MATT. 4:12-25 (9/7/23)
# Hoe word ’n mens ’n dissipel van Jesus?
- Hoe word jy ’n volgeling van Hom?
- Basies keer gebeur dit seker min of meer soos dit met die eerste dissipels gebeur het.
- Met ander woorde dit begin waar Jesus jou roep.
- Jy hoor sy roepstem.
- Dalk nie letterlik of fisies soos die eerste dissipels dit gehoor het nie, maar jy hoor Hom op ’n manier met jou praat.
- Dalk deur die Bybel, of deur ’n preek, of ’n boek, of deur iets wat iemand sê, of deur iets wat met jou gebeur.
- Jesus praat met jou en roep jou.
- En dan reageer jy op sy stem deur agter Hom te begin aanstap.
- Die heel eerste dissipels, so het ons gelees, was besig met hulle visnette.
- Hulle was besig met hulle doodgewone bedryf en werk van elke dag.
- Maar dan hoor hulle skielik hoe Jesus met hulle praat en vir hulle sê: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.”
- En Matt. 4:20 sê vir ons wat hulle reaksie was: “Hulle het dadelik die nette gelos en Hom gevolg.”
- En so gaan dit dan oor Jesus wat ons roep, en ons wat ja sê, en Hom begin volg.
# So kom ons dink vanoggend veral na oor die roeping waarmee Jesus ons roep en wat dit beteken.
- Wat beteken dit en wat behels dit as Jesus ons roep?
- En ek dink sy roeping beteken in die eerste plek dat Hy ons nooi om in Hom te glo en Hom as Verlosser aan te neem.
- Dat Hy ons nooi om ons saak met Hom reg te maak en dan ook elke dag die pad saam met Hom te stap.
- Dít is, baie breed gestel, wat dit beteken en behels as Jesus ons roep: Hy nooi ons om in Hom te glo en om die pad saam met Hom te stap.
- Maar daarmee saam kan daar dan ook iets baie spesifiek wees waarvoor die Here ons roep, ’n spesifieke opdrag.
- Dit kan bv. wees dat Hy jou roep om ’n predikant te wees.
- En predikante kry baie geleenthede om mense te help om Jesus se dissipels te word en om as Jesus se dissipels te leef.
- Maar natuurlik kan ’n mens in enige ander beroep of situasie wat daar is ook ’n “visser van mense” wees.
- En daarom roep die Here jou dalk om ’n Christen-dokter of –verpleegster te wees wat mense in hulle pyn en lyding kan help.
- Of om ’n Christen-sakeman te wees wat met eerlikheid in die sakewêreld optree.
- Of om ’n Christen-ouer of –onderwyser te wees wat kinders met liefde lei en opvoed.
- Jesus roep mense en Hy sê: Kom, glo in My, en stap die pad saam met My, en terwyl julle dít doen, roep Ek julle ook om verskillende dinge vir My te doen waarvoor Ek julle die gawes en die geleenthede gee.
# So, Jesus roep mense.
- Hy praat met ons, en Hy roep ons.
- Maar wat is ons reaksie?
- Is ons gehoorsaam wanneer ons Hom hoor roep?
- En natuurlik kan ons nee sê vir Jesus.
- Maar mense wat ja sê wanneer hulle Jesus hoor roep, weet maar net agterna: Ek wou eenvoudig doen wat Jesus sê!
- Ek wou dit net doen.
- Ek wou net gehoorsaam wees aan wat Hy van my vra.
- In die geval van Jesus se eerste dissipels het hulle sommer dadelik hulle visnette gelos en agter Jesus aangegaan.
- En dit kan dalk vir ’n mens lyk of hulle nie eers behoorlik oor die saak nagedink het nie.
- Of hulle sommer impulsief of irrasioneel, net met hulle harte, die besluit geneem het.
- Maar ek dink iets daarvan gebeur wel wanneer Jesus ons roep.
- Dat ons antwoord met ons hart.
- Dat ons antwoord met ’n gehoorsaamheid van die hart, al is ons antwoord dalk nie vir ander mense heeltemal verstaanbaar nie.
- As Jesus ons roep, weet ons op ’n manier net: Ons wil doen wat Hy vra.
- Al sê mense ook wat, en al kos dit ook wat, ons wíl dit doen.
- Want dis Jesus wat ons roep!
# Matt. 4 herinner ons vanoggend aan hoe Jesus sy eerste dissipels geroep het – die vissermanne daar by die See van Galilea.
- Maar om hulle roeping, en ook ons eie roeping, beter te verstaan, moet ons eintlik ’n hele ent verder teruggaan.
- Tot voor die roeping van hierdie eerste dissipels.
- En ons moet veral teruggaan tot by Jesus se roeping.
- Ons hemelse Vader het mos ook vir Jesus ’n roeping gehad.
- Hy het Jesus geroep en gestuur om die Verlosser van die wêreld te kom wees.
- En Jesus was gehoorsaam aan hierdie roeping.
- Paulus skryf so aangrypend oor Jesus se gehoorsaamheid as hy in Fil. 2: 7 en 8 sê: “Maar Jesus het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.”
- So, Jesus het sy lewe verloor in die uitleef van sy roeping.
- Hy was gehoorsaam tot in die dood.
- En dít is wat ons sien wanneer ons terugkyk tot voor die roeping van Jesus se eerste dissipels.
- Ons sien hoe Jesus self tot in die dood gehoorsaam was aan sy roeping.
- So, die Een wat vir óns roep, was self die groot Geroepene.
# Maar dan moet ons vanoggend ook raaksien wat gebeur het ná die roeping van Jesus se eerste dissipels.
- Nadat Jesus vir Petrus en Andreas, en Jakobus en Johannes, en nog agt ander, geroep het, begin ons bietjie vir bietjie sien hoe Jesus se kerk in die wêreld leef en werk.
- Veral die boek Handelinge vertel vir ons van die begindae van Jesus se kerk.
- En wat ’n mens veral opval van daardie begintyd, is dat Jesus se volgelinge baie dinge waarmee Hy begin het, verder geneem het.
- So het sy dissipels bv. voortgegaan om te preek, m.a.w. om die goeie nuus van die verlossing wat Jesus gebring het aan mense oral in die wêreld te gaan vertel.
- Soos Jesus in Matt. 4:17 gepreek het, het die dissipels ook later vir die mense gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”
- En baie mense het hulle bekeer en volgelinge van Jesus geword.
- Maar, belangrik, die dissipels het nie net gepreek nie.
- Hulle was nie net vissers van mense deur met mense te praat oor Jesus nie.
- Soos Jesus het hulle ook na die armes en siekes omgesien.
- Hulle het mense in hulle nood versorg en bygestaan.
- En so het die kerk van Jesus voortgegaan met Jesus se werk, ook na sy hemelvaart en tot vandag toe.
- Die kerk het voortgegaan met Jesus se werk, want sy volgelinge het die hele tyd geweet: Dis Jesus wat ons geroep het om dit te doen.
- En as Jesus jou roep, dan weet jy net: Ek wil dit doen.
- Ek wil gehoorsaam wees aan sy roepstem.
- Ek kan nie anders nie.
# Nou, ons leef vandag reeds baie lank na die tyd toe Jesus op aarde geleef het en sy eerste dissipels geroep het.
- In die Christelike jaartelling is ons al by die jaar 2023.
- En hoe moet ons vandag dink oor ons roeping?
- Hoe lyk en werk die hele ding van roeping vandag?
- Ek dink die eerste belangrike ding om te sê, is dat Jesus nog steeds mense roep.
- Hy roep ook vandag, en op hierdie oomblik, mense om in Hom te glo, en om Hom te volg, en om vir Hom verskillende dinge te doen.
# Maar wat verder baie belangrik is, dink ek, is dat Jesus ons meestal roep binne-in die situasie waarin ons is.
- Hy roep ons gewoonlik nie om weg te gaan uit ons eie situasie en in heel ander omstandighede te gaan leef en vir Hom te gaan werk nie.
- Dit gebeur wel so dat die Here sekere mense baie spesifiek roep om bv. in ander lande of onder ander kultuurgroepe te gaan werk, of om jou beroep te verlaat en ’n voltydse geestelike werker of predikant te word.
- Ons ken seker almal mense wat so ’n baie spesifieke roeping van die Here ontvang het.
- Maar meestal roep Hy ons binne-in die situasie waarin ons reeds is.
- Hy wil hê ons moet hier waar ons is ’n verskil maak.
- Ons moet híér in Hom glo, en vissers van mense wees, en mense wat in nood verkeer met sy liefde bystaan.
- Ons moet net vra: Here, wys asb. vir my wat U wil hê dat ek hier moet doen.
- Hier in my dorp en omgewing, en in my werkplek, en in my gesin, en in my vriendekring.
- Here, hoe lyk die roeping waarmee U my hier en nou roep?
# Ons dink vanoggend na oor die roeping waarmee Jesus ons roep.
- Hy roep ons en Hy wil ons gebruik in sy diens.
- Maar nou kan dit maklik vir ons voel of die taak wat Jesus vir ons as gelowiges en kerk het, net te groot is.
- Daar is net te veel ongeloof rondom ons in die wêreld en te veel nood en probleme onder die mense.
- Ons voel oorweldig.
- Maar dan moet ons ook sê: Die Here werk mos nie net deur groot dade en wonderwerke nie.
- Hy werk ook deur al die klein dingetjies wat ons vir Hom kan doen.
- En as Hy ons roep, roep Hy ons ook nie om met een hou die hele wêreld te probeer regruk nie.
- Ons sal dit ook nie kan regkry nie!
- Maar die Here roep ons wel om getrou te wees in die klein dingetjies, en om elke diensgeleentheid of gespreksgeleentheid wat oor ons pad kom, aan te gryp.
- Ek het op ’n keer gelees van die Amerikaanse teoloog Reinhold Niebuhr wat as jong predikant in ’n klein gemeente in Detroit begin werk het.
- Dit was in die tyd van die groot ekonomiese depressie wat daar in die wêreld geheers het, veral so in die eerste klompie jare van die 1930’s.
- En toe Niebuhr met groot drome en baie ideale in die gemeente aankom, moes hy agterkom dat baie van die lidmate van die gemeente mense was wat voorheen in Detroit se motorfabrieke gewerk het maar wat nou werkloos was.
- En Niebuhr kon natuurlik op sy eie niks doen om die uiters slegte ekonomiese toestande in sy land en in die wêreld te verander nie.
- Hy kon nie die hele ekonomie op sy eie laat omdraai nie en hy kon ook nie self vir mense werk verskaf nie.
- Hy kon feitlik niks help doen aan die groot lewensprobleme en armoede van baie van sy lidmate nie.
- Maar agterna sê Niebuhr dan dat dit juis daar in Detroit was dat hy geleer het om kleiner en nederiger te dink, maar om terselfdertyd te doen wat jou hand vind om te doen.
- Hy sê dat hy daar geleer het om op ’n klein skaal te begin om mense te help, en om stadig vorentoe te beweeg – tree vir tree, een gebroke mens op ’n slag.
- Sy roeping daar in Detroit was veral om getrou te wees in die klein dingetjies.
# Ons is so bevoorreg!
- Ons is geroepenes van die Here.
- Geroep om in Hom te glo, en om die pad saam met Hom te stap, en om vissers van mense te wees.
- Ons is geroep om met sy liefde ’n verskil te maak in die lewens van ander, hoe klein daardie verskil ookal mag wees.
- Kom ons hou dan elke dag ons ore en ons oë wyd oop om te kan hoor en sien hoe die Here ons in sy diens wil gebruik.
AMEN
