LUK. 6:1-11 (1/9/24)
# Teenkanting – dit is iets wat Jesus in sy lewe op aarde goed geken het.
- Op baie plekke in die Nuwe Testament lees ons daarvan.
- En hierdie teenkanting het veral van die Joodse godsdienstige leiers van daardie tyd gekom.
- Ook hier in Luk. 6 is dit die Fariseërs en skrifgeleerdes wat vir Jesus opponeer.
- Hulle het hier ’n groot probleem met hoe Jesus oor die sabbatdag dink.
- Volgens hulle mag jy absoluut niks op dié dag doen nie.
- Ook nie are pluk op die koringland nie.
- Of ’n siek man gesond maak nie.
- Omdat die vierde gebod sê jy mag geen werk op die sabbat doen nie, is sulke dinge, volgens hierdie leiers, ontoelaatbaar.
- Dit is ’n oortreding van die wet van God.
- En volgens hulle staan Jesus skuldig!
- Hy oortree die vierde gebod.
# So, die teenkanting teen Jesus van die kant van die godsdienstige leiers was geweldig groot.
- En hoekom?
- Ek dink een manier om dit te verstaan, is om te sê: Jesus het baie dinge heeltemal nuut kom maak.
- In baie opsigte het Hy ’n heeltemal nuwe bedeling tot stand kom bring.
- En dít terwyl die godsdienstige leiers ’n ander bedeling verteenwoordig het, ’n ou bedeling, kan ons maar sê.
- En die nuwe wat Jesus gebring het, was vir hierdie leiers ’n absolute steen des aanstoots.
- Nadat Jesus bv. op die sabbat die man met die gebreklike hand se hand gesond gemaak het, was die leiers se reaksie uiters negatief.
- Vers 11 wat ons gelees het, sê: “Maar hulle het rasend van woede geword en onder mekaar geredeneer oor wat hulle Jesus sou aandoen.”
- Hulle was so kwaad hulle kon Hom iets aandoen!
# So, die feit dat Jesus ’n nuwe bedeling gebring het, was vir die leiers van die ou bedeling totaal onaanvaarbaar.
- Weg met hierdie nuwe dinge! sou hulle sê.
- Bly by die oue.
- En later sou hulle seker ook almal deel wees van die skare mense wat skreeu: Weg met Jesus!
- Kruisig Hom!
- Hulle teenkanting teen Jesus sou uitloop op Jesus se dood.
- Maar die ironie daarvan was dat Jesus se dood juis nuwe lewe sou bring vir miljoene der miljoene mense!
- Ook vir ons wat vandag leef.
- Ook vir ons het Jesus se kruisdood nuwe lewe gebring.
# Nou sou iemand seker kon vra: Maar wat is nou juis so nuut in hierdie tyd na Jesus se koms?
- Wat is die nuwe dinge in die “nuwe bedeling,” as ons dit so wil noem?
- Ek het gedink om vanoggend net ’n paar van die belangrikste dinge te onderstreep wat die Bybel ons oor hierdie nuwe bedeling leer.
- En kom ons begin by Jesus se siening van die wet van God.
- Sy siening van die wet het duidelik gewys dat iets nuuts aan die gebeur was.
- Die godsdienstige leiers van Jesus se tyd het ’n baie onbuigbare siening van die wet gehad.
- En veral wat die vierde gebod betref, die gebod oor die sabbat, was hulle ontsettend streng en onbuigbaar.
- Hulle het ’n lang lys bepalings gehad oor wat ’n mens op dié dag nie toegelaat was om te doen nie.
- Soos bv. die bepaling oor die sabbatsreis.
- Op die sabbat mag ’n Jood nie verder gereis het as ongeveer 880 meter nie.
- En as ons hierdie bepaling vandag nog steeds moes toepas, sou ’n hele paar van u hier vanoggend nie op die sabbat van u huis tot by die kerkgebou mag gereis het nie, omdat u verder as die toegelate 880 meter van die kerk af bly.
- U sou seker maar op die dag voor die sabbat al tot hier moes gekom het en dalk in ’n tent of ’n karavaan hier op die kerkterrein oornag het.
- Op ’n sabbat mag ’n Jood nie verder as ’n sabbatsreis ver gereis het nie, en klaar!
- En so het die Jode dan ’n lang lys bepalings gehad oor wat presies ’n mens op die sabbat nie toegelaat was om te doen nie.
- Maar nou kom Jesus en Hy verbreek openlik sekere van hierdie bepalings.
- Hy laat sy dissipels toe om are te pluk en met die hande uit te vryf en die koring te eet.
- En dít het dan neergekom op ’n ontoelaatbare vorm van werk op die sabbat.
- En daarby maak Jesus die man van wie ons gelees het, se hand ook op die sabbat gesond.
- So, Jesus bring ’n heeltemal nuwe siening oor die sabbat.
- Hy vra in vers 9 vir die godsdienstige leiers: “Nou vra Ek julle: Mag ’n mens op die sabbatdag goed doen of kwaad doen, iemand red of doodmaak?”
- Jesus het geen probleem daarmee om ’n goeie daad te doen op die sabbat nie.
- Hy demonstreer dat die sabbat nie net as ’n rusdag bedoel was nie, maar ook as ’n dag waarop jy goed kan doen aan ander, waarop jy liefde kan betoon aan ander.
# So, Jesus bring ’n nuwe siening oor die sabbat, maar ook oor verskeie ander aspekte van die wet van God.
- Dink maar aan wat Hy gesê het oor die sesde gebod: Jy mag nie moord pleeg nie.
- Jesus het oor hierdie gebod gesê: “Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ’n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ’n idioot, is strafbaar met die helse vuur.”
- ’n Mens oortree met ander woorde nie net die sesde gebod wanneer jy fisies ’n moord pleeg nie.
- Jy kan ook al deur jou woede of jou skeltaal dié gebod oortree.
- Jesus gee eintlik aan hierdie gebod ’n dieper betekenis.
- Hy wys op die gees van die wet en nie net op die letter van die wet nie.
- En dink ook aan die sewende gebod: Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
- Hierdie gebod, sê Jesus, word nie eers oortree wanneer jy ’n buite-egtelike verhouding het en jou huwelik op ’n egskeiding uitloop nie.
- Nee, Jesus sê in Matt. 5:28: “Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.”
- Egbreuk begin al by ’n gedagte en ’n begeerte.
- Dis nie net die daad van egbreuk wat verkeerd is nie.
- En so het Jesus heeltemal nuut kom praat oor verskeie aspekte van die wet van God.
- In die nuwe bedeling wat Hy gebring het, is dit nie genoeg om net ’n klomp uiterlike moets en moenies na te kom om die wet te onderhou nie.
- Nee, Jesus het ons kom leer dat die wet van God eintlik baie meer van ons vra.
- Dit vra van ons om werklik vir God bo alles lief te hê en ons medemens soos onsself.
- En die wet is daar om ons te help om reg te kan liefhê.
- Die diepste bedoeling van die wet is die liefde, liefde vir God bo alles en liefde vir ons naaste soos onsself.
- En Jesus het dít op ’n nuwe manier vir ons kom duidelik maak.
# Maar wat moet ons nog onderstreep omtrent die nuwe bedeling wat Jesus gebring het?
- Baie belangrik is dat Jesus van sondaars nuwe mense kom maak het!
- In 2 Kor. 5:17 sê Paulus vir ons: “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.”
- Wat Jesus kom doen het, was so ingrypend dat sondaars daardeur in nuwe mense verander kon word.
- En dan gaan dit hier natuurlik oor Jesus se verlossingswerk, oor hoe Hy ons kom verlos.
- Hy het na ’n wêreld toe gekom wat vasgevang was in sonde.
- Die mense in hierdie wêreld, en dit ook maar ons, was vyande van God en in opstand teen God.
- Hulle het nie in vrede met God geleef nie.
- Maar toe lê Jesus sy lewe aan die kruis af om ons te verlos.
- Toe sterf Hy om ons met God te versoen, soos Paulus dit in 2 Kor. 5:18 stel.
- Ons is deur Jesus met God versoen.
- En as ons dan nou, deur geloof, aan Jesus behoort, is ons nuwe mense.
- Jesus het ons kom nuut maak!
- En daarom kon Paulus sê: “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.”
# Jesus het ’n heeltemal nuwe bedeling vir ons tot stand gebring.
- Dink ook maar aan wat met die dood gebeur het.
- Toe Jesus op die derde dag na sy dood uit die dood opgewek is, is die mag van die dood daardeur verbreek.
- In 1 Kor. 15 word die dood “die laaste vyand” genoem.
- Die dood, sê Paulus daar, is die laaste vyand wat vernietig moet word.
- Maar Jesus het eintlik reeds die dood se mag verbreek.
- Hoewel die dood nog soveel hartseer veroorsaak, het Jesus klaar sy mag verbreek.
- En daarom kon Hy ook in Joh. 11:25 en 26 sê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.”
- Ons kan sê: Jesus het ons in ’n nuwe verhouding met die dood kom plaas.
- Ons hoef nie meer so doodbang vir die dood te wees nie.
- Hierdie laaste vyand het sy mag oor ons verloor.
- In Jesus se nuwe bedeling is die dood, volgens Paulus, nog net soos ’n by wat sy angel verloor het.
- En ons weet mos ’n by wat sy angel verloor het, is self besig om te sterf.
# Ons leef vandag in die tyd na Jesus se koms na die aarde toe.
- Ons leef in die nuwe bedeling wat Hy tot stand gebring het.
- En daarom het die Christene bv. van die vroegste tye af reeds gesê: Ons hoef nie meer oor die sabbat te dink soos die ou Jode daaroor gedink het nie.
- Ons hoef dit nie meer te sien as ’n swaar las en ’n onbuigbare wet nie.
- En die vroeë Christene het so ver gegaan as om te sê: Ons hoef nie meer die Joodse sabbat op Saterdae te vier nie.
- Ons kan nou Jesus se opstandingsdag op ’n Sondag vier.
- Die Sondag is nou ons rusdag.
- Dít is nou ons spesiale dag in Jesus se nuwe bedeling.
- En so het die Christene begin om as nuwe mense in ’n nuwe bedeling te leef.
# Maar nou moet ons vanoggend ook vir onsself vra: Leef ek al as ’n nuwe mens?
- Of is ek dalk nog vasgevang in die lewe van die ou, sondige mens?
- In ’n lewe sonder Jesus?
- Ervaar ek al die vryheid en vreugde van Jesus se nuwe bedeling?
- Of is my godsdiens nog vir my ’n swaar las en ’n onbuigbare wet, soos dit vir die Fariseërs en skrifgeleerdes in Jesus se tyd was?
# Ek kán as ’n nuwe mens leef!
- Ek kán, want Jesus het dit vir my kom moontlik maak.
- En Hy nooi my om die nuwe lewe, die ware lewe, uit sy hand te ontvang.
- En dan wil Hy hê dat ek nou verder as sy volgeling in hierdie wêreld moet leef.
- Dat ek as sy dissipel sy liefde teenoor ander moet uitleef.
- Hy vra daarin gehoorsaamheid van my.
- Maar dan nie gehoorsaamheid as ’n nuwe soort wet nie, maar as ’n vrywillige oorgee aan Hom en ’n navolg van Hom omdat ek Hom liefhet.
- God het ons eerste liefgehad, sê Johannes in 1 Joh. 4:19.
- Daarom het ons Hom ook nou lief.
- En daarom wil ons ook graag leef soos nuwe mense behoort te leef, in Jesus se nuwe bedeling.
- Mag die Here ons elkeen help om dít te kan doen.
- “Die oue is verby, die nuwe het gekom.”
AMEN