Ef. 2:1-10 (20/8/23)
# ’n Man met die naam Edmund Burke het blykbaar gesê: “Die mens is van nature ’n godsdienstige dier.”
- En nou sal ons seker nie almal daarvan hou dat ons díére genoem word nie!
- Maar die punt is: Die meeste mense op hierdie aardbol beoefen een of ander vorm van godsdiens.
- Dis asof ons as mense nie anders kan nie – ons wil godsdienstig wees.
- Ons wil seker wees dat ons saak met God reg is.
- Dat ons verhouding met Hom reg is.
- Daarom is ons van nature godsdienstige wesens, om nie te sê godsdienstige “diere” nie!
# Maar nou moet ons mooi verstaan hoe godsdiens baie keer in mense se lewens werk.
- Ons moet verstaan hoe ons as mense baie keer ons godsdiens probeer gebruik om ’n plek in die hemel te verdien.
- En hier help dit ’n mens om te dink aan die beeld van ’n leer.
- ’n Gewone leer wat jou help om op jou huis se dak te kan klim of om dalk vrugte te kan bykom bo in jou vrugteboom.
- In baie gevalle is godsdiens vir mense soos ’n leer waarteen jy moet opklim.
- Jy begin onder op die grond en dan moet jy al die regte dinge doen, en baie goed lewe, sodat jy hoër en hoër teen die leer kan opklim.
- En jy kan nie stop met hierdie proses voor jy by die hoogste sport gekom het nie, want dis eers die hoogste sport op die leer wat jou by die hemel bring.
- Dít is hoe baie mense as ’t ware tot by God probeer opklim.
- Maar die probleem is: Niemand bereik ooit die hoogste sport op hierdie leer nie!
- Niemand kan goed genoeg lewe om tot by God self op te klim nie.
- En as dít is hoe ’n mens oor jou godsdiens dink, dat dit soos ’n leer na die hemel is, dan help dit jou eintlik niks.
- Dit help jou eintlik niks, want jy gaan nooit heel bo uitkom nie.
- Jy gaan maar altyd weer terugval en ervaar dat jy misluk.
# Maar gelukkig hoef ons nie ons godsdiens en ons Christelike geloof as ’n soort leer te sien nie.
- Johan Cilliers sê iewers: “Die Christelike geloof is nie ’n leer nie, maar ’n tou, ’n reddingsboei wat God van bo-af na onder toe uitgooi, ’n tou wat om ons val en ons na God toe inhaal, ons omhoog voer. Dis ’n omgekeerde beweging: nie van onder na bo (soos met ’n leer) nie, maar van bo na onder.”
- En dít wat Johan Cilliers hier sê, strook ’n 100% met wat Paulus ook vanoggend in Ef. 2 vir ons sê.
- Ons redding, so sê Paulus ook, is nie iets wat van onder na bo gebeur nie.
- Dit gebeur nie soos wanneer ek opklim teen ’n leer nie.
- Nee, die rigting van ons redding is van bo na onder.
- Dis soos wanneer ’n reddingstou uitgegooi of afgegooi word na iemand wat besig is om te verdrink.
- Die persoon in die water kan nie homself red nie.
- Hy kan maar net die hulp aanvaar wat vir hom aangebied word.
- En daarna vir altyd dankbaar wees oor wat gebeur het!
- En so is ons verlossing soos ’n reddingstou wat na ons toe uitgegooi word en nie soos ’n leer waarteen ons moet opklim nie.
# Maar kom ons kyk vir ’n oomblik ook van nader na dit wat Paulus vir ons in Ef. 2 oor hierdie dinge sê.
- Hy praat nie in dié gedeelte van reddingstoue en lere nie, maar hy gebruik wel ander woorde en begrippe wat vir ons verskriklik belangrik is om te verstaan.
- En twee van die belangrike woorde wat hy gebruik, is die woorde “dood” en “lewend.”
- Hy begin Ef. 2:1 juis met die woorde: “Julle was dood …”
- “Julle was dood…,” sê Paulus.
- En dis darem baie sterk gestel!
- Maar dít is wat hy sê: “Julle was dood …”
- En hoekom sê hy dit?
- Hy sê dit omdat ons oortredings en ons sonde maak dat ons eintlik geestelik dood is.
- Elke mens wat nog nie deur die Here gered is nie, is geestelik dood.
- So ’n persoon kan wel asemhaal, en rondloop, en sy of haar werk doen, en selfs hulle godsdiens beoefen, en ook teen die leer probeer opklim na die Here toe.
- Maar as jy mooi kyk, dan is so ’n persoon eenvoudig geestelik dood.
- Dan is so ’n persoon in ’n situasie waar hy of sy sonder hoop en sonder God is.
- In ’n situasie waaruit ’n mens jouself nie kan red nie.
- En ons weet tog ook dat iemand wat in die gewone sin van die woord dood is, nie homself weer lewend kan maak nie.
- So iemand kan nie sy eie hart weer laat klop of sy brein weer laat dink nie.
- En so is dit dan ook wanneer ons geestelik dood is.
- Ons kan onsself nie daaruit red nie.
# So, Paulus beskryf eintlik elke mens se situasie as hy in vers 1 sê: “Julle was dood …”
- Maar dan kom ons by twee van die mooiste verse wat daar seker in die hele Bybel is: Ef. 2: 4 en 5.
- Paulus sê: “Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!
- So eers sê Paulus: “Julle was dood …”
- Maar dan kom Hy met die goeie nuus: “Maar God het ons lewend gemaak.”
- Ja, ons was dood, maar God het ons lewend gemaak!
- En hoekom het Hy dit gedoen?
- Paulus sê dis omdat Hy ryk is in barmhartigheid en ons innig lief het.
- Dis omdat God se hart oorloop van liefde vir ons.
- Daarom maak Hy mense wat geestelik dood is weer lewend.
- En Paulus sê God maak ons saam met Christus lewend.
- Net soos Jesus na sy kruisdood deur die Vader lewend gemaak is, so word ons saam met Hom lewend gemaak.
- Dit gaan oor “dood” wees of “lewend” wees.
- En ons kan nie onsself lewend maak nie.
- Net God kan dit doen.
- Net Hy kan ons red uit ons geestelike dood.
- En as Hy nie die reddingstou na ons toe uitgooi nie, bly ons eenvoudig dood.
- Bly ons verlore in ons sonde.
# Ek het reeds gesê: Paulus gebruik ’n hele paar baie belangrike woorde hier in Ef. 2:1-10.
- Hy praat van “dood” wees en van “lewend” wees, waaroor ek so pas iets gesê het.
- Maar dan gebruik Paulus ook drie keer (as ek reg tel) die woord “genade.”
- “Uit genade is julle gered!”, sê Paulus.
- En wat beteken dít?
- Dit sê maar net weer vir ons: Die Here red ons nie deur ons teen ’n leer te laat opklim nie, maar deur ’n reddingstou na ons toe uit te gooi.
- Genade beteken mos: Ons ontvang iets goeds wat ons nie verdien nie.
- As ek wel teen die leer sou kon opklim, tot heel bo, tot by God, dan sou dit ’n prestasie van my kant af gewees het.
- Amper soos wanneer iemand tot by die hoogste piek van die berg Everest geklim het.
- Dis ’n baie groot prestasie om dít reg te kry.
- Dis iets om op trots te wees, baie trots.
- Maar ons word nie gered omdat ons op die een of ander manier presteer het nie.
- Nee, Paulus sê uitdruklik in vers 8 en 9 wat ons gelees het: “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.”
- Ons is net uit genade gered.
- Ons is net gered omdat God dit vír ons gedoen het.
- Omdat Hy die reddingstou na ons toe uitgegooi het toe Hy sy Seun Jesus in ons plek aan ’n kruis laat sterf het.
- Jesus is, met respek gesê, die reddingstou waarmee ons gered word.
# Maar iets hier binne-in ons vra dalk: Is daar dan niks wat ons in hierdie hele saak van ons kant af moet doen nie?
- Is daar niks wat ons kan doen vir ons redding nie?
- Wat dan van ons geloof?
- Ons moet mos glo om gered te word?
- En wat dan van die goeie dade wat die Here wil hê ons moet doen?
- Hy sê dan ons moet ander mense liefhê soos onsself en nooit ophou om goed te doen aan ander nie?
- Is dit alles dan eintlik onnodig?
- En dan moet ons sê: Paulus praat wel ook hier in Ef. 2 oor “geloof” en oor “goeie dade.”
- En ons geloof en ons goeie dade is wel baie belangrik.
- Maar dan moet ons dit nie sien as sporte van die leer waarmee ek na God kan opklim nie.
- Selfs my geloof is nie ’n prestasie van my kant nie.
- Geloof is eerder net soos ’n leë hand waarmee ek God se reddingstou vasgryp.
- Geloof is maar net die manier waarop ek God se hulp en redding aanvaar, met my leë hand.
- Dis glad nie ’n prestasie van my kant nie.
- Geloof is net die dankbare aanvaarding van God se wonderlike verlossingswerk!
# En “goeie dade”?
- Waar kom dít in die prentjie?
- In die laaste vers wat ons gelees het, sê Paulus dit so mooi.
- Hy sê: “God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”
- So God wil natuurlik hê dat ons goeie dinge sal doen.
- Hy wíl hê dat ons sy liefde met ander sal deel.
- Dat ons deur wat ons doen ’n verskil sal maak in die lewens van ander – veral ander wat minder bevoorreg is, of swaarkry, of ons hulp baie nodig het, om watter rede ookal.
- “Goeie dade,” sê Paulus, hier in Ef. 2 is eintlik waarvoor God ons bestem het.
- Dit is deel van sy bedoeling en sy plan met ons en ons lewens hier op aarde.
- En met ons goeie dade van liefde maak ons sekerlik ook die Here se hart bly!
- Maar ons doen nie goeie dade om daarmee op te klim teen ’n leer na Hom toe nie.
- Ons doen dit uit dankbaarheid vir sy liefde en genade!
- Uit dankbaarheid vir die wonder van sy reddingsplan vir ons almal!
# Baie keer skryf Paulus nogal heel moeilik en ingewikkeld in die briewe wat ons van hom in die Bybel het.
- Maar hier in Ef. 2:1-10, dink ek, skryf hy so helder en duidelik as wat dit maar kan kom.
- Hier laat hoor hy vir ons helder en duidelik die blye boodskap van God se genade!
- Hier herinner hy ons dat God ons red sonder dat ons dit enigsins kan verdien.
- Kom ons gaan leef dan elke dag van hierdie genade en uit hierdie genade!
- Kom ons gaan geniet dit dat ons hier met iets te doen het wat ons maar net kan ontvang.
- God gee dit, gratis en verniet.
- En ons?
- Ons ontvang dit met ’n leë hand en ’n dankbare hart.
- AMEN
