16 Mei 2021 – Onderskei ons roeping - Hand 1:1-8

Verwelkoming:

Welkom by ons eerste Pinkstergeleentheid! Ek wonder wat is jou assosiasie met Pinkster? Wat onthou jy uit jou kinderdae? Dit is nogal uniek aan ons kerk, begin hier in die Paarl tydens ’n herlewing 

Het jy al gedink wat jy verwag van hierdie Pinkster? 

Mag God ook onder ons nuwe lewe, nuwe hoop, nuwe getrouheid bring in hierdie Pinkster!

Skriflesing:

Hand 1:1-8

Kindertyd:

Jesus praat baie oor die koninkryk van God. Hier staan dit ook: Tussen Jesus se opstanding en hemelvaart was daar 40 dae, in daardie tyd het Hy aan sy dissipels verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat.” Sy dissipels praat ook oor ’n koninkryk – maar die koninkryk van Israel: “Here, is dit nou die tyd dat U weer die koninkryk van Israel gaan oprig?” En dan antwoord Jesus: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandighede te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees in Jerusalem, sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

Nou wat beteken dit?! In daardie tyd, sê nou maar die Romeine kry ’n nuwe koning (of Keiser soos hulle hom genoem het) dan moet daar boodskapper na al die areas, stede en dorpies van daardie koninkryk (die hele area waar daardie koning regeer) gaan en vir almal vertel goeie nuus, goeie nuus, ons het ’n nuwe koning! Iemand is nog in beheer om seker te maak mense doen nie wat hulle wil en maak alles deurmekaar nie – hy sal sorg dat almal in sy koninkryk vrede en voorspoed geniet!

Alles rondom Jesus wys vir ons… daar is ’n nuwe Koning, en dit is Hy! En Hy is nie net Koning van een land of een groep mense nie – van alles en almal, van alles wat God gemaak het, van die hemel en die aarde. Hy het die Koning geword omdat Hy sy lewe gegee het aan die kruis en weer opgestaan het én opgevaar het. Hy sit nou op die troon van die hele wêreld!

En as daar ’n nuwe Koning is, het Hy boodskappers nodig om te gaan vertel – getuies! Mense wat ook oral rondgaan en vertel – Goeie Nuus, Goeie Nuus (Evangelie beteken Goeie Nuus!), ons het ‘n nuwe Koning en dit is Jesus – en waar ander Konings nie al hulle beloftes kan nakom om mooi vir ons te sorg nie, kan Hy!!

Jesus is hemel toe, maar tog is Hy nog steeds by ons – want Hy het vir ons die Heilige Gees gegee. Partykeer weet ons nie presies hoe om te leef as kinders van God nie, maar Hy kan ons help – Hy maak van ons hele lewe ’n boodskap oor sy Koningskap – want ons wys hoe dit lyk as Jesus Koning is in mense se lewe! (Kinder uit!)

Preek:

Pinkster is ’n tyd van die vernuwing van ons roeping. In die eerste plek beteken dit om weer al die lae van al die jare se makmaak van die evangelie te probeer afskil tot ons by God se oorpsonklike bedoeling daarvan uitkom – en baie daarvan sal ons sien by die vroeë kerk se geloof en lewe; hulle oortuiginig, passie en oorgawe. Maar ons roeping onderskei ons nie net deur iets in die geskiedenis te gaan haal en af te stof nie. Ons roeping gebeur weer en weer, in verhouding met die lewende God. Dit is persoonlik, dit kom tot ons as unieke persone, maar altyd binne die konteks van ’n spesifieke geloofsgemeenskap – daar is geen Lone Rangers vir Jesus nie! En dit gebeur op ’n spesifieke tyd en plek. God se plan kry weer en weer hande en voete in die regte, stukkende wêreld.

Nou waar begin ons as ons weer, in Pinskter 2021, in ons spesifieke tyd en omstandighede, as Paarlberg gemeente, ons roeping wil onderskei? Kom ons recap gou wat ons in kindertyd oor gesels het:

Regdeur Jesus se bediening sien ons dat die idee van die koninkryk van God ‘n sentrale rol speel. Jesus verkondig “die koninkryk van God”. Alles dui daarop: Hy is die nuwe Koning. 

Hy bring weer God se eie teenwoordigheid en heerskappy na Israel. 

Daarom ook Lukas se opmerking hier in die inleiding van Handelinge dat Jesus “in die loop van veertig dae by verskeie geleenthede aan hulle verskyn het, en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat het.” Hy verwys ook na die dissipels se vraag: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk van Israel weer gaan oprig.” En dat reageer Jesus en sê dat hulle nie soseer oor tyd en omstandighede bekommerd moet wees nie, maar dat hulle “krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle kom en sy getuies sal wees…” 

In daardie tyd, as daar ’n nuwe Koning (of Keiser) gekroon is, sou die boodskappers na al die streke en dorpe van die Ryk gestuur word om aan te kondig: Goeie Nuus – ons het ’n nuwe koning! Daar is nog iemand op die troon; iemand is in beheer; iemand wat orde handhaaf en werk vir die vrede en voorspoed van die nasie (dit sou natuurlik nie altyd so wees nie, maar dit was ten minste die ideaal). So duidelik teen hierdie agtergrond kom die Goeie Nuus van die Evangelie (wat mos “goeie nuus” beteken!). 

Daar is nou, na Jesus se opstanding en hemelvaart, ’n nuwe Koning op die troon – nie net op die troon van Israel nie (dit ook), maar op die troon, in die heersersposisie van die ganse skepping. Die grootste magsverskuiwing ooit het plaasgevind – die geskiedenis van die wêreld en die mensdom is onherroeplik verander! (“Aan My is alle mag gegee…”)

En as die Heilige Gees kom, sal Jesus se volgelinge getransformeer word tot getuies in elke streek en tot aan die uithoeke van die wêreld! Hulle moet getuies wees van die Goeie Nuus van hierdie nuwe Koning – die sagmoedige, nederige van hart, dienende, selfopofferende, liefdevolle Here, wat sy oorwinning oor die bose behaal het deur sy eie lewe as offer te gee – wat sy oorwinning bevestig het deur uit die dood op te staan en gaan sit het aan die regterhand van die Vader. Daarvan moet hulle getuies wees; maar dit is duidelik uit die geskiedenis van die vroeë kerk – hulle kan net geloofwaardige getuies wees as hulle lewe, as geloofsgemeenskap, lewende voorbeelde is van hoe die koninkryk van God lyk – hoe mense lewe onder heerskappy van hierdie nuwe Koning. 

Hierdie Pinkster wil ek julle nooi om saam met my weer op reis te gaan, as Paarlberg gemeente, in hierdie spesifieke omstandighede waarin ons nou onsself bevind, om ons roeping onder leiding van die Heilige Gees te onderskei. Daar is natuurlik ’n paar vrae wat jy sal moet beantwoord voordat ons kan vertrek op hierdie reis:

Wil ons? Is ons bereid om te gaan waar Jesus werk en om ons lewens oor te gee in gehoorsaamheid aan Hom? Sien ons dat dit die skat van groot waarde is waarvoor jy bereid is om jou lewe te gee? Kan jy die heerlikheid en die oorvloed sien in die kruispad waarop Jesus ons roep?

Glo jy dat ons as Paarlberg gemeente so ’n roeping het – dat dit onderskei kan word – dat jy ook onlosmaaklik daarvan deel is én dat ons regtig bemagtig kan word om dit uit te voer?

Daar is baie dinge in ons kultuur en tydsgees wat die onderskeiding van ons roeping verhoed: in ’n verbruikerskultuur word ons kliënte, ontvangers van goedere en dienste, wat tussen verskillende kerke rondsoek na die beste plek waar ons behoeftes aan godsdiens bevredig kan word. Ons definiëer sukses en vitaliteit as ’n gemeente dan maklik in terme van getalle, finansies en deelname aan ons programme. In ’n kerk met ’n lang geskiedenis, met vorms en werkswyses wat aan ons oorgegee word, kan ons dink Christenskap is eintlik iets staties, oorgelewerde gebruike, mooi reëls vir ’n voorbeeldige lewe en ’n ordelike samelewing – ons is “kerkmense” en ons doen alles net soos ons voorgeslagte. 

Maar as ons regtig glo dat ons geliefd, gevorm en gestuur is (en word!), dan is ons roeping, ons lewe in navolging van Jesus, ’n dinamiese, persoonlike proses wat weer en weer gebeur in ’n spesifieke tyd en omstandigede. Dit is om as gemeente die kragte wat teen die evangelie werk te begin identifiseer en teenstaan in gehoorsaamheid. Want in die koninkryk van God word sukses en lewenskragtigheid nie gedefiniëer in terme van enige iets anders as ons getrouheid aan God se roeping en uitstuur van ons nie. Dit is om te bly soek en onderskei wat is die spesifieke roeping/sending, met die gepaardgaande gawes, vir die hele gemeente en al haar lede. 

Om getuies te wees van die koninkryk van God wat gekom het in Jesus, is ’n sekere gedeelte identiteit waaruit ons lewe. Dit is nie ’n “grand” program vir sukses nie. Geen ambisieuse programme of aktivisme sal ons daar uitbring nie. Geen poging om die wêreld te verander nie. Net die nederige aanvaarding van die feit dat ons God se dienaars is wat deel raak van sy bedoeling met die wêreld. 

En dit begin met die “Geliefd” van ons leuse. Om regtig daardie stil stem diep in jou hart te hoor wat vir jou sê: “Ek het jou op jou naam geroep en jy is Myne. Ek maak jou deel van my liefdevolle verlossing en heling van die wêreld. Omdat jy in My is en ek in jou, is jy reeds Gevorm om ’n getuie te wees van wat ek gedoen het en steeds doen.”

Wil jy saamgaan op hierdie reis? Moenie bang wees nie, ons doen dit tree vir tree, saam. Begin dan saam met my hierdie Pinkster om die volgende vrae te vra:

  • Waar? Hoe lyk die omstandighede, die mense, die kultuur, die nood van ons konteks van geroep en gestuur wees tans?
  • Wanneer? Wat is op hierdie gegewe tydstip aan die roer? Dit is Covid tyd – by ons gemeente neem ons hierdie jaar afskeid van ds Schalk en ons berei onsself voor om ’n nuwe leraar te beroep.
  • Wie? Wie is ons? Wat gee die Here aan ons in terme van ons eie geskiedenis, geloofstradisie, mense en gawes?
  • Hoekom? Hoekom sal ons eerder die lewende God volg as om net nog ’n godsdienstige instansie te wees?

Roer daar iets in jou? Koester daardie stem. Reis saam. Amen.

Oordenking/stilgebed:

Hoekom joernaal hou? Om gevorm te word is ’n gedissiplineerde en gefokusde proses – dit is gebeur nie met ons onder narkose of outomaties nie. 

“There is no learning without reflection…”

“The inreflected life is an unlifed live…”

Daarom gaan ons spesifiek nadink en ons reis dokumenteer – onthou dit is ’n vorm van gebed en oorgawe. 

Raak stil by die Here… Kom o Skepper Gees (maak ons nuut, gee ons U wysheid en onderskeiding…)

Wat het jy gehoor? Hoe het Hy met jou gepraat?

Wat is die belangrikste dinge wat tans in jou lewe aangaan/ jou beïnvloed?

Hoe is God daarby betrokke?

Watter droom leef in jou vir ons gemeente?

Responsoriese gebed en seën:

U het alles aan my gegee.

Aan U, Here gee ek dit nou terug.

Alles behoort aan U.

Doen daarmee wat U wil.

Gee my net U liefde en u genade.

Dit is genoeg vir my. Amen.

css.php