LUK. 22:39-53 en MATT. 26:36-46 (12/2/23)

 

# As Christene behoort ons almal entrepeneurs van hoop te wees.

  • M.a.w. ons behoort almal geleenthede raak te sien waar ons vir ander mense hoop kan help bring.
  • Waar ons iets kan doen of sê wat vir mense hoop help bring.
  • En natuurlik moet ons hierdie geleenthede nie net raaksien nie – ons moet hulle ook gebruik.
  • Ons moet hulle benut.
  • Maar nou is die vraag seker: Hoe kan ons hoop help bring terwyl ons self so maklik moedeloos en angstig raak?
  • Hoe kan ons draers van hoop wees terwyl ons in onsself so swak is?
  • En as ons eerlik is met onsself moet ons seker erken dat daar baie dinge is wat ons bang en angstig maak.
  • Baie dinge in ons ons land en wêreld, maar dalk ook in ons eie lewens.
  • Ek is seker ons sal almal vanoggend iets kan noem wat ons bang of angstig maak in hierdie tyd.

# Op ’n ligter noot wil ek ook net sê dat ek ’n bietjie hoogtevrees kry.

  • En dan gebeur dit dalk dat hulle op die TV wys hoe daar ’n kabel tussen 2 baie hoë geboue gespan is, en hoedat iemand op daardie kabel balanseer, en van die een gebou na die ander oorstap.
  • En net om dít te sien op TV, of selfs net om daaraan te dink, laat my hande sweet.
  • En dit is vrees en angs wat so maak!
  • Vrees en angs laat jou so sweet!

#  Maar vrees en angs dien mos ook ’n goeie doel in ons lewens.

  • Dit help ons om versigtig te wees.
  • My eie vrees en angs keer mos dat ek op ’n kabel daar bo in die lug sal gaan probeer balanseer.
  • So, ek loop daarom nie die gevaar om my in die proses dood te val nie.
  • Maar daar is ook talle doodgewone dinge waar vrees en angs ons help veilig hou.
  • Soos dat ek nie voor aankomende verkeer instap wat vinnig nader kom nie.
  • Of dat ek my werk getrou en betyds probeer klaarmaak, sodat my werkgewer my nie ’n waarskuwing hoef te gee nie.
  • Of dat ek wegbly van ’n belegging wat te veel risiko inhou.
  • Vrees en angs help ons baie keer veilig hou.
  • Maar dit kan ons ook lamlê.
  • Dit kan te erg raak en te veel inmeng met ons lewens en ons gewone funksionering as mense.
  • Iemand beskryf dit só, wanneer vrees en angs te veel raak:
  • “Dis bv. wanneer jy konstant ’n gevoel het dat alles verkeerd gaan loop, konstant vrees dat jy nie in beheer gaan wees en voel van jou lewe nie, konstant oorgeneem word deur ’n vormlose gevoel van onsekerheid, konstant voel dat die lewe nie ’n vriendelike plek is nie, dat ek op my eie is, en dat alles eintlik maar sinloos is.”
  • As vrees en angs so verlammend is soos dit hier beskryf word, is dit dalk goed om met iemand daaroor te gaan praat – met ’n goeie vriend of vriendin of selfs dan met ’n professionele persoon.

#  Maar ons is nie vanoggend hier in die kerk saam om net vanuit ’n sielkundige hoek oor vrees en angs te praat nie.

  • Ons wil ook luister na die Bybel wanneer dit by die vrees en angs in ons lewens kom.
  • En nou het ons juis vanoggend in Luk. 22 en in Matt. 26 gelees hoe groot Jesus se angs daar in die tuin van Getsemane was.
  • 22:44 sê: “Jesus het in doodsangs geraak en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val.”
  • Doodsangs is wat Jesus daar ervaar het.
  • Die 2020-vertaling praat van “intense angs.”
  • Doodsangs of intense angs.
  • En hoekom sou Jesus so uiters angstig gevoel het?
  • Hy moes teen daardie tyd geweet het dat die klomp mense wat Hom gevange sou kom neem, baie naby was.
  • En daarom het Hy ook geweet dat sy eie dood net om die draai vir Hom gewag het.
  • En hier in Getsemane worstel Jesus nou nog met die Vader.
  • Hy bid in Luk. 22:42 en sê: “Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!”
  • En wat ons hier hoor, is dat Jesus beslis wil doen wat die Vader Hom gestuur het om te doen.
  • Hy wíl sy lewe gee om die Verlosser van die wêreld te word.
  • Maar Hy is ook ’n mens.
  • En daarom wil Hy eintlik ook nie swaarkry en ly nie.
  • Wil Hy, soos ons ook maar, nie pyn en lyding ervaar nie – “neem tog hierdie lydensbeker van My af weg,” bid Hy.
  • En ons hoor in sy woorde die konflik wat daar in Jesus moes gewoed het.
  • Ja, Ek wil doen wat die Vader van my vra, maar, nee, Ek wil nie ly nie.
  • En dit is hierdie konflik, en worsteling met die Vader, en die wete dat sy vyande reeds baie naby is, dit is al hierdie dinge wat maak dat Jesus in doodsangs verkeer.

#  Maar nou weet ons gelukkig vandag dat Jesus nie weggehardloop het uit Getsemane en iewers gaan wegkruip het waar Hy veilig sou wees nie.

  • Hy het, gelukkig vir ons, dwarsdeur sy doodsangs by sy roeping gebly.
  • En daarom het Hy Homself gevange laat neem en Homself oorgegee om gekruisig te word.
  • En so het Hy dan, in lyn met die wil van die Vader, ons elkeen se Verlosser geword.
  • En as ons nou vandag vra: Maar hoe het Jesus dit gedoen? Hoe het Hy dit reggekry om ten spyte van sy groot angs nie weg te hardloop van sy roeping nie? dan lê dit sekerlik in die eerste plek by sy verhouding met ons hemelse Vader.
  • Sy verhouding met die Vader dra Hom deur die angs van Getsemane.
  • Want die een ding wat Jesus in Getsemane doen, is om te bid tot die Vader.
  • Hy kniel daar voor die Vader, en Hy bid so ernstig dat sy sweet soos bloeddruppels op die grond val.
  • So, aan Jesus se kant van sy verhouding met die Vader sien ons hoe Hy bid.
  • Hoe Hy hulp en krag vra by die Vader.
  • Hoe Hy selfs die Vader pols om te hoor of Hy nie tog maar die lyding van die kruis kan vryspring nie.
  • Dit is hoe Jesus se kant van sy verhouding met die Vader daar in Getsemane lyk.
  • Maar ons sien ook iets van die Vader se kant van hierdie verhouding.
  • Want die Vader stuur ’n engel om vir Jesus te versterk.
  • Hy verstaan die stryd en konflik wat daar in Jesus woed.
  • Hy verstaan Jesus se angs, sy doodsangs.
  • En Hy stuur ’n engel om vir Jesus nuwe krag te gee.
  • Maar ek dink die sleutel hier is: die verhouding tussen Jesus en die Vader.
  • Dat Jesus selfs in doodsangs aan die Vader bly vashou en met Hom bly praat in sy gebed.
  • Maar dan ook dat die Vader sy hand na Jesus toe uitsteek en Hom deur sy engel versterk.
  • Deur sy verhouding met die Vader kon Jesus vorentoe gaan op sy pad na die kruis, t.s.v. hoe ontsettend benoud en angstig Hy daar in Getsemane gevoel het.

#  Maar nou moet ons ook weer praat oor onsself en ons eie angs.

  • Die Here wil ons elkeen gebruik as ’n entrepeneur van hoop, om vir mense te help hoop gee met wat ons doen en sê.
  • Maar ons voel seker nie regtig bekwaam om entrepeneurs van hoop te wees nie.
  • Ons voel dalk ons weet nie reg wat ons moet doen om vir mense hoop te help bring nie.
  • Waar kry ons die regte oplossings en planne om mense in nood te help?
  • Maar ons weet baie keer ook nie reg wat om te om mense te help in hulle wanhoop nie.
  • Hoe moet ons met mense praat en wat moet ons sê om hulle uit hulle wanhoop te help oplig?
  • Ons weet baie keer doodeenvoudig nie wat om te doen of te sê om vir mense hoop te help bring nie.
  • En dit kan ons dan ook angstig maak.
  • En weer eens: Hoe kan ons hoop help bring terwyl ons self so maklik moedeloos en angstig raak?
  • Hoe kan ons regtig entrepeneurs van hoop wees terwyl ons so swak is in onsself?

# Nou, ek dink waar ons moet begin soek na die antwoord, is by die voorbeeld van Jesus.

  • Dit lyk vir my Jesus het net een ding in gedagte gehad toe Hy voor sy dissipels uit na die tuin van Getsemane gestap het: Hy wou daar gaan bid.
  • Hy sê dan ook daar vir sy dissipels dat hulle self moet bid dat hulle nie in versoeking kom nie.
  • Maar Jesus stel die voorbeeld: Hy bid daar in Getsemane oor sy roeping om aan die kruis te gaan sterf, maar ook oor sy onsekerheid en vrees en angs oor wat voorlê.
  • En nou weet ons natuurlik dat Jesus nie net daardie een keer in sy lewe gebid het nie.
  • Ons lees op ’n hele paar plekke in die Bybel hoe Jesus eenkant toe gegaan het om te gaan bid.
  • Dit was duidelik ’n baie belangrike deel van sy lewe: om te bid.
  • En in elke gebed kon Hy dan met die Vader praat oor alles in sy lewe: oor sy roeping, en oor sy dissipels, en oor die baie behoeftes van die mense wat sy pad gekruis het.
  • En Jesus kon dan ook elke keer vir die Vader sê wat Hom dalk bevrees of beangs gemaak het in wat Hy moes doen.
  • En, belangrik, Hy kon ook hulp en krag en kalmte by die Vader vra.

#  So, vir ons is Jesus se voorbeeld hier so belangrik.

  • En kom ons hou dan ook aan om, soos Jesus, in gebed met ons hemelse Vader te praat.
  • En ons kan mos vir Hom alles sê.
  • Ons kan sê: Ja, Vader, ons wil so graag entrepeneurs van hoop wees.
  • Ons wil so graag die geleenthede raaksien waar ons hoop kan help bring.
  • En dan wil ons ook graag dinge doen en sê wat wel vir mense hoop bring.
  • Maar dit maak ons angstig.
  • Ons is bang ons kan dit nie reg doen nie, en ons ervaar angs daaroor!
  • Help ons asb.
  • Versterk ons asb.
  • Entrepeneurs van hoop kan hulle angs vir die Here gee en bid vir sy hulp en sy krag.
  • En ook vir die nodige wysheid en kalmte vir ons taak.

#  En in elk geval, wat help dit as ons nie eerlik is oor die angs wat ons ervaar nie?

  • Angs oor allerhande dinge in die wêreld, en in ons land, en in ons eie lewe, maar ook angs oor wat ons vir die Here wil doen?
  • Wat help dit ons is nie eerlik daaroor nie?
  • In Matt. 26:38 sê Jesus, daar in Getsemane, vir sy dissipels: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My.”
  • Dít is hoe eerlik Jesus was oor wat Hy ervaar het.
  • “Ek voel doodsbenoud,” sê Hy.
  • En Jesus se voorbeeld kan ons ook net help om eerlik te wees oor hoe benoud en beangs baie dinge vir ons maak.
  • Deur eerlik daaroor te wees, soos Jesus dit was, het ons ’n beter kans om die angs te oorwin.
  • Iemand het gesê: “Gee jou angs woorde en name.”
  • Sê wat jou beangs maak.
  • Noem dit by die naam.
  • Sê dit vir ander, maar sê dit veral ook in gebed vir die Here.

#  Wat sal dit in hierdie jaar prakties vir my beteken om ’n entrepeneur van hoop te wees?

  • Wat sal dit van my vra om ’n entrepeneur van hoop te wees?
  • Dalk sal ek op nuwe maniere by mense en selfs by aksies betrokke moet wees in hierdie jaar.
  • En ons weet vreemde mense en nuwe dinge hou baie keer ook vir ons angs in, veral as ’n mens meer van ’n introvert is.
  • Maar dalk wil die Here my in hierdie tyd gebruik om iemand hier in ons omgewing in armoede by te staan, of in siekte, of in eensaamheid, of in hartseer.
  • Om so-iemand in sy of haar nood by te staan en dáár hoop te help bring.
  • En dis verstaanbaar dat ons dikwels nie sal weet wat presies die regte manier is om mense met ’n spesifieke soort nood by te staan nie.
  • En dít kan natuurlik ook ons angsvlakke laat verhoog.
  • Maar wat ons tog altyd moet onthou, is dat ons baie keer maar net iets kleins sal hoef te doen of sê om vir iemand hoop te help bring.
  • Dalk is een sinnetjie waarmee ek iemand bemoedig, of een toebroodjie waarmee ek ’n honger maag help vul, baie keer al wat die Here van my verwag.
  • En dikwels is dit selfs genoeg om net by iemand te wees, sonder om eers iets te doen of te sê.
  • Net om te wys: ek is hier vir jou, want ek gee om.
  • Maar uiteindelik, in afhanklikheid van die Here, in verhouding met Hom, in gebed, kan ons ons angs oorwin en kan ons entrepeneurs van hoop wees.

#  Ek wil afsluit, en sê: Die Here wil ons elkeen afsonderlik, maar ook as gemeente saam, as draers van sy hoop gebruik.

  • En dis ’n voorreg om so in sy diens te mag staan.
  • Maar ons weet dat dit nie altyd eenvoudig en maklik, en sonder angs, sal verloop nie.
  • So kom ons hou in geloof en in gebed styf vas aan ons hemelse Vader wat ons daarmee wil help.
  • En kom ons onthou hoe nodig die wêreld rondom ons entrepeneurs van hoop het.

AMEN

 

css.php