LUK. 13:1-9 (20/3/22)
# Daar gebeur elke dag allerhande slegte dinge in ons wêreld.
- En soms is dit sommer groot rampe wat plaasvind.
- Dink maar aan ’n groot busongeluk, of ’n vliegtuig wat neerstort, of groot oorstromings of aardbewings, of ’n oorlogsituasie, soos op die oomblik daar in die Oekraïne.
- En baie mense kan dan sommer op een slag sterf in sulke rampe.
- Maar ook in die tyd toe Jesus op aarde was, was daar rampe waarin mense tragies gesterf het.
- Ons het so pas gelees van die klomp Galileërs wat op Pilatus se bevel doodgemaak is, en ook van die 18 mense wat dood is toe die toring van Siloam ineengestort het.
- En sulke rampe is iets wat ons nie mooi verstaan nie.
- Dit laat ons vra: “Hoekom?”
- Hoekom laat die Here sulke dinge toe?
- Hoekom verhinder Hy dit nie?
- Hy kan mos, en Hy is mos baie lief vir ons as mense?
- So stapel ons dalk die vrae op omdat ons nie so mooi kan verstaan waarom sekere slegte dinge in die wêreld en ook in ons eie lewens gebeur nie.
# Nou, in Jesus se tyd was daar blykbaar mense wat gedink het dat ongelukke en siektes en die dood alles dinge was waarmee God ’n mens gestraf het vir dit wat jy verkeerd gedoen het.
- ’n Ramp was volgens hierdie siening ’n manier waarop God die sonde van mense straf.
- So, ’n ramp vind plaas omdat daar ’n goeie rede daarvoor is, naamlik mense se verkeerde optrede.
- Maar is dit reg om so te dink?
- Om te dink dat God ons met rampe straf om ons daarmee vir ons sonde te laat boet?
- Dis duidelik hier in Luk. 13 dat Jesus nie met so ’n siening saamgestem het nie.
- Luister maar net weer na sy woorde in vers 2 en vers 4, waar Hy vra: “Dink julle dat hierdie Galileërs groter sondaars was as al die ander Galileërs omdat dit met hulle gebeur het? … Of daardie 18 wat dood is toe die toring van Siloam op hulle ineengestort het, dink julle dat hulle skuldiger was as al die ander inwoners van Jerusalem?”
- Wat wil Jesus veral sê?
- Ek dink Hy wil veral sê dat ons almal sondaars is, dat ons almal skuldig is en dat dié mense wat in rampe sterf nie noodwendig sondiger is as ons wat nog lewe nie.
- ’n Ramp tref my nie noodwendig vandag omdat ek gister ’n verkeerde ding gedoen het nie.
- Blykbaar het sommige van die mense met wie Jesus hier in Luk. 13 gepraat het, wel so gedink.
- Rampe tref die groot sondaars, het hulle gedink.
- En mense kry op dié manier maar net hulle verdiende loon.
- Maar wat sê Jesus?
- Hy sê: Nee, almal is eintlik maar skuldig.
- Julle verstaan dit verkeerd.
- Almal is eintlik maar skuldig.
- En onmiddellik begin praat Jesus dan ook met sy toehoorders oor hulle sonde en skuld.
- Dis asof Jesus wil sê: Moenie vra na die skuld van ander mense wat deur rampe getref word nie.
- Vra na julle eie sonde en skuld!
- Maar dit is mos tipies menslik: om ander se foute te wil soek en jou eie mis te kyk.
- Maar almal staan skuldig voor God.
- Ons kan seker maar sê: Ons almal is skuldig “genoeg” om deur ’n ramp of die dood getref te word.
- En daarom rig Jesus ’n dringende waarskuwing aan almal wat na Hom luister, ook aan ons vanoggend.
- Hy gebruik twee keer presies dieselfde woorde in die paar verse wat ons gelees het, en Hy sê: “As julle julle nie bekeer nie, sal julle net soos hulle ook almal omkom.”
- Bekeer julle, sê Jesus.
- Bekeer julle terwyl daar nog tyd is.
- Ja, maak ’n omkeer in jou lewe en begin om werklik vir God te lewe, want jy weet ook nie wanneer jou lewe dalk skielik kan eindig nie, soos in ’n ongeluk of in ’n ramp.
# En om sy waarskuwing oor bekering nog duideliker te maak, het Jesus ook ’n kort gelykenis, of storietjie, vertel.
- Dit handel oor ’n boer en sy vyeboom.
- En ons het gelees dat die eienaar van die boom 3 jaar lank gewag het dat daar vye aan sy boom moet verskyn.
- Maar elke keer as hy gaan kyk het of daar al vye aan sy boom was, moes hy teleurgesteld omdraai.
- Daar was nooit ’n enkele vy nie.
- En 3 jaar lank het dit so aangegaan.
- En uit moedeloosheid het die eienaar toe vir sy tuinier gesê: Kap die boom uit!
- Hy sal nooit ’n vy dra nie.
- As hy dit nie in 3 jaar gedoen het nie, sal hy dit nooit doen nie.
- Kap hom uit!
# Maar miskien moet ons net vir ’n oomblik Jesus se verhaal hier onderbreek.
- En miskien moet ons maar erken: ons kan onsself baie duidelik herken in die vyeboom in Jesus se verhaal.
- Ons staan ook dikwels heeltemal onvrugbaar voor God, met geen of min tekens van sy liefde in ons harte en lewens.
- Soos die vyeboom in die verhaaltjie stel ons ook dikwels ons groot Eienaar teleur.
- En eintlik, as dit net van myself en my eie pogings afgehang het, kan God nie anders nie as om ook van my te sê: Kap hom uit!
- Kap uit hierdie onvrugbare vyeboom!
# Maar nou kom ons by die mooi deel van Jesus se verhaal!
- Die tuinier het reeds die opdrag gekry om die vyeboom uit te kap.
- Maar hy doen dit nie dadelik nie.
- Nee, hy pleit by die eienaar om die boom nóg ’n kans te gee.
- Gee hom asb. nog ’n jaar kans, Meneer, vra die tuinier.
- Laat hom asb. nog hierdie jaar staan.
- Ek sal die grond omspit en bemes.
- Ek sal kyk of ek nie tog die vyeboom kan laat verander nie, sodat hy wel vye dra.
- En skielik, wanneer ’n mens hierdie gelykenis so lees, weet jy net: hierdie tuinier is mos eintlik Jesus.
- Dis Jesus wat by die Vader pleit vir ons.
- Wat vir die Vader vra om ons ook nóg ’n kans te gee en dat Hy ons nie dadelik sal uitkap nie.
- Dis Jesus wat vir ons pleit vir genade!
- En dit laat dink ’n mens ook aan toe Jesus aan die kruis gehang het, en daar gebid het vir hulle wat Hom daar vasgespyker het.
- Toe Jesus gevra het: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”
- Vader, vergeef die onvrugbare vyebome.
- Moet hulle nie nou al uitkap nie, maar gee hulle asb. nóg ’n kans.
- Wees hulle asb. genadig.
# Ek dink ons almal besef dit baie goed: ons het vir Jesus so nodig!
- Soos die tuinier in die verhaaltjie moet Jesus ook namens ons vra dat die Vader ons nog tyd sal gee en genadig sal wees.
- En daarby moet Jesus met ons ook werk soos die tuinier met die vyeboom gewerk het.
- Hy moet ons in liefde versorg en elke dag na ons omsien.
- Hy moet ons verander van onvrugbare bome na bome wat vrug dra vir God ons Vader.
- Die vyeboom in Jesus se verhaaltjie kon nie iets aan sy eie onvrugbaarheid doen nie.
- En net so min kan ons onsself werklik verander.
- Dis net as ons oorgee aan Jesus se werk in ons lewe dat ons kan verander.
- Dis net as Hy deur sy Gees in ons woon en regeer dat ons lewe vrugte kan begin dra.
# Maar kom ons gaan vir ’n oomblik terug na die Galileërs wat deur Pilatus laat doodmaak is en die mense wat onder die toring van Siloam beland het.
- Vir al hierdie mense het die dood baie skielik en onverwags gekom.
- En so is dit natuurlik ook vandag nog vir almal wat in rampe of ongelukke sterf.
- Dit tref jou heeltemal onverwags.
- En skielik is jou genadetyd dalk verby.
- Die tuinier in Jesus se gelykenis het een jaar van genade vir die vyeboom gevra.
- Hy het gesmeek vir 12 maande ekstra tyd.
- Maar hoe weet ’n mens wanneer hierdie “genadejaar” vir jou persoonlik verby is?
- Daar is tog geen manier om dit te weet nie.
- En die vraag is: as die Eienaar van die boom skielik weer kom, sal daar dan vrugte in my lewe wees?
- Of sal Hy my moet uitkap, soos ’n onvrugbare boom?
# Dit is van die grootste belang dat ons vanoggend elkeen diep in ons eie hart sal inkyk, en dat ons eerlik met onsself moet wees.
- Dat ons sal vra: Hoe lyk my verhouding met die Here regtig?
- Is daar geloof in my hart, dié geloof dat Jesus ook my Verlosser is?
- En is ek vervul met die Heilige Gees wat in my woon en sy vrug in my lewe dra?
- En beywer ek my allereers en bo alles vir God en sy koninkryk?
- Net deur ’n lewende verhouding met die Here kan my onvrugbare lewe verander word in ’n lewe wat vrugbaar is in die Here se oë.
- Sonder Hom en los van Hom is dit vir ons onmoontlik om anders te wees as die onvrugbare vyeboom in Jesus se verhaal.
- Maar deur Hom en in verhouding met Hom kan ons lewens elke dag vol vrug wees!
- En van vrug gepraat, Paulus spel in Gal. 5:22 en 23 die vrug van die Gees vir ons so mooi uit.
- Hy sê: Die vrug van die Heilige Gees is: “liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.”
- Mag al hierdie dinge dan ook die mooi ryp vrugte wees wat mense kan raaksien en kan ervaar wanneer hulle met ons te doen het!
# Ons het aan die begin van hierdie boodskap ’n klein bietjie oor rampe gepraat, want dit is waaroor sekere mense met Jesus kom praat het.
- En ons mag vanoggend dalk bang voel as ons dink aan al die rampe waarvan ons hoor en wat op ’n dag ook vir ons mag tref.
- Ons mag dalk ook voel dis onregverdig dat sommige mense deur rampe getref word en ander nie.
- En ons mag dalk ongelukkig voel dat ons nie regtig kan verstaan hoekom daar iets soos rampe in die wêreld is nie.
- Die Bybel gee nie vir ons ’n eenvoudige antwoord oor waarom daar iets soos rampe is nie.
- En Jesus self gee ook nie ’n antwoord hier in Luk. 13 nie.
- Maar bo alles moet elke ramp ons herinner aan Jesus se woorde in Luk. 13:3 waar Hy sê: “Bekeer julle …!”
- Rampe en ongelukke is vir ons almal ’n roepstem tot bekering.
- Dit herinner ons aan die vyeboom in Jesus se storietjie wat nie vrugte gedra het nie, en wat eintlik uitgekap moes word.
- Maar gelukkig weet ons dan ook vanoggend: ons het Iemand wat vir ons pleit by die Vader!
- Ons het vir Jesus, Hy wat soos die tuinier van sy eie storietjie, pleit dat ons nóg ’n kans moet kry.
- Wat vra: Gee hierdie vyeboom nog een jaar tyd, of hoe lank of hoe kort dan ook.
- Kom ons gryp dan die geleentheid aan wat ons vandag nog het en laat die Here Jesus toe om self ons lewens te verander soos Hy dit wil hê.
- Kom ons gee onsself so aan Hom oor dat Hy van ons vyebome kan maak wat goeie vrugte dra, tot eer van ons Vader in die hemel!.
AMEN