MARK. 8:31-38 (19/3/23)
# Ek stel my voor dat Jesus die regte oomblik gekies het, en toe heel moontlik vir sy dissipels gesê het: “Ek het iets baie belangriks om vir julle te sê.”
- “En dit is dat Ek na die aarde toe gekom het om baie swaar te ly.”
- “Die Joodse volksleiers en kerkleiers sal My verwerp.”
- “En Ek sal doodgemaak word.”
- “Maar drie dae later sal Ek opstaan uit die dood.”
- Min of meer so het Jesus hier in Mark. 8 met sy dissipels gepraat oor die lyding wat op Hom gewag het.
- En ook in die volgende twee hoofstukke, Mark. 9 en Mark. 10, lees ’n mens hoe Jesus weer met sy dissipels oor sy lyding en dood gepraat het.
- En elke keer praat Hy sommer baie reguit met hulle daaroor.
# En nou kan ’n mens sekerlik verstaan dat Jesus se gepraat oor lyding en doodgaan nie sulke goeie nuus vir sy dissipels was nie.
- In die gedeelte wat ons gelees het, het ons dan ook gesien hoe skerp Petrus op Jesus se aankondiging gereageer het.
- En ek glo Petrus reageer as ‘t ware namens al die dissipels.
- 8:32 sê: “Toe het Petrus vir Jesus opsy geneem en Hom begin berispe.”
- Hy raas met Jesus.
- “Hoe kan U sulke dinge sê?” het Petrus seker verontwaardig vir Jesus gevra.
- En dalk was Petrus selfs gefrustreerd en geïrriteerd met Jesus.
- Jesus sou mos hulle leier wees teen die Romeine onder wie se heerskappy hulle moes leef.
- Hy sou hulle mos help om weer hulle vryheid te kry.
- En as Jesus nou praat van ly en doodgaan, dan kan Hy nie die soort Messias en Verlosser wees waarop die dissipels en die ander Jode gehoop het en gewag het nie.
# Petrus berispe vir Jesus, want in sy oë was Jesus se praatjies verloor-praatjies.
- En dít wou die dissipels nie hoor nie.
- Jesus moes ’n sukses wees, ’n wenner.
- En Hy moes dit wees op die manier waarop die dissipels dit wou hê.
- Hy moes help dat húlle ideale van politieke vryheid verwesenlik word.
# En wat doen Jesus nou?
- Wat doen Hy in antwoord op Petrus se reaksie?
- Markus sê in vers 33: Jesus het “omgedraai, na sy dissipels gekyk en vir Petrus berispe. ‘Moenie in my pad staan nie, Satan,’ het Hy gesê, ‘want jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê.”
- En dít laat ’n mens amper hoendervleis kry, as jy in hierdie vers hoor dat Jesus vir Petrus as “Satan” aanspreek.
- As Jesus ervaar dat die Satan self eintlik op daardie oomblik deur Petrus gewerk het.
- Maar die feit is: Petrus het nie gedink aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.
- Petrus en die ander dissipels het ander planne en ideale vir Jesus gehad.
- Hulle wou nie ’n Messias hê wat ly en sterf nie.
- Hulle wou een hê wat hulle sou help om van die Romeine ontslae te raak.
- En daarom raas Petrus met Jesus omdat Hy oor sy lyding en dood praat.
# Maar natuurlik moet ons nie vanoggend te gou wees om ’n vinger na Petrus en sy mede-dissipels te wys nie.
- Ook ons behoeftes en begeertes en ideale klop dikwels nie met God se plan vir ons nie.
- En ook ons wil dalk hê Hy moet anders optree as wat Hy wel optree.
- Maar wat sê Jesus dan ook vir ons?
- Hy sê: “Moenie in my pad staan nie, Satan, want jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê.”
- En daarom moet elkeen van ons ook maar versigtig wees om nie te maklik en te gou te sê: Dít of dát is die Here se wil nie.
- Dalk is dít wat ons baie keer as die Here se wil beskou maar doodgewoon wat die mense wil hê of wat ekself wil hê.
# Maar terug na Petrus en die ander dissipels.
- Hulle het nie verstaan wat die Vader se plan met Jesus was nie.
- En wat was sy plan?
- Sy plan was dat Jesus moes ly en sterf.
- Daarvoor het Hy Jesus na die aarde toe gestuur.
- Om deur sy lyding en dood vir die sonde van hierdie wêreld te betaal.
- Die ontsettende skuldlas wat ons sonde as ‘t ware in God se bankrekening veroorsaak het, het ons hemelse Vader geen keuse gelaat nie.
- Hy moes vir Jesus stuur om op die verskriklikste manier vir ons skuldlas te kom ly en sterf.
- Jesus moes kom verloor, ook sy lewe kom verloor.
- Maar deur sy verloor is ons skuld uitgewis.
- Deur sy verloor, aan die kruis, is daar vir al ons sondes betaal.
# Ja, Jesus moes ly en sterf.
- Dít is die soort Messias wat Hy vir Israel moes kom wees.
- Maar die dissipels het dit hier in Mark. 8 nog nie verstaan nie.
- En daarom berispe Petrus vir Jesus as Hy sy lyding en dood aankondig.
# Maar belangrik, Jesus was ook nog nie klaar gepraat oor lyding en dood toe Hy met sy dissipels daaroor gepraat het nie.
- In vers 34 van Mark. 8 lees ons dat Hy die menigte mense saam met sy dissipels nader geroep het.
- En toe sê Hy vir hulle almal: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou.”
- As ek kies om Jesus te volg, wag daar vir my ook swaarkry en lyding in hierdie wêreld.
- Dis amper asof Jesus in Mark. 8 vir sy dissipels wou sê: Ek is op my pad van lyding en dood, maar onthou: Julle is op ’n manier ook saam met my op hierdie pad.
- Julle is ook op ’n pad van lyding.
- Deur julle keuse vir My, sê Jesus, kies julle om julle eie belange prys te gee.
- Kies julle om julle hele lewe, met al die fasette daarvan, vir My te gee.
- Kies julle om julle “eie ek” te laat sterf.
- Dietrich Bonhoeffer het gesê: “Wanneer Christus ’n mens roep, roep Hy jou om te kom sterf.”
- En so moet ek in ’n sekere sin eintlik my eie lewe verloor om Jesus werklik te volg.
- Jesus sê mos ons moet ons kruis opneem.
- En in Jesus se tyd was ’n kruis iets waaraan ’n mens gesterf het, iets waaraan jy jou lewe verloor het.
- So, amper soos Jesus aan die kruis sy lewe verloor het, moet ek ook my eie lewe prysgee vir Hom en vir sy saak.
- Moet ek sê: Ek plaas al my eie belange en ideale ondergeskik aan Hom en ondergeskik aan die belange van sy koninkryk en kerk.
- Ek verloor hiermee my eie lewe, want ek gee dit geheel en al vir die Here.
- Ek sterf hiermee, want ek wil leef vir Jesus.
# Die soort dissipel en volgeling wat Jesus wil hê, is iemand wat homself of haarself ten volle gee vir die verhouding wat Hy met ons wil hê.
- En in hierdie verhouding vra Jesus alles, of niks.
- My hele lewe, of niks.
- Hy vra: Vergeet van jouself; sterf aan jouself; en lewe vir My.
- En daarom moet ons vanoggend goed verstaan dat Jesus se eise vir sy dissipels baie hoog is.
- Dis sommer baie hoog!
- Die skrywer C.S. Lewis het hieroor ’n treffende stukkie geskryf, wat ek graag wil voorlees.
- Lewis het gesê: “Christus sê: Gee My alles. Ek wil nie soseer van jou geld hê of jou werk hê nie. Ek wil jou hê. Ek het nie gekom om jou ou self so ’n bietjie op te knap nie, maar om jou ou self dood te maak. Halfpad is nie ver genoeg nie. Ek wil nie ’n takkie hier en daar regsnoei nie. Ek wil die boom afkap. Ek wil nie ’n gaatjie in ’n tand stop of die tand kroon nie. Ek wil dit uittrek. Gee my jouself. Maar Ek sal Myself vir jou gee en my wil sal joune word.”
# Kom ons sê dit maar weer: Jesus se eise vir sy dissipels is baie hoog.
- Hy vra dat ons onsself sal verloën en ons kruis opneem op die pad agter Hom aan.
- En ongelukkig is ek self dikwels daaraan skuldig dat ek Jesus op ’n gemaklike manier wil volg.
- Dat ek selfs my godsdiens wil beoefen en inrig soos dit my pas.
- Dis asof ek Jesus wil volg, maar terselfdertyd wil sê: Dit moet tog net vir my maklik en aangenaam bly om Jesus te volg.
- Dit moet tog net nie te veel van my vra nie.
- Ek wil tog net nie iets opoffer in die proses nie.
- Ek wil nie ’n kruis dra nie.
- Nee, ek wil maar net rustig my eie gang kan gaan en my eie ding kan
# Maar dit lyk vir my as ons Jesus só wil volg, op ons eie voorwaardes, dan moet ons dit liewer los.
- Dan moet ons dit liewer nie eers begin doen nie, want anders mag dit met ons ook gaan soos met die man in ’n sekere storietjie wat op ’n dag sy kruis opgeneem het om Jesus te volg.
- Maar die kruis het so swaar geword dat hy begin het om stukke daarvan af te saag.
- Die kruis het toe ligter en ligter geword en die reis al hoe makliker.
- Maar toe kom die man by ’n breë rivier wat hy moet oorsteek en hy kon nie swem nie.
- Hy dink toe by homself: “Maar ek sal my kruis as ’n vlot gebruik en oorvaar.”
- Maar toe hy opklim, was die kort gesaagde kruis te lig.
- Dit het gesink.
- Die man se aangepaste kruis het gesink.
# Om Jesus werklik te volg, moet ek bereid wees om my hele kruis te dra.
- Nie net dié gedeelte wat oorbly nadat ek afgesaag het wat my nie pas nie.
- En om my hele kruis te dra, beteken dat ek bereid moet wees om al Jesus se opdragte uit te voer.
- Om aan al sy opdragte gehoorsaam te wees.
- Soos om nie skaam te wees om sy Naam te bely voor ander nie.
- En om my vyande lief te hê, ’n amper onmoontlike opdrag.
- En om weer en weer te vergewe, tot 70 maal 7 keer toe.
- En om ander hoër te ag as myself en hulle dienaar te wees, om bereid te wees om hulle voete te was.
- En om armes en veronregtes en verwerptes by te staan – die randfigure van die samelewing.
- Ek moet bereid wees om aan al Jesus se opdragte gehoorsaam te wees.
- En dít kan net gebeur as ek elke dag myself verloën en my kruis opneem op die pad agter Jesus aan.
- Mag Hy ons elkeen help om juis dít te kan doen.
- En om dit te doen uit dankbaarheid vir wat Hy aan die kruis vir ons gely het.
AMEN
