1 PET. 1: 10 – 16 (2/3/25)
# Vandag dink ons dan daaroor na dat God heilig is.
- En om vir iemand te probeer verduidelik wat dit beteken dat God heilig is, lyk nie vir my heeltemal so ‘n maklike saak nie.
- Maar kom ons probeer ‘n paar belangrike dinge daaroor sê, sodat ons hopelik self ook beter verstaan wat ons bedoel wanneer ons sê God is heilig.
- En die eerste belangrike ding, dink ek, is dat God se heiligheid van ons vra om die grootste ontsag vir Hom as unieke Goddelike wese te hê.
- Absolute ontsag en respek, want Hy alleen is God.
- En Hy alleen is volkome heilig.
# Wanneer die Bybelskrywers verwys na God se heiligheid, praat hulle altyd met die grootste ontsag van Hom.
- Dink maar aan die bekende woorde in Jes. 6:3, waar die serafs mekaar toeroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.”
- So, as ons sê God is heilig, wil ons sê Hy is ontsagwekkend groot en goed.
- En Hy kan met niks of niemand anders wat ons ken, vergelyk word nie.
- In Jes. 40:25 vra die Here dan ook self: “Met wie kan julle My dan vergelyk, wie is soos Ek? vra die Heilige.”
- Ons heilige God kan met niks of niemand anders vergelyk word nie.
- In Hom is daar geen sonde of boosheid of donkerte nie, net lig en goedheid en waarheid en liefde.
- Hy is heilig.
- En in die gedeelte wat ons vanoggend saam gelees het, word daar verwys na ‘n keer toe die Here ook self baie spesifiek van Homself gesê het dat Hy heilig is.
- In Lev. 11:44 lees ons sy woorde, waar Hy sê: “Ek is die Here julle God. Wy julle aan my diens en wees heilig, want Ek is heilig.”
- So, as ons dit kort kan opsom, kan ons sê God se heiligheid gaan oor hoe onvergelyklik groot en goed en rein en vol liefde Hy is.
- Ver bo wat ons kan begryp.
- En ons kan ons hemelse Vader maar net prys en aanbid in sy heiligheid.
# Maar nou het ons vanoggend in 1 Pet. 1 duidelik gelees dat die Here ook van ons heiligheid verwag.
- En dit klink dalk amper vreemd.
- Want as God in sy heiligheid so onvergelyklik groot en goed en rein en vol liefde is, hoe kan ons ook wel heilig wees?
- Is dit nie te veel gevra nie?
- Ons is dan maar net brose en feilbare mense?
- En ons moet heilig wees?
- Hoe is dit moontlik?
# Nou op hierdie punt wil ek graag weer vir Jim Smith nader trek, die skrywer by wie se boek ons in ons reeks van hierdie kwartaal aansluit.
- Jim vertel van ‘n sekere gebeurtenis, én hy sê ook sekere dinge wat ons baie kan help met ons tema van vandag.
- So, kom ons begin by die gebeurtenis waarvan hy vertel.
- Hy vertel dat hy by ‘n gemeente gaan preek het waar hy ook omtrent 5 jaar tevore gepreek het, én dat hy min of meer dieselfde boodskap gebring het.
- En die klem van sy boodskap was dat God ons onvoorwaardelik liefhet, en dat God Homself deur Jesus se dood met ons versoen het.
- Na die diens kom daar toe 2 mense na Jim toe om met hom te praat.
- Die eerste was ‘n man wat 5 jaar gelede ook in die kerk was toe Jim daar gepreek het, en wat met trane in sy oë vir Jim vertel het hoe baie sy lewe na daardie preek verander het.
- Die man het in die vorige 5 jaar oor en oor na die preek op ‘n CD geluister, en hy wou net vir Jim kom bedank vir die boodskap.
- Die ander persoon wat met Jim kom praat het, was ‘n jong vrou.
- Sy wou na die diens ook vir Jim kom bedank, maar om ‘n baie ander rede as die man wat net voor haar met Jim gepraat het.
- Sy het vir Jim gesê dat sy die boodskap van die preek baie bevrydend gevind het.
- En hoekom bevrydend?
- Sy het gesê sy voel nou bevry van die skuld wat sy ervaar het oor die feit dat sy die afgelope 6 maande saam gewoon het met haar kêrel.
- Hoe sy die boodskap verstaan het, is dat Jesus ook klaar vir hierdie sonde van haar betaal het en dat sy nou bevry daar kon wegstap.
- En Jim was nogal geskok dat die vrou die boodskap so verstaan het.
- Want, ja, ons moet in die kerk heel eerste verkondig dat God ons lief het, maar ons moet ook verstaan dat God van ons verwag om heilig te lewe.
- En albei hierdie dinge is waar: God het ons ontsaglik lief, maar Hy wil ook hê ons moet heilig lewe.
# En dit bring ons by ‘n belangrike vraag.
- En die vraag is: Pla ons sonde wel vir God?
- Of kyk Hy as ‘t ware maar anderpad, omdat Hy so liefdevol en genadig is?
- En ek dink ons kan nie anders nie as om te sê: Ja, ons sonde pla vir God.
- Omdat Hy heilig is, pla dit Hom as ons onheilige en sondige dinge doen en dink en sê.
- En ‘n Bybelse woord wat vir ons sê wat God se reaksie op ons sonde is, is die woord “toorn.” (In Engels “wrath.)
- En hierdie woord kom sommer baie in die Bybel voor, veral dan in die Ou Testament.
- Maar dit kom ver meer as 200 keer in die Bybel voor, sê die bron wat ek geraadpleeg het.
- As heilige God is daar by God toorn oor sonde.
- En ons kan dit dalk ook noem “verontwaardiging” of “ontevredenheid.”
- Sy reaksie op sonde is toorn.
- Sy reaksie op sonde is verontwaardiging en ontevredenheid.
# Maar miskien moet ons ook sê wat God se toorn nie is nie.
- Dit is nie iets soos menslike woede nie.
- Dis glad nie soos ‘n menslike emosie, wat op en af kan gaan, en wispelturig is, en tot uitbarsting kan kom nie.
- Nee, Jim Smith van ons boek sê God se toorn is sy konstante weerstand teen sonde en boosheid.
- En daarom is God se toorn altyd deel van sy liefde vir ons.
- En is sy toorn eintlik tot ons voordeel.
# En hoekom kan ons sê dis tot ons voordeel?
- Ek dink een rede is dat God se toorn wil keer dat ons onsself, en mekaar, en ander, slegte dinge aandoen.
- Baie keer is dít tog waarop ons sonde neerkom: dat ons onsself, mekaar, en ander, slegte dinge aandoen.
- Dink maar aan wanneer daar fisiese of verbale geweld tussen mense plaasvind.
- Of wanneer daar seksuele molestering of verkragting is.
- Of huweliksontrou.
- Of diefstal en bedrog.
- Of waar mense uitgebuit word deurdat hulle heeltemal te min betaal word vir die werk wat hulle doen.
- In al sulke gevalle sien ons dat sonde ‘n groot nadelige effek op mense kan hê.
- Dit kan hulle erg benadeel en selfs hulle lewens verwoes.
- En omdat God heilig is en ons so liefhet, is sy toorn teen alle sonde gerig.
- Ons kan sê: God is teen my sonde, omdat Hy vir my is.
- Hy is teen my sonde, want Hy wil nie hê ek moet myself en ander daardeur benadeel of seermaak nie.
- En dit is dan ook God se wil, bv. in ‘n land se regstelsel, dat reg en geregtigheid moet geskied en dat onreg gestraf moet word.
- God is teen misdaad, omdat Hy vir al sy mense is, vir wie Hy so lief is.
# So, wat baie belangrik is om te verstaan, is dat God se toorn nie net met sy heiligheid te doen het nie, maar ook met sy liefde.
- En liefde moet ons dan nie net as ‘n emosie verstaan nie.
- Nie God se liefde nie en ook nie ons liefde moet net as ‘n emosie verstaan word nie.
- Dallas Willard het gesê: “Om lief te hê, is om die beste vir die ander te wil hê.”
- En dit is vir seker ook hoe ons aan God se liefde vir ons moet dink.
- Hy wil die beste vir ons hê.
- En daarom is daar ‘n vers in die Bybel soos Joh. 3:16, wat sê: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”
- Dis omdat ons hemelse Vader toornig is teen sonde en ons so liefhet, dat Hy sy Seun na ons toe gestuur het.
- En Jesus het toe al die skuld en pyn en swaarkry van ons sonde op Hom geneem.
- Sy kruisdood was die gevolg van die toorn van God teen ons sonde.
- Maar so het Jesus dan ook die mag van sonde verbreek en al ons skuld weggeneem.
- So het Jesus ons Verlosser geword!
# En terwyl ons nou van Jesus praat, in Jim Smith se boek kom hy in elke hoofstuk ook uit by dinge wat Jesus gesê en gedoen het.
- En in hierdie week se hoofstuk oor die heiligheid van God herinner Jim ons spesifiek aan wat Jesus oor sy Wederkoms en die oordeelsdag gesê het.
- Jesus het meermale gepraat oor sy Wederkoms en die oordeelsdag, en ook gelykenisse daaroor vertel.
- In Joh. 3:36 het Jesus bv. gesê: “Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom.”
- En in Matt. 16:27 het Jesus gesê: “Die Seun van die mens gaan saam met sy engele kom. Hy sal beklee wees met dieselfde heerlikheid as sy Vader en sal elkeen volgens sy dade vergeld.”
- So, in gedeeltes soos hierdie praat Jesus duidelik oor God se straf en oordeel.
- En ons kan nie hierdie gedeeltes uit ons Bybels uitknip en sê, soos iemand gesê het: God sal ons mos almal vergewe, want dis sy werk, nie.
- Nee, deel van die boodskap van die Bybel is dat daar ‘n oordeelsdag sal wees.
- Maar dis nie ‘n dag waarvoor gelowiges, wat die pad saam met die Here stap, bang hoef te wees nie.
- Dis nie ‘n dag waarvoor gelowiges enige vrees hoef te hê nie.
- Maar reg en geregtigheid moet aan die einde van die tyd wel geskied.
- Hoe presies, weet ons nog nie.
- Maar dit kan nie anders nie, want God is heilig!
# So, waar laat dit alles nou vir ons vandag?
- Ons weet God is heilig.
- En ons weet sy heiligheid beteken Hy is onvergelyklik groot en goed en rein en vol liefde.
- Maar dan weet ons ook dat Hy wil hê sy verloste kinders moet self ook heilig leef.
- In ons Skrifgedeelte van vanoggend het ons, in 1 Pet. 1:15 gelees: “Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees.”
- So ons lewens moet getuig van God se heiligheid.
- Ons lewens moet al hoe meer die goedheid en reinheid en liefde van God weerspieël.
- En ons sukkel natuurlik almal daarmee.
- Ons het dit ook nodig om gereeld teenoor die Here te bely dat ons nie in ons hele lewenswandel heilig is nie.
- Maar baie belangrik: ons kan hierin groei.
- Die Heilige Gees is op Pinksterdag uitgestort om in ons te kom woon, en om ons te laat groei in heiligmaking.
- Die Heilige Gees het gekom om sy vrug in ons te kom dra.
- En hierdie vrug is tot eer van ons heilige God.
- Dit is geheel en al tot sy eer.
- Luister net hoe beskryf Paulus dit in Gal. 5:22 en 23: “Die vrug van die Gees is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.”
- Dít is hoe ons heilige God wil hê dat ons lewens moet lyk.
- En dít is waarheen Hy ons elke dag meer en meer wil laat groei, deur sy Heilige Gees.
# Wanneer ons vanoggend die erediens gaan afsluit, gaan ons sing uit Lied 231.
- Maar ek het gedink ek wil sommer nou al die woorde lees wat ons gaan sing, want hierdie woorde praat so treffend oor die heiligheid van God en ook oor hoe ons as sy kinders graag heilig wil lewe.
- Ek lees lied 231: 1, 2 en 3:
Heilig, heilig, heilig, Here,
U is heilig sonder perk;
ons kom sing u Naam ter ere –
bid dat U in ons sal werk.
Ons onheiligheid, o Heer,
dwing ons op ons knieë neer.
Ons kom pleit om u genade:
Heer, verlos ons van die kwade.
Wat geskep is deur u hande –
dit was heilig, rein en goed;
maar die sonde bring die skande,
bring die seer in ons gemoed.
Ons verstand is swak en klein,
ook ons strewe is onrein.
Ons is, Heer, in skuld gebore –
sonder U is ons verlore.
Heil’ge God, herskep ons lewe,
en laat groei die goeie saad;
maak ons heilig in ons strewe,
in gedagte, woord en daad;
Ons wil U ons danklied bring,
en u lof, o Jesus, sing.
Laat u Gees ons lei, o Here,
om te lewe, U ter ere.
AMEN