MATT. 21:28-32 (27/9/26)

 

 

#  Die gelykenis van Jesus wat ons so pas gelees het, klink eintlik ook soos ‘n ware verhaal.

 

  • Dit kan mos gebeur dat twee kinders, in dieselfde gesin, so heel verskillend reageer op ‘n ouer se versoek of opdrag.

 

  • Die een sê aanvanklik nee, maar kry later spyt en doen dan wat die ouer gevra het.

 

  • Die ander een sê ja, maar doen dan nie wat van hom of haar gevra is nie.

 

  • En dalk was ons al self in soortgelyke situasies in ons eie lewe.

 

  • Dat ons “nee” verander het na ja.

 

  • Of dat ons “ja” toe nie opgevolg is met die nodige optrede nie.

 

  • En in Jesus se gelykenis van vanoggend herken ons dan moontlik ook onsself.

 

 

#  Maar in die oomblikke toe Jesus hierdie gelykenis destyds vertel het, het Hy skynbaar twee spesifieke groepe mense in gedagte gehad.

 

  • En elke seun in die gelykenis verteenwoordig een van hierdie twee groepe.

 

  • Kom ons noem hulle sommer die nee-groep en die ja-groep.

 

  • Die nee-groep was mense wat aanvanklik nee gesê het vir die Here, maar dan tog later sy wil begin doen het.

 

  • Die ja-groep het weer op die oog af ja gesê vir die Here, maar het nie sy wil gedoen nie.

 

  • So, wie was die nee-groep, wat toe wel verander het?

 

  • Jesus sê daar was sekere tollenaars en prostitute wat hierdie pad geloop het.

 

  • Die pad van nee-sê, maar dan tog later God se wil begin doen.

 

  • Die tollenaars was bv. taamlik bekend vir hulle oneerlikheid.

 

  • Hulle moes belasting invorder en het dan baie keer meer ingevorder as wat hulle moes, om daardeur hulleself te verryk.

 

  • Maar tog was daar van hulle wat tot bekering gekom het en die wil van die Here begin doen het.

 

  • En net so was daar ook prostitute, m.a.w. vroue wat deur hulle onsedelikheid hulle geld verdien het, maar wat tot inkeer gekom het en die Here se wil begin doen het.

 

  • Aanvanklik het beide die tollenaars en prostitute duidelik met hulle lewens nee gesê vir die Here.

 

  • Maar baie van hulle het toe wel tot inkeer gekom en in Jesus begin glo.

 

  • En daardeur het hulle lewens ingrypend verander en het hulle die Here se wil begin doen.

 

  • So, met die nee-groep het Jesus veral na die tollenaars en prostitute van sy tyd verwys.

 

 

#  Maar dan was daar ook die ander groep, die ja-groep, soos ons hulle vanoggend noem.

 

  • Hulle was weer die mense wat ja gesê het vir die Here maar tog nie sy wil gedoen het nie.

 

  • En met hierdie ja-groep, het Jesus veral die geestelike leiers van Israel in gedagte gehad.

 

  • Ons leer ken hulle in die Bybel as die Fariseërs en Sadduseërs en skrifgeleerdes.

 

  • Hierdie geestelike leiers van Israel was baie godsdienstige mense.

 

  • Hulle het die wet van die Here goed geken en ook haarfyn probeer onderhou.

 

  • Maar ongelukkig was dit so dat hulle nie werklik die wil van die Here gedoen het nie.

 

  • In Matt. 3 lees ons bv. hoedat sekere Fariseërs en Sadduseërs hulle deur Johannes die Doper wou laat doop.

 

  • Maar dan sê Johannes vir hulle: “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug? Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is.”

 

  • So, die geestelike leiers van Israel was in Jesus se tyd baie godsdienstig, maar tog het hulle optrede nie gewys dat hulle bekeerde mense is nie.

 

  • Hulle het op die oog af ja gesê vir die Here maar tog nie sy wil gedoen nie.

 

#  Maar nou is ons nie vanoggend hier bymekaar om net te praat oor mense van lank gelede nie, oor die Fariseërs en Sadduseërs, en die tollenaars en prostitute, van Jesus se tyd nie.

 

  • Ons moet ook praat oor ons eie tyd en oor die feit dat daar ook vandag mense is wat nee sê vir die Here en tog later sy wil doen, én mense wat ja sê vir Hom en dan tog nie sy wil doen nie.

 

  • En nou is dit seker so dat almal van ons die gevaar kan loop om vir die Here ja te sê en dan nie sy wil te doen nie.

 

  • Want die meeste van ons het mos groot geword as kerkmense.

 

  • Daarom het ons ook reeds baie geleenthede in ons lewe gehad om vir die Here ja te sê.

 

  • So was daar bv. die dag toe ons belydenis van geloof afgelê het.

 

  • Dit was ’n geleentheid om openlik ja te sê vir die Here.

 

  • En dan is daar die kere wanneer ons ons geloofsbelydenis in die kerk in ‘n lied sing of hardop saam sê.

 

  • En ook al die kere as ons die Woord van die Here hoor wat ons oproep om ja te sê vir Hom.

 

  • Daarom wil ek aanvaar dat die meeste van ons, of almal van ons, al meermale ja gesê het vir die Here.

 

  • Maar die vraag is dan: Doen ons ook wat die Here wil hê?

 

  • Leef ons ook in gehoorsaamheid aan Hom vir wie ons ja gesê het?

 

  • Leef ons die geloof uit wat ons met ons mond bely?

 

 

#  En geloof, sê die Bybel duidelik vir ons, is om ja te sê vir die Here, maar om daarmee saam ook sy wil te doen.

 

  • Daarom sê Jakobus in Jak. 2:26: “’n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood.”

 

  • Jakobus sê sommer reguit dat ’n geloof wat net ja sê en nie ook ja doen nie, ’n dooie geloof is.

 

  • Dis nie dat ons deur ons dade gered word nie.

 

  • Glad nie!

 

  • Ons word net gered deur dit wat Jesus aan die kruis vir ons gedoen het, en deur in geloof te aanvaar wat Jesus vir ons gedoen het.

 

  • Maar ons dade en ons lewe is altyd ’n bewys van die egtheid van ons geloof, of anders van die doodsheid van ons geloof.

 

  • En daarom moet ons vanoggend duidelik sê: ’n Gelowige is iemand wat ook sigbaar besig is om die wil van die Here te doen.

 

  • Dit is ja sê EN ja doen.

 

  • Dit is soos Johannes die Doper vir die Fariseërs en Sadduseërs gesê het: Julle moet vrugte dra wat bewys dat julle bekeer is.

 

 

 #  So, ons word almal genooi om in ons lewe ja te sê vir die Here, maar ook om ja te doen, sy wil te doen, aan Hom gehoorsaam te wees.

 

  • Maar nou sou iemand dalk wou vra: Maar wat is die wil van die Here?

 

  • En hoe weet ’n mens hoe jy moet leef om volgens sy wil te leef?

 

  • In Jesus se gelykenis wou die pa hê dat sy twee seuns in die wingerd moet gaan werk.

 

  • So dit was baie duidelik wat hulle moes gaan doen.

 

  • Die wil van die pa was glashelder.

 

  • Maar wat presies wil die Here hê moet elkeen van ons doen?

 

  • Hoe wil Hy hê moet elkeen van ons ons geloof uitleef?

 

  • Ons sukkel soms om te weet wat presies sy wil vir ons is.

 

  • En ek dink op hierdie punt gaan dit nou veral oor die belangrikheid van die Here se Woord.

 

  • Dit is tog in sy Woord wat die Here vir ons leer wat sy wil vir ons as mense is en wat sy wil is vir die wêreld waarin ons leef.

 

  • En die Heilige Gees is onder andere aan ons gegee om ons te help om die Woord beter te kan verstaan.

 

  • Die Gees wil ons help om God se Woord deel te maak van ons lewens.

 

  • Ja, Hy wil ons help om ja te sê EN ja te doen as dit kom by God se wil.

 

 

#  Maar die vraag is nou nog steeds: Wat is dan, volgens die Bybel, die Here se wil vir my persoonlik?

 

  • En daar kan natuurlik baie Bybelgedeeltes wees wat ons al diep in ons hart aangespreek het.

 

  • Maar ek wil graag net ‘n paar dinge uit die Bybel uitlig wat ons vir seker nie kan miskyk nie.

 

  • Nommer 1: Die Here wil hê dat ons Hom bo alles moet liefhê en ons medemens soos onsself.

 

  • So het Jesus mos eintlik die hele wet van God opgesom.

 

  • Ons moet God bo alles liefhê en ons medemens soos onsself.

 

  • Dít is God se wil vir ons.

 

  • Dít is wat Hy van ons verwag, helder en duidelik!

 

  • Hy is self die belangrikste van alles en almal.

 

  • En ons medemens is net so belangrik soos onsself.

 

  • Hierop sê ons ja en doen ons ook ja.

 

  • Ons het God bo alles lief en ons medemens net so lief soos onsself.

 

 

#  Nommer 2: Deur sy Woord herinner die Here ons dikwels aan ons verantwoordelikheid teenoor mense wat in nood verkeer.

 

  • Ja, op baie plekke in die Bybel word ons aangespoor om ander te help wat swaarkry.

 

  • Dink maar aan die bekende gelykenis van die barmhartige Samaritaan.

 

  • Met daardie gelykenis sê Jesus so duidelik vir ons dat ons ons hand moet uitsteek en op ’n praktiese manier mense moet help wat in nood verkeer.

 

  • Dis die wil van die Here dat ons nie net vir onsself moet leef nie, maar dat ons iets sal doen aan die nood van armes en siekes en bedroefdes en eensames, of wat mense se swaarkry ookal is.

 

  • Ja, waar en hoe ons ookal kan, word ons geroep om ander se nood en swaarkry te help verlig.

 

 

#  Nommer 3: Die Here stuur ons deur sy Woord in die wêreld in.

 

  • Net voor sy hemelvaart het Jesus mos vir sy dissipels gesê: “Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom.”

 

  • Almal moet die goeie nuus omtrent Jesus ons Verlosser hoor en ook sy liefde ervaar.

 

  • En óns het die voorreg om hiermee te help.

 

  • Ons het die voorreg om vir ander te vertel van God se liefde, maar hulle ook daarmee te bedien.

 

  • Dis deel van ons ja-doen en nie net ja-sê vir die Here nie.

 

  • Ons is sy gestuurde medewerkers en medeverkondigers van die evangelie van Jesus se liefde.

 

#  Nommer 4: Op baie plekke in die Bybel praat die Here met ons oor reg en geregtigheid.

 

  • En dis veral deur sy profete wat die Here met ons praat oor reg en geregtigheid.

 

  • Met ander woorde Hy wil hê dat daar billik en regverdig teenoor alle mense opgetree moet word.

 

  • Daarom moet ons almal help sorg dat nie een van God se skepsels onbillik behandel word, of selfs mishandel word nie.

 

  • Dat mense nie uitgebuit word nie.

 

  • Dat daar nie om die een of ander rede teenoor mense gediskrimineer word nie.

 

  • Ons moet in ons samelewing en in ons huise en in ons werkplekke, en oral, help toesien dat reg en geregtigheid geskied en dat niemand veronreg word nie.

 

 

# Die Bybel is vol van die wil van die Here vir ons.

 

  • En ons kan dan ook in die Bybel na sy wil gaan soek.

 

  • Maar daarmee saam moet ons dit ook gaan doen.

 

  • En as ons dit nie doen nie, dan is ons eintlik maar net soos die seun in Jesus se gelykenis wat ja gesê het, maar toe nie in sy pa se wingerd gaan werk het nie.

 

 

#  Ek wil afsluit en nog net sê: Die kerkleiers van Jesus se tyd het neergesien op die tollenaars en die prostitute.

 

  • Ons kan sê die ja-groep het op die nee-groep neergesien.

 

  • Maar daar was hoop vir albei hierdie groepe mense: vir die tollenaars en prostitute wat nie volgens die Here se wil geleef het nie, maar ook vir die skynheilige kerkleiers wat gedink het hulle leef wel volgens die Here se wil.

 

  • En hoekom was daar vir albei groepe hoop?

 

  • Omdat die Here se liefde alle mense insluit.

 

  • Omdat die Here se liefde nooit diskrimineer nie.

 

  • En omdat Jesus juis gekom het om alle mense weer naby aan God en sy liefde te bring.

 

  • Mag Hy ons dan ook almal so nader trek dat ons nie net sal ja sê vir Hom nie, maar dat ons ook sy wil met oorgawe sal doen.

 

  • Dat ons sal ja sê EN ja doen!

 

 

AMEN

Verwelkoming:

Teks hier

Votum:

Teks hier

Seëngroet:

Teks hier

Skriflesing:

Teks hier

Preek:

Teks hier

Gebed:

Teks hier

css.php