HAND. 2:42-47 (30/4/23) 

 

#  Net voor ons nou gaan saam lees, wil ek net sê dat die Skrifgedeelte wat ons gaan lees vir ons so ’n bietjie van ’n prentjie gee van hoe die eerste Christelike gemeente geleef het.

  • Dit was in die tyd kort na Jesus se hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees.
  • En ons sien eintlik by hierdie vroeë Christene hoe Jesus self in daardie gemeente geleef het.
  • Hoe Jesus deur sy Gees mense geïnspireer het om vir Hom en ook vir mekaar te leef.
  • En voor ons nou uit die Bybel lees, wil ek vra dat ons onsself vir ’n oomblik in ons gedagtes sal voorstel dat ons na ’n video-opname van die eerste gemeente gaan kyk, ’n kort video-opname wat vir ons wys hoe daardie mense geleef het.
  • So, kom ons laat hierdie kort video nou voor ons afspeel, as ons luister na HAND. 2:42-47:

………………………………………………………………………………………..

 

 

#  In ons verbeelding het ons nou na ’n kort “video”-opname oor die eerste Christelike gemeente gekyk.

  • En ons het iets gesien van hoe daardie eerste Christene geleef het en wat hulle gedoen het.
  • Maar voor ons verder gaan, wil ek net graag sê: Ek dink daar is twee gevare wanneer ’n mens na hierdie denkbeeldige video kyk.
  • Die eerste gevaar is om te dink dat dit vandag presies net so moet lyk in ons eie gemeente (letterlik en in alle opsigte).
  • Ek dink nie dis moontlik dat dit presies net so kan lyk in ons gemeente of in enige ander gemeente nie.
  • En ek dink ook nie dat die Here dit van ons verwag of vereis nie.
  • Maar ’n tweede gevaar is dat ons kan dink dat ons ons glad nie hoef te steur aan hoe die eerste Christelike gemeente geleef het nie.
  • In so ’n geval sou ons dan sê: Ons kan niks by hulle leer nie.
  • Ons tyd en omstandighede is net te anders as hulle s’n.
  • Dít is vir my die twee gevare: om te dink ons gemeente moet presies net so lyk, of om te dink ons kan die “video” oor die eerste gemeente heeltemal ignoreer.

#  Maar as ’n mens nou klaar iets gesê het oor die gevare van ons “video,” lyk dit vir my of daar sommer baie is wat ons daaruit kan leer!

  • So wys die “video” bv. vir ons ’n paar baie belangrike dinge omtrent daardie eerste Christene se verhouding met die Here.
  • En dis vir my die eerste groot saak in die gedeelte wat ons gelees het: die vroeë Christene se verhouding met die Here.
  • Ons het bv. in vers 42 gelees dat hulle hulleself “heelhartig toegelê het op die leer van die apostels.”
  • En dit beteken hulle het gekonsentreer op dié dinge wat die apostels hulle geleer het.
  • En wat sou die apostels hulle geleer het?
  • 2 spel dit nie vir ons uit nie.
  • Maar ek is baie seker dit sou veral gegaan het oor Jesus se dood en opstanding, oor die groot dade van God, soos die Bybel dit ook noem.
  • Oor hoe God deur Jesus vir ons verlossing gestuur het.
  • Oor hoe groot God se liefde en genade vir sondaars is.
  • En die eerste Christene het met hulle hele hart vasgehou aan hierdie leer of boodskap van die apostels.
  • Hulle het styf vasgehou aan die goeie nuus van die evangelie, die goeie nuus oor Jesus, ons Verlosser.

#  Maar verder lees ons dan ook dat die eerste Christene gereeld gebid het.

  • En so het hulle gesorg dat hulle verhouding met die Here baie persoonlik bly.
  • Dat hulle gereeld vir Hom, op ’n kinderlike manier, “ons Vader” kon sê, en Hom kon prys in hulle gebede, en ook gereeld hulle behoeftes voor Hom kon bring.
  • Hulle het ’n baie hoë prioriteit aan gebed gegee.
  • Hulle het geweet: Gebed is noodsaaklik vir jou verhouding met die Here.
  • Hulle het geweet: Gebed is (soos mense baie keer sê) die asemhaling van die siel.
  • En daarom het hulle gereeld gebid.
  • Het hulle volhard in die gebed, soos dit ook in Hand. 1 genoem word.

#  Maar ons lees ook hoe hierdie eerste Christene by die tempel bymekaar gekom het.

  • En hulle het dit “getrou” gedoen, sê vers 46.
  • Hulle het getrou na die tempel toe gegaan om daar na die Here se Woord te luister en Hom te aanbid.
  • En dit was vir hulle so ’n belangrike saak hierdie dat hulle elke dag die tempel besoek het.
  • Nie net 1 keer in ’n week, of 1 keer in ’n skrikkeljaar nie.
  • Nee, hulle besoek die tempel elke dag.
  • En dit was nie vir hulle te veel moeite om dit te doen nie – nie ’n pyn of ’n las nie.
  • Hulle wou eenvoudig daar wees om in die teenwoordigheid van die Here te wees.
  • Om Hom te aanbid en ook beter te leer ken.
  • En hulle wou dit elke dag van die week doen!

#  So, wat hulle verhouding met die Here betref, sien ons een ding baie duidelik by hierdie eerste Christene.

  • En dit is hulle toewyding.
  • Hoe hulle met groot toewyding die leer van die apostels volg, met toewyding bid, en met toewyding by die tempel bymekaar kom.
  • Ons sien by hulle ’n toewyding en ’n entoesiasme wat ons seker vanoggend ’n bietjie skaam kan laat voel.
  • Maar dit kan ons mos terselfdertyd ook aanspoor om self baie groter erns te maak met ons eie verhouding met die Here en ons eie toewyding aan Hom.
  • Hoe toegewyd leef ek werklik aan die Here?
  • Hoe lyk my verhouding met Hom as ek eerlik is daaroor?
  • Hoe reageer ek op sy liefde?
  • Hoe antwoord ek op sy genade vir my, wat so oneindig groot is?

#  Maar dit bring ons by ’n tweede groot saak wat ons in ons denkbeeldige “video” oor die eerste Christelike gemeente sien gebeur.

  • En dit is die besondere verhouding wat hierdie gelowiges met mekaar gehad het.
  • Die besondere band wat daar tussen hulle was.
  • En ek wil graag ’n paar van die verse wat ons gelees het, net weer voorlees, van vers 44 tot 47.
  • Kom ons kyk met ander woorde weer na ’n kort gedeelte van ons “video.”
  • Vers 44 tot 47 sê: “Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte.  Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, en God geprys.”
  • Nou, een ding staan vir my uit van hierdie eerste Christene se verhouding met mekaar.
  • En dit is hulle intense betrokkenheid by mekaar.
  • Vers 44 sê hulle “het alles met mekaar gedeel.”
  • Hulle was so betrokke by mekaar dat hulle selfs al hulle besittings en geld met mekaar gedeel het.
  • En vir ons wat vandag hierdie gedeelte lees, klink dit seker maar baie vreemd: dat mense alles verkoop en die opbrengs onder mekaar verdeel soos wat dit nodig is.
  • En in ons soort ekonomie sou ’n mens seker nie ver kom met so ’n manier van doen nie.
  • Maar ek dink die groot beginsel wat ’n mens hier in aksie sien, is hoe medegelowiges mekaar ook met hulle besittings en geld kan dien.
  • Fanie Herholdt sê iewers: “Geld kan ’n medium wees waarmee en waardeur God en ons naaste gedien word, maar dit is ook by uitstek die middel wat ’n mens die idee kan gee dat jy sonder God en jou naaste kan klaarkom.”
  • Geld, sê Fanie Herholdt, kan my help om God en ander te dien.
  • Dis ’n manier waarop ek myself kan gee vir God en vir my medemens wat in nood verkeer.
  • Maar hierdie selfde geld kan my ook laat dink ek kan sonder God en my naaste klaarkom.
  • Die eerste Christene se keuse was om mekaar op ’n radikale manier te dien ook met hulle besittings en geld.
  • Geld was nie vir hulle iets wat jy najaag net om onafhanklik van jou medemens te kan wees nie.
  • Nee, hulle dien mekaar ook met alles wat hulle besit.

#  Wat vir my verder ook baie treffend is, van hierdie eerste Christene se verhouding met mekaar, is hoe hulle saam geëet het!

  • Vers 46 en 47 sê: Hulle het “van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, en God geprys.”
  • En ook hier sien ons hoe intens hierdie gelowiges by mekaar betrokke was.
  • Hulle eet saam in mekaar se huise – iets baie persoonliks om saam te doen.
  • Iets wat mos die meeste van die tyd net deur gesinne en families en goeie vriende saam gedoen word.
  • Maar hierdie eerste Christene eet saam in mekaar se huise.
  • En so wys hulle ook hoe nóú hulle aan mekaar verbonde is – hoe betrokke hulle by mekaar is.
  • Hulle was eintlik soos een groot familie.
  • Soos een groot familie wat elke dag in liefde met mekaar saamgeleef het.

# En nou wonder ek: Hoe lyk óns betrokkenheid by mekaar?

  • Ons meeleef met mekaar en ondersteun van mekaar?
  • Ons omgee vir mekaar?
  • Ek dink ons moet ook vra hoe ons hier in Paarlberg mekaar kan help om regtig by mekaar betrokke te wees.
  • En ons kan tog nie almal ewe veel by al die ander mense in die gemeente betrokke wees nie.
  • Dis tog net nie prakties moontlik nie.
  • Maar daarom dink ek moet ons veral bid dat die Heilige Gees ons op hierdie punt sal lei.
  • Dat Hy vir ons sal wys hoe ons by ons medegelowiges betrokke moet wees.
  • Hoe, en ook by wie.
  • Dalk by sekere van ons bure, of kollegas, of lidmate met ’n sekere nood of behoefte.
  • As ons elkeen net by een ekstra persoon of een ekstra gesin meer betrokke gaan raak, dink net hoe dit sal lyk as jy dit alles bymekaar sit!
  • Die voorbeeld van die vroeë Christene in Hand. 2 dwing ons om te vra: Hoe betrokke is ons as medegelowiges werklik by mekaar vandag?
  • Of aanvaar ons dat ons nou maar een maal in ’n samelewing leef waarin dit ’n geval is van elkeen vir homself, en dat dit in die kerk ook maar so moet gaan?

#  Maar dan, ’n derde en laaste groot saak wat in ons denkbeeldige “video” oor die eerste Christelike gemeente vir ons duidelik word.

  • En dit het te doen met daardie gelowiges se verhouding met die ander mense rondom hulle, met die “buitemense.”
  • Hulle verhouding met die wêreld wat nog nie vir Jesus gevolg het nie.
  • Vers 47 sê: “Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.”
  • Vir my lyk dit of die mense buite daardie eerste gemeente gehou het van dít wat hulle by die eerste Christene gesien het.
  • Of hulle ’n baie goeie indruk en opinie van hulle gehad het.
  • Hulle het die eerste gemeente aantreklik gevind, amper soos wanneer ’n magneet ander dinge na hom toe aantrek.
  • Die gelowiges se hele lewe en optrede was ’n getuienis vir die buitemense.
  • En die Here het hierdie baie positiewe getuienis gebruik om nog meer mense te red en hulle by te voeg by die gemeente.

#  En die vraag is nou: Wat sien die “buitemense” in óns geval?

  • Hoe lyk Paarlberg-gemeente vir hulle?
  • Sien hulle ons liefde vir die Here en vir mekaar?
  • Of sien hulle dit nie?
  • Trek ons as gemeente hulle aan of stoot ons hulle af?
  • Daar is op ’n keer ’n seminaar oor MIV/vigs in ons gemeente aangebied.
  • En ’n persoon wat self MIV-positief was, het haar getuienis gelewer.
  • En sy het gesê van die seerste dinge wat sy in haar hele lewe ervaar het, was verwerping deur kerkmense!

#  Maar kom ons sluit af: As iemand in hierdie tyd ’n video van ons gemeente sou maak, wat sou mense daarin sien?

  • Sou hulle sien dat ons toegewyd is in ons verhouding met die Here?
  • En werklik betrokke by mekaar as mede-gelowiges, soos een groot familie?
  • En dat ons ’n aantrekkingskrag het op die mense buitekant die gemeente?
  • Dat veral ons liefde hulle aantrek?
  • Ons weet sekerlik dat ons dikwels te kort skiet.
  • En ons moet dit ook vanoggend erken en bely.
  • Maar kom ons bid daarom ook gereeld vir Paarlberg, sodat ons ’n gemeente sal wees wat oorloop van die liefde van Jesus!

AMEN

css.php