Die Vals Self

Jesus maak ons heel

Episode 2

Baie welkom by die 2de episode van “Jesus maak ons heel” van Paarlberg gemeente. In die eerste episode het Bernard vir ons agtergrond gegee waaroor die gaan in die reeks.

Ons het gehoor dat ons almal ‘n groot behoefte het aan innerlike vrede – bewustelik of onbewustelik. As Paulus in Fillipense 4 praat van “die vrede wat alle verstand te bowe gaan”, dan is dit juis dit waarna ons smag as ‘n dissipel van Jesus wat aan ons die lewe (ook op aarde) belowe het.

Maar nou is daar dinge wat dikwels in die pad staan van die lewe en die groei na ‘n heel mens. Dit kan baie dinge wees en gewoonlik is dit dinge waarvan ons nie eers altyd meer bewus van is nie. Dinge wat in die verlede met jou gebeur het of wat jy beleef het. Daarom sal ons op ‘n reis na binne moet gaan om juis die dinge wat in die pad van so ‘n lewe staan, uit die pad te kry.

Dit sal goed wees as jy ‘n goeie vriend het met wie jy hieroor kan praat – dit kan kan jou vrou of man of goeie vriend wees. As dit nie vir jou gaan werk nie, sal dit alreeds baie help om dan op jou eie ook die vrae te oordink en te ontdek hoe jy vryer kan word om te groei in die nuwe lewe.

Op hierdie reis gaan dit veral oor 4 sake:

  1. Om eerstehands vir Jesus beter te leer ken as ons gekruisigde Here.
  2. Dit is ‘n reis wat radikale verandering gaan vra – om meer soos Jesus te word.
  3. Dit gaan hier ook nie net oor myself nie, maar om steeds meer bruikbaar te wees in Jesus se hande om vir ander mense iets te kan beteken.
  4. Dit is altyd ‘n reis saam met ander. Daarom is dit belangrik om ten minste van jou nuwe insigte met iemand te deel.

In hierdie episode gaan ons veral kyk na die Vals Self wat ‘n groot struikelblok kan wees in ons groei na emosionele volwassenheid sodat ons die lewe uit die hand van Jesus kan ontvang. Ons gaan kyk na hoe die vals self gevorm word en watter effek dit in jou en my lewens het.

Wat veral belangrik is, is dat ek en jy moet besef dat net Jesus die genesing, die heelmaak van ons binneste, kan bring. Daarom is dit so belangrik dat ons elke dag genoeg tyd sal gee saam met Jesus om vir Hom ruimte te gee om ons aan te raak en te genees.

Kom ons gaan kyk wat ons bedoel as ons van die Vals Self praat.

Vir eers wil ek hê dat jy Rom 8:31-39 goed sal deurlees en dit oop sal hou langs jou.

Ons almal het vir verskillende redes in ons lewe diep en baie seergekry. Dit het onder andere gemaak dat ons onsself nie rêgtig sien (of wíl sien) soos ons is nie. Dikwels is die manier hoe ons na onsself kyk en onsself ervaar vals – onwaar. As dit nie ontmasker word nie, sal ons nie kan groei nie.

Hoekom ontwikkel ons ‘n valse selfbeeld? Wel, ons moet verstaan dat ons almal die volgende behoeftes het in ons lewe:

  1. Om veilig te voel – sekuriteit te beleef
  2. Ons het ‘n behoefte om deur ander aanvaar te word en sodoende gelukkig en goed te voel oor myself.
  3. Almal wil graag dit wat jy kan word en wees en doen verwesenlik – ek wil my potensiaal ontsluit.

Nou is dit juis tov van die behoeftes wat ons dikwels seerkry.

  1. Ons ervaar verwerping. Iets van dat ek nie goed genoeg is nie.
  2. Gevolglik ook ‘n gevoel van minderwaardigheid en
  3. ‘n Gevoel van onbekwaamheid – ek voel ek is “useless”, niks werd nie.

En omdat die behoeftes nie weggaan nie, begin ek (dikwels sonder dat ek daarvan weet) dink oor myself en dinge doen om te vergoed (soms op ‘n oordrewe manier) vir die behoeftes in my lewe. Dis dan wat ek myself anders begin sien as wat ek is – die Vals self. En dan dink ek so oor myself:

  1. Is ek wat ek besit.
  2. Ek is wat ek doen en hoe ek presteer.
  3. Ek is wat ander van my sê en dink en hoe hulle teenoor my optree.

Begin dinge al effens sin maak vir jou? Dis eintlik hoe mens jouself wil beskerm teen verwerping, minderwaardigheid en onbekwaamheid. Ek en jy dink dit sal die pyn wat dit bring, sagter maak in ons lewens of selfs wegneem. Dit kan so ‘n sterk mag in ons lewens word dat ons sukkel of dit glad nie regkry om te lewe uit hoe Jesus jou en my sien nie – ons identiteit in Christus. En, soos ek reeds gesê het, kom ons dit meeste kere nie eers agter nie. En, hoor hier, ons het elkeen ‘n Vals Self. Dit is deel van die gevolge van die sondeval. Daar het alles begin toe daar ‘n skeiding gekom het tussen my en God, myself, ander mense en die natuur.

Hoe nou?

Die eerste stap terug na wie ons werklik is as kind van Jesus, is om eerlik met onsself te wees sodat ons aandag kan gee aan die blokkasies in ons lewens om meer soos Jesus te wees. Ons sal moet sien hoe my vals self werk in my lewe.

Tweedens sal ek en jy al hoe meer moet leer wie ons werklik is (die Ware self) in Christus en sal moet leer om daaruit te lewe.

As dit wil gebeur, sal ons ook aandag moet gee aan die gesondmaak van die wonde van die verlede – hoe swaar dit ook al is. Hieroor gaan ons nog vorentoe gesels.

Tyd vir dink:

  1. Dink terug aan ‘n tyd in jou lewe toe jy baie ongelukkig of ontevrede was.
  2. Wat het jy toe gedoen om weer gelukkig te probeer wees?
  3. Wat het jy by die Here in die sessie gehoor?
  4. Wat gaan jy nou doen?

Huiswerk!

As jy ernstig daaroor is om meer die lewe wat Jesus belowe het om te leef en te beleef, wil ek jou vra om moeite daarmee te doen. Daarom is daar ook huiswerk.

Lees asb die stuk deur wat beskikbaar is op ons webwerf.

Sien jou volgende keer by episode 3! Vrede vir jou!

Bylae oor die Vals Self

Die drie emosionele behoeftes van menswees:

  • Sekuriteit/Veiligheid
  • Selfaanvaarding/gesonde eiewaarde
  • Selfaktualisering

Terwyl ons grootword, word ons in een van die areas seergemaak. En die wonde is dan sulke dinge soos:

  • Verwerping
  • Minderwaardigheid
  • Onbekwaamheid
  • Mislukking

Dit maak dat ons op verkeerde maniere oor onsself begin dink. Ons dink dan: “Ek IS minderwaardig”. Ek IS verwerp. Ek IS ‘n mislukking.” En dit is seer om so oor myself te dink en te voel. Ek wil nie so oor myself voel en dink nie.

Die gevolg is ‘n oordrewe drang na: Aanvaarding, om waardevol te voel, om suksesvol/bekwaam te voel. Dan ontwikkel ek ‘n valse identiteit (waarin ek my na die wêreld draai om my behoeftes te bevredig). Gevolglik begin ek dan op een of meer van die volgende maniere dink oor wie ek is:

  • Ek is wat ek het en besit
  • Ek is wat ander van my sê, dink en hoe ander teenoor my optree.
  • Ek is wat ek doen en hoedanig ek presteer in die lewe.

Vanuit hierdie oordrewe behoeftes ontwikkel ek ‘n vals “program of resep” vir geluk waarin ons daarna smag om beter oor onsself te voel en sodoende die pyn te ontvlug. En dit kan my hele later oorheers.

Hierdie vals programme vir geluk word altyd gedwarsboom. As ek bv dink: “Ek is wat ek het of besit”, is daar altyd mense wat meer as ek het en daar is in elk geval ‘n beperking op wat ‘n mens kan besit. As ek dink: “Ek is wat ander van my sê en hoe hulle teenoor my optree, dan besef ek dat ‘n mens nooit aan ander se verwagtinge kan voldoen nie.  En as ek dink: “Ek is wat ek doen of hoe ek presteer”, dan besef ek dat ek menslike beperkinge het en nie altyd in alles suksesvol kan wees nie.

As gevolg dan van die frustrasies van die sogenaamde ingeboude “programme” vir geluk, kan sommige van die volgende emosies na die oppervlak kom:

  • Woede
  • Vrees
  • Angs
  • Hartseer
  • Hoogmoed
  • Wellus
  • Gierigheid
  • Jaloesie
  • Bitterheid
  • Apatie
  • Depressie

Dan kan hierdie emosies later ons hele lewe oorheerd. Hieroor gesels ons later weer.

css.php