MARK. 13:1-8 (17/11/24)

 

#  Hoe lyk die toekoms?

  • En wat hou die toekoms vir ons in?
  • Iemand het gesê: Wanneer dit goed en maklik met ons gaan, is ons nie altyd so geïnteresseerd in die toekoms nie.
  • Maar wanneer dit met ons sleg gaan, dan vra ons maklik: Hoe lank sal dit nog so sleg gaan?
  • En wanneer gryp die Here dan in en gee Hy vir ons uitkoms?
  • En op die oomblik voel baie van ons seker ook lus om hierdie soort vrae te vra, veral as ons dink aan die probleme in ons eie land én ook aan hoe dit op baie ander plekke in die wêreld gaan.
  • Ons sou seker almal graag wou weet wat die toekoms vir ons inhou.
  • Ons sou dalk as Christene ook graag wou weet wanneer Jesus dan weer gaan kom, soos Hy self beloof het en voorspel het.
  • Wanneer sal Hy kom om die wêreld soos ons dit nou ken, tot ’n einde te bring en die tyd van die nuwe hemel en aarde te laat aanbreek?

#  Maar voor ons verder praat oor onsself en ons eie vrae oor die toekoms, kom ons staan ’n paar oomblikke stil by die gedeelte wat ons saam gelees het – want hier het Jesus dit ook oor die toekoms, en wel oor die toekoms van sy dissipels.

  • En ons kan baie daarby leer.
  • So, in die eerste vers het ons gelees hoe een van Jesus se dissipels sy bewondering uitspreek oor die tempelgebou in Jerusalem.
  • Hy sê vir Jesus: “Here, kyk watter geweldige klippe en watter geweldige geboue!”
  • Hy vestig Jesus se aandag op die indrukwekkendheid van die tempelgebou – amper soos ’n toeris wat vir ’n medetoeris sal sê: Sjoe, kyk net hierdie wonderlike gebou!
  • Maar dan kom Jesus se antwoord soos ’n skoot koue water.
  • Hy sê: “Sien jy hierdie geboue? Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word.”
  • En so voorspel Jesus die verwoesting van die tempel in Jerusalem: nie een klip sal op die ander bly nie, sê Hy.
  • En in die jaar 70 n.C. het hierdie voorspelling waar geword.
  • Die Romeine het in daardie tyd teen die Jode oorlog gemaak, omdat die Jode teen hulle in opstand gekom het.
  • En die Romeinse generaal Titus het Jerusalem toe ingeneem en onder andere die tempel verwoes.

#  So, Jesus kyk vir ’n oomblik in die toekoms in, en Hy voorspel die verwoesting van die tempel.

  • En dit wat Jesus gesê het, het natuurlik sy dissipels baie ontstel.
  • Dit was ’n geweldige ding wat Hy gesê het: dat die tempel verwoes sou word.
  • Die huis van God – die heilige woonplek van die Here.
  • Dit sou gelyk gemaak word met die grond!
  • En wanneer sou dit gebeur?
  • Die dissipels vra dan ook in vers 4 vir Jesus: “Sê vir ons, wanneer sal dit gebeur en wat sal die teken wees van wanneer dit alles voleindig gaan word?”
  • Net soos ons vandag, was die dissipels ook maar nuuskierig oor die toekoms.
  • Wanneer sal dit gebeur, Here? vra hulle.
  • En wat sê Jesus tóé?
  • Hy gee nie ’n presiese datum nie.
  • Maar Hy wys sekere tekens vir sy dissipels uit.
  • Die rumoer van oorloë sou ’n teken wees, ook gerugte van oorloë, sê Jesus.
  • En verder: aardbewings en hongersnode.
  • Allerhande krisisse en rampe sou m.a.w. wys dat die val van Jerusalem en die verwoesting van die tempel naby is.
  • Maar belangrik vir ons, volgens die Bybel sal dieselfde soort krisisse en rampe ook vir ons wys dat die Wederkoms van Jesus naby is.
  • En dít bring ons dan nou weer nader aan ons eie tyd.
  • Ons leef mos ook in ’n tyd vol krisisse en rampe, ’n tyd van oorloë op baie plekke in die wêreld, en ’n tyd van aardbewings en hongersnood.
  • Natuurrampe, misdaad en geweld.
  • En party dae wil ons dalk onsself wysmaak dat krisisse en rampe iets is wat net in Suid-Afrika gebeur.
  • Dat geweld en misdaad bv. net hier by ons plaasvind.
  • Maar die nuusmedia herinner ons tog gereeld daaraan dat slegte dinge reg oor die wêreld gebeur.
  • En praat maar met mense wat oorsee gereis het, of met Suid-Afrikaners wat oorsee woon, en jy kan dalk met ’n skok agterkom dat hulle ook daar slagoffers van misdaad was.
  • Maar al die krisisse en rampe van ons tyd, al die slegte nuus wêreldwyd, laat ons tog soms lus voel om te vra: Wanneer sal dit alles ’n einde kry?
  • Hoe lank sal dit nog voortgaan?
  • En wanneer gaan die Here finaal ingryp en ’n einde aan al die ellende maak, soos Hy in sy Woord beloof het?
  • Ja, wanneer sal Jesus weer kom en sal die tyd van die nuwe hemel en aarde aanbreek?
  • Sommige skrywers van die Bybel se boeke en briewe het 2000 jaar gelede reeds gedink dat Jesus se Wederkoms en die einde van die wêreld baie naby is.
  • Maar dit het nog steeds nie gebeur nie.
  • Wanneer sal Jesus weer kom?

#  Nou, ek dink Jesus se antwoord aan sy dissipels in Mark. 13 kan ons vanoggend help met ons eie onsekerheid oor die toekoms.

  • En die eerste belangrike ding omtrent Jesus se antwoord is dat Hy nie ’n presiese dag en datum gegee het waarop Jerusalem voor die Romeine sou val en die tempel verwoes sou word nie.
  • En net so kry ons ook nie in die Bybel ’n presiese dag en datum vir Jesus se Wederkoms nie.
  • In Matt. 24:36 sê Jesus selfs: “Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.”
  • Niemand weet die presiese tyd van Jesus se Wederkoms nie.
  • Niemand weet hoe lank presies die moeilike tye op aarde nog sal voortgaan nie.
  • En Jesus waarsku juis hier in Mark. 13 sy dissipels om op te pas vir misleiding.
  • Daar sal mense wees, sê Jesus, wat wel vir julle die presiese tyd van die einde sal wil uitwys.
  • Maar pas op, hulle sal julle net mislei!
  • En ons weet vanoggend self dat daar al dikwels in die verlede individue en ook groepe was wat die Wederkoms van Jesus probeer voorspel het.
  • Hulle het egter almal bedroë daarvan afgekom.
  • Destyds, sal u onthou, met die oorgang na die jaar 2000, was daar mos ook mense wat met groot oortuiging die einde van die wêreld sit en afwag het.
  • Maar die nuwe millennium het aangebreek en niks snaaks het gebeur nie.
  • Pas op dat niemand julle mislei nie, sê Jesus.
  • En Hy sê dit omdat net ons Vader in die hemel die presiese tye ken van sy groot plan met hierdie wêreld.
  • Ons weet hierdie dinge eenvoudig nie – net Hy alleen weet dit.
  • En daarom moet ons dit rustig in sy hande laat.
  • Moet ons die toekoms rustig in sy hande laat.

#  Maar dan is daar nog ’n baie belangrike saak wat deel is van Jesus se antwoord aan sy dissipels, hier in Mark. 13.

  • En wat is dit?
  • Jesus sê dat al die krisisse en rampe in die wêreld eintlik soos “geboortepyne” is.
  • Soos ’n vrou se geboortepyne wys dat ’n nuwe baba nou baie naby is, so wys die krisisse en rampe in die wêreld dat die nuwe hemel en aarde wat God beplan, ook baie naby is.
  • Ons kan sê: Die geboorteproses van die nuwe hemel en aarde het eintlik al begin.
  • Die nuwe tyd het eintlik al begin deurbreek.
  • Met Jesus se eerste koms na die aarde toe het dit reeds begin.
  • Jesus het vir ons sonde kom sterf, en uit die dood opgestaan, en sy Gees op ons uitgestort.
  • En só het Hy dit vir ons moontlik kom maak om nuwe mense te kan word.
  • Om nou reeds as nuwe mense te kan leef.
  • En so het ’n nuwe tyd vir ons aangebreek.
  • Toe Jesus begin preek het, het Hy dan ook gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”
  • Die nuwe tyd, die tyd van die koninkryk van God, het reeds begin, hoewel dit nog in die stadium van geboortepyne is.
  • Die pyne is al daar, maar die baba nog nie.
  • Die krisisse en rampe is al daar, maar die nuwe hemel en aarde nog nie.
  • Maar dít kan ons met sekerheid weet: die nuwe tyd het reeds begin.
  • En om dít te weet, kan ons almal help om moed te hou, terwyl ons nog wag op Jesus se Wederkoms.
  • Om moed te hou ten spyte van die onsekerheid van die toekoms, en ten spyte van die krisisse van ons eie tyd.

#  Nou, op hierdie punt moet ons tog ook sê: Dit is goed om nie net aan Jesus se Wederkoms te dink as iets wat iewers in die toekoms lê nie.

  • Op ’n manier moet ons vir Jesus eintlik elke dag na ons toe sien kom.
  • Dirkie Smit het iewers gesê: “Jesus verskyn aan almal van ons, daagliks, duisende kere, in onherkenbare gestaltes, op ongeleë tye, nes destyds daar in Betlehem en kyk of ons Hom herken en wil dien.”
  • En hierby kan ons seker sê: Jesus verskyn elke dag aan ons veral in die nood en behoeftes van ander mense.
  • Waar ons te doen kry met armes en siekes, met mense wat hartseer is en eensaam is, met mense wat uitgebuit of mishandel word, fisies of emosioneel, oral waar ons met mense se nood te doen kry, is dit eintlik Jesus wat aan ons verskyn.
  • En so het ons elke dag die geleentheid en die voorreg om in iemand se lewe ’n verskil te maak.
  • Terwyl ons wag op Jesus se Wederkoms, kan ons Hom reeds elke dag ontmoet in die nood en behoeftes van die mense rondom ons.
  • En dan sal Jesus, wanneer Hy as Koning op sy troon sit, ook vir ons sê: “Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van my gedoen het, het julle dit aan My gedoen.”
  • En ons weet Jesus praat in hierdie vers van mense wat siekes, en hongeriges en vreemdelinge gehelp het.

#  Hoe lyk die toekoms?

  • En wat hou dit vir ons in?
  • Op hierdie vrae het ons natuurlik nie duidelike antwoorde nie.
  • En tog hoef ons nie bang te wees vir die toekoms nie.
  • Ons kan weet: die Here se nuwe tyd het reeds begin.
  • Die slegte dinge wat ons vandag in die wêreld beleef, is soos geboortepyne, m.a.w. dit ís ’n moeilike tyd, ’n tyd vol krisisse en rampe.
  • Maar dit is tog, terselfdertyd, ’n tyd vol belofte en vol hoop, net soos ’n vrou se geboortepyne die wonderlike belofte van ’n nuwe baba inhou!

#  Jesus sal weer kom.

  • Die Bybel is baie duidelik hieroor.
  • En wanneer Hy weer kom, sal ons saam met Hom leef in die tyd van die nuwe hemel en aarde.
  • Maar intussen is baie dinge maar nog ontsettend deurmekaar in ons wêreld.
  • En daarom kan ons ons baie maklik oor die toekoms bekommer.
  • En vrees dat dinge nie vir ons reg gaan uitwerk nie.
  • Maar kom ons volg dan almal Paulus se ou-ou raad, wat hy gee in ’n brief wat hy as ’n gevangene gesit en skryf het.
  • Terwyl hy in die gevangenis sit, sê Paulus in Fil. 4:6: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.”
  • Ek het iewers ’n baie treffende Engelse weergawe van hierdie vers raakgeloop.
  • Dit klink só: “Be anxious … in nothing. Be prayerful … in everything.  Be thankful … in anything.”
  • Hierdie woorde kan ons gerus almal gebruik, en ook gereeld beoefen, wanneer bekommernis of vrees oor die toekoms ons wil oorweldig.
  • Kom ons gee die toekoms biddend oor in die hande van ons Here.

AMEN

 

css.php