Hemelvaartpreek - 21 Mei 2020

HEMELVAART – 21 MEI 2020

  1. TEKS:

Hand 1:1-11  My eerste boek, Teofilus, het ek geskrywe oor alles wat Jesus gedoen en geleer het, van die begin af  (2)  tot op die dag van sy hemelvaart. Voordat Hy in die hemel opgeneem is, het Hy deur die Heilige Gees bevele gegee aan die manne wat Hy as apostels uitgekies het.  (3)  Ná sy dood het Hy aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook getoon dat Hy lewe. In die loop van veertig dae het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat.  (4)  Terwyl Hy ‘n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het.  (5)  Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne ‘n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.”  (6)  Toe hulle ‘n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?”  (7)  Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie.  (8)  Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”  (9)  Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en ‘n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie.  (10)  Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan.  (11)  Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”

  1. PREEK:

In die Corona-tyd is die woord “vitueel” weer opnuut afgestof. Ons hou virtuele vergaderings op Teams en Zoom, “sien” mekaar op whatsapp, praat met mekaar oor 1000de kms en bid vir mekaar selfs oor die selfoon. Maar ons almal beleef dat dit tog maar nie die ware Jakob is nie. Al waai ons vir ons kleinkinders oor die selfoon en sien ons video’s van hulle, brand ons harte om hulle vas te druk en aan hulle te raak. Ook as gemeente mis ons mekaar se teenwoordigheid, die handdruk en oog-tot-oog kontak.

Vandag dink ons weer daaraan dat Jesus opgevaar het na die hemel. Het ons nou, met respek gesê, net “vitule” kontak met hom? Ja, ons weet dat ons deur gebed met Hom kan praat en lees van hom in die Bybel, maar is ek hier en Hy daar vêr iewers in die hemel? Eendag sal Hy weer daarvandaan terugkom na ons hier op aarde en Sy kinders saam met Hom neem, weer daar vêr wat ons die hemel noem. Intussen het Hy die HG gestuur om op ‘n “virtuele” manier by ons te wees en so half deur ons gewete en gedagtes met ons te praat en ons te lei en te troos. Waar is Jesus nou?

 

As ons vandag op Hemelvaartdag so oor Jesus se hemelvaart dink, is dit eintlk ‘n dag van afskeid tot Hy weer eendag, wie weet wanneer, terug gaan kom op die wolke.

 

En tog is dit nie die manier hoe die Bybel oor Jesus praat na sy hemelvaart nie. Kom ons luister net oor hoe Jesus Self praat oor Homself na die hemelvaart:

Mat 28:20  “leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek (Jesus) is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Efes 4:10 “ Die Een (Jesus) wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul”.

En as die Here Paulus (na Jesus se hemelvaart) op sy pad teëkom en met hom praat, vra Paulus….

Hand 9:5  “Wie is U, Here?” …. “Ek is Jesus,” antwoord Hy. “Dit is vir My wat jy vervolg.

Die Bybel is glashelder daaroor dat Jesus na Sy hemelvaart hier by ons lewend teenwoordig is. By ons en baie nader as wat ons dink. Hoe moet ons dit verstaan? As ons dink dat die hemel ‘n plek êrens ver weg van ons is, dan sal ons dit nie kan verstaan nie. Maar as ons oor die hemel dink as ‘n ander en groter manier van bestaan en ‘n werklikheid wat ook in en deur die werklikheid is en wat selfs baie groter en anders is as wat ons kan verstaan, dan begin Jesus se hemelvaart vir ons betekenis kry en gee dit ons hoop. As ons die hemel verstaan as ‘n baie groter dimensie of manier van hoe God werk en bestaan (en wat ons met ons klein aardse verstaan van dinge nie kan begryp nie), begin ons sien dat die hemel nie êrens in die buitenste ruimtes is nie (alhoewel dit natuurlik die buitenste ruimtes insluit), maar oral waar God teenwoordig is en waar tyd en afstand nie dit beperk nie. As Johannes sê dat met Jesus se geboorte, die Woord, mens (vlees) geword en onder ons kom woon het, dan is dit nie van ‘n ander planeet of plek waar Jesus gekom het nie, maar op ‘n ander manier sodat ons Hom kon sien en hoor en verstaan. Hy het soos ons geword. As Jesus dan opvaar na die hemel, dan gaan Hy weer terug na die manier van bestaan waarin Hy was voor Hy gebore is op aarde. Ek weet dit klink dalk nou bietjie tegnies, maar die belangrike ding wat ek glo ons moet vashou, is dat Jesus met Sy hemelvaart nie soos ‘n ruimtevaarder van ons weggegaan het nie, maar nou net op ‘n wonderliker en groter manier steeds by ons is. Daarom kon die Russiese ruimtevaarder,wat die eerste man was wat in die ruimte was in 1961, sê dat hy geen God daar in die ruimte sien nie. Hy kon nie verstaan dat Jesus nou oral op ‘n onsigbare (vir ons) manier oral teenwoordig is nie.

Miskien sal ‘n voorbeeld ons help. Daar is ‘n boek en fliek met die naam Flatland waar alles net breed en lank is. Alles is net op 2 vlakke: diekant toe en daaikant toe. So was daar sirkels en vierkante en reghoeke, maar almal net op 2 vlakke. En op ‘n dag kom daar ‘n ronde bal in hul wereld. Hulle kon dit glad nie verstaan totdat hulle self na die wêreld van drie dimensies gegaan het nie. Of dis amper soos wanneer ons by Game of Tafelberg Meubileerders kyk na hulle nuwe TV’s en ook na die wat drie-dimensioneel is. Dan sit jy ‘n bril op en skielik is alles anders! Dit voel vir jou of jy aan die goed kan vat en of die luiperd uit die TV spring en hier by jou is. Ons weet dit is maar net ‘n ander manier hoe hulle ons laat kyk na dinge en dis nie werklik so nie, maar as die Bybel praat van die hemel, dan is dit ‘n werklike dimensie wat ons op die aarde en in ons menswees nog nooit beleef of gesien het of kan verstaan of verklaar nie. Maar dis daar!

Toe Jesus hemel toe is, toe is Hy nie weg van ons af nie, maar op ‘n baie groter en wonderliker manier juis by almal teenwoordig op die hele aarde en oral en ook in alle tye! Ek bedoel: Hoe is dit in elke geval op dees aarde moontlik dat iemand by alle mense tegelyke tyd kan wees?! Dis ‘n dimensie wat ons nie kan verstaan nie. Maar nou is dit nie iets wat ons net eendag sal kan beleef en ervaar nie, op ‘n manier wil hemelvaart vir ons kom sê dat ons juis nou vir Jesus oral en elke dag bitter baie naby aan ons kan beleef en saam met Hom die lewenspad kan stap. Hoekom anders sou Jesus dan vir ons belowe het dat Hy met ons is te alle tye?

Hoe beleef en verstaan ons dit? Ek glo die Bybel leer ons dat dit juis deur die teenwoordigheid van die HG is. Maar dan moet ons nie dink dat die HG weer Iemand of ‘n Wese heel anders is as Jesus nie. Hoor hoe praat die Bybel weer:

Rom 8:9  Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie.

1 Kor 2:16  Daar staan geskrywe: “Wie ken die gedagtes van die Here? Wie sal Hom raad gee?” Maar ons, ons het die Gees van Christus.

1 Pet 1:11  Die Gees van Christus wat in hulle was, het vooruit verkondig dat Christus moet ly …

Jy sien, die Heilige Gees is eintlik Niemand anders as Jesus Self wat op ‘n ander, groter, fantastiese manier werklik, rêgtig, egtig, verseker, duidelik by ons is! Bitter baie naby aan ons is.

Wat is dit wat ons Here op hierdie Hemelvaartsdag onder ons aandag wil bring?

  1. Jesus Self is steeds by ons op ‘n nog wonderliker manier as toe Hy as mens in Palestina geloop het. Hy is ook na Sy hemelvaart in Retiefstraat, Mollstraat, die Paarl en Wellington. Hy is selfs nader as dit, Hy is op ‘n wonderlike manier IN ons! Hy het ons met hemelvaart nie op ons eie gelaat nie maar eintlik nog nader aan my en jou gekom. Daarom kan ons met Hom praat, staatmaak daarop dat Hy ons lei, troos en vergewe. So staan dit tog duidelik:

Rom 8:38-39  Hiervan is ek oortuig: (niks)… kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Met hemelvaart is dit vir ons ‘n groot geloofstroos.

  1. Soms is die persoon wat jou die meeste moedeloos maak in die lewe, ekself! Ek wil dikwels anders optree en leef en as ek my kom kry, stel ek die Here teleur en so ook myself. En dan probeer ek net harder om ‘n beter mens te wees en sukkel dan net nog meer. Vir ons het die Bybel goeie nuus:

Rom 8:4  Nou kan ons aan die eise van die wet (God se wil in my lewe) voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees (van Jesus).

Omdat Jesus nou by ons is en in ons werk kan ons moedhou ook met onsself. Het Jesus nie alreeds darem ook al ‘n paar dinge in die verlede in jou en my lewens verander nie? So was dit ook met die dissipels. Dit het tyd geneem vir Petrus en Matteus en Thomas en almal om te verander. Hou dus moed: Vertrou die Gees om jou en my ook meer en meer soos Jesus te laat wees al is dit net stukkie vir stukkie.

  1. As ons dit weer kom hoor het met Hemelvaart, dan roep Jesus jou en my ook op om Jesus vir ander mense om my elke dag te wees. Ons is immers geroep om Sy beeld uit te dra en te leef.

Hand 1:8  Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees ….”

Laat ons dus elke dag dit onthou en ons daarop bewustelik toespits om Jesus vir Koos en Susan en Sipho en Darrel en wie ook al my pad kruis te wees want toe Jesus opgevaar het, het Hy in Sy kinders ingevaar en wil nou Sy lewe deur jou en my leef.

Mag die Here ons gebruik om so ons doel op aarde uit te leef. Amen

css.php