JOH. 7:53-8:20 (10/7/22)

 

#  Daar is sekere dinge waarsonder ons net eenvoudig nie kan lewe nie.

  • As ons bv. nie kos het om te eet nie, of nie suurstof het om in te asem nie, kan ons mos nie lewe nie.
  • En wat van lig?
  • Sonder lig kan ons eintlik ook nie lewe nie.
  • ESKOM gee ons mos al ’n goeie idee van hoe moeilik dit is om sonder lig te wees!

#  Maar ek wil dan net gou ook vertel van die Karoodorpie waar ek groot geword het, waar daar tot redelik laat in die 1900’s nog nie ESKOM-krag was nie.

  • Dié dorpie, Vanwyksvlei, het sy eie kragopwekkers gehad, 2 groot dieselmasjiene.
  • Maar laat in die aand, so by 23:00, is die masjiene altyd afgeskakel en dan was die dorpie sonder krag tot so 05:00 die volgende oggend.
  • En so het dit gebeur dat ek een aand by die huis gekom het nadat die dorp se krag al afgeskakel was.
  • En dit was so donker dat ’n mens nie eers jou hand voor jou oë kon sien nie.
  • Ek moes toe maar so voel-voel tot in my kamer beweeg.
  • En daar gekom, het ek in die stikdonker die kers omgestamp en in die proses ook die vuurhoutjies laat wegraak.
  • Op geen manier kon ek toe lig gemaak kry nie.
  • Dit was nog lank voor die tyd van selfone, met hulle eie liggies!
  • En dit was letterlik só donker dat ek toe nie eers my tande kon gaan borsel nie.
  • Ek moes maar net so in die bed klim.

#  Sonder lig kan ons nie lewe op hierdie aarde nie.

  • Maar dít is ook waar in ’n geestelike sin.
  • Ook geestelik gesproke het ons lig so nodig.
  • En dit maak Jesus se uitspraak in vers 12 wat ons gelees het vir ons so belangrik.
  • Jesus sê mos daar: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”
  • En heel waarskynlik het Jesus hierdie woorde uitgespreek tydens, of kort na, die loofhuttefees.
  • Dit was ’n Joodse fees waarin lig ’n sterk simboliese funksie vervul het.
  • En gewoonlik is daar op die eerste aand van hierdie fees kerse in 4 groot goue kandelare in die tempel aangesteek.
  • Daar is ook fakkels aangesteek en die stad binnegedra, totdat die hele stad verlig was.
  • En by hierdie fees kom Jesus nou en Hy sê: “Ek is die lig vir die wêreld.”

#  Maar kom ons dink net gou eers vir ’n oomblik oor die “wêreld” waarvan Jesus hier praat.

  • Hoe lyk die “wêreld” vir wie Jesus die lig wil wees?
  • En ongelukkig moet ons dadelik sê: Dis ’n donker wêreld hierdie.
  • Dis ’n wêreld wat donker is as gevolg van sonde.
  • En al is sonde nie meer vandag ’n baie gewilde woord nie, hoe anders moet ons die donker in ons wêreld verklaar?
  • Dink maar aan al die geweld wat daar wêreldwyd voorkom, en die korrupsie en liefdeloosheid en selfsug en haat en jaloesie en hoogmoed en leuens en bedrog en diefstal en gierigheid en rassisme.
  • Die lys is eindeloos.
  • En al hierdie dinge kom op uit ons donker harte.
  • Al hierdie dinge begin by ’n verkeerde gedagte, wat dan ook baie keer oorgaan in ’n verkeerde daad.
  • En daarom moet ons vanoggend sê: Dit was aboluut noodsaaklik dat Jesus gekom het om vir ons lig te bring.
  • Vanweë die donkerte van hierdie wêreld en die donkerte van ons eie harte was dit absoluut noodsaaklik dat Jesus gekom het om vir ons lig te bring.

#  Nou, ons het vanoggend gelees van die vrou wat deur die skrifgeleerdes en Fariseërs na Jesus toe gebring is.

  • Sy is op owerspel betrap.
  • En volgens die wet van Moses moes sy eintlik gestenig word.
  • Wie die skuldige man was, word nie vir ons gesê nie.
  • Maar hierdie twee mense het nie die grense van die huwelik gerespekteer nie.
  • En wat hulle gedoen het, is ’n goeie voorbeeld van iets wat ons as mense in die donker doen.
  • Ons doen sulke dinge in die donker, m.a.w. in die geheim.
  • En so was dit seker ook met hierdie vrou die geval.
  • Maar skielik kon sy dit wat sy gedoen het nie meer wegsteek nie.
  • Sy is op heterdaad betrap.
  • Wat sy in die donker gedoen het, het nou aan die lig gekom.
  • En hier bring die Joodse leiers haar ook nog tot by Jesus.
  • En ons het gelees dat hulle haar in die middel van die kring mense laat staan het.
  • So asof die kollig skielik voluit op haar en haar donker lewe kom val het.

#  En wat doen Jesus?

  • Wat doen Hy wat die lig vir die wêreld is?
  • Voordat ons daarby kom, wil ek net sê: Toe die vrou in Jesus se teenwoordigheid kom, het sy seker geweet sy kan niks wegsteek vir hierdie Man nie.
  • En het sy seker ook besef hoe donker haar lewe eintlik is.
  • Jesus se lig wys mos vir ons wie ons werklik is.
  • Sy lig laat ons mos besef hoe verkeerd ons gedagtes en motiewe en optrede baie keer is.
  • Sy lig kom wys mos selfs die kleinste stukkies donker in ons lewens uit.

#  Maar wat doen Jesus toe met hierdie vrou?

  • Hy buk en skryf met sy vinger op die grond.
  • En na ’n tyd sê Hy vir al die omstanders: “Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het, eerste ’n klip op haar gooi.”
  • En met hierdie woorde laat Jesus sy lig ook op al die omstanders val.
  • As julle dan sonder enige sonde in julle lewe is, gooi dan maar die eerste klip.
  • As julle seker is dat daar geen donker gedagtes of motiewe by julle is nie, en dat julle aan geen donker dade skuldig is nie, gooi dan maar die eerste klip.
  • En wat gebeur toe?
  • In Jesus se lig, glo ek, besef selfs die Joodse leiers dat hulle nie sonder sonde is nie.
  • En ons het gelees dat hulle een vir een begin wegloop het.
  • Jesus se lig ontmasker elke mens.
  • En dit wys dat elkeen van ons eintlik skuldig staan voor Hom.
  • Hoe sê 1 Joh. 1:8 dit?
  • “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie.”

#  Jesus se lig is so helder: Dit kom wys selfs die kleinste stukkies donker in ons lewens uit.

  • Dit kom wys dat alle mense eintlik maar sondaars is.
  • Maar gelukkig is dít nie al wat Jesus se lig doen nie.
  • Sy lig doen ook ’n hele paar ander dinge.
  • Dit wys ook vir ons Jesus se genade en verlig die pad wat vóór ons uitgestrek lê.
  • In vers 11 lees ons mos dat Jesus vir die vrou sê: “Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”
  • En skielik het het hierdie vrou weer ’n toekoms gehad!
  • Skielik is daar weer lig in die donker doodloopstraat waarin sy haar bevind het.
  • Jesus vergewe haar sonde.
  • En Hy gee haar nog ’n kans.
  • “Gaan maar,” sê Hy, “en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”
  • Gaan maar en gaan leef in my lig.

#  En so bring Jesus se lig vir ons almal hoop.

  • Dit bring vir ons hoop en gee vir ons ’n toekoms.
  • En Jesus wil vir ons elkeen die ware lig wees.
  • Hy sê mos Hy is die lig “vir die wêreld.”
  • En dit beteken Hy wil elke mens op hierdie aarde se lewe verlig, ook elke mens in hierdie kerkgebou vanoggend se lewe.
  • Ongelukkig wil nie alle mense dit so aanvaar nie.
  • En wil baie nie in sy lig leef nie.
  • Maar sy belofte is duidelik in vers 12: “Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”
  • “Wie My volg,” sê Jesus.
  • En mense wat vir Jesus volg, word mos in die Bybel sy dissipels genoem.
  • En dit is húlle wat nooit weer in die duisternis hoef te lewe nie.
  • Dissipels van Jesus besit die ware lig, en daarom hoef hulle nooit weer in die duisternis te lewe nie.
  • Maar as ek Jesus nie volg nie, moet ek nie verbaas wees as ek sukkel met die duisternis nie.
  • Moet ek nie verbaas wees as ek selfs oorweldig word deur hierdie donker wêreld met al sy donker dinge nie.

#  Dit tref my altyd dat Jesus ook vir sy dissipels gesê het: “Julle is die lig vir die wêreld.”

  • Hy sê nie net: “Ek is die lig vir die wêreld nie,” maar ook: “Julle is die lig vir die wêreld.”
  • Só sê Jesus dit in Matt. 5:14.
  • En dit beteken dan dat Jesus met sy lig ook elke dissipel van Hom se liggie wil aansteek.
  • En dan wil Hy graag sien dat ons met ons liggies ’n verskil gaan maak in die donker wêreld waarin ons elke dag leef.

#  Prof. Piet Meiring vertel ’n verhaaltjie wat ek dink vir ons kan help verstaan hoe belangrik die lig is wat ons elkeen in die wêreld moet help uitdra.

  • Die naam van die verhaaltjie is “Die kerk sonder lampe.”
  • En dit gaan so:

êrens in Duitsland staan ’n middeleeuse kerkie met dik mure en glasvensters.  Maar, moes ’n besoeker tot sy verbasing opmerk, nêrens in die kerkie was daar ’n lamp nie.  Die kerk was heeltemal sonder ligte.  “Dis vreemd,” het die besoeker vir die koster gesê.  “Hou julle dan nooit in die aand kerk nie?”  Die koster het geglimlag: “Kom gerus maar môre-aand kerk toe.  Kom kyk self.  Maar kom ’n bietjie vroeg, dat ek kan verduidelik.”  Teen skemer die volgende dag, Sondag, was die besoeker op sy pos.  Die koster sê toe: “Die landheer wat die kerkie 600 jaar gelede laat bou het, was ’n wyse man.  Hy het met opset geen ligte in die kerk laat hang nie.  Maar kyk mooi, in die muur langs elke kerkbank is daar ’n klein nissie waar ’n mens ’n lampie kan neersit.  Die landheer het gesê dat elke gemeentelid wat in die aand kerk toe kom, sy of haar eie liggie moes saambring.  As almal kom, sou daar baie lig wees.  As min mense kom aanbid, sou die kerk donker wees.”  Saam met die koster het die besoeker die bultjie agter die kerk uitgeklim.  Een vir een, soms groepies tesame, het die mense aangestap kerk toe, elkeen met sy of haar lampie in die hand.  Hoe meer mense deur die voordeur gestap het, hoe meer lig was daar in die kerkie.  Toe die mense begin sing, het die besoeker hom by hulle aangesluit.  Dit het vir hom gevoel asof daar ’n spesiale warmte in die kerkie was, want almal het ’n spesiale aandeel aan die kerkdiens gehad, elkeen het sy of haar stukkie lig gebring.  Net voordat die dominee die seën uitgespreek het, is die besoeker weer uit, die bult op.  Dié gesig sou hy nooit vergeet nie.  Terwyl die orrel speel, het die mense die kerkdeur uitgestap, weer ’n keer elkeen met ’n liggie in die hand.  Die kerkie het al donkerder geword, maar die strate van die dorpie was al helderder verlig.  “Dit is wat Jesus bedoel het,” het die besoeker by homself gedink.  “Jesus het gesê dat ons ligdraers moet wees.  Die lig wat ons van Hom ontvang het, moet ons oral laat skyn.”

  • Die mense in hierdie verhaaltjie het met hulle lampies by die kerk uitgestap en hulle lig oral in die dorpie uitgedra.
  • Sal ons dan nie ook elkeen, met die lig wat ons by Jesus kry, hier uitgaan en dié lig gaan indra in die strate en huise en winkels en kantore en fabrieke en skole van ons dorp nie?
  • Sal ons nie met die lig van Jesus oral ’n verskil gaan maak nie?
  • En dit beteken mos maar net dat ons oral waar ons kom of gaan sy liefde prakties sal uitleef.

AMEN

css.php