LUK. 24:13-35

#  Heel waarskynlik het daar ook al in u lewe iets gebeur wat u laat voel het: Nou is alles net donker rondom my.

        –       Ek sien nou net donkerte en geen lig nie.

  • Een of ander groot krisis of ongeluk of siekte het u dalk al so laat voel.
  • En ek vermoed dít is hoe die 2 reisigers van wie ons in Luk. 24 gelees het ook gevoel het.
  • Hulle het ook net in daardie tyd donkerte gesien en geen lig nie. Die Emmausgangers sien net donkerte en geen lig nie.

        –       Jesus is kort tevore dood.

  • Hy het sy lewe aan ’n kruishout verloor.
  • En hierdie 2 reisigers (of Emmausgangers, soos ons hulle ook ken) was deel van dié groep mense in Israel wat gehoop het dat Jesus hulle sou verlos.
  • In vers 21 wat ons gelees het, sê hulle: “Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos …”

        –       Hulle hoop was op Jesus gevestig, maar nou leef Hy nie meer nie.

  • Wat hulle betref, was Jesus dood en die hoop dat Hy hulle sou verlos, was daarmee heen.
  • En nou sien hulle net donkerte en geen lig nie.

#  Maar nou is dit natuurlik belangrik om die geskiedenis van daardie tyd in gedagte te hou.

  • Die mense van Israel het nie politieke vryheid gehad nie.
  • Die baie sterk Romeinse Ryk het reeds in die jaar 63 voor Christus beheer oor Israel verkry.
  • So teen die tyd toe Jesus gekruisig is, was Israel al vir byna ’n 100 jaar lank onder Romeinse beheer.
  • En die Jode wou natuurlik hierdie Romeinse juk van hulle afgooi.
  • In die boeke van die Ou Testament het hulle boonop gelees dat daar ’n koning of ’n Messias (soos hulle hom genoem het) sou kom om hulle te kom verlos.
  • En toe Jesus in die openbaar begin optree het, het baie mense hulle hoop op Hom begin stel.
  • Baie het gedink: Hý gaan ons koning wees en Hý gaan ons vrymaak van die oorheersing van die Romeine.
  • En daarom het die Emmausgangers dan ook ná Jesus se dood met teleurstelling gesê: “Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos …”
  • Maar wat hulle betref, was Jesus nou dood.
  • En hulle vlammetjie van hoop is met Jesus se dood geblus.
  • En alles was maar weer net so donker soos vroeër.
  • Die Romeine was nog al die pad in beheer!

#  Nou, as ’n mens so na die Emmausgangers se situasie kyk, het jy nogal simpatie met hulle.

  • Jy kan op ’n manier nogal verstaan hoekom hulle so teleurgesteld was oor wat met Jesus gebeur het.
  • Maar of ons nou simpatie het met die 2 Emmausgangers of nie, ’n mens skrik eintlik as jy hoor wat Jesus in vers 25 vir hulle sê.
  • Hy sê vir hulle: “Wat ‘n gebrek aan begrip en wat ‘n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie?”
  • So, Jesus praat baie hard met die 2 Emmausgangers en Hy sê sommer reguit wat hulle probleem is.

        –       Hy sê daar is by hulle ’n gebrek aan begrip én ’n gebrek aan geloof.

  • Hulle verstaan nie werklik en glo ook nie werklik wat die profete van die Ou Testament voorspel het nie.
  • En dit wat met Jesus gebeur het, ís deur hierdie profete voorspel.

        –       Hy móés ly en Hy móés sterf.

  • Dit wat met Hom gebeur het aan die kruis was die pad wat Hy móés loop om die sonde van die wêreld te dra.
  • Maar die Emmausgangers het hulle eie idee van ’n verlosser gehad.
  • En hulle wou maar net aan hulle eie idee bly vasklou, i.p.v. om te glo wat die Ou Testament reeds voorspel het.

        –       En daarom praat Jesus sommer baie hard met die 2 reisigers.

#  Maar ons moet ook raaksien dat Jesus nie net hard gepraat het met die Emmausgangers en hulle oor die vingers getik het oor hulle onbegrip en ongeloof nie.

  • Hy het ook daar op die pad na Emmaus sy liefde vir die 2 reisigers gewys. Jesus wys sy liefde vir die Emmausgangers.
  • Hy wys sy liefde vir hulle, want Hy hou aan om met hulle saam te stap en Hy begin om van vooraf die Ou Testament vir hulle uit te lê.
  • Hy wys vir hulle op al die gedeeltes in die Ou Testament wat reeds voorspel het dat die Messias sou ly en sterf.
  • Stap vir stap het Jesus m.a.w. hulle oë begin oopmaak.
  • En toe hulle in die dorpie Emmaus kom, en saam met Jesus aan tafel sit, toe het hulle oë heeltemal oopgegaan.
  • Toe herken hulle meteens vir Jesus!
  • En toe weet hulle dat Hy tóg die Verlosser was wat sou kom.
  • Nie ’n verlosser soos hulle dit in gedagte gehad het nie, maar soos God dit wou hê.

        –       Aan die begin van hulle gesprek met Jesus het die 2 Emmausgangers Hom nie herken nie.

        –       Die Bybel sê in vers 16 wat ons gelees het: “Hulle oë is verhinder om Hom te herken.”

        –       Hulle het Jesus m.a.w. gesien, maar tog ook nie gesien nie.

        –       Maar ná hulle lang gesprek met Hom het hulle oë nou oopgegaan.

  • Jesus het self hulle geestelike blindheid van hulle weggeneem.
  • En daarom kon hulle nou verstaan dat Hy nie as ’n soort politieke Verlosser na die aarde toe gekom het.
  • Hulle kon nou verstaan dat Hy juis gekom het om te kom ly en sterf sodat die wêreld bevry kon word van sonde.
  • Sodat die wêreld bevry kon word van God se oordeel en straf op die sonde.
  • En die 2 reisigers kon natuurlik nou met hulle eie oë sien dat Jesus ook opgewek is uit die dood en dat die dood daardeur oorwin is.
  • Ek is seker dit moes vir die Emmausgangers ’n wonderlike ervaring gewees het om skielik die eintlike boodskap van die evangelie te kon verstaan!
  • Om skielik die goeie nuus van Jesus se dood vir sondaars, maar ook van sy opstanding uit die dood te verstaan!
  • Ja, dit moes vir hulle wonderlik gewees het om in die donker van hulle situasie skielik die lig so helder te sien skyn!

Maar wat nou van onsself?

  • Dit gaan tog nie vanoggend net oor die Emmausgangers nie.
  • Dit gaan ook oor ons as gemeentelede van Paarlberg wat hier bymekaar gekom het vir ’n erediens.
  • En nou dink ek dat dit baie belangrik is dat ons vanoggend ook onsself in hierdie 2 reisigers moet raaksien.
  • Net soos Jesus op daardie dag vir hulle gesê het, moet Hy dalk ook vanoggend vir mý sê: “Wat ‘n gebrek aan begrip en wat ‘n traagheid van gees! Glo (jy) dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie?”
  • Soos die Emmausgangers ly ek dalk ook vanoggend aan geestelike onbegrip en selfs aan ongeloof of kleingeloof.
  • Soos hulle is ek dalk ook geestelik blind, veral omdat ek ook maar net wil verstaan en glo soos ék wil.
  • En my eie geestelike blindheid is dalk die rede waarom ek die wêreld net as ’n donker plek sien, of die rede waarom ek moed verloor of hoop verloor het in my eie omstandighede.

        –       Maar die goeie nuus van Luk. 24 is dat die Here ons oë wil oopmaak!

        –       Soos Hy die Emmausgangers se oë oopgemaak het, wil Hy ook ons s’n oopmaak.

        –       Hy wil ons help tot die regte geestelike insig en tot die regte geloof.

        –       Ons kan ook sê: Hy wil ons help om die lig te sien!

#  Die goeie nuus van die Bybel is vanoggend dat Jesus nie in die donkerte van die graf en van die dood gebly het nie, maar dat Hy opgestaan het en lewe.

  • Soos die dissipels in vers 34 van ons Skrifgedeelte gesê het: “Die Here het regtig opgestaan!”
  • En omdat die Here regtig opgestaan het, kan ons vanoggend met ander oë na ons wêreld en ook na ons eie omstandighede kyk.
  • Al sien ons dalk op hierdie oomblik ’n groot klomp donker dinge voor ons of rondom ons, daar is ’n lig wat helder skyn.

        –       En dit is die lig wat Jesus se opstanding vir ons gebring het.

        –       Die lig van sy opstanding val helder oor ons wêreld.

        –       En die Here wil ons oë oopmaak om dít te kan raaksien.

#  Dat Jesus regtig opgestaan het uit die dood, beteken: Die wêreld is nie net ’n donker plek nie.

  • Die donkerte is wel nog teenwoordig in ons wêreld, of in ons persoonlike omstandighede, maar dít kan nie die lig wat Jesus gebring het, uitdoof nie.
  • Dit is mos so dat mense in ons wêreld nog nie opgehou het om teen mekaar oorlog te maak, of om ander aan te rand, of om mekaar ongelukkig te maak nie.
  • En dinge soos kanker en hartaanvalle en motorongelukke en misdaad en egskeidings eis mos nog elke dag hulle tol.
  • En ook gelowiges ervaar mos nog hoe daar dinge gebeur wat alles donker kan laat word rondom jou.
  • Maar selfs al hierdie donker dinge kan nie die lig van Jesus se opstanding uitdoof nie.
  • Sy lig bly helder skyn in ons donker wêreld!

#  Ons ken almal ’n kers, en hier brand ook elke Sondag een hier voor.

  • En selfs die grootste donkerte kan nie hierdie kers se lig wegvat nie, soos bv. wanneer hierdie kerkgebou vanaand donker is …
  • En net so is dit met die lig van Jesus se opstanding.
  • Dit bly helder skyn, al is ons wêreld ook hoe donker.
  • En baie belangrik: hierdie lig, die lig van Jesus se opstanding, herinner ons nou reeds aan die nuwe hemel en aarde wat vir ons as gelowiges wag.
  • Die Here het dit mos in die Bybel bekend gemaak dat Hy eendag alles in hierdie wêreld nuut gaan maak.
  • Hy gaan ’n nuwe hemel en aarde daar stel.
  • En op die nuwe hemel en aarde sal daar geen plek meer wees vir dié dinge wat vandag van die wêreld of van ons eie lewens ’n donker plek maak nie.
  • 21:4 sê: God sal op die nuwe aarde al die trane van ons oë afdroog.
  • En dan gaan hierdie vers verder en sê: “Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie.  Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

        –       Uiteindelik sal daar rondom ons net lig wees en geen donkerte.

        –       En hierdie lig het in Jesus se opstanding reeds helder begin skyn.

        –       Omdat Jesus opgestaan het uit die dood, is daar lig!

  • Omdat Jesus leef, is daar lig!
  • Mag die Here dan nou reeds ons almal se oë vir hierdie lig oopmaak, net soos Hy destyds die 2 Emmausgangers se oë daarvoor oopgemaak het.
  • En mag ons hierdie lig ook deel met ander wat vanoggend dalk net donkerte rondom hulle sien.
  • Mag ons die lig van Jesus se opstanding oral in die wêreld help weerkaats!
  • Dit lyk vir my dít is ‘n baie groot deel van ons roeping as sy volgelinge: om die lig van Jesus se opstanding in ’n donker wêreld te weerkaats.
  • En om daardeur ander te help om self ook hierdie lig te kan sien.

AMEN

 

css.php