LUK. 4:1-13 (26/6/22)
# Kom ons wees baie eerlik!
- Wat sou ons doen as ons vir ons ’n koning moes kies?
- Sou ons een kies met ’n kroon op sy kop of een met ’n kruis op sy rug?
- ’n Koning met ’n kroon, of een met ’n kruis?
- Met ander woorde: Sou ons ’n koning kies wat met groot krag regeer, en wat met ons vyande afreken, en vir ons groot materiële voorspoed bring, en vir ons sorg vir ’n veilige land om in te woon…
- Sou ons so ’n sterk koning kies, of een wat bitterlik ly en swaarkry en in die proses ook doodgaan?
- ’n Koning met ’n kroon of een met ’n kruis?
- ’n Sterk aardse koning of iemand soos Jesus wat ’n kruis op sy rug gedra het?
- Wat kies ons?
- Nou natuurlik weet ons vandag dat Jesus ons deur sy kruisdood kom verlos het.
- En daarom sal ons seker maklik kan sê: Ons kies Jesus met ’n kruis.
- Ons kies Jesus wat sy kroon doelbewus kom verruil het vir ’n kruis.
- Maar as ons eerlik moet wees, sou ons dalk ook eerder ’n koning met ’n kroon as ’n koning met ’n kruis wou hê.
# Sê bv. ons was almal deel van die Joodse gemeenskap in die tyd van Jesus, en iemand sou vir ons vra: Wat wil julle hê…
- Wil julle graag ’n koning met ’n kroon hê of wil julle eerder ’n koning met ’n kruis hê?, dan sou ons sekerlik ook gesê het: Gee ons ’n koning met ’n kroon.
- Gee ons ’n sterk koning!
- Die Jode het mos destyds verwag dat daar ’n sterk Messias sou kom, een wat hulle van die oorheersing van die Romeine sou kom verlos.
- Een wat vir hulle politieke bevryding sou bring.
- En so ’n koning kon tog nie een wees wat ’n kruis dra nie.
- Hy moes tog ’n kroon dra.
- Gee ons ’n koning met ’n kroon!
# Maar, soos ons almal vandag goed weet, Jesus was nie so ’n soort koning nie.
- En belangrik: Hy het ook nie gekom om so ’n soort koning te wees nie.
- God die Vader het Hom nie daarvoor gestuur nie.
- Wat Jesus moes kom doen, was om ’n las te kom dra en ’n prys te kom betaal.
- En daar was maar net een manier om dit te kon doen, en dit was deur sy eie lyding en dood.
- Só moes Jesus kom betaal vir die sonde van die wêreld.
- Dáárvoor moes Hy ’n kruis kom dra en ook aan daardie kruis kom sterf.
- Dít was die pad wat Jesus moes kom loop: die pad van die kruis.
# En nou sien ’n mens dat daar ’n baie groot versoeking was waarmee Jesus moes worstel.
- En wat was dit?
- Die versoeking was: Om sy kruis neer te sit en sy kroon as Seun van God weer op te sit.
- Ons sien hierdie versoeking bv. waar Jesus in die woestyn deur die duiwel versoek is.
- Jesus was honger, en die duiwel sê toe vir Hom: “As U die Seun van God is, sê vir hierdie klip dit moet brood word.”
- Sit op u kroon en wees die sterk Messias wat die Jode so graag wil hê.
- Doen hierdie wonderwerk en verander die klip in brood, sodat U daarvan kan eet.
- U kan dit mos doen!
- Maar Jesus wys hierdie voorstel van die hand.
- Hy weier om sy kruis neer te sit en sy kroon as Seun van God weer op te sit.
# Maar die duiwel probeer weer.
- Hy wys Jesus al die koninkryke van die wêreld en hy sê: Ek gee dit alles aan U, indien U maar net voor my buig en my aanbid.
- Kyk net al die mag waaroor U kan beskik.
- Ek sal van U die sterkste Koning ter wêreld maak.
- Kyk hoe mooi blink die kroon wat U sal kan dra, as U net wil!
- Maar ook hierdie tweede versoeking kon Jesus nie oorreed om sy kruis vir ’n kroon te verruil nie.
- En dieselfde gebeur by die derde versoeking waarvan ons hier in Luk. 4 gelees het.
- Ook daar sê Jesus nee vir ’n kroon en ja vir die kruis wat Hy moes kom dra.
- U kan gerus by die huis ook weer na die derde versoeking gaan kyk.
# Maar kom ons verskuif ons aandag net vir ’n oomblik ook na die laaste oomblikke voor Jesus later aan die kruis gesterf het.
- Toe Jesus sterwend daar aan die kruis hang, was daar talle mense wat Hom uitgedaag het om sy krag te gebruik en van die kruis af te kom.
- Hulle versoek Jesus met ander woorde ook en sê: “Red jouself as jy die Seun van God is, en kom van die kruis af!”
- Neem op u kroon.
- Dis nog nie te laat nie.
- Neem op u kroon en vergeet van die kruis.
- Gebruik u Goddelike mag om van die kruis af te kom en om nie verder te gaan met hierdie verskriklike lyding nie.
# Maar Jesus het aan die kruis bly hang.
- En sy laaste asem het Hy daar uitgeblaas – aan die kruis.
- Sonder sy kroon – hoewel daar mos ’n doringkroon op sy kop vasgedruk was.
- Maar dít was tog om met Hom te spot en om sy lyding nog erger te maak.
# En nou moet ons seker vanoggend erken: God se manier van werk is dikwels vir ons so vreemd.
- Hy besit mos alle mag in die heelal.
- En tog kies Hy om in sy Seun ’n weerlose mens op aarde te kom word en aan ’n kruis te sterf.
- Die Koning van die heelal lê sy kroon neer en kies ‘n kruis.
- ’n Vreemde manier van werk, baie vreemd.
- Hy kan mos sy mag gebruik en in een oomblik almal en alles aan Hom gehoorsaam maak.
- Hy kan ons mos almal met een hou dwing om te doen wat Hy wil hê ons moet doen.
- Hy kan ons mos soos wurmpies voor Hom op die grond laat rondkruip.
- Maar Hy doen dit nie!
- Hy dwing nooit ’n mens om enigiets te doen nie.
- Hy draai nooit ons arm nie.
- Dis amper asof Hy Homself inhou wanneer Hy met ons te doen het.
# So, wat is hier aan die gang?
- Hoekom gebruik God nie sy mag om alle mense in een oomblik aan Hom gehoorsaam te maak nie?
- Philip Yancey sê iewers: God wil van ons ’n reaksie van liefde hê.
- Ons liefde vir Hom is die een ding wat God van ons vra en die groot rede waarom Hy ons as mense gemaak het.
- Hy wil ’n reaksie van liefde van ons hê.
- En baie belangrik: dis mos liefde wat liefde by ons ontlok.
- Dis wanneer ons self liefde ontvang dat ons ook makliker liefde kan gee.
- En daarom tree God met soveel liefde teenoor ons op.
- Nie met mag of geweld nie.
- Nie met dwang en armdraai nie.
- Hy tree met liefde op juis om liefde by ons te ontlok.
- Wie van ons het al gesien dat jy iemand kan dwing om jou lief te hê?
- Dat jy iemand kan slaan of wurg of dreig tot hy of sy sê: ek het jou ook lief?
- Nee, dit werk mos glad nie so nie!
- Dis liefde wat liefde by ons ontlok.
- En daarom dra Jesus hier op aarde ’n kruis en nie ’n kroon nie.
- Daarom offer Hy Homself in liefde op en gebruik Hy nie sy mag om ons tot oorgawe aan Hom te dwing nie.
- Maar nou is die wonderlike van Jesus se liefde dat dit iets is wat sy eie krag het.
- Sy liefde is ’n soort krag wat ’n mens se hart laat sag word.
- En sy liefde maak dat jy ook met liefde teenoor Hom wil optree.
- En so wen God ons dan vir Homself deur sy wonderlike liefde vir ons!
# ’n Kruis of ’n kroon?
- Die versoeking waarmee Jesus moes worstel, is ook iets waarmee die kerk en elke gelowige elke dag te doen het.
- En ongelukkig moet ons erken: Ons as Christene kies baie keer ’n kroon eerder as ’n kruis.
- Ons kies baie keer om in ons optrede teenoor ander ons mag of invloed te gebruik eerder as liefde.
- Iemand het gesê: Die versoeking wat Jesus in die woestyn weerstaan het, die versoeking om sy mag te gebruik, is iets waarna baie van ons as sy volgelinge steeds verlang.
- Ons verlang so maklik na die mag van ’n kroon eerder as na die weerlose liefde van ’n kruis.
- En die kerk se geskiedenis bewys ongelukkig ook hoe waar dit is dat Christene dikwels ’n kroon bo ’n kruis verkies.
- Dink maar aan hoe die kerk, veral in tye wanneer sy sterk was en dit met haar goed gegaan het, haar mag gebruik het en eintlik misbruik het.
- In die kruistogte van die Middeleeue het Christene bv. uitgegaan en met die swaard oorlog gaan maak teen die Moslems wat die heilige land en Jerusalem beset het.
- En baie sg. ketters (of dwaalleraars) is in die geskiedenis op brandstapels verbrand omdat hulle nie met die amptelike leer van die kerk wou saamstem nie.
- ’n Mens voel skaam as jy dink wat al in die verlede in die Naam van Christus gedoen is!
- Ook hier in ons eie land.
# Maar ook vandag kan die kerk en ons as gelowiges voor hierdie versoeking swig: die versoeking om ’n kroon te wil dra eerder as ’n kruis.
- Ons oefen dalk druk uit op ander om net soos ons te dink of te doen.
- Ons weier dalk om, wanneer dit nodig is, die minste te wees, en ander se belange bo ons eie te stel.
- Ons is dalk onverdraagsaam teenoor ander, of sien op ander neer, dalk omdat hulle ’n ander velkleur as ons het of ’n ander beroep as ons beoefen.
- Ons wil dalk altyd beter wees as ander, ook op geestelike gebied, en hulle oortref met wat ons doen en wat ons bereik en selfs met wat ons ervaar.
- Helmut Thielicke waarsku iewers en sê: “Die aanbidding van sukses is gewoonlik die vorm van afgodsdiens wat die duiwel die ywerigste by ons aanwakker.”
- Die blink kroon van sukses op ons kop – daarin lê daar vir ons almal ’n baie gevaarlike versoeking, want die Here vra ons nie om in hierdie wêreld ’n kroon te dra nie, maar ’n kruis.
- Neem op jou kruis en volg My, het Jesus gesê.
- En dit beteken dat ons as gelowiges ook ons eie lewens in liefde moet opoffer – moet prysgee.
- Dit beteken dat ons bv. bereid moet wees om by mense in hulle nood te staan, om saam met hulle te ly, om werklik opofferings te maak om ander te help: siekes en armes en treurendes en eensames en mishandeldes.
- Maar is ons werklik bereid om dit te doen: om ons kruis te dra, as gelowiges, en ook as gemeente?
# Ons Koning, Jesus, was dwarsdeur sy aardse lewe bereid om nee te sê vir ’n kroon.
- Om ons ontwil het Hy dit gedoen, en sy kruis enduit gedra – tot die dood toe.
- ’n Kruis of ’n kroon?
- Kom ons kies ook ’n kruis – met ander woorde die moeilike pad van ’n liefde wat opoffer.
- En kom ons doen dit omdat Jesus ons roep om dit te doen, maar ook ter wille van almal wat ons liefde so nodig het.
AMEN
