Jesus maak ons heel (3) - Die ontwikkeling van die vals self

Verlede week het ons begin kyk na die vals self wat uiteindelik veroorsaak dat ons eintlik met ’n masker op voor God en ander staan. Hierdie vals self ontwikkel lewenslank in elkeen van ons as die gevolg van verskeie faktore (waarna ons in hierdie episode kortliks sal verwys).

Augustinus het een keer gevra: “Hoe kan ons verwag om nader aan God te beweeg, sonder om nader aan onsself te beweeg?”

Hierdie tipe broosheid en ontdekking van ons ware self vra groot waagmoed – ons ideale skeppingsdoel is mos om ons ware self te wees voor God en ander mense. Ongelukkig is dit in die meeste van ons se gevalle die waarheid dat ons blootgestel word aan verskeie faktore (selfs reeds in ons kinderdae) wat veroorsaak dat ons met ernstige wonde bly rondloop. Hierdie wonde kan ’n hele reeks oorsake hê:

  • Traumatiese gebeure soos egskeiding, afsterwe, siekte ens.
  • Emosionele afbreuk (al is dit selde), verwerping of mishandeling
  • Verbrokkelde verhoudinge

Hierdie is maar net ’n paar voorbeelde van eksterne faktore wat ons mensegroei en emosionele volwassenheid beïnvloed. Daarmee saam met ons eie besluitneming en handeling ook ’n enorme invloed op die manier waarop ons ontwikkel.

Die manier hoe ons aanpas tot hierdie faktore en die oorlewingsmeganismes wat ons verkies om ons ontwikkeling mee te hanteer, speel die grootste rol in die ontwikkeling van die vals self – ons kies dinge wat op die oog af positief lyk, soos prestasie of gemeente betrokkenheid, om op te fokus en in uit te blink. Hierdie fokusse word dan so ’n groot deel van ons persoon en die manier hoe ons onsself voorstel, dat ons uiteindelik ’n vals self daarrondom skep.

Die vals self is ’n poging om beheer, aanvaarding en veiligheid te behou en vervul in ons lewens, terwyl die ware self weet dat God die enigste bron van vervulling vir hierdie behoeftes is. Juis daarom is dit net so belangrik om onsself te ken as wat dit is om vir God te ken.

Wanneer ons op onsself steun om hierdie behoeftes te vervul (en ons kry dit reg), dan raak dit al makliker om die bestaan en teenwoordigheid van die vals self te erken. Kyk na die manier hoe Jesus die dissipels konfronteer met die vals self in Johannes 8:31-36 – “kinders van Abraham is tog nie enigiemand se slawe nie”, of so dink hulle. Staan bietjie stil by hierdie teksgedeelte tot ons volgende episode!

Hoe bepaal ek dan die ontwikkeling van my eie vals self?

Dit is belangrik om vir jouself ’n tipe padkaart of tydlyn te teken van die wonde wat jy in jou lewe opgedoen het. Jy hoef nie noodwendig elke geleentheid te onthou nie en moet versigtig wees om wonde te gaan soek wat nie daar is nie, maar sonder so ’n self-studie is ons vals self moeilik om te identifiseer en te konfronteer.

Kyk veral na tye in jou lewe waar jou gedrag verander het om skielik, bv., manipulering, sarkasme, aggressie of onttrekking in te sluit – hierdie is maniere waarop die vals self hom / haar uitdruk in situasies waar hy / sy bedreig voel.

Hoe maak ek dan met my eie vals self?

Wees eerlik oor die plekke en maniere waarop jy in jou eie behoeftes vir aanvaarding, beheer en sekuriteit probeer voorsien en gee dit oor aan God.

Bid gedurig dat God sal aanhou om jou ware self aan jou te openbaar en dat sy / haar gawes en persoon die een sal wees wat na vore kom

Staan eerlik en broos, sonder ’n masker, voor God, sodat Hy jou kan heelmaak en uiteindelik begelei om dit ook voor ander mense te doen.

 

 

css.php