oor die hoekom en dan oor die hoe. Hoekom? In kort: Want dit is hoe jy deel kry aan God se natuur – dit is ’n proesel van die hemel, die ewige, nou. Dit is inderdaad die pad na vryheid. Ons dink altyd in die eerste plek aan vryheid “van”: Ek is vry as ek kan doen wat ek wil, vry van ander se voorskrifte. Maar as ek vry is om te doen wat ek wil, is ek nog nie bevry “tot” nie. Selfs al wil ek ’n goeie ding doen, beteken nie ek het die vermoë nie – dat ek Bevry is “tot” nie. Net God kan my vry maak van my ou, sondige, sterflike lewe én bevry “tot” my nuwe, ewige lewe in Christus.
Hoe? Om bietjie verder met Dallas Willard se kalwers te ploeg… Ware atlete of kunstenaars laat mens altyd dink aan vryheid. Wat hulle doen lyk so gemaklik, so moeiteloos, so natuurlik. Hulle hoef nie meer te dink nie, hulle doen net, dit het deel geraak van hulle vesel, hulle DNA, hulle lyf. Willard hou nogal van Pavarotti, hy verwys gereeld na hom! Klaarblyklik het Pavarotti so hard gewerk aan sy asemhaling, dat hy wanneer hy opgetree het glad nie meer daaraan hoef te gedink het nie – hy kon net konsentreer op sy musikale vertolking van die spesifieke lied. Agter die vryheid van die ware kunstenaar of sportster lê ure se gefokusde dissipline en harde werk wat hulle emosies, passie en wilskrag saamgesnoer het om hierdie gawe, hierdie roeping van hulle, vlerke te gee. En nou is hulle vry om te doen waarvoor hulle gemaak is!
Wanneer ons iets onder beheer het, sê ons, dit is nou tweede natuur – ek hoef nie meer te dink nie, dit gebeur net (bv. kar bestuur). In werklikheid het iets wat tweede natuur was, nou eerste natuur geword. En dit is hoe dissipelskap ook werk. Die lae bou op mekaar. Ek gaan nie by die fynere nuanses van vertolking kan uitkom as ek nog nie my asemhaling onder beheer het nie. Ek gaan nie oornag ’n meer geduldige, liefdevolle of vergewensgesinde persoon word omdat ek harder probeer nie. Dit gebeur, stadig, prosesmatig, binne verhouding, as ek my liggaam aanbied en kom sit by Jesus se voete; inskryf in sy dissipelskapskool o.l.v sy Gees
Kom ons herinner net weer, werke, eie pogings staan teenoor genade, en nie dissipline nie. Jou passies, jou gevoelens en jou wilskrag kom in harmonie deur die beoefening van geestelike dissipline(s), soos die kunstenaar of die atleet. Ons kan mekaar op ons reis nog help met baie detail, maar kom ons vestig net eers hierdie beginsels:
Jy gaan moet tyd inruim – vaste tye van afsondering en stilte – jy gaan ’n ritme in jou lewe moe vestig. (Mens doen eers basiese opleiding voor jy spesialiseer!).
Deel van daardie tyd is om te leer hoe om stil en teenwoordig te raak, eerlik!. Erken jou gevoelens, jou begeertes, jou motivering aan jouself en aan God.
Jy hoef nie alles te verstaan nie – jy kan maar net oorgee!
Kry vir jou ’n verantwoordbaarheidsvriend – dit is nie so moeilik nie! Sê vir iemand: ons gaan een keer per maand saam koffie drink, saam bid en saam praat oor ons getrouheid in ons dissipelskappad.
Vertrou die Heilige Gees. As jy nie weet hoe nie, vra vir Jesus!
En dan ten laaste: Jy gaan jou hart, jou lyf, jou verbeelding moet week in die woorde, die storie, die wêreld van die Bybel. ’n Gemeente wat besluit het dat hulle saam hulle roeping wil onderskei, lees nie die Bybel net vir my eie gemoedsrus of om agter te kom hoe reg ek is en hoe verkeerd ander mense is nie. Ek haak nie by versies vas nie, maar ontwikkel ’n gevoel vir die hele storie en bedoeling van die Bybel – die lewe saam met God. Ek vra: hoe roep, vorm, verander en stuur die Woord, stuur God, my?
En dan mag ons as persone en as gemeente saam, dalk net besef hoe nodig ons eie bekering is, en hoe ons manier van kerkwees nodig het om te verander. Amen.
Oordenking:
Raak stil by die Here… Kom o Skepper Gees (maak ons nuut, gee ons U wysheid en onderskeiding…)
Wat het jou aangespreek en waaroor wil jy verder dink?
Wil jy die tree neem om ’n dissipel van Jesus te word? Wat keer jou nog?
Wat sê die Here vir jou oor wie jy is?
Wat sê die Here vir jou oor wie jy nog moet word? Wat moet jy nog oorkom? Waarin wil jy graag groei?
Wie kan vir jou ’n verantwoordbaarheidsvriend wees in jou dissipelskapspad? (Stuur sommer nou daardie whatsapp of maak die oproep!)
Responsoriese gebed en seën:
U het alles aan my gegee.
Aan U, Here gee ek dit nou terug.
Alles behoort aan U.
Doen daarmee wat U wil.
Gee my net U liefde en u genade.
Dit is genoeg vir my. Amen.
