LUK. 1:46-56 (19/12/21)
# As ’n mens deur die Ou Testament blaai, lees jy ’n hele paar keer van ’n spesiale koning wat sou kom om in Israel te regeer.
- Hierdie koning word ook in die Bybel die “Messias” genoem.
- En “Messias” beteken “Gesalfde.”
- Mense wat in die Bybelse tyd as konings aangewys is, is mos met olie op die kop gesalf om daarmee te wys dat hulle wel amptelik in die amp van koning aangestel word.
- En op ’n hele paar plekke in die Ou Testament praat die profete dan van ’n spesiale koning of Messias wat sou kom.
- En die profete het sulke wonderlike dinge oor hierdie koning gesê dat ’n mens seker kan aanvaar dat almal in Israel uitgesien het na sy koms.
- Ook ’n jong meisie van Nasaret, ’n meisie met die naam Maria, het seker baie uitgesien na die koms van die Messias.
# En dan gebeur daar op ’n dag ’n buitengewone ding met Maria.
- Die engel Gabriël verskyn skielik aan haar.
- En sy boodskap aan haar is ’n verbysterende boodskap: Maria sou swanger word en die moeder van die Messias word!
- Die Bybel sê self dat Maria verbysterd was oor die woorde van die engel.
- En ’n mens kan jou seker nie voorstel hoe Maria moes gevoel het nie.
- Die Messias, wat deur die hele Joodse volk verwag is, sou uit haar liggaam gebore word.
- En sy was maar net ’n eenvoudige, jong meisie.
- Maar dít was die verbysterende nuus van die engel aan haar: Jy sal swanger word en die moeder van die Messias word.
# Nou, nadat die engel weg is, en toe Maria weer alleen was, het sy seker eers werklik begin besef wat gaan gebeur.
- En, soos ’n mens kan verwag, was Maria natuurlik baie opgewonde oor die nuus wat sy ontvang het.
- Sy kon waarskynlik aan die begin ook aan niks ander dink as aan hierdie nuus nie.
- Haar hart en gedagtes sou eenvoudig vol gewees het daarvan.
- En nou ken ons mos die spreekwoord wat sê: Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.
- En ook in Maria se geval was dié spreekwoord waar.
- Haar hart was so vol van die groot nuus dat sy dadelik na haar familielid Elisabet toe gegaan het om vir haar ook te gaan vertel.
- En daar by Elisabet het Maria toe ’n baie besondere lied begin sing, ’n loflied tot eer van God.
- En dít is dan die lied wat ons vanoggend uit Luk. 1 saam gelees het.
# Maar wat sê Maria in haar loflied?
- Wat sê sy, as die een wat pas gehoor het dat die Messias uit haar liggaam gebore sou word?
- Sy doen veral een ding: sy prys die Here sonder ophou in haar lied!
- Van die eerste tot die laaste noot daarvan.
- Luister maar net weer hoe sy die lied begin.
- Sy sê: “Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser …”
- Maria besing in haar lied die grootheid van die Here.
- Sy besef dat sy self maar baie klein en nietig is, want sy verwys ook in vers 48 na haar eie “geringheid.”
- Sy weet dat in die wonder wat binnekort met haar sou gebeur, dit nie sou gaan oor hoe goed of hoe wonderlik sy is nie.
- Dit sou alleen maar gaan oor wat God in sy grootheid van plan was om te doen.
- Dit sou gaan oor hoe ons grote God ’n geringe jong meisie sou gebruik as deel van sy verlossingsplan vir die wêreld.
- “Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser …,” sê Maria aan die begin van haar loflied.
# Maar Maria loof die Here in haar lied nie net vir wie Hy is en vir hoe groot Hy is nie.
- Sy sing ook oor die groot dinge wat Hy in die geskiedenis gedoen het.
- Sy sê in vers 50: “Hy bewys ontferming van geslag tot geslag aan dié wat Hom eer.”
- En daarmee beskryf sy in een sin hoe die Here teenoor ons as mense optree.
- Wat Hy doen, doen Hy uit ontferming.
- Doen Hy uit liefde.
- En Hy doen dit om ons te help en te red uit die nood waarin ons so baie keer verkeer.
- Die Here doen dikwels groot dinge om daarmee sy oneindige groot liefde vir ons as mense te wys.
- En Maria dink in haar lied veral ook aan hoe die Here in die geskiedenis van sy volk Israel gewerk het.
- Uit liefde vir sy volk het Hy hulle weer en weer gehelp, al het hulle Hom so dikwels teleur gestel.
- So het die Here bv. in die verlede opgetree teen hoogmoediges en teen maghebbers wat oortree het, sê Maria in haar lied.
- En die Here het soms drasties opgetree en sulke mense uitmekaar gejaag of hulle van hulle trone afgeruk.
- Vir die Here is dit onaanvaarbaar as mense hulle mag of invloed of rykdom misbruik en ander mense in die proses veronreg.
- Vir Hom is dit onaanvaarbaar wanneer een mens op ’n ander een trap.
- En daarom gryp Hy ook soms drasties in om onreg reg te stel.
- In ons tyd, moet ons onthou, gebruik die Here baie keer ook die regstelsel, met al sy gebreke, om tog reg te laat geskied waar onreg teenoor mense gepleeg is.
- Ons sien sy hand in elke geval waar mense nie maar net wegkom met onreg nie, maar tot verantwoording geroep word.
# So, Maria sing oor die groot dinge wat die Here uit liefde in die verlede vir sy volk Israel gedoen het.
- En ek glo ons elkeen kan ook in ons eie lewens hiermee identifiseer.
- Elkeen van ons sal ook vanoggend kan vertel van hoe die Here ons in ons eie verlede al gehelp het.
- Hoe Hy voorsien het in wat ons nodig gehad het, en uitkoms gegee het waar dinge dalk vir ons hopeloos gelyk het.
- Hoe Hy ingegryp het in ons lewens toe dit nodig was.
- En natuurlik kan ons vanoggend terugkyk na die grootste van groot dinge wat God uit liefde gedoen het: toe Hy sy Seun gegee het om ons Verlosser te word!
- Toe Jesus mens geword het en onder ons kom woon het.
- En sy lewe vir ons kom aflê het.
# Maria sluit haar loflied af deur ook te sing oor die beloftes van die Here.
- En ons weet vandag dat Abraham en al die ander voorvaders van Israel belangrike beloftes van die Here ontvang het.
- Hy het aan hulle beloof dat hulle ’n groot volk sou word en dat hulle hulle eie land sou besit.
- En die Here het hierdie beloftes nagekom.
- Hy is nie soos ons wat soms vergeet van ons beloftes aan ander nie.
- Of wat dit dalk later ignoreer omdat dit ons beter pas om dit nie na te kom nie.
- Nee, die Here laat altyd sy beloftes in vervulling gaan.
- En Maria sou kon sê: Waar kry jy ’n beter bewys daarvan dat die Here sy beloftes vervul as in die Kindjie wat uit my liggaam gebore gaan word?
- Die Here het nie net deur sy profete ’n Messias en Verlosser belóóf nie.
- Hy het Hom nou ook gestuur!
- In Maria se binneste was ’n belofte van God besig om vervul te word.
- En ook ons kan maar altyd weet en onthou: Die Here se beloftes staan vas.
- Ons kan absoluut daarop staatmaak dat al sy beloftes aan ons waar sal word.
- Elke belofte in sy Woord.
# Wat is die groot boodskap van Maria se loflied vir ons vanoggend?
- Ek dink die boodskap is baie duidelik: Die Here doen, in sy grootheid, groot dinge in ons wêreld en in ons eie lewens.
- Uit liefde ontferm Hy Hom oor mense in hulle nood.
- En dan gaan dit oor elke moontlike vorm van nood: sonde, verlorenheid, siekte, pyn, honger, armoede, onreg, misbruik, hartseer, eensaamheid, en noem maar op!
- Die Here se hart klop warm vir sy skepsels in hulle nood.
- En Hy steek sy hand uit om hulle in hulle nood te help.
- Ja, Hy steek sy hand uit om óns in ons nood te help.
- En daarvoor kan ons Hom maar net loof en prys.
# Die Here doen groot dinge, sing Maria.
- En wat Hy doen, is altyd in belang van die mense in sy skepping.
- In óns belang.
- So het Hy ook groot dinge aan die eenvoudige jong meisie Maria gedoen.
- Hy het haar die moeder van die Messias laat word.
- Maar ook dít was ter wille van ons almal.
- Die Messias, Jesus Christus, is gebore om ons almal van ons sonde te kom red.
- Hy het ons kom opsoek in ons nood.
- Omdat ons so weerloos was, het Hy Hom oor ons kom ontferm en ons te hulp gekom.
# Wanneer ons oor minder as ’n week weer Kersfees vier, kan ons saam met Maria ’n loflied sing.
- Kan ons saam met haar oor die grootheid van die Here ons God sing.
- En oor al die groot dinge wat Hy al uit liefde in ons wêreld en lewens gedoen het en nog steeds doen.
- Maar belangrik: Terwyl ons saam met Maria sing, moet ons ook leef soos die Messias dit van ons verwag.
- Moet ons ook leef volgens die beginsels van sy koninkryk, soos Hy hierdie beginsels vir ons kom uitspel het in sy tyd hier op aarde.
- En dit beteken veral dat ons elke dag liefde moet betoon teenoor ander, en ontferming en barmhartigheid.
- En dat ons moet help toesien dat daar reg gedoen word aan weerlose mense, soos die armes en, in baie gevalle, ook die vroue en die kinders onder ons.
# So, kom ons sing dan in hierdie Kerstyd hartlik saam met Maria oor die grootheid van die Here.
- Maar kom ons help bou ook terselfdertyd aan die mure van sy koninkryk.
- Al bou ons net elke dag een of twee klein steentjies in in die mure van hierdie koninkryk.
- Elke steentjie maak ’n verskil.
- Of dit nou ’n steentjie van omgee of bedagsaamheid of respek of vriendelikheid is, of van aanvaarding van mense wat anders as ek is, of van hulp aan mense in nood.
- Selfs net ’n koppie sop of ’n snytjie brood.
- Dit maak alles ’n verskil.
- En met elkeen van hierdie steentjies sê ons dan ook, op ’n praktiese en tasbare manier, saam met Maria: “Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser …”
- Ek besing sy grootheid en sy groot dade.
- En in aansluiting daarby leef ek ook nou ’n lewe waarin ek Hom bo alles liefhet en my medemens liefhet soos myself.
AMEN
