PREEK  (Matt. 5: 21 – 26)

 

#  Woede – die Here wil vanoggend met ons praat oor woede. 

  • En die skrywer van die boek, wat ons tans in ons reeks gebruik, vertel ‘n tipiese storie oor woede.
  • Hy sê hy moes iewers ‘n praatjie gaan lewer en moes eers ‘n ent per vliegtuig en daarna ook ‘n ent per motor aflê.
  • Sy broer het hom op die lughawe kom haal.
  • En die eerste haakplek was al dat die vlug ‘n bietjie laat was.
  • Maar dit was toe hulle met die motor verder ry wat die groot probleem eintlik opduik.
  • Hulle beland in ‘n geweldige verkeersknoop, met die verkeer wat soms lank stilstaan.
  • En dit was so erg dat ons skrywer begin bang raak het hy gaan laat wees vir sy praatjie.
  • En so het die woede ook in hom begin opbou.
  • Hy sê hy kon dit voel opbou in sy liggaam – aan die begin eintlik al oor die vlug wat laat was, maar toe ook oor die simpel verkeer.
  • En sy broer, wat die verkeer in daardie omgewing goed geken het, het hom probeer gerusstel, maar hier binne-in het hy al kwater geword.
  • Gelukkig was sy broer toe reg met sy gerusstelling.
  • Die verkeer het begin vloei, en ons skrywer was toe meer as betyds vir sy praatjie.
  • En na die tyd ook baie vies vir homself, omdat hy eintlik onnodig kwaad geword het.
  • En hierdie gebeurtenis, sê hy, het hom toe ook gemotiveer om dieper in te gaan op die hele saak van woede – soos hoekom ‘n mens kwaad word, en ook hoe ons as Christene dit moet verstaan en hanteer.

#  Maar dít wat met hierdie man gebeur het, is mos iets wat ons almal goed ken. 

  • En ons weet dat daar baie dinge is wat ‘n mens kan laat kwaad word.
  • Iemand daag bv. nie op vir ‘n belangrike afspraak wat ons met die persoon gehad het nie.
  • Of ons staan in ‘n lang ry, wat nie wil beweeg nie – dalk by ‘n plek soos Binnelandse Sake.
  • Dit kan ook wees dat iemand ons beledig of slegsê, of ons beskinder, en ons kom dit te hore.
  • Wanneer ons verkleineer word, of geminag word, of veronreg word, is dit eintlik moeilik om nie kwaad te word nie.
  • So, ons weet almal goed wat dit is om kwaad te word.
  • En daar is eintlik ook baie om daaroor te sê.

#  Maar kom ons vra op hierdie punt net eers: Wat het Jesus oor woede gesê?

  • En hoe moet ons optree as ons dink aan wat Hy daaroor gesê het?
  • Natuurlik is dit wat Jesus gesê het oor woede nie al wat daar in die Bybel oor woede gesê word nie, maar kom ons lees weer die eerste 2 verse wat ons vroeër gelees het.
  • Jesus sê daar: “Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg is strafbaar voor die regbank. Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank.  Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ‘n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ‘n idioot, is strafbaar met die helse vuur.”
  • Dis baie sterk taal wat Jesus hier gebruik!
  • Maar ek glo dis omdat Jesus geweet het hoe gevaarlik woede kan wees.
  • Dis omdat Hy geweet het dis juis woede wat baie keer aanleiding gee tot geweld en moord.
  • Dink maar aan padwoede en padmoorde in ons eie tyd, of moorde wat gepleeg word uit weerwraak, soos in die bendegeteisterde gebiede.
  • Of dink aan baie van die gesinsmoorde wat plaasvind.
  • Dit is alles voorbeelde van woede wat oorgaan in moord.
  • En baie belangrik: Jesus trek basies ‘n reguit lyn tussen woede en moord.
  • Vir Hom is ‘n hart wat kwaad is, nie ver van ‘n hart wat moor nie.
  • In albei gevalle is die ingesteldheid hier binne-in ons dieselfde.
  • Dis dieselfde woede.
  • Dit lei net nie altyd tot die daad van moord nie.
  • Soms wil ons wel uit woede dalk ‘n ander persoon as ‘t ware ook met ons woorde vermoor.
  • Ons sê die persoon sleg, of kraak sy of haar karakter af.
  • Ons pleeg karaktermoord, soos dit dan ook genoem word.
  • So, n.a.v. Jesus se woorde, kan ons sê: Ek hoef nie ‘n vuurwapen of ‘n dolk in my hand te hê om die sesde gebod te oortree nie.
  • Nee, ek kan hierdie gebod oor moord reeds in my hart of in my gedagtes oortree.

#  Maar ek dink Jesus se baie sterk taal oor woede wil ons help.

  • Dit wil vir ons die pad aanwys na ‘n goeie en mooi lewe.
  • Na ‘n lewe waarin ons nie deur woede vergiftig word, of gevange gehou word nie.
  • In Gal. 5: 20 sê Paulus dat woede iets is wat uit ons sondige natuur opkom.
  • En net daarna noem hy in vers 22 verskeie dinge wat eintlik reg teenoor woede staan, en wat deel is van die vrug van die Gees in ons lewe.
  • Dit is dinge soos liefde en vrede en geduld en vriendelikheid.
  • En dít is hoe die goeie en mooi lewe lyk wat Jesus vir ons in gedagte het: Liefde, vrede, geduld, vriendelikheid en nog baie meer.
  • En belangrik: So ‘n goeie en mooi lewe is moontlik.
  • Ook ‘n lewe sonder woede is moontlik, wanneer ons gehoorsaam is aan Jesus.
  • En wanneer ons sy Gees in ons hart en in ons binneste laat regeer.

#  Maar nou sal iemand dalk vra: Hoekom het die Here ons dan so gemaak dat ons woede kan ervaar?

  • En is daar nie iets soos geregverdigde woede nie?
  • ‘n Mens wil amper ook sê: Maar dis tog menslik onmoontlik om nooit kwaad te word nie.
  • As jy dink aan wat alles in die wêreld gebeur en wat mense mekaar aandoen, dan kan jy baie keer nie keer dat daar woede in jou opkom nie.
  • En daarby lees ons in die Bybel daarvan dat Jesus ook soms kwaad geword het.
  • Die een keer was bv. toe Hy al die mense wat op die tempelterrein goed gekoop en verkoop het, daar uitgejaag het.
  • Jesus was kwaad omdat mense die tempel onteer het en daarvan ‘n rowersnes gemaak het, soos Hy dit gestel het.
  • So daar kan tog geleenthede wees wanneer ons woede geregverdig is.
  • Dink maar aan gevalle waar mense dronk bestuur en dan ander se dood veroorsaak?
  • Of waar ‘n kind verkrag en vermoor word?
  • Of waar iemand ‘n klomp bejaardes uit hulle spaargeld bedrieg?
  • As sulke dinge ons kwaad laat voel, en dalk aan ‘n betoging of ‘n petisie laat deelneem, is dit tog geregverdigde woede.
  • Dit wys dat ons nie onreg kan verdra nie.
  • En, ja, dit wys dat ons geskape is na die beeld van ons regverdige God wat onreg haat.

#  Maar dit bring ons by ‘n baie belangrike vraag: Wat maak ‘n mens met jou woede?

  • Sê bv. jy ervaar woede oor mense wat dronk bestuur, of mense wat kinders molesteer.
  • Dan is daar dalk iewers ‘n groep mense wat hulle beywer vir beter wetgewing en beter wetstoepassing ten opsigte van hierdie probleme.
  • En kan jy aansluit by so ‘n groep, en deelneem aan hulle aksies.
  • Die skrywer van die boek van ons reeks het juis in ‘n vorige boek die voorbeeld genoem van ‘n groep met die naam “Mothers against drunk driving.”
  • En daar is waarskynlik ma’s in daardie groep wat juis kinders verloor het a.g.v. dronk bestuurders.
  • Maar so ‘n groep kan ‘n mens dan help om jou geregverdigde woede oor ‘n sekere saak reg te kanaliseer.
  • Jy neem m.a.w. nie die reg in eie hande nie, maar jy gebruik jou woede om positiewe verandering te laat plaasvind.

#  Die belangrike punt is: Ons woede moet reg bestuur en hanteer word.

  • En hier kan ons dan ook aan Paulus se woorde dink in 4: 26 en 27 “As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ‘n dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel vatkans gee nie.”
  • In die 2020-vertaling van die Bybel sê Paulus in hierdie verse: “Word kwaad, maar moenie sondig nie. Laat die son nie ondergaan oor julle woede nie.  Moenie vir die Duiwel ‘n plek gee nie.”
  • As dit moontlik is, moet ons dinge met mekaar uitsorteer voor ons gaan slaap.
  • En dit sluit ook ons woede in.
  • Dis eenvoudig erg om kwaad vir mekaar te gaan slaap.
  • En aan die anderkant goed om die dag in vrede met mekaar af te sluit.

#  Ons woede moet reg bestuur word.

  • En wanneer ons die Heilige Gees toelaat om sy vrug in ons lewens te dra, kan ons ons woede reg bestuur.
  • So bv. kan ons iets wat ons kwaad gemaak het, uitpraat met die persoon of mense wat ons kwaad laat word het.
  • Dis natuurlik nie altyd maklik of moontlik nie.
  • Maar ek sou sê dít is tog hoe dit moet wees in die goeie en mooi lewe wat Jesus vir ons in gedagte het.
  • Dat ons dinge met mekaar uitpraat, sodat daar vrede en versoening tussen ons kan wees, en nie ‘n woede wat bly draal nie.
  • Dit kan natuurlik ook wees dat ons nog woede binne-in ons het oor iets, of dinge, wat in die verlede met ons gebeur het.
  • Dalk het iemand ons ‘n groot onreg aangedoen, en kan ons net nie van die woede daaroor ontslae raak nie.
  • Dan is professionele hulp dalk ‘n opsie om te oorweeg.
  • Of dalk is daar wel ‘n vriend of vriendin, of ‘n familielid met wie jy hierdie las van jou kan deel.
  • En dit kan ook wees dat die persoon wat jou veronreg het nie vandag meer lewe nie.
  • In so ‘n geval kan dit dalk help om ‘n brief aan die persoon te skryf en jou emosies daarin uit te druk.
  • Maar dan, dan moet jy daardie brief in die hande van die Here oorgee.
  • a.w. dan moet jy jou woede vir die Here gee, sodat Hy jou stukkende hart kan begin gesond maak.

# In die Bybel is daar mos ‘n aantal psalms wat wraakpsalms genoem word.

  • Dis eintlik ook soos briewe wat aan die Here se adres gerig is, maar dit bevat wraakgedagtes.
  • En party van hierdie gedagtes is baie erg en druk ook ‘n erge woede uit.
  • Hoor bv. maar net hoe kwaad is die digter van Ps. 139, en hoe reguit praat hy met die Here daaroor.
  • Hy sê in vers 19 tot 22 van die psalm: 139 “As U tog maar die goddelose uit die weg wou ruim, o God! Gaan weg van my af, julle moordenaars!  Dit is hulle wat bose planne teen U smee, wat so vals teen U optree.  Moet ek u haters dan nie haat nie, Here, moet ek nie ‘n weersin hê in mense wat teen U in opstand is nie?  Ek haat hulle met ‘n uiterste haat, want hulle is ook my vyande.”
  • Hierdie woorde is dalk vir ons skokkend!
  • Hoe kan jy so openlik sê dat jy ander mense haat?
  • En hoe kan ‘n gelowige so praat?
  • Maar ‘n mens kan baie duidelik die woede in hierdie psalmdigter se woorde hoor.
  • En die belangrike punt is dan ook: Hy gee sy woede vir die Here.
  • Hy spreek dit uit in ‘n gebed tot die Here, in ‘n psalm.
  • Ja, hy gee dit oor aan die Here en vertrou dat die Here die onreg wat plaasvind of plaasgevind het, sal regstel.

#  Ek wil nog net ‘n laaste punt beklemtoon.

  • En dit gaan oor hoekom ons soms kwaad word.
  • ‘n Belangrike rede waarom ons kan kwaad word vir iemand of vir ‘n sekere situasie, is omdat ons nie in beheer voel nie.
  • Die ander persoon het bv. nie opgetree soos ons wou hê nie.
  • En ons is nie in beheer nie – ons kan die persoon ook nie maak doen wat ons wil hê nie.
  • En nou is ons kwaad.
  • Maar dis hier waar ons die Here nog meer en meer moet leer vertrou.
  • Paulus sê mos: “God is vír ons, wie kan dan teen ons wees.” (Rom. 8:31)
  • En omdat God vír ons is en by ons is, hoef ons nie die reg in eie hande te neem en ander kwaad aan te doen nie.
  • Hoef ons nie kwaad met kwaad te vergeld nie.
  • Word kwaad, ja, sê Paulus, maar moenie sondig nie.
  • Word kwaad, maar laat dit aan die Here oor wanneer ander jou dalk sleg behandel en jy in elk geval nie beheer het oor hulle optrede nie.
  • En leer, al meer en meer, om ‘n lewe sonder woede te leef.
  • Want jy leef reeds in die koninkryk van God.
  • Jy leef reeds die goeie en mooi lewe wat Jesus, in sy liefde, en deur sy kruisdood, vir ons kom moontlik maak het.

AMEN

 

 

 

css.php