- 111 (14/8/22)
# Wanneer ’n kind ’n nuwe speelding kry, speel so ’n kind mos baie keer vir ’n dag of wat sonder ophou daarmee.
- Dit kan selfs wees dat die speelding moet saamgaan bed toe, as dit sou inpas onder die komberse!
- Maar dan, soos die tyd verbygaan, begin die nuwigheid mos geleidelik verdwyn.
- En later kom daar ook weer ander speelgoed wat die kind besig hou.
- En uiteindelik kan dit gebeur dat hy of sy selfs heeltemal vergeet van die oorspronklike speelding waarmee daar vroeër so ernstig gespeel is.
- Dan het daardie speelding heeltemal “ou nuus” geword en lê dit dalk eenkant vergete.
# Dít is hoe dit baie keer met kinders en hulle speelgoed gaan.
- Maar nou weet ons mos dat dit nie net kinders is wat soms van dinge vergeet nie.
- Om te vergeet, is juis ook deel van elke grootmens se lewe.
- Soms natuurlik tot ons groot frustrasie, soos wanneer jy vergeet waar jy iets gebêre het, of dalk ’n afspraak vergeet.
- Maar dit ís eenvoudig so dat ons van tyd tot tyd dinge vergeet, en selfs ook belangrike dinge kan vergeet.
# En as ons dan moet erken dat ons soms belangrike dinge vergeet, moet ons seker eerlik genoeg wees en erken dat ons soms ook van die Here vergeet.
- Dat ons Hom nie regtig altyd voor oë hou in ons lewe nie.
- En dat ons soms so besig kan wees met onsself en met allerhande ander dinge dat ons Hom as ‘t ware uitskuif uit ons lewe.
- In Hosea 8:14 lees ons juis ook van ’n tyd toe Israel van die Here vergeet het.
- Daardie vers sê: “Toe Israel sy Maker vergeet het, het Israel paleise begin bou en Juda het meer vestingstede opgerig.”
- So, die gevaar is altyd daar dat ons ook van die Here kan vergeet.
- En dat ons kan lewe asof Hy nie bestaan nie of nie regtig saak maak nie.
- Maar gelukkig weet die Here natuurlik self ook hoe vergeetagtig ons soms kan wees.
- Daarom sê vers 4 van die psalm wat ons gelees het: “Hy sorg dat sy magtige dade nie vergeet word nie.”
- En hoe doen die Here dit?
- Hy doen dit op verskillende maniere.
- Reeds in die tyd van die Ou Testament het gelowiges bv. gereeld bymekaar gekom vir godsdienstige byeenkomste.
- En waar hulle saam was, is daar altyd vertel van die groot dade van die Here.
- Van hoe die Here die hemel en die aarde en alles geskape het, en vir Israel uit Egipte verlos het, en hoe Hy hulle deur die woestyn gelei het, en nog baie ander dinge.
- En hierdie vertellings is toe ook met verloop van tyd op skrif gestel.
- En so het die Bybel, eers die Ou Testament en toe die Nuwe Testament.
- En nou kan ons vandag sê: Die Bybel is juis ook deur die Here gegee om ons aan sy groot dade te herinner.
- Waar gelowiges saamkom, en waar die Here se Woord gelees en gehoor word, daar is die Here self besig om ons aan sy groot dade te herinner.
- En ons is boonop so bevoorreg om die Bybel in ons eie taal te kan lees, ook hier waar ons vanoggend saam is!
# Maar dan is daar nog ’n baie belangrike manier waarop die Here van die vroegste tye af gelowiges aan sy groot dade herinner.
- Hy doen dit deur sekere spesiale tekens wat Hy vir sy kinders gegee het.
- Dink maar aan die pasga of paasmaaltyd waarvan ons in die Bybel lees.
- ’n Lam is geslag, die paaslam.
- En ongesuurde brood is geëet.
- En hierdie vleis en brood was dan vir Israel die tekens van hoe die Here hulle uit Egipte bevry het.
- Dit het hulle herinner aan daardie magtige reddingsdaad van die Here.
- En omdat Israel die pasga gereeld moes vier, is hulle daarom ook gereeld herinner aan wat die Here vir hulle gedoen het.
# Maar wat van vandag – ons eie tyd?
- Vandag het ons natuurlik, behalwe die doop, ook die wonderlike teken van die Nagmaal waarmee die Here ons aan sy groot dade wil herinner.
- Toe Jesus die laaste keer die pasga saam met sy dissipels gevier het, het hulle terselfdertyd die eerste Nagmaal gevier.
- En Jesus het die Nagmaal ingestel om ons daarmee altyd weer te herinner daaraan dat Hy met sy bloed vir ons sonde betaal het.
- Die tekens van die brood en die wyn herinner ons altyd weer aan wat Jesus vir ons gedoen het.
- En ons kan seker maar sê: Die Nagmaal is vir ons gegee sodat ons nie moet wees soos ’n kind wat na ’n tyd maar weer vergeet van sy of haar speelding nie.
- Die Nagmaal is vir ons gegee sodat ons nooit, maar nooit, van die liefde van die Here sal vergeet nie!
# Maar terug na Ps. 111.
- Wat sê hierdie psalm oor ons God, oor Hom aan wie se magtige dage ons ook weer vanoggend dink?
- Hoe is ons God, Hy wat agter soveel magtige dade sit?
- Hoe kan ons Hom as ‘t ware beskryf?
- Vers 4 van die psalm sê: die Here is genadig en barmhartig.
- Hy is ons genadige en barmhartige God!
- En dat Hy genadig is, beteken Hy gee vir ons soveel wat ons nie verdien nie.
- Dis mos wat genade is: jy ontvang iets sonder dat jy dit verdien.
- En daar is so baie tekens van die Here se genade in ons lewe, soos bv. dat ons mag leef, dat ons kos en klere het, dat ons gesond is, dat ons sonde op grond van Jesus se kruisdood vergewe is, en noem maar op.
- Dit alles is genade, want ons verdien dit glad nie.
- Maar die Here ís genadig.
- En daarmee saam, sê Ps. 111, is die Here ook barmhartig.
- Ons kan maar sê Hy het ’n sagte hart vir ons.
- En dít maak dat Hy vir ons omgee in ons nood en vir ons sorg.
- En dit maak nie saak wat my nood is nie.
- Miskien siekte, of hartseer, of eensaamheid, of werkloosheid, of verhoudingsprobleme, of dat ek op hierdie oomblik ver van die Here af voel of ver van Hom af leef.
- Wat my nood ook al is, in die Here se hart is daar ook vir my ’n sagte plekkie, want Hy is barmhartig.
- En op sy tyd en op sy manier sal Hy vir my uitkoms gee.
- Op sy tyd en op sy manier sal Hy my sy liefde laat ervaar.
- Daaraan hoef ek nooit te twyfel nie.
# Maar nou, baie belangrik: Hoe moet ons antwoord op dit wat die Here uit genade en barmhartigheid vir ons doen?
- En hoe moet ons antwoord op sy groot dade waaraan Hy ons ook vanoggend by hierdie diens en met die viering van die Nagmaal wil herinner?
- 111 begin met hierdie woorde: “Prys die Here! Met my hele hart wil ek die Here loof in die samekoms van die opregtes, in die gemeente.”
- En so kom moedig die psalmdigter ons ook almal vanoggend aan om die Here te prys.
- ’n Belangrike deel van ons antwoord op die Here se liefde vir ons is om Hom met oorgawe te loof en te prys.
- Net soos ons dit ook vanoggend al met ons lofliedere hier gedoen het!
- Ons lof aan die Here is ’n belangrike deel van ons antwoord op sy liefde!
- En baie belangrik, ons lof aan Hom mag ook nie net by woorde en mooi klanke bly nie.
- En dit kan nie net stop wanneer ons vanoggend hier uitstap en die musiek stil word nie.
- Nee, ons moet hierdie lof aan die Here ook uitdruk in hoe ons elke dag leef, in hoe ons elke dag die Here dien.
- Die laaste vers van die psalm sê juis: “Wysheid begin met die dien van die Here.”
- En om die Here te dien, gaan tog veral oor ons dade en ons optrede.
- Dit gaan veral daaroor dat ons ook vir die Here moet werk deur dit wat ons vir ander mense doen, veral vir mense wat op een of ander manier swaarkry.
- En uiteindelik, kan ons sê, het ons lof aan die Here met ons hele lewe te doen.
- Daar waar ek in my huwelik of gesin leef, en in my werkplek, en by my skool, en wanneer ek ontspan, en as lidmaat van hierdie gemeente, en ook as ’n goeie landsburger.
- Met letterlik alles in my lewe moet ek die Here loof en dien.
- En daarmee antwoord ek dan op sy liefde vir my.
# En as ek dit nie doen nie?
- As ek die Here nie voluit loof en voluit dien nie?
- Dan kan daar seker maar net een verklaring daarvoor wees.
- Dan het ek sowaar van die Here, en sy genade, en sy liefde, en sy groot dade vergeet, amper soos ’n kind wat van sy of haar speelding vergeet het.
- En dan is dit so nodig dat ek nou die brood en die wyn van die Nagmaal in my hande sal neem, en in my mond sal sit, en vir myself sal sê: Onthou: dít het die Here uit liefde ook vir my gedoen!
- Onthou: dít het Hy uit liefde ook vir my gely!
AMEN
