2 KOR. 11:16-33 (2/10/22)

#  Ons tema vanoggend is nogal ’n swaargewig-tema!

  • “Hoe gemaak met swaarkry?” – dis ons tema.
  • En nou kan iemand seker vra: Is dít nie ’n bietjie van ’n negatiewe tema nie?
  • Is dít nie te morbied nie?
  • En is dit wel iets waaroor ons op ’n Sondag hier in die kerk moet praat?
  • Ons het mos die hele week lank met swaarkry te doen, dalk by die werk, of by die huis, of wat ons gesondheid betref, of in die opset van ons land.
  • Ons het so baie met swaarkry te doen.
  • Laat ons tog net Sondae oor positiewe dinge praat!
  • Nie oor swaarkry nie.

#  Maar dit lyk vir my daar is veral 2 belangrike redes waarom ons tog ook hier op ’n Sondag oor swaarkry moet praat.

  • En die een rede is dat swaarkry so deel is van ons lewe.
  • Niemand van ons ken ’n lewe wat heeltemal sonder swaarkry is nie.
  • Party mense ken natuurlik meer swaarkry en ander weer minder, maar swaarkry is deel van elkeen van ons se lewe en ons kan dit ook nooit heeltemal vryspring nie.
  • Die bekende Amerikaanse evangelis, Billy Graham, is ’n paar jaar gelede dood in die ouderdom van 99.
  • Hy was een van die bekendste predikers van die vorige eeu.
  • En hy het oor baie jare in baie kerke en by baie groot saamtrekke gepreek en baie mense het deur sy preke die pad na die Here toe gevind.
  • Maar toe hy so in sy sewentigs was, is hy gediagnoseer met Parkinson se siekte.
  • En in daardie tyd het ’n joernalis toe vir hom gevra: Maar dink u nie dit is onregverdig van die Here om toe te laat dat u, wat vir soveel mense die pad na Hom toe aangewys het, nou hierdie siekte moes ontwikkel nie?
  • Op hierdie vraag het Billy Graham geantwoord: “Nee, ek sien dit glad nie so nie. Lyding is deel van mens wees.  En een of ander tyd kom dit ook oor jou pad.”
  • En daarom is dit tog belangrik dat ons ook in die kerk oor mense se swaarkry en lyding moet praat.
  • Dis so deel van ons lewe.

 #  Maar die ander rede waarom ek dink dit belangrik is om oor swaarkry te praat, is omdat die Here dit gebruik.

  • Ons swaarkry is op die ou end nie maar net ’n doellose en sinlose saak as dit by die Here kom nie.
  • Hoewel swaarkry natuurlik vir ons onaangenaam is, en ons dit sekerlik nooit vir onsself sou kies nie, is die Here so groot dat Hy ons swaarkry wel kan gebruik tot ons voordeel.
  • En in Paulus se briewe, soos die een waaruit ons vanoggend gelees het, sien ons dan ook op ’n hele aantal plekke iets van hoe die Here ons swaarkry gebruik.
  • Van hoe Hy ons swaarkry as ’t ware inspan om ons daarby te laat baat.
  • Maar voor ons verder hieroor praat, is dit dalk belangrik om net eers te sê dat mense mos verskillend op swaarkry kan reageer.
  • Dit kan wees dat ons kwaad word daaroor, of verbitterd raak.
  • Selfs kwaad vir die Here, of verbitterd teenoor Hom.
  • Dit kan ook wees dat ons onsself bejammer omdat ons swaarkry.
  • Hoekom moet hierdie slegte ding nou juis vir my tref?
  • Ons kan op ’n hele paar verskillende maniere op swaarkry reageer.
  • Maar uiteindelik, so lyk dit vir my, is dit so belangrik dat ons tog ons swaarkry so goed as moontlik moet aanvaar.
  • En ek sê “so goed as moontlik,” want daar is baie soorte swaarkry wat regtig baie moeilik is om te aanvaar.
  • Maar ons moet dit so goed as moontlik aanvaar en dan ons pad van swaarkry saam met die Here stap.
  • Wat sal beteken dat ons die Here sal vra om ons te help.
  • 105:4 sê so treffend: “Soek hulp en beskerming by die Here.”
  • En ook in ons swaarkry is dít so belangrik: om in gebed hulp en krag en beskerming by die Here te soek.
  • En ek glo dít is wat Paulus ook destyds in sy swaarkry gedoen het.
  • Hier in 2 Kor. 11 het ons vanoggend van ’n hele klomp van die slegte dinge gelees wat Paulus in sy lewe ondervind het: soos dat hy in die tronk gegooi was, en lyfstraf ontvang het, en met klippe gegooi is.
  • ’n Klomp baie slegte dinge!
  • Maar dwarsdeur al hierdie swaarkry het Paulus ervaar dat die Here hom help.
  • En, baie belangrik, daarmee saam het Paulus ook ervaar hoe die Here die swaarkry in sy lewe gebruik.
  • Hy skryf meermale in sy briewe daarvan: van hoe die Here swaarkry in sy lewe gebruik het.

#  En kom ons praat nou ook ’n bietjie daaroor.

  • Hoe gebruik die Here swaarkry in ons lewens?
  • En wat bereik Hy daardeur met ons?
  • Die een baie belangrike ding wat ons deur swaarkry leer, is hoe afhanklik ons van die Here is.
  • Sonder swaarkry is dit so maklik om te vergeet dat ons maar net mense is.
  • Dat ons maar net swak en feilbare mense is.
  • Sonder swaarkry kan ons so maklik onder die illusie verkeer dat ons die Here nie nodig het nie.
  • En dan kan ons so maklik onsself bluf en leef asof ons alles in ons lewe self bereik het en self verdien het en self tot stand gebring het.
  • Dat ons selfgemaakte mense is.
  • En ons kan selfs daarmee wil spog of daaroor hoogmoedig wees.
  • Maar swaarkry bring ons terug aarde toe.
  • Swaarkry herinner ons aan wie ons werklik is en dat ons die Here baie, baie nodig het.
  • So, dis die eerste belangrike ding wat ons deur swaarkry leer.
  • Ons leer eerstehands hoe afhanklik ons werklik van die Here is.
  • Dat ons sonder Hom eintlik niks kan doen nie.

#  Maar dan doen ons swaarkry nog ’n belangrike ding aan ons.

  • Dit leer ons ook hoe groot die Here ons God is!
  • Want Hy gee so dikwels vir ons uitkoms in ons swaarkry.
  • Paulus vertel in die gedeelte wat ons gelees het hoe sy vyande in die stad Damaskus probeer het om hom gevange te neem.
  • Die verteenwoordiger van die koning het die stad laat bewaak.
  • En as Paulus op die gewone manier uit die stad sou wou uitbeweeg, sou sy vyande hom in die hande kon kry en met hom doen wat hulle wou.
  • En Paulus kon groot moeilikheid van hulle verwag.
  • Maar in sy grootheid het die Here voorsien en gesorg dat Paulus veilig kon ontsnap.
  • In vers 33 wat ons gelees het, sê Paulus: “Maar deur ’n venster in die muur is ek in ’n mandjie laat afsak en het ek aan die hande van koning Aretas ontkom.”
  • Die Here het op daardie dag voorsien en gesorg dat Paulus op ’n baie ongewone manier kon ontsnap.
  • En so sou ons sekerlik ook almal vanoggend kon vertel van hoe die Here ook al vir ons uitkoms gegee het toe ons nie geweet het watter kant toe nie.
  • In ons eie nood en swaarkry het elkeen van ons sekerlik ook al, soos Paulus, iets gesien en beleef van hoe groot die Here is en hoe Hy in ons swaarkry nog steeds in beheer is.

#  So, swaarkry leer ons hoe afhanklik ons werklik van die Here is.

  • En swaarkry help ons ook om te verstaan hoe groot ons God is – deurdat Hy so dikwels vir ons uitkoms gee.
  • Maar verder, sê Paulus, is swaarkry ook ’n baie belangrike manier waarop die Here ons geestelik laat groei.
  • In Rom. 5:3 sê Paulus: “want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop…”
  • Paulus gebruik in hierdie vers ’n hele paar keer die woordjie “kweek.”
  • En so kan ons dan aan ons swaarkry dink as ’n soort tuin waarin verskillende belangrike dinge in ons lewe gekweek word.
  • En die eerste ding wat Paulus noem, is “volharding.”
  • Swaarkry leer ons om te volhard en uit te hou en nie sommer moed op te gee nie.
  • Dit gee vir ons ’n soort uithouvermoë en geduld wat vir ons as Christene onontbeerlik is.
  • Dit leer ons bv. ook dat ons nie altyd dadelik kry wat ons van die Here vra of wat Hy graag vir ons wil gee nie.
  • En dat ons daarom op die Here moet wag.
  • So, swaarkry kweek volharding.
  • Maar dan sê Paulus volgende dat volharding ons laat groei in die egtheid van ons geloof.
  • Volharding kweek egtheid van geloof, sê hy.
  • a.w. daar ontwikkel ’n soort suiwerheid in ons geloof.
  • Dit gaan in ons geloof dan nie oor allerhande bykomstighede nie of oor onsself nie.
  • Nee, dit gaan dan net oor ons verhouding met die Here, en ons leer dan om net op Hom te vertrou.
  • En dan, die volgende ding wat in die tuin van ons swaarkry gekweek word, is hoop.
  • En hoop is ook so uiters belangrik vir elkeen van ons as gelowiges.
  • En wat is hoop?
  • Hoop, kan ons sê, is geloof wat vorentoe kyk, wat na die toekoms kyk.
  • Hoop is daardie oortuiging en sekerheid wat in ons groei dat die toekoms veilig in die Here se hand is en dat ons ook veilig in sy hand is.
  • En hoop gee vir ons die krag en die energie om die Here te bly volg, en agter Hom te bly aanloop, die toekoms in.
  • So, in die tuin van ons swaarkry word verskeie baie belangrike dinge gekweek, volharding, egtheid van geloof, en hoop – almal dinge wat van die grootste belang is vir ons elkeen se lewe saam met die Here.

#  Swaarkry is nie vir ons lekker nie.

  • En ons natuurlike reaksie is seker om dit van ons te wil wegstoot.
  • Om dit te wil verwerp.
  • En dalk is daar vanoggend ook iets baie sleg wat dadelik in u gedagtes opkom as u die woorde swaarkry of lyding hoor.
  • En dalk bid u ook al lank dat die Here u eie swaarkry van u moet wegneem, soos Paulus (volgens 2 Kor. 12) ook drie maal gebid het dat die Here ’n sekere probleem van hom moet wegneem, “’n doring in die vlees” soos Paulus dit daar noem.
  • Dalk bid u ook al lank dat die Here u swaarkry moet wegneem, maar nou sit die doring in u vlees dalk nog steeds net waar hy gesit het, en selfs dieper.
  • So wat staan ’n mens te doen?
  • Wat moet ek doen met my swaarkry?
  • Dit lyk vir my ek moet die swaarkry aanvaar so goed as wat ek kan, en dan die pad van swaarkry saam met die Here stap.
  • Dan elke dag sy hulp en beskerming in my swaarkry soek.
  • En as ek dan mooi kyk, sal ek kan sien hoe die Here ook my swaarkry gebruik.
  • Hoe Hy dit gebruik om van my dié kind van Hom te maak wat Hy wil hê ek moet wees.
  • Ja, Hy is so groot dat Hy selfs ons swaarkry tot ons voordeel en tot sy eer kan gebruik!

AMEN


css.php