HEB. 5:1-10 (21/3/21)
# Dit is vir seker nie vir ons lekker om iemand te sien huil nie.
- Behalwe natuurlik wanneer die persoon huil van blydskap, soos wanneer hy of sy baie goeie nuus gekry het of dalk iets gewen het.
- Maar trane vloei gewoonlik wanneer iets slegs gebeur het of aan die gebeur is.
- Soos natuurlik wanneer ons hartseer is.
- Of wanneer ons huil van woede of frustrasie of ’n gevoel van magteloosheid.
# En miskien moet ons nou sommer elkeen so ’n bietjie terugdink oor ons eie lewe, en vra: Wat het my al laat huil?
- Wat het my al laat trane stort in my lewe?
- En dalk sommer nog in die afgelope week?
- Ek weet op die oomblik voel ons seker almal om te huil oor die bedrog en korrupsie in ons land.
- En oor soveel mense wat gewelddadig sterf, dikwels ook juis vroue en kinders.
- En ons voel om te huil waar mense nie werk kan kry nie, of waar armes nie kan oorleef met ’n karige inkomste nie.
- Maar dan is daar ook die persoonlike dinge in ons eie lewens wat ons tot trane kan dryf: dalk iemand wat jy aan die dood afgestaan het, of probleme en konflik in ’n belangrike verhouding, of ’n siekte wat maar net nie wil wyk nie.
- Daar is soveel dinge wat hartseer en trane by ons kan veroorsaak.
# En natuurlik huil party mense makliker as ander.
- Ek is self iemand wat nie so maklik huil nie.
- Maar ek het ook my oomblikke wanneer iets my dalk so sal raak dat ek voel my oë begin ook nou waterig raak.
- Ek onthou bv. dat ek ’n klompie jare gelede ’n boek gelees het oor ’n vrou wat haar dogter aan die dood moes afstaan.
- En iets in daardie verhaal het my net kort-kort erg aangedaan laat voel.
# Maar so wys ons trane dan dat daar iets baie emosioneel hier binne-in ons gebeur.
- Dit wys hoe sterk ons gevoel vir iemand is, of hoe diep ’n sekere saak of situasie ons raak.
- Maar nou wil ek graag hê dat ons ons aandag sal verskuif na trane in die Bybel en dan spesifiek na Jesus se trane.
- Want ons het vanoggend in Heb. 5:7 ook gelees van Jesus se trane.
- Dat Jesus ook gehuil het in sy tyd hier op aarde.
- En sover ek kon vasstel, word daar vir ons twee keer in die Bybel vertel hoe Jesus in die openbaar gehuil het: in Joh. 11:35 en Luk. 19:41.
- En dan is die ander teks wat van Jesus se trane praat, hierdie een in Heb. 5.
# Maar kom ons sê eers iets oor die tekste uit Johannes en Lukas, en dan daarna ook oor Heb. 5:7.
- Nou, in Joh. 11 lees ons hoe iemand vir wie Jesus blykbaar goed geken het, siek geword het, ’n man met die naam Lasarus.
- En Lasarus se susters, Marta en Maria, het toe iemand gestuur om vir Jesus te gaan sê dat hy siek was.
- Maar teen die tyd dat Jesus in Betanië aankom, waar hierdie mense gewoon het, was Lasarus reeds vier dae in die graf.
- En nou weet ons natuurlik vandag, so agterna beskou, dat Jesus vir Lasarus uit die dood opgewek het.
- Maar toe Jesus pas by Lasarus se susters aangekom het, was Hy ook saam met hulle geweldig hartseer.
- Joh. 11:33 sê: “Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan.”
- En net daarna staan daar ook: “Jesus het gehuil.”
# So, Jesus kon nie sy trane oor Lasarus keer nie.
- Net soos dit vandag nog met ons ook kan gebeur, so het die dood van ’n geliefde vir Jesus tot trane gedring.
- En daarom hoef óns ook nie vir een oomblik skaam te wees oor ons eie trane nie.
- Hoef ons nie, wanneer ons huil, te voel maar nou is ek darem nie sterk genoeg of gelowig genoeg nie.
- Ons liefde vir ons naby mense maak dat ons soms nie anders kan as om te huil nie.
- Ons is diep hartseer oor hulle dood, of siekte, of probleme.
- En ons trane wys na buite hoe ons na binne voel.
- Ons trane bevestig na buite die liefde en gevoel hier binne-in ons.
- En dis wonderlik om dan in Joh. 11 te kan lees dat dit met Jesus presies net so gewerk het!
- Sy liefde vir Lasarus laat Hom huil.
- En dit laat Hom ook saam huil met Lasarus se susters en vriende wat Hom ook baie lief gehad het.
- En so nooi Jesus se trane ons om self ook maar te huil wanneer ons dalk so voel.
- Daarmee wys ons tog wat op daardie oomblik hier binne-in ons aan die gang is.
# Maar kom ons kyk ook na die ander keer toe Jesus, volgens die Bybel, in die openbaar gehuil het.
- In Luk. 19 lees ons hoe Jesus op ’n donkie Jerusalem binne gery het.
- Die skare mense wat daar was, was baie opgewonde.
- En hulle het God geprys en gesing: “Loof die Koning, Hy wat in die Naam van die Here kom. Vrede in die hemel en eer aan God in die hoogste hemel.”
- Maar dan lees ons, in groot teenstelling met hierdie loflied, wat daar in Luk. 19:41 tot 44 geskryf staan.
- Daar staan: “Toe Jesus nog nader kom en die stad voor Hom sien, het Hy daaroor gehuil en gesê: ‘As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor. Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande vestings teen jou oprig en jou omsingel en van alle kante beleër. Hulle sal jou met die grond gelyk maak en jou inwoners uitwis. Hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die betekenis van die tyd toe God gekom het om jou te red, nie besef het nie.’”
- Jesus huil oor Jerusalem.
- Hy huil oor sy eie mense wat Hom verwerp het.
- Hy het juis gekom om vir hulle verlossing en vrede te bring.
- Maar hulle wou dit nie aanvaar nie.
- En Jesus huil daaroor.
- Hy huil oor Jerusalem se geestelike nood en blindheid.
# En ek dink wat ons veral in die Bybel moet raaksien, is hoe diep mense se nood vir Jesus geraak het.
- Of dit nou Jerusalem se geestelike nood en blindheid was, of dat mense siek of honger of rigtingloos was, mense se nood het Jesus so diep geraak dat Hy hier in Luk. 19 in trane is oor Jerusalem.
- En ons kan maar net vanoggend vir onsself vra: Hoe raak ander se nood ons?
- Hoeveel meegevoel het ons met mense wat swaarkry en ly, geestelik of op enige ander manier?
- En help ons dan ook om mense se nood te verlig?
- Daar is soveel nood rondom ons.
- En soms kan ons mos iets daaraan help doen en is daar geleenthede om ’n verskil in iemand se lewe te maak.
- Ek dink die vraag is net of ons genoeg omgee, of ons genoeg liefhet, om te help.
- Die vraag is of ons ook met Jesus se oë, en met Jesus se hart, na mense se swaarkry kyk.
# Maar kom ons sê ook nog iets oor Heb. 5:7, dié vers waarin ons tydens vanoggend se Skriflesing van Jesus se trane gelees het.
- Hierdie vers sê: “Gedurende sy aardse lewe het Jesus aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane.”
- Ek dink hierdie vers neem ons veral terug na die tuin van Getsemané.
- Na daar waar Jesus by die Vader gepleit het en gevra het: “Laat hierdie lydensbeker by My verbygaan.”
- Maar ons weet die beker kon nie by Jesus verbygaan nie.
- Hy moes dit drink.
- Hy moes ly en sterf sodat ons verlos kon word.
- Maar op pad na die kruis het Jesus dan, soos Heb. 5:7 sê, “gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane.”
- So swaar moes Hy ly ter wille van ons.
- So groot was sy stryd – maar dit het uitgeloop op óns verlossing!
# Ek dink om in die Bybel te kan lees van Jesus se trane, is vir ons ’n baie groot troos.
- Dit wys dat Jesus ’n 100% mens was.
- Dit wys dat die Woord wat mens geword het, soos Joh. 1 van Jesus praat, dat Hy nie net ’n soort superwese was nie.
- Nee, Hy was deur en deur ’n mens, tot by die trane wat Hy gestort het.
- En so het Hy, wat ook God was, vir ons ’n kykie in God se hart kom gee.
- Jesus se trane gee vir ons ’n goeie kyk in God se hart!
- En wat sien ons daar?
- Ons sien liefde en omgee en meelewing met ons.
- Ons sien selfs trane vir ons.
- En die Duitse teoloog Moltmann het na aanleiding van Jesus se trane gesê: “God huil saam met ons sodat ons eendag saam met Hom kan lag.”
- En ons weet Jesus se opstanding uit die dood gee reeds vir ons hierdie versekering: Ons sál eendag, ná al ons trane, saam met God kan lag!
# Om te huil, is deel van mens wees.
- En daar gebeur elke dag baie dinge wat mense laat huil.
- Baie dinge waarop jy nie anders kan reageer as met trane nie.
- Maar wat nou as iemand vir jou kom sê: ’n Christen moet net altyd bly wees?
- Selfs Paulus sê dit dan in Fil. 4: “Wees altyd bly in die Here”?
- En kom ons vra sommer daarby: Moet ’n Christen dan nie net lofliedere sing nie?
- Is dit reg dat ons bv. vanoggend aan die begin van die diens daardie amper hartseer lied gesing het: “Vervul my hart met stille wyding”?
- Dit was alles behalwe ’n vrolike lied!
# Nou, iets wat my op hierdie punt baie gehelp het, is wat Walter Brueggemann gesê het.
- Brueggemann het iewers gesê dat ’n kerk wat onder alle omstandighede net “gelukkige” of “vrolike” liedjies sing, besig is om iets baie anders te doen as wat die Bybel self doen.
- In die Bybel kry ons nie net lofliedere nie!
- Ons kry daarin ook psalms van vertwyfeling en hartseer.
- Ons kry daarin selfs psalms wat by die Here kla omdat dit lyk of Hy nie in ’n moeilike situasie wil help of ingryp nie.
- Omdat dit lyk of Hy nie na die bidder se gebed en hulpgeroep wil luister nie.
- In die Bybel kry ons die volle spektrum van menslike emosies.
- En daarom kan ons saam met die Bybelskrywers bly wees en juig, maar by tye ook saam met hulle twyfel, of kwaad wees, of treur.
- En saam met Jesus kan ons huil wanneer dit vir ons nodig is.
# Ek glo ons kan en mag maar in ons lewe die volle spektrum van emosies beleef wat die Vader vir ons gegee het.
- Dít is tog hoe Hy ons gemaak het.
- Maar dan, diep in ons binneste, as gelowiges, behoort daar altyd die emosie van vertroue op Hom te wees.
- Dié vertroue dat Hy in beheer is en dat Hy alles vir sy kinders ten goede laat meewerk.
- En daarmee saam behoort daar sekerlik by ons almal die emosie van dankbaarheid te wees.
- ’n Diepe dankbaarheid vir al die goeie dinge wat die Here vir ons gee.
- En dan, in hierdie Lydenstyd, veral ’n diepe dankbaarheid vir wat Jesus bereid was om ter wille van ons en ons verlossing te ly.
AMEN
