ROM. 12:9-21 (30/8/26)

 

#  In die loop van ’n mens se lewe leer jy mos om allerhande nuwe dinge te kan doen.

  • As jy in die skool kom, leer jy bv. om te lees en te skryf en somme te maak.
  • En dalk leer jy ook om ’n sekere sportsoort te beoefen, dalk rugby of netbal of tennis.
  • Maar wat al hierdie dinge betref, is dit belangrik om die basiese beginsels, die grondbeginsels, daarvan te leer ken.
  • So kan jy bv. nie somme leer maak as jy nie leer om op te tel en af te trek nie.
  • Optel en aftrek is twee van die grondbeginsels wat jy onder die knie móét kry.
  • En as jy bv. rugby leer speel, dan leer jy om die bal te vang en aan te gee en te skop, en nog baie ander dinge.

#  Maar so het elke ding wat ons moet leer doen in ons lewe, sy eie grondbeginsels.

  • En selfs ons lewe as Christene het sekere grondbeginsels.
  • Daarsonder kan ons nie werklik Christene wees nie.
  • En die drie belangrikste grondbeginsels van Christen-wees is sekerlik dié drie wat Paulus in 1 Kor. 13 vir ons noem, naamlik geloof, hoop en liefde.
  • En dan sê Paulus mos ook in daardie gedeelte dat die grootste van dié drie die liefde is.
  • En so kan ’n mens jou dan nie ’n Christen sonder liefde voorstel nie.
  • ’n Christen sonder liefde is iets wat net nie kan bestaan nie.
  • En daarom kry ons ook so baie gedeeltes in die Bybel wat vir ons wil leer hoe om reg te kan liefhê.
  • 12:9-21 is juis een van dié gedeeltes.
  • Dis ’n gedeelte waarin ’n klomp praktiese dinge gesê word oor die Christelike grondbeginsel van liefde.
  • En ek dink ’n mens sou met twee stellings ’n hele paar dinge kon saamvat wat hier in Rom. 12:9-21 vir ons gesê word.

#  En kom ons begin dadelik by die eerste een.

  • Stelling 1 sê: ’n Christen wys liefde deur ander te help in hulle nood.
  • ’n Christen wys sy of haar liefde deur ander te help en by te staan in hulle nood en swaarkry.
  • In vers 13 wat ons gelees het, sê Paulus: “Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid.”
  • En so is daar gedurig vir ons geleenthede waar ons betrokke kan raak by ander se nood.
  • En mense se nood kom mos in baie verskillende vorms voor.
  • ’n Mens dink seker heel eerste aan armoede.
  • Waar mense nie genoeg het om in hulle basiese behoeftes te voorsien nie.
  • En vir ons as Christene bied dit ’n geleentheid om ons liefde uit te leef.
  • Om ons liefde prakties te maak deur ons hand uit te steek en te help dat armoede verlig word.
  • En natuurlik is die verligting en uitwissing van armoede ’n ingewikkelde saak.
  • Dit gaan nie maar net oor die uitdeel van ’n kospakkie of om iemand ’n paar rand in die hand te stop nie.
  • Armoede is iets wat op talle fronte bestry moet word.
  • Daar móét soms kos uitgedeel word, of warm klere en komberse vir die winter.
  • Maar ons moet daarby ook help sorg dat armes billik betaal word, soos bv. ons eie huiswerkers of ander werknemers.
  • En ons kan vir sekere betroubare projekte wat armes help, ons ondersteuning gee.
  • Maar dat die armoede-nood in ons land verskriklik groot is, is baie seker.
  • En dat elkeen wat meer bevoorreg is hier ’n geleentheid het om ander wat minder bevoorreg is, te help, is ook baie seker.
  • Met ’n baie hoë werkloosheidsyfer is armoede ’n baie groot geleentheid en uitdaging vir ons as Christene in hierdie land.
  • En natuurlik is dit ook ’n enorme uitdaging vir die politici van ons land, asook vir almal wat ons ekonomie beter kan laat groei.

#  Maar mense se nood het natuurlik nog baie ander gedaantes ook – en nie net armoede nie.

  • Daar is nood wat saamhang met bejaardheid, en siekte, en eensaamheid, en hartseer, en verhoudingsprobleme.
  • En in baie gevalle vra ander se nood dan ook nie net dat ek van my geld vir hulle moet gee, of vir ’n projek om hulle te help nie.
  • Dikwels is dit so dat ek bereid moet wees om ook van myself te gee.
  • En om ook van my kosbare tyd te gee.
  • Maar juis hier het ons ’n geleentheid om ons liefde prakties uit te leef, by die nood en swaarkry van ander mense.
  • Juis hier het ons ’n geleentheid om in liefde werklik nóú met mekaar saam te leef, soos die Here dit van ons verwag.
  • Paulus sê in vers 15: “Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur.”
  • En dit is net as ’n mens ander werklik lief het dat jy jou ook so in hulle omstandighede kan inleef.
  • Dat jy saam met hulle kan bly wees oor suksesse en seëninge wat hulle ontvang, of saam met hulle hartseer kan wees as hulle dalk iemand aan die dood moet afstaan of teleurstellings in hulle lewe moet hanteer.
  • Maar ’n Christen wys liefde deur ander te help en by te staan in hulle nood.
  • En dít is vir my die eerste belangrike stelling wat ons kan maak oor die gedeelte wat ons vanoggend saam gelees het.

#  Maar wat is die tweede stelling?

  • Die tweede een is eintlik maar net die tweelingbroer- of suster van die eerste een.
  • Want die tweede stelling sê: ’n Christen wys liefde deur te stry teen liefdeloosheid en haat.
  • En nou weet ons mos almal hoe maklik ’n bose kringloop van liefdeloosheid of haat tussen mense kan ontstaan.
  • Ek sê iets slegs van jou, en jy antwoord deur iets nog slegter van my te sê.
  • En ek aanvaar die uitdaging en maak jou nóg slegter.
  • En so ontstaan ’n kringloop van liefdeloosheid, of selfs haat, tussen ons.
  • ’n Mens sien soms hoe dit tussen twee mense in ’n verhouding kan gebeur, of tussen groepe mense, of selfs waar verskillende lande teen mekaar begin veg.
  • ’n Kringloop van liefdeloosheid of haat ontstaan.
  • En dis iets wat baie moeilik is om te deurbreek.

#  Maar ’n hele paar van die opdragte van Paulus in Rom. 12 kan op hierdie punt vir ons baie beteken.

  • Hy sê bv. in vers 14: “Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie.”
  • En in vers 17 sê hy: “Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense.”
  • En in vers 19 sê hy: “Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God.”
  • En in hierdie paar verse wys Paulus ook dat hy ons natuurlike geneigdheid as mense baie goed geken het.
  • Want ons is mos seker maar geneig om maklik slegte dinge van ander te sê as hulle op ’n manier ons teenstanders of vyande is.
  • Ons sal hulle maklik slegsê of selfs “vervloek,” om Paulus se woord in vers 14 te gebruik.
  • En daarby sal ons natuurlike reaksie dalk ook wees om mense te vergeld.
  • Om hulle terug te betaal vir die slegte dinge wat hulle aan ons gedoen het.
  • Ons sal dalk selfs wil wraak neem as ons erg te na gekom is.
  • Dit kom eintlik so natuurlik by ons om seer te wil maak as ons self seer gemaak is.

#  Op ’n ligter noot vertel Johan Cilliers dat hulle seun, toe hy so vier jaar oud was, graag klippe en stokke opgetel het.

  • En dié het hy dan as wapens beskou.
  • En met hierdie wapens wou hy sy familie beskerm.
  • En toe lees Johan een aand vir sy kinders die Bybelstorie van Kain en Abel.
  • En Johan vertel toe, baie dramaties, hoe stout Kain dan nou was.
  • Hy slaan sowaar sy boetie Abel dood!
  • Die bloed loop!
  • Daar lê hy!
  • En ’n mens doen dit mos nie!
  • Die kinders kyk hom toe met groot oë aan.
  • Maar om sy pa te troos, sê die vierjarige seuntjie, die mannetjie met die klippe en stokke, doodernstig: “Toemaar, Pappa, ek sal vir Kain doodslaan!”

#  En so voel ons dalk ook dat ons vir Kain wil regsien, of vir wie ookal.

  • Maar om te wil vergeld, of ander terug te betaal, of wraak te neem, dit alles versterk die bose kringloop van liefdeloosheid of haat waarin ’n mens jou dan bevind.
  • En om só op te tree los mos ook geen probleem op nie, maar maak dit eerder net groter en erger.
  • En daarom moet ons mooi let op wat Paulus hier in Rom. 12 vir ons sê.
  • Hy sê ons moenie ’n bose kringloop van liefdeloosheid of haat laat ontstaan of laat voortgaan nie.
  • Ons moet dit deurbreek of selfs verhoed, as ons kan.
  • En dít kan net met liefde gedoen word.
  • Soos wanneer jy ander uit liefde seën eerder as om hulle te vervloek.
  • En wanneer jy ander se kwaad teenoor jou nie met kwaad vergeld nie, maar eerder iets goeds aan hulle probeer doen.
  • En wanneer jy nie wraak neem wanneer alles in jou dalk roep om wraak nie, maar die oordeel aan God oorlaat.
  • En so moet ons as gelowiges bly stry teen elke bose kringloop van liefdeloosheid of haat wat in ons lewe of in ons wêreld wil kom pos vat.
  • En ons moet ook onthou dat dít juis vir ons ’n geleentheid is om ons liefde te wys.

#  Maar nou is die vraag: Hoe kan ons dit regkry om die grondbeginsel van liefde so uit te leef soos Paulus dit in Rom. 12 van ons vra?

  • Dit lyk dan so moeilik, en selfs onmoontlik, om te kan liefhê soos hy dit van ons verwag.
  • Ja, hoe kan ons dit regkry om ander werklik by te staan en te help in hulle nood?
  • En hoe kan ons dit regkry om liefdeloosheid en haat behoorlik te kan bestry?
  • Daar is vir seker nie ’n kort antwoord en ’n kitsresep hiervoor nie.
  • Maar dalk help dit ons om ’n belangrike ding hier in Rom. 12 raak te sien.
  • In die Bybellennium staan daar: “Let op hoe elkeen van die sake wat hier (in Rom. 12) genoem word, kenmerkend van Jesus se eie lewe op aarde was.”
  • En daarom kan ons ook vanoggend sê: Jesus is die voorbeeld wat ons kan help om self ook die grondbeginsel van die liefde te kan uitleef.
  • Hy het dit vir ons in sy lewe op aarde kom demonstreer.
  • Hoe om ander in hulle nood by te staan.
  • En ook hoe om te keer dat ’n mens self in ’n bose kringloop van liefdeloosheid of haat beland.
  • Dink maar aan hoe Jesus selfs terwyl Hy aan die kruis gehang het, nog gebid het vir sy vyande: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”
  • Hy het nie gebid: “Vader, vergeld hulle nie,” maar “Vader, vergeef hulle.”
  • En Jesus is vir ons die voorbeeld.

#  Maar nou kan sy voorbeeld ons dalk ook moedeloos maak.

  • Dit kan ons ook laat voel: Maar ek sal dit tog nooit regkry om só te kan liefhê nie.
  • Maar dan moet ons ook onthou dat die Gees van Christus gekom het om in ons te woon.
  • En met sy Gees in ons word die onmoontlike tog moontlik.
  • Raak dit vir my moontlik om selfsug te oorwin en ander se nood en behoeftes bo my eie te stel.
  • En raak dit vir my moontlik om nie deel te neem aan bose kringlope van liefdeloosheid en haat nie.
  • Maar dan moet ek my deur die Gees laat lei en beheers, en nie deur dinge soos my eie selfsug of my natuurlike weersin in teenstanders of vyande nie.
  • Hoe sê Paulus dit in Gal. 5:25?
  • Hy sê: “Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.”

#  Liefde is ’n groot grondbeginsel van ons lewe as Christene.

  • Daarsonder kan ons tog nie werklik Christene wees nie.
  • En Paulus gaan so ver as om in 1 Kor. 13 te sê dat ’n mens sonder liefde niks is nie.
  • Sonder liefde is ek niks.
  • Net ’n stuk klinkende metaal en ’n galmende simbaal, sê Paulus.
  • Net ’n leë stuk blik.
  • Mag die liefde van ons Here Jesus ons dan so vul dat ons nie anders kan as om dit ook uit te leef nie!
  • Mag Hyself, deur sy Gees, vir ons daarmee help.

AMEN

css.php