MARK. 6:30-44 (21/7/24)
# Met Jesus het dit seker by tye ook gegaan soos met bekende of beroemde mense in ons eie tyd.
- Bekende sportmanne of akteurs of sangers word mos oral deur mense herken.
- En hulle word ook lastig geval, al is dit net vir ’n handtekening, of deesdae ook vir ’n selfie!
- En toe Jesus later in sy lewe bekend geword het by die mense, was daar by tye ook groot groepe mense wat naby Hom wou wees.
- Die gedeelte wat ons gelees het, vertel juis hoe Jesus en sy dissipels op ’n keer gesukkel het om ’n bietjie alleen te wees.
- Volgens vers 31 het hulle het selfs gesukkel om iets geëet te kry.
- En blykbaar het dit so erg gegaan dat Jesus met ’n voorstel gekom het.
- Hy sê vir sy dissipels: “Kom julle alleen saam na ’n stil plek toe en rus ’n bietjie.”
- So, selfs 2000 jaar gelede kon ’n mens ook al moeg word van die eise wat ander mense aan jou stel.
- Daarom wou Jesus sy dissipels ’n bietjie wegneem uit die gedrang van mense.
- Hulle sou saam op ’n stil plek gaan rus.
# Maar wat gebeur?
- Jesus se poging om ’n bietjie te ontvlug, misluk!
- Op die een of ander manier het die mense agtergekom waarheen Jesus en sy dissipels op pad was.
- En toe Jesus-hulle by die stil plek aankom, was dit alles behalwe stil daar.
- Vers 34 sê: Daar was “’n groot menigte mense.”
- So, die mense was selfs voor Jesus-hulle by die plek waarheen Jesus sy dissipels wou neem.
- En ’n mens wonder nogal hoe jy self op daardie oomblik sou gevoel het as jy een van Jesus se dissipels was.
- Miskien kwaad, of geïrriteerd, of dalk teleurgesteld dat jou rustige dag saam met Jesus daarmee heen was.
- En dis seker verstaanbaar as Jesus en sy dissipels sou voel: Nou is hierdie skare mense darem regtig lastig.
- Kan hulle ’n mens dan nooit met rus laat nie?
# Nou, ons Skrifgedeelte van vanoggend sê in werklikheid niks van die dissipels se reaksie op die skare mense nie.
- Maar ons lees wel duidelik hoe Jesus gereageer het.
- Vers 34 vertel daarvan.
- En dit is woorde wat ’n mens diep in jou hart tref.
- Daar staan: “Toe Jesus uit die skuit klim, het Hy ’n groot menigte mense daar gesien en Hy het hulle innig jammer gekry, want hulle was soos skape wat nie ’n wagter het nie.”
- Dít was Jesus se reaksie.
- Hy het die menigte mense innig jammer gekry.
- Of soos die Nuwe Lewende Vertaling sê: Hy het ’n “diep deernis” vir hulle gevoel.
- By Hom was daar geen woede of geïrriteerdheid nie.
- Hy beskou ook nie die mense as lastig of ontydig nie.
- Hy voel maar net baie jammer vir hulle.
- En daarmee kry ons natuurlik so ’n kykie in Jesus se hart.
- Sy reaksie wys hoe onbeskryflik groot sy liefde vir ons as mense is.
- Die skare mense was tog eintlik lastig.
- Hulle het tog inbreuk gemaak op Jesus se plan om sy dissipels ’n bietjie weg te neem na ’n stil plek.
- Maar toe Hy die mense sien, het Jesus hulle innig jammer gekry.
# En hoekom het Jesus hulle so jammer gekry?
- Markus sê: “Want hulle was soos skape wat nie ’n wagter het nie.”
- En soos skape sonder ’n wagter of ’n herder in daardie tyd eintlik verlore was, so was hierdie menigte mense ook in ’n geestelike sin verlore.
- En Jesus het dit raakgesien.
- En hulle nood en verlorenheid het sy hart in beweging gebring.
- Daarom lees ons dat daar by Jesus net een oorweldigende reaksie was en dit is dat Hy die menigte mense innig jammer gekry het.
- Dat Hy werklik meegevoel met hulle gehad het – ’n diep deernis.
# Maar nou is dit baie belangrik om raak te sien dat Jesus se reaksie op die skare mense nie net by ’n gevoel vir hulle gebly het nie.
- Sy reaksie eindig nie by sy emosies nie.
- Nee, dit gaan ook oor in dade.
- Hy bewys sy meegevoel en liefde en deernis in wat Hy doen.
- En wat doen Jesus toe, toe Hy die menigte mense sien wat soos skape sonder ’n wagter is?
- Vers 34 sê: “Hy het hulle toe baie uitvoerig begin leer.”
- Daar was belangrike dinge wat hierdie groot menigte mense moes weet.
- Hulle moes byvoorbeeld weet dat hulle verlore was as gevolg van hulle sonde.
- Dat hulle op geestelike gebied soos skape sonder ’n wagter was, elkeen besig om in sy eie verkeerde rigting rond te dwaal en te verdwaal.
- Maar daarmee saam moes hulle ook weet dat daar ’n oplossing vir hulle probleem gekom het.
- Dat Jesus die Goeie Herder was wat deur die Vader na die aarde toe gestuur is.
- En dat hierdie Goeie Herder gekom het om sy lewe af te lê vir sy skape.
- Om te sterf vir die sonde van sy skape.
- Dít was die soort dinge wat hierdie mense moes weet.
- Dít was die goeie nuus wat hulle moes hoor.
- En Jesus leer hulle daarvan.
- En so bied Jesus vir hulle die antwoord en die oplossing op hulle geestelike nood.
- Hy leer hulle van die Goeie Herder, wat Hy self was, en van sy oneindige groot liefde en genade vir hulle.
# Maar Jesus leer nie net die skare mense nie.
- Hy doen ook ’n ander baie belangrike ding.
- Ons het mos gelees dat dit laat geword het terwyl Jesus die mense geleer het.
- En omdat hulle op ’n afgeleë plek was, was daar nie kos beskikbaar nie.
- Die res van die verhaal ken ons goed.
- Die dissipels het 5 brode en 2 visse na Jesus toe gebring.
- En nadat Hy die seën gevra het, kon sy dissipels aan die duisende mense wat daar was, almal kos gee om te eet.
- Skielik was daar genoeg kos vir almal!
- En eintlik te veel, want nadat almal genoeg gehad het, so lees ons, het daar nog 12 mandjies vol oorskietstukke oorgebly.
- En so het die groot menigte mense op daardie dag ’n wonderwerk beleef.
- So het hulle iets gesien van die goddelike mag van Jesus.
- En daarmee saam het hulle ook ervaar dat Jesus ’n mens nie net uit jou geestelike nood wil red nie.
- Hy wil ook sorg vir die honger kol op jou maag, m.a.w. vir jou doodgewone behoeftes van elke dag.
- Jesus kon en wou in al die behoeftes van die groot menigte mense voorsien.
- Hy kon en wou in alle opsigte vir hulle sorg, net soos ’n herder in alle opsigte vir sy skape sorg.
- En so het daardie menigte mense ontdek: Op Jesus kán jy vertrou!
- Hy het jou baie, baie lief!
- Hy het ’n hart vir jou, ’n hart wat warm klop vir jou!
- En Hy ken jou nood en jou behoeftes.
- En Hy kán baie beslis ook iets daaraan doen.
# Maar nou, baie belangrik, Jesus het nie net 2000 jaar gelede die nood van mense gesien en iets daaraan gedoen nie.
- Hy sien ook vandag mense in hulle nood raak.
- In elke denkbare vorm van nood wat daar is.
- Of dit geestelik, of emosioneel, of materieel, of wat ookal is.
- Jesus sien elke mens in sy of haar nood raak.
- En Hy sien ook vir u en vir my in ons nood raak.
- Of dit is dat ons dalk vanoggend ver van Hom af is, of siek is, of hartseer, of eensaam, of in ’n finansiële krisis, of besig met ’n verkeerde ding in ons lewe, Hy sien dit raak.
- En in ons nood is Hy nie ver van ons af nie.
- En staan Hy nie afsydig teenoor ons nie.
- Miskien voel dit nie altyd vir ons asof Jesus werklik vir ons omgee in ons nood nie.
- En dalk is daar ook vanoggend iemand hier wat so voel.
- Wat voel: Maar Jesus gee nie vir my om nie, en Hy help my nie.
- Maar net soos Jesus lank gelede daardie menigte mense innig jammer gekry het, kry Hy ook vandag elkeen innig jammer wat in nood verkeer.
- En Hy wil ook vandag as ons Goeie Herder vir ons elkeen sorg en voorsien.
- En dít moet ons ook onthou: Ons Goeie Herder het selfs sy lewe vir ons as sy skape aan die kruis afgelê.
- Sal Hy ons dan in die steek laat in ons nood?
- Dis tog ondenkbaar!
# Jesus steek ook in 2024 sy hand uit na elkeen wat in nood verkeer.
- Maar hoe doen Hy dit?
- Natuurlik op verskillende maniere!
- En ’n mens sou baie daaroor kon sê.
- Maar hier in die erediens is dit vir ons veral belangrik om te onthou dat die Bybel van die kerk praat as die liggaam van Christus.
- Ons as gelowiges is vandag die liggaam van Christus op aarde.
- Ons is sy oë en ore, en hande en voete, en mond.
- En deur ons wil Hy sy hand uitsteek na mense in nood.
- Deur ons wil Hy die geestelike sowel as enige ander soort nood van mense help verlig, as ons enigsins daarmee kan help.
- Dis asof Jesus vir ons ook sê soos Hy in Mark. 6:37 vir sy dissipels gesê het: “Gee julle vir hulle iets om te eet.”
- Doen julle tog iets aan die nood van julle medemense.
- Moenie net staan en kyk nie, maar doen iets.
- En omdat Jesus self vir ons die voorbeeld hierin gestel het, en omdat sy liefde ons daartoe dring, kan ons nie anders nie.
- Ons kan nie anders as om self ook betrokke te wees by die nood van mense rondom ons nie, wat daardie nood ookal mag wees.
# Ek wil afsluit en vertel van ’n gesprek wat ek op ’n keer met ’n vrou gehad het.
- Hierdie vrou se man het so siek geword dat hy deurlopend versorg moes word en baie gesukkel het om te kommunikeer.
- En natuurlik was dit vir haar baie swaar om hom so te sien.
- Dit was ook vir haar baie moeilik om saam met hom in so ’n erg verkleinde wêreld te moet leef.
- Maar toe sê iemand vir haar iets wat vir haar geweldig baie beteken het.
- Dié persoon het naamlik vir haar gesê dat dit wat sy besig was om vir haar man te doen, haar Christelike bediening was.
- En dit het haar geweldig baie gehelp om só daaraan te dink, het sy gesê.
- Want as jy só daaraan dink, kan jy sê: Om my siek man te ondersteun, is om iets namens Jesus hier op aarde te doen.
- Om my siek man te help, is om te doen wat Jesus ook sou gedoen het.
- En al is dit so moeilik en so sleg om so te sukkel met my man wat so siek is, ek doen dit namens Jesus.
# En nou kan ons ook maar seker net vir onsself vra: Wat is my Christelike bediening?
- Wat is ek besig om namens Jesus te doen in hierdie wêreld?
- Watter nood is ek besig om te help verlig, terwyl ek soos die hand of voet of oor of mond van Jesus se liggaam hier op aarde is?
- En al is dít wat ons vir mense in hulle nood kan doen baie keer maar klein en amper onbenullig, dít ís ’n Christelike bediening.
- Dít ís om te doen wat Jesus ook sou gedoen het.
- En dít ís wat Hy ons elkeen roep om te doen: om te help, oral waar daar nood is, en ons ’n verskil daaraan kan maak.
AMEN