FIL. 2:5-11 (30/3/25)
# Ek wil begin met ’n kort storietjie, en hy klink só: …
- Lank, lank gelede en baie ver van waar ons vanoggend hier saam is, het daar ’n baie besondere koning geleef.
- Hierdie koning het verskriklik baie mag gehad.
- Sy weermag was ontsettend sterk, en die leiers van die lande rondom sy land, was almal te bang om met hom skoor te soek.
- Hierdie koning het in ’n groot en gerieflike paleis gewoon, waar baie mense hom bedien het en beskerm het.
- Hy was oral bekend en beroemd.
- En sy manier van lewe, sy kos en klere, alles was net van die beste.
- Maar in hierdie koning se land was daar ook ’n klomp boemelaars, mense wat baie moes sukkel om aan die lewe te bly.
- Mense wat ’n stryd om oorlewing gevoer het.
- En op ’n dag het die koning besluit om die boemelaars te gaan help.
- Hy gee toe alles prys: sy mag, sy gerief, sy beroemdheid, en selfs die klere aan sy lyf.
- Hy hang ’n verslete stuk sak om hom, sodat hy ook net soos die boemelaars lyk.
- Hy aanvaar hulle lewenswyse en word een van hulle.
- En so leer ken en verstaan hy die boemelaars en hulle probleme.
- En stukkie vir stukkie begin help en hef hy hulle op uit hulle ellende.
- Hy help hulle om weer volwaardige en gerespekteerde burgers van sy koninkryk te word.
# Nou, hierdie verhaaltjie is maar net ’n eenvoudige storietjie wat ek iewers raakgeloop het.
- Dis geheel en al uit die duim gesuig.
- Maar ek dink dit illustreer tog vir ons iets van wat Jesus ook hier op aarde kom doen het.
- 2 sê mos: Jesus, wat God was, het ’n mens geword.
- In vers 6 en 7 staan dit só: “Hy wat in die gestalte van God was, het aan mense gelyk geword.”
- Die Koning van die hele wêreld het ’n mens geword, net soos elkeen van ons.
- En soos die koning van die verhaaltjie homself moes verneder om tussen boemelaars te gaan woon, so moes Jesus ook Homself verneder om tussen ons te kom woon.
# Maar om nog beter te kan verstaan wat Jesus gedoen het toe Hy mens geword het, kan ons miskien vir ’n oomblik dink aan iemand wat besig is om by ’n stel trappe af te klim.
- Eers staan die persoon op die heel boonste trap.
- Maar dan klim hy die trappe een vir een af.
- En hy eindig heel onder, aan die voet van die stel trappe.
- En so het Jesus ook aanvanklik, kan ons sê, heel bo gestaan.
- 2 sê Hy was “in die gestalte van God.”
- En dit beteken dat Hy self ook God was.
- Maar toe klim Jesus af van sy boonste trap af en Hy gaan staan op die volgende een.
- Hy word ’n mens.
- Fil 2:7 sê: Hy het die “gestalte van ’n slaaf” aangeneem en “aan mense gelyk” geword.
- So eers besit Hy die “gestalte van God” maar dan die “gestalte van ’n slaaf.”
- Hy word een van ons.
- Hy verneder Homself en word ’n mens.
- Maar, baie belangrik: daarmee het Jesus nog nie by die onderpunt van die stel trappe gekom nie.
- Hy sou nog laer afklim – tot heel onder.
- Daarom sê Fil. 2:8: Hy het “Homself verder Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.”
- En dít was die onderpunt van die stel trappe: Jesus wat aan ’n kruishout sterf.
- Hy sterf ’n uiters pynlike dood, nadat Hy vooraf ook reeds op baie ander maniere moes ly.
- Hy sterf met spykers wat deur sy hande en voete geslaan is, en met ’n kroon van dorings wat op sy kop vasgedruk is.
- Die toppunt van lyding!
- En ons moet ook onthou: sy dood was nie net pynlik nie – dit was ook skandelik.
- Volgens Deut. 21 was ’n kruisdood ’n vervloekte dood.
- Die ou Jode het geglo dat iemand wat aan ’n kruis sterf deur God verlaat is.
- So ’n mens hang eensaam tussen hemel en aarde, ver van God en ook ver van die mense af.
- Hy sterf ’n vervloekte en skandelike dood.
# Maar so het Jesus Homself verneder, en so het Hy gely.
- So het Hy as ‘t ware teen die stel trappe afgeklim tot heel onder.
- Eers God, toe mens, toe die gekruisigde en eintlik ook vervloekte mens.
- En daar is maar net een rede waarom Jesus dit alles gedoen het.
- Hy het dit uit liefde vir ons gedoen.
- Hy wou uit liefde in ons plek die vloek en straf vir ons sonde kom dra.
- Hy wou uit liefde ons Verlosser kom wees.
- En daarvoor kan ons Hom maar net loof en prys.
- Hy het Homself tot die dood toe verneder – ook ter wille van my!
- Ek loof Hom en ek prys Hom!
# Maar nou maak Paulus in die eerste vers wat ons vanoggend gelees het ’n baie belangrike opmerking, wat ons almal raak.
- Hy sê: “Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was.”
- Dieselfde gesindheid as in Jesus moet in ons wees.
- En dit beteken ons moet ook bereid wees om onsself te verneder.
- Ons moet ook bereid wees om soos Jesus by die trappe af te klim, van die hoogste trap tot heel onder.
- So, in ons optrede as gelowiges moet daar iets van Jesus se optrede gesien kan word.
- Iets van sy liefde en selfvernedering en selfopoffering.
- En kom ons erken dit maar: ons optrede straal dikwels so ’n ander gesindheid uit.
- Nie die gesindheid van ek-is-bereid-om-af-te-klim-tot-op-die-onderste-trappie nie, maar eerder ’n gesindheid van ek-wil-opklim-tot-heel-bo!
- In ons samelewing word ons mos baie sterk aangemoedig om te presteer.
- Om op die boonste trap te gaan staan, of die boonste sport van die leer te bereik.
- En jou waarde as mens word dan ook so dikwels aan jou prestasie gemeet.
- Aan jou prestasie eerder as aan jou karakter en waardes en die soort mens wat jy is.
- Presteer jy, word jy as ’n suksesvolle mens beskou, en selfs vereer.
- Presteer jy nie, is daar mense wat jou sommer afskryf.
- En dít alles veroorsaak dikwels so ’n sieklike gees van kompetisie in ons samelewing, en ongelukkig soms ook in ons eie dorp.
- Ons wil onsself tog so graag vergelyk met ander.
- Ons is dalk nie eers bewus daarvan nie, maar ons doen dit.
- Ons vra, bewustelik of onbewustelik, hoe vergelyk my sosiale status met dié van persoon X?
- Of: het ek dit verder gebring in die lewe as persoon Y, of nie?
- Of: het ek beter punte in die eksamen gekry as persoon Z, of nie?
- Maar die gesindheid agter al hierdie vrae is die gesindheid van hoe-beter-ek-presteer-hoe-’n-beter-mens-is-ek.
- Hoe hoër op die trappies ek kan staan, hoe beter is ek.
- En dit lyk vir my ons moet ook baie versigtig wees dat hierdie gesindheid nie by ons geloofslewe insluip nie.
- Want dan dink ek dalk ek is ’n beter gelowige as iemand anders.
- Of ek dink dalk ons gemeente is beter as ander gemeentes nie.
- Ons moet almal so versigtig wees dat hierdie gesindheid van beter-as-ander-te-wil-wees ons nie geestelik hoogmoedig laat word nie.
- Want dan volg ons nie vir Jesus nie, maar die prestasiegees en kompetisiegees van ons samelewing.
# Henri Nouwen, die bekende Rooms-Katolieke priester en skrywer van geestelike boeke het ook iewers baie treffend geskryf oor hoe die samelewing ons kan verlei om nie Jesus se voorbeeld van selfvernedering te volg nie.
- Nouwen het gesê: “Die samelewing waarin ons leef, sê op talle maniere vir ons dat ons altyd boontoe moet beur. Ons moet die hoogste sport bereik, in die kalklig kom, die rekord breek – dít is wat aandag trek, dít is wat ons op die voorblad van die koerante laat beland, en wat ook vir ons die belonings van geld en roem kan bring.”
- En dan gaan Nouwen verder en hy sê: “Die pad van Jesus is radikaal anders. Dit is die pad nie van opwaartse mobiliteit nie maar van afwaartse mobiliteit. Dit is om af te klim tot heel onder, om agter die skerms te bly, om die laaste plek te kies! En waarom is dit die moeite werd om hierdie pad van Jesus te kies? Omdat dit die pad na die koninkryk van God is, die pad wat Jesus self gekies het, en die pad wat vir ons die ewige lewe bring.”
# Om onsself te verneder: dít is die voorbeeld wat Jesus vir ons kom stel het.
- Daarom sê Paulus in Fil. 2:5: “Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was.”
- En om dit maar weer te sê: die gesindheid wat daar in Jesus was, is die gesindheid van nederigheid en selfverloëning.
- Jesus se gesindheid was nooit om beter as ander mense te wil wees nie, maar altyd om ander in nederigheid te dien.
- En die vraag is nou: Is dít ook ons gesindheid as sy volgelinge?
- Is ons ook bereid om by die trappe af te klim, in plaas van om gedurig boontoe te wil beur?
- Verneder ek myself bv. ter wille van my huweliksmaat en my gesinslede en die mense wat saam met my in hierdie mooi dorp en land bly?
- En dit beteken natuurlik nie dat ek soos ‘n vloerlap moet wees nie.
- Maar stel ek werklik ander se belange bo my eie?
- Of is ek nie bereid om by daardie trappe af te klim nie?
- Is ek nie bereid om af te klim tot waar ek dalk iets kan help doen aan die probleme en behoeftes van ander mense nie?
- Tot waar ek nie met ander hoef te kompeteer of oor hulle baas hoef te speel nie, maar waar ek hulle kan help en dien met die gawes en ook met die middele wat die Here vir my gegee het?
- Ferdinand Deist het so mooi gesê: “Mense is geskape om mekaar te versorg, om daar te wees vir mekaar.” (x2) (Duur Genade 16/4)
- En vir ons om dít behoorlik te kan doen, is dit nodig dat ons Jesus se gesindheid van selfvernedering hier binne-in ons sal hê.
# ’n Mens staan vandag verstom as jy dink aan wat Jesus bereid was om te doen.
- Fil 2 sê Hy was bereid om “die gestalte van ’n slaaf aan te neem.”
- En ’n slaaf was mos in daardie tyd dié persoon wat op die heel onderste trappie van die samelewing gestaan het.
- Maar Jesus was bereid om soos ’n slaaf onder ons te kom woon.
- En nou verwag Hy dieselfde gesindheid by ons: die bereidheid om onsself te verneder in belang van ander mense.
- Die bereidheid om te sê: Nie my eie belange is die belangrikste nie, maar dié van my huweliksmaat of my werknemer of die armes en eensames en bedroefdes en siekes onder ons.
- Die ander persoon kom altyd eerste!
- Dít is die gesindheid wat daar in Jesus was.
- En dít is ook die gesindheid wat Hom gedra het deur alles wat Hy vir ons moes ly.
- Mag die Here Jesus dan self, deur sy Gees, hierdie selfde gesindheid in ons harte gee.
- En dit ook elke dag sterker en sterker laat groei!
- Mag ons leer om meer en meer soos ons nederige Koning te kan leef!
AMEN