- 122 (30/11/25)
# Baie van ons woon mos eintlik net ’n klipgooi van die kerkgebou af!
- En in elke dorp of stad in ons land is daar mos seker ’n kerk wat maklik bereikbaar is.
- Maar in die tyd toe Ps. 122 geskryf is, was dit heeltemal anders.
- Toe het die tempel in Jerusalem gestaan.
- En baie van die ou Jode moes lang afstande aflê om by die tempel te kon uitkom.
- Hulle moes lang pelgrimstogte daarheen onderneem.
- En blykbaar kón almal nie eers elke jaar daar uitkom nie.
# En nou is dit teen hierdie agtergrond dat die digter van Ps. 122 in die eerste vers sê: “Ek was bly toe hulle vir my gesê het: ‘Kom ons gaan na die huis van die Here toe.’”
- Hierdie man was al bly nog lank voor hy in Jerusalem was.
- Hy was al bly net by die gedagte en die vooruitsig om in Jerusalem te kan
- En dit laat my dink aan toe ek as kind in die Karoo groot geword het.
- In daardie tyd het een van my oumas op Mosselbaai gewoon en by die ou Bakke ’n strandhuisie gehad.
- En wanneer my ouers gesê het: Ons gaan binnekort weer by Ouma-hulle op Mosselbaai kuier, was ek al klaar opgewonde en bly, net by die gedagte aan die vakansie by die see.
- En hier is seker ook vanoggend mense wat al opgewonde en bly is oor hulle vakansie by die see of by familie wat nou baie naby is.
- Maar so was die digter van Ps. 122 dan ook al sommer vooraf bly dat hy Jerusalem toe sou gaan.
# En dan het ons in vers 2 van die psalm gelees dat hierdie man sê: “En nou is ons hier binne-in jou, Jerusalem!”
- Die groot oomblik het m.a.w. aangebreek.
- Die pelgrim was nou in Jerusalem.
- Maar wat was dan so spesiaal aan Jerusalem?
- Wat was so wonderlik aan Jerusalem?
- Die belangrikste was dat dít die plek was waar die Here teenwoordig was.
- Die Here was in sy tempel teenwoordig.
- En daarom was dit vir die ou Jode die grootste hoogtepunt om in die tempel in Jerusalem te kan
- Dít was waar jy die Here self ontmoet het.
- Dít was waar jy jou offers gaan bring het sodat jy met die Here versoen kon word.
- Dít was ook waar jy sy Naam gaan loof het.
- Soos die digter in vers 4 sê: “Dit is ’n voorskrif vir Israel om die Naam van die Here hier te loof.”
- Dis ‘n voorskrif, sê hy, om die Naam van die Here hier in Jerusalem te loof.
# Maar nog ’n belangrike ding omtrent Jerusalem was dat dit die plek was waar die verskillende stamme van Israel gereeld bymekaar gekom het.
- Ook in vers 4 sê die digter dat Jerusalem die plek is “waarheen die stamme kom, die stamme van die Here.”
- Israel het mos destyd uit 12 verskillende stamme bestaan.
- En daar was sekerlik ook onderlinge verskille tussen hierdie stamme.
- Maar wat hulle saamgebind het, was Jerusalem.
- In Jerusalem het hulle saam die Naam van die Here gaan loof, en het hulle saam die groot Joodse feeste gaan vier.
- In Jerusalem het hulle van hulle verskille vergeet en saam voor die Here hulle God gebuig en Hom aanbid.
# En dit bring ons by nog ’n belangrike saak in die psalm wat ons gelees het.
- Die digter bid self vir Jerusalem, én hy roep ook ander op om vir Jerusalem te bid.
- In vers 9 sê hy: “Ter wille van die huis van die Here ons God bid ek dat dit met jou goed sal gaan, Jerusalem.”
- En in vers 6 sê hy: “Bid dat Jerusalem vrede mag hê, dat hulle wat hom liefhet rustig mag woon.”
- So, die digter bid self vir Jerusalem, en hy vra dat ander gelowiges dieselfde sal doen.
- En die groot saak waarvoor hy bid, is vrede.
- Hy het geweet dat dit baie sleg sou wees as daar verdeeldheid en spanning tussen die mense in Jerusalem sou wees.
- Of as daar konflik of oorlog was waar ander volke Jerusalem kom aanval.
- Daarom bid hy: “Mag daar vrede wees binne jou mure, rus in jou wonings.”
- Dít is die psalmdigter se gebed vir Jerusalem.
- Hy vra vir vrede.
- En die naam Jerusalem beteken dan ook “stad van vrede” of fondament van vrede.”
- En dis natuurlik baie erg om te dink aan wat juis in hierdie tyd in Jerusalem en Israel en Gasa en groot dele van die Midde-Ooste aan die gang is.
- Al die konflik en lewensverlies en menslike lyding daar is so ‘n groot tragedie.
- En ons kan self ook maar net bid dat daar tog weer vrede sal kom.
- Dat Jerusalem weer, soos sy naam sê, ‘n stad van vrede sal wees.
# Maar nou moet ons ook vanoggend vra: Wat sê Ps. 122 vir ons as gelowiges vandag?
- Wat sê dit vir ons eeue nadat die psalm geskryf is?
- Ons opset vandag is mos glad nie meer soos dié van die digter van Ps. 122 nie.
- En Jerusalem speel mos ook nie meer dieselfde rol in ons lewens en in ons godsdiens as in daardie tyd nie.
- So wat is die boodskap van Ps. 122 vir ons vandag?
# Ek glo hierdie psalm wil vanoggend veral met ons praat oor die kerk van die Here Jesus.
- Die “Jerusalem” van hierdie psalm kan vir ons ’n simbool wees van die kerk van Jesus in ons eie tyd.
- En dan lyk dit vir my of daar veral 3 belangrike vrae is wat ons oor die kerk moet vra wanneer ons na hierdie psalm luister.
- En kom ons vra hierdie vrae sommer ook oor ons eie gemeente, oor Paarlberg.
# En heel eerste, dink ek, moet ons dan vra: Help Paarlberg wel om die eenheid en vrede tussen gelowiges te bevorder?
- In vers 4 van die psalm het ons mos gelees dat Jerusalem die plek was waarheen die stamme van Israel gekom het.
- Hulle was 12 verskillende stamme.
- Maar wanneer hulle in Jerusalem was, was hulle net die 1 volk van die Here.
- Dáár was hulle een in hulle geloof en in hulle aanbidding van die Here.
- Dáár was die dinge wat hulle met mekaar gedeel het belangriker as die verskille wat dalk bestaan het.
- Dáár was hulle as die volk van God ’n eenheid.
- En in die Nuwe Testament lees ons mos ook baie oor die eenheid van die kerk.
- So lees ons bv. dat Jesus in Joh. 17 gebid het dat sy dissipels ’n eenheid sal vorm.
- In Joh. 17:20 vra Jesus: “Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.”
# Help ons gemeente om die eenheid en vrede tussen gelowiges te bevorder?
- En help elkeen van ons ook op ons eie manier daarmee?
- Of konsentreer ons so op die verskille wat daar tussen ons en ander gelowiges is dat ons van mekaar wegdryf?
- Tree ons so op dat daar nie regtig eenheid en vrede in die kerk van die Here Jesus is nie?
- Tree ons so op dat ander nie in ons die liefde van Jesus kan herken en ervaar nie, en daarom maar liewer van ons wil wegstaan?
- Soos Jerusalem die plek was waar die stamme van Israel saamgekom het, moet ons gemeente ook ’n plek wees waar heel verskillende mense in vrede saamkom en saam ’n eenheid vorm.
- En elkeen van ons kan ook óns deeltjie doen sodat die Here se kerk baie duideliker ’n eenheid sal vorm as wat tans die geval is.
- Elkeen van ons kan bv. help dat ander welkom voel hier by ons, en dat ons ook ruimte maak vir mense wat oor sekere dinge nie met ons saamstem nie.
# Die tweede vraag wat ek dink ons moet vra wanneer ons hier in Paarlberg na Ps. 122 luister, is die vraag: Help Paarlberg dat die Naam van die Here geloof word?
- In vers 4 het ons mos gelees: “Dit is ’n voorskrif vir Israel om die Naam van die Here hier in Jerusalem te loof.”
- Nou, ons glo vandag, na Jesus se koms na die aarde, dat ons nie spesiaal na Jerusalem toe hoef te reis om die Naam van die Here te gaan loof nie.
- Ons hoef nie ’n hele pelgrimstog te onderneem nie.
- En baie van ons woon, soos ek aan die begin gesê het, selfs net ’n klipgooi van die kerkgebou af.
- Maar die vraag is: Gebruik ons die geleenthede wat ons het om die Naam van die Here te loof?
- Doen ons dit in ons sang en gebede?
- En doen ons dit in die manier waarop ons deelneem aan die aktiwiteite en projekte van die gemeente?
- Hier in Paarlberg kan ons mos mekaar help om die Here se Naam te loof.
- Hier kan ons ons stemme saamvoeg sodat ons nog beter tot lof van die Here kan sing, en bid, en praat.
- En hier kan ons ons hande uitsteek sodat ons nog beter tot sy lof dinge kan saam doen.
- Want om die Here te loof, is mos nie net om te sing en te bid en te praat nie.
- Dis ook om te doen.
- Soos 1 Kor. 10:31 sê: “Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.”
- Doen alles in jou lewe so dat jy die Naam van die Here daarmee loof!
# Die derde vraag wat ek dink Ps. 122 vanoggend aan ons stel, is die vraag: Bid ons vir die Here se kerk en vir hierdie gemeente van Hom?
- In vers 6 het die digter gesê: “Bid dat Jerusalem vrede mag hê, dat hulle wat hom liefhet, rustig mag woon.”
- Net soos dit uiters belangrik was dat daar in die psalmdigter se tyd vrede in Jerusalem moes wees, is dit uiters belangrik dat daar ook vandag vrede in die Here se kerk sal wees.
- En natuurlik ook in hierdie gemeente van Hom, waarvan ons deel is.
- En daar is mos dinge wat die vrede ook in Paarlberg bedreig.
- Ons dink bv. nie almal eenders oor hoe sekere dinge in die gemeente gedoen moet word nie.
- Dink maar aan hoe ons verskil oor die musiek in die kerk, of oor iets soos selfdegeslagverhoudings.
- Dit is dinge wat kan veroorsaak dat ons verhouding met mekaar onder druk kom.
- Ons ervaar ook nie almal ons geloof en ons verhouding met die Here op dieselfde manier nie.
- Party van ons ervaar dit sterker met ons verstand as ander.
- Party ervaar dit weer meer met die hart – met die emosies.
- Ander soek weer aksie en wil dinge gedoen kry.
- En so is dit nie altyd vir ons maklik om die hele tyd in vrede met mekaar saam te lewe en saam te werk in die gemeente nie.
- Maar Ps. 122 kom sê vanoggend vir ons: Bid dat ook Paarlberg vrede mag hê!
- Bid ernstig vir vrede en eenheid ook in hierdie gemeente van die Here.
# Dit is natuurlik so dat geen gemeente volmaak is nie.
- En dit is nie moeilik om foute of gebreke in ‘n gemeente uit te wys nie.
- Net soos dit ook nie moeilik is om met mekaar as mede-gelowiges fout te vind nie.
- Maar ons eerste prioriteit mag tog nooit wees om fout te vind met die gemeente of met mekaar nie.
- Ons eerste prioriteit moet wees om mekaar lief te hê en dan ook in liefde vir die gemeente en vir mekaar te bid.
- Vir verhoudinge van omgee en liefde.
- Vir ’n eenheid tussen ons as gelowiges wat mense buite die kerk sal help om ook te kan glo en liefhê.
# Oor net ’n paar weke vier ons weer Kersfees.
- En dis mos ’n fees van vrede!
- Dis mos wanneer ons feesvier oor die Vredevors wat gekom het.
- Oor Jesus wat sy lewe gegee het sodat ons nou vrede met God en met mekaar kan hê.
- Kom ons bid dan dat hierdie vrede ook in Paarlberg sal heers.
- En dat die vrede en eenheid in die gemeente ’n duidelike voorbeeld en getuienis vir ander sal wees.
- Maar kom ons bid ook vir vrede daar in die Midde-Ooste, en oral waar daar konflik in die wêreld is.
- En kom ons bly bid daarvoor – totdat elke knie voor die Here sal buig en elke tong sal erken dat Jesus Christus die Here en Vredevors is.
- Tot lof en eer van God die Vader.
AMEN
Verwelkoming:
Teks hier
Votum:
Teks hier
Seëngroet:
Teks hier
Skriflesing:
Teks hier
Preek:
Teks hier
Gebed:
Teks hier
