Bevry tot jou ware self
JESUS MAAK ONS HEEL (4): EMOSIES
Hierdie week se video kan kortweg soos volg opgesom word:
Negatiewe emosies kan maak dat ek myself vir ander mense probeer wegsteek agter die masker van ’n Vals Self. Daarom moet ons biddend teruggaan na die oorsaak van sulke emosies. Eers dan sal ons stukkie vir stukkie daarvan kan begin loskom. Dan sal ons ervaar hoe Jesus ons vrymaak en heelmaak daarvan, en ons help om dit te kan oorwin.
Ter aanvulling van hierdie week se video:
Ons het veral drie basiese behoeftes:
- die behoefte aan veiligheid en sekuriteit
- die behoefte aan aanvaarding en gesonde eiewaarde
- die behoefte aan verwesenliking van jou potensiaal
Gys van Schoor skryf soos volg oor hierdie behoeftes: “Hulle tree op as energiebronne wat ons gedrag bepaal. Die behoeftes verskaf met ander woorde ’n bron van energie in ons wat wil seker maak dat die behoeftes bevredig word. So word ’n ‘program’ in ons ‘geskryf’ wat vir ons voorskryf hoe ons die behoefte kan bevredig en hoe ons gelukkig kan wees.
“Vanweë ons verwonding (verwerping/minderwaardigheid/onbekwaamheid/ mislukking) ontwikkel ’n vals program of resep vir geluk in ons. Hierdie programme is ons oordrewe behoefte aan of drang na aanvaarding, om waardevol te voel, om suksesvol (bekwaam) te voel. Hierdie vals programme of resepte kan ons nooit gelukkig maak nie. En wanneer hulle gedwarsboom word (wat noodwendig gebeur), ervaar ons maklik teisterende emosies, omdat ons behoeftes nie langer deur middel van ons programme/resepte vervul kan word nie.
“Daarom is dit belangrik om bewus te word van ons heersende of teisterende emosies. Dit kan ons help om vas te stel wat die oorsaak daarvan is. So kan ons goeie insig kry in ons Vals Self en hoe dit werk.
“Daar is ’n beter manier om te lewe. God wil ons al hoe meer van die Vals Self bevry. Hy wil ons help om vanuit ons nuwe identiteit in Christus (die Ware Self) te leef, sodat ons vry en eg voor Hom en ander mense kan lewe.”
Vir Nadenke (weer Gys van Schoor wat skryf):
“Dink na oor die stadiums van jou adolessensie en vroeë volwassenheid.
Watter tipe emosies het jy ervaar wat dalk veroorsaak is deurdat jou Vals Self se behoeftes nie vervul is nie? Byvoorbeeld: ’n gebrek aan aanvaarding, onsekerheid, ’n gevoel van magteloosheid, ens.
Met watter destruktiewe emosies sukkel jy die meeste? Watter energiebron (behoefte aan veiligheid en sekuriteit; behoefte aan aanvaarding en gesonde eiewaarde; behoefte aan verwesenliking van jou potensiaal) bind jou aan hierdie emosies? Watter gebeure in jou lewe het hierdie energiebronne by jou lewe laat ontwikkel? Watter voorbeelde van vals programme/resepte vir geluk het jy as gevolg van hierdie energiebronne in jou lewe ontwikkel (Byvoorbeeld verslawing, werk, ens.)?
Wat is ’n goeie voorbeeld vir jou van ’n vals program/resep vir geluk? Het jy besef dat hierdie vals program/resep deur ’n emosionele energiebron aangedryf word? (Byvoorbeeld: “Barbara ervaar gereeld woede,” – met ander woorde die teisterende emosie, wat terug verwys kan word na ’n kosverslawing (wat ’n vals program/resep vir geluk is), wat op sy beurt kan verwys na minderwaardigheid as die energiebron.”
