MATT. 11:25-30 (5/7/26)

 

#  Die ou Grieke van baie lank gelede het allerhande verhale vertel oor hulle gode en alles wat hierdie gode gedoen en aangevang het.

 

  • Ons lees vandag nog daarvan in die Griekse mitologie.
  • En een van die verhale uit die Griekse mitologie vertel van ’n reus met die naam Atlas.
  • En Atlas is daarvoor bekend dat hy met die hele uitspansel, die hele lugruim, op sy skouers staan.
  • As straf vir ’n oorlog wat hy help voer het, het hy die opdrag gekry om die lugruim alleen orent te hou.
  • En so staan hy dan nou met hierdie verskriklike las op sy skouers.
  • Dis nou, volgens die Griekse mitologie.
  • Maar ek dink in hierdie figuur van Atlas kan ons seker ook onsself herken.
  • Dit is mos ook baie keer asof óns met die hele wêreld se probleme op ons skouers staan.
  • En ook as dit by ons godsdiens kom, kan ons dalk so ’n Atlas-figuur slaan.
  • Dan dra ons ook aan ons godsdiens asof dit ’n swaar las op ons skouers is.

 

#  Nou was daar ook in Jesus se tyd mense wie se godsdiens wel vir hulle ’n swaar las was.

 

  • By name kan ’n mens veral dink aan die Fariseërs.
  • Hulle het vir hulleself baie godsdienstige reëls opgestel, baie moets en moenies.
  • Eintlik het hulle dit vir hulleself baie moeilik gemaak.
  • En daarom lees ’n mens ook dat hulle in hulle geskrifte gepraat het van die “juk van die wet.” (x2)
  • Vir hulle was die Here se wet soos ’n juk wat swaar op ’n os se skof druk.
  • Ek weet nie of baie mense vandag nog weet wat ’n juk is nie, maar in die tyd toe die mense nog met osse geploeg het en hulle waens deur osse getrek is, het elke os mos ’n juk op sy skof gehad.
  • So ’n hout-gedoente waaraan die ploeg of die wa se disselboom dan met rieme vasgemaak is.
  • En dan moes die os swaar trek aan die ploeg of die wa, terwyl die juk op sy skof druk.
  • Maar net so was die Fariseërs se godsdiens vir hulle soos ’n swaar juk op ’n os se skof.
  • As jy die Here wou dien, moes jy ’n groot klomp moeilike verpligtinge op jouself neem.
  • Dít is wat die Fariseërs geglo het.
  • Maar dit is ook die soort godsdiens wat hulle aan ander mense wou opdring.
  • En daarom sê Jesus in Matt. 23:4: Die Fariseërs “bind swaar en ondraaglike laste saam en sit dit op die mense se skouers.”

 

# Maar so kan ’n mens se godsdiens ook in ons tyd vir jou ’n swaar las wees.

 

  • Veral as jy probeer om jouself deur jou eie inspanning te red.
  • As jy dink alles hang net van jou af.
  • Jy moet alles laat gebeur.
  • En godsdiens is ook ’n swaar las as dit vir jou net uit ’n klomp wette en reëls bestaan.
  • Dan gaan dit vir jou net oor: Hierdie en hierdie dinge mag ek doen.
  • Maar daardie en daardie weer nie.
  • En so kan godsdiens vir jou ’n las wees wat jou tot die dood toe moeg maak.
  • ’n Juk wat jou in die grond in afdruk en jou keel laat toetrek.
  • Maar die vraag is: Sou die Here dit werklik so wou hê dat ons godsdiens vir ons ’n swaar las moet wees?
  • Sou dit werklik sy plan wees dat ons lewe saam met Hom vir ons soos een groot stryd moet wees?

 

#  Om hierdie vraag te beantwoord sou ’n mens kon vra: Maar wat sê Jesus oor die ware godsdiens?

 

  • Hoe lyk die godsdiens wat Hy verkondig het?
  • En dan dink ek moet ons maar weer lees wat Jesus in die laaste drie verse van Matt. 11 sê.
  • Hy sê daar: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed.  My juk is sag en my las is lig.”
  • Jesus rig die uitnodiging: Kom na My toe.
  • En Hy nooi juis almal wat voel die las is vir hulle te swaar.
  • Hy nooi veral dié mense van sy tyd wat die las moes dra wat die Fariseërs op hulle geplaas het.
  • En ons kan sê: Jesus nooi hierdie mense om heeltemal ’n ander soort godsdiens te kom ervaar.
  • Jesus praat ook van ’n juk en ’n las, maar Hy sê sy juk is sag en sy las is lig.
  • Dit waarvan Hy praat, verskil met ander woorde radikaal van die godsdiens wat die Fariseërs gepropageer het.
  • Jesus se godsdiens is iets wat rus gee.
  • Nie iets wat jou uitput en oorlaai, en waaronder jy uiteindelik moet swig nie.
  • Nee, dis iets wat rus gee en jou tot rus bring.

 

#  Maar nou moet ons onthou dat Jesus ook ’n baie spesifieke rede gehad het waarom Hy mense kón nooi om by Hom rus te vind.

 

  • En wat was die rede?
  • Jesus sou later aan die kruis op Golgota sterf.
  • En dáár het Hy ons hele las op Hom geneem.
  • Dáár het Hy onder die volle gewig van ons sonde ingebuk.
  • Dáár het Hy alles op Homself laat neerkom.
  • En dit beteken: Daar het eintlik niks oorgebly wat ons meer hoef te dra nie.
  • Die Fariseërs wou hê mense moet ’n swaar las dra, die “juk van die wet.”
  • Maar by Jesus is dit totaal anders.
  • Hy wil maar net ’n sagte juk en ’n ligte las op ons plaas.
  • Hy wil ons bevry van ons Atlas-probleem.
  • En kom ons sê dit maar weer: Hy kan dit doen, want Hy het self die volle gewig van ons sonde aan die kruis gedra.
  • Dit laat dink ’n mens amper aan wanneer ’n klein kindjie jou wil help om ’n swaar voorwerp te dra.
  • Die kind kan dit nie alleen dra nie.
  • Hy of sy kan ook nie eers aan die een kant dra terwyl jy aan die ander kant dra nie.
  • As grootmens moet jy eintlik die volle gewig op jou neem.
  • En die kind kan letterlik maar net ’n klein handjie bysit.
  • Dié deel van die las wat hy of sy dra, moet so lig wees dat jy as grootmens in werklikheid die volle gewig van die voorwerp ervaar.
  • En so, kan ons sê, het Jesus die volle gewig van ons sonde kom dra – ons hele las op Hom geneem.
  • En in die proses het Hy vir ons daarvan bevry.

 

#  Hoe beleef u en ek ons godsdiens?

 

  • Is dit vir ons ’n juk en ’n las wat swaar op ons druk?
  • Is dit iets wat vir ons min of meer onhanteerbaar is?
  • Dan mag dit wees dat ons die blye boodskap van die Bybel dalk iewers misverstaan.
  • Dalk dink ons (miskien heel onbewustelik), maar dalk dink ons: ek moet myself red deur my eie inspanning, deur hoe ek lewe, deur wat ek doen, deur hoe sterk en vas ek glo.
  • Maar dan is ons besig met ’n mensgemaakte godsdiens.
  • Dan gaan dit oor ’n las wat ons onsself oplê, of wat ons as mense mekaar oplê.
  • Maar so ’n mensgemaakte las is iets wat jou dodelik moeg kan maak.
  • En daarby is dit ook nog vrugteloos, want dit kan jou nie red nie.

 

#  Die Bybel sê op talle plekke dat Jesus ons uit genade kom red het.

 

  • Uit genade het Hy ons las op Hom kom neem.
  • Ongelukkig verstaan ons so moeilik wat genade is.
  • Ons wil meestal die dinge wat ons in hierdie lewe kry, verdien.
  • Ons wil ’n prestasie of teenprestasie daarvoor lewer.
  • Maar Jesus red uit genade.
  • En daarom moet ons by die punt kom dat ons maar net sê: Dankie Here vir u genade.
  • Ek laat vaar nou alle pogings om myself te red of om iets by U te verdien.
  • Ek omhels nou maar net u genade.
  • Ek neem nou die sagte juk en die ligte las van Jesus op my skouers.

 

#  In die eerste vers wat ons saam gelees het, het Jesus gebid.

 

  • En in sy gebed sê Hy hierdie merkwaardige ding: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het.”
  • As ’n mens slim is in jou eie oë, en self wil bepaal hoe die las moet lyk wat jy vir die Here wil dra, dan kan jy die bal ver misslaan.
  • Maar as jy in eenvoud Jesus se raad en sy las aanvaar, dan kry jy rus.
  • As jy by Jesus leer wat om te doen, en hoe om te lewe, dan kry jy rus.
  • Die Griekse woord vir “eenvoudiges” (wat Jesus hier in sy gebed gebruik) beteken letterlik “kindertjies.”
  • So ons moet soos “kindertjies” die genade van die Here ontvang, met ’n kinderlike geloof en kinderlike vertroue.
  • Ons moet soos ’n kind sê: Ja, my eie las ís vir my te swaar.
  • Maar ek kies Jesus se las.
  • Ek neem sy uitnodiging aan.
  • En daarom leef ek nou met ’n sagte juk en ’n ligte las.

 

#  Ware godsdiens is nie ’n swaar las wat op ’n mens druk nie.

 

  • Dis nie iets wat geheel en al van jou eie inspanning afhanklik is nie.
  • Dis ook nie maar net ’n klomp wette en reëls wat die lewe vir jou ondraaglik wil maak nie.
  • Nee, ware godsdiens is wanneer ek Jesus se uitnodiging aanvaar om my swaar las vir sy ligte las te verruil.
  • En as ek Jesus se uitnodiging aanvaar, dan kom ek in ’n persoonlike verhouding met Hom te staan.
  • Dan leer ek Hom persoonlik ken, en hoe lief Hy my het!
  • En ek leer verstaan hoe ek moet lewe voor Hom, en saam met Hom.
  • En ek begin ook dinge vir Hom en vir ander doen, omdat ek voel dat ek nie anders kan nie.
  • Ek doen dit omdat die liefde van Christus my dwing, soos Paulus in 2 Kor. 5 sê.
  • En so word ’n mens se godsdiens dan vir jou iets wat voortvloei uit jou verhouding met Jesus Christus.
  • So word dit vir jou ’n lus in plaas van ’n las.

 

#  Miskien dink ons vanoggend om die een of ander rede dat ons soos Atlas met ’n geweldige las op ons skouers moet leef.

 

  • Dalk ervaar ons ook ons godsdiens so, of gedeeltelik so.
  • Maar dis juis ook vir ons wat Jesus kom sê: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is.
  • Neem my sagte juk en ligte las op julle.”
  • En as ons bereid is om óns juk en las te verruil vir die een wat Jesus ons aanbied, word ons bevry van ons Atlas-probleem.
  • Dan word ons godsdiens die vryheid om die Here se wil te doen.
  • En dit word die vreugde van ’n gestuurde medewerker te wees in God se koninkryk.
  • ’n Vryheid en ’n vreugde – dis wat ons godsdiens vir ons veronderstel is om te wees!
css.php