JOH. 9: 1 – 23 (2/2/25)
# Soos u nou reeds weet, is ons tema vanoggend: “God is goed.”
- En baie Bybelverse praat dan ook uitdruklik van die “goedheid” van God.
- Daarby sal ons dalk ook uit ons eie ondervinding hierdie 3 woorde vanoggend wil beaam: God is goed.
- Kyk net wat gee Hy alles vir my.
- Kyk net hoe seën Hy my en sorg Hy vir my.
- Kyk net hoe goed laat Hy dinge vir my uitwerk in my lewe.
- God is goed!
- En ek kan Hom maar net loof en prys daarvoor!
# Nou die skrywer van die boek waarby ons in ons reeks aansluit, se volle name staan op die voorblad van die boek geskryf.
- Hy is James Bryan Smith, maar sy noemnaam is Jim.
- En so vertel Jim in sy boek hoe hy as predikant genooi was om by ‘n ander gemeente as sy eie te gaan preek.
- En hy vertel ook hoe dit die gewoonte in daardie ander gemeente was dat die prediker iewers aan die begin van die erediens uitroep: God is goed.
- En dan antwoord die gemeente deur te sê: Die hele tyd.
- En dan draai die volgorde net om en die prediker sê: En die hele tyd, waarop die gemeente antwoord: … is God goed.
- So dít is hoe die erediens daardie oggend begin het, waar Jim die genooide prediker was: God is goed. Die hele tyd. En die hele tyd… is God goed.
- En dan sê Jim dat dit in daardie stadium van sy lewe vir hom eintlik maklik was om uit te roep: God is goed.
- Dit was maklik omdat dit goed gegaan het met hom en sy gesin, en ook met sy loopbaan.
- Maar toe breek die dag aan dat dinge skielik heeltemal verander in hulle lewens.
- ‘n Groot krisis tref hulle.
# En nou wil ek dan net kortliks vertel wat in daardie tyd met Jim-hulle gebeur het, want dít het vir Jim regtig laat twyfel aan God se goedheid.
- Dít het gemaak dat hy nie meer so maklik soos vroeër sou kon uitroep: God is goed nie.
- So, wat het gebeur?
- Jim se vrou was 8 maande swanger met hulle tweede kind, ‘n dogtertjie.
- En tydens ‘n besoek aan die dokter is hulle ingelig dat die baba ‘n baie rare genetiese siekte het en dat sy heel moontlik by geboorte sou sterf.
- En, soos ‘n mens goed kan verstaan, het hierdie nuus vir Jim en sy vrou heeltemal platgeslaan.
- Tot in daardie stadium van sy lewe, sê Jim, het hy nog nie regtig iets baie slegs beleef nie.
- Maar nou moes hy en sy vrou een van die heel ergste dinge in die oë kyk wat met ‘n mens kan gebeur: die dood van jou kind.
# Die dogtertjie is toe nie by geboorte dood nie, maar sy was wel so erg gestremd dat sy net 2 jaar oud geword het.
- En Jim kon nie anders nie as om te vra: Hoe moet ek as ‘n Christen op hierdie verskriklike ding reageer?
- Hoe moet ek, wat glo dat God goed is, reageer op iets so tragies en hartverskeurend?
- Dit was nou nie meer vir Jim so maklik om uit te roep: God is goed nie.
# En om sake te vererger, was daar mense wat dinge gevra en gesê het wat dit vir hulle nog moeiliker gemaak het.
- So was daar bv. ‘n ander predikant vir wie Jim geken het en wat vir Jim uitgeneem het vir ete, om hom te ondersteun.
- Maar in die middel van die ete vra hierdie man toe vir hom: “Jim, wie het gesondig, jy of jou vrou? Een van julle moes gesondig het om te laat gebeur het wat met julle gebeur het.”
- En Jim was uit die veld geslaan.
- Kon dit dan moontlik wees dat hy wat Jim is iets so sleg gedoen het dat hulle gestraf is met so ‘n siek kind?
- Of het sy vrou dalk iets gedoen wat dit veroorsaak het?
- En as dit waar sou wees dat dit een van hulle se sonde is wat agter alles sit, dan beteken dit daar is eintlik ‘n goeie verklaring vir die kind se siekte.
- Een van hulle, of albei, het gesondig, en hier het hulle nou net hulle verdiende loon gekry, hulle verdiende straf gekry.
- Maar nou moet ek dadelik sê: Jim was baie ongemaklik met hierdie gedagte, dat sonde so direk agter hulle dogtertjie se lyding en dood sou gesit het.
- Hy was baie ongemaklik met hoe daardie ander predikant oor die saak gedink het.
# Maar daar was ook ander mense wat weer gepraat het asof God ‘n plan sou gehad het met die dogtertjie se gestremdhede en vroeë dood.
- Iemand het bv. vir Jim-hulle gesê: Die Here het ‘n rede hiervoor gehad.
- En iemand anders het gesê: Die Here wou haar eerder in die hemel hê as hier op aarde.
- Maar wat vir Jim al meer duidelik geword het, was dat hierdie mense se vrae en opmerkings eintlik vir God in ‘n baie slegte lig gestel het.
- Dit het ‘n prentjie van God geteken waarin Hy nie die goeie God is nie.
- ‘n Prentjie waarin Hy as ‘t ware hard en wreed is.
- Waarin Hy soos ‘n kwaai regter is – en as jy goed doen, sal Hy jou beloon, maar as jy sondig, sal Hy jou straf.
- En toe begin Jim iets baie belangrik doen.
- Hy begin vra: Maar wat sou Jesus sê oor ons en ons dogtertjie wat gesterf het?
- En wat sou Jesus sê van die prentjie van God wat baie mense vir ons teken, nl. dat Hy soos ‘n kwaai regter is wat sonde hard straf, soos in ons geval?
- Sou Jesus nie dalk anders oor ons hemelse Vader gedink het en gepraat het as hierdie mense wat so met ons oor Hom praat nie?
# En wat het Jim toe gesien toe Hy na Jesus se woorde en optrede in die Bybel gaan kyk?
- Hy het net een ding gesien, en dit is dat God goed is.
- En Jim verwys in sy boek na ‘n hele paar Skrifgedeeltes waarin ons Jesus hoor praat oor die goedheid van God.
- En die eerste Skrifvers wat ek graag vir u wil noem, is Jesus se woorde in Mark. 10:18.
- Toe die ryk jongman daar vir Jesus vra: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” begin Jesus sy antwoord deur te sê: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, en dit is God!”
- En dit verras ‘n mens dalk dat Jesus nie self “goed” genoem wou wees nie, maar dis duidelik: Hy wys weg van Homself, en Hy sê: Net Een is goed, en dit is God.
- Daar is by Jesus geen huiwering nie om te sê: God is goed!.
- Ja, God is goed, en daarom kan ons ook nie slegte motiewe of planne aan Hom toeskryf nie.
- Daarom kan ons nie sê: Omdat ek vandag hierdie of daardie sonde gedoen het, sál God een of ander tyd iets slegs met my laat gebeur nie.
- Sál Hy my vir my sonde straf nie.
- Ons moenie met so ‘n prentjie van ons hemelse Vader in ons koppe leef nie.
- God is goed, en sy bedoelings met ons is altyd goed.
- God is goed, en dít is ook die prentjie wat ons van Hom moet hê.
# Maar kom ons sê ook iets oor die gedeelte wat ons vanoggend saam gelees het, uit Joh. 9.
- Want ook in hierdie gedeelte het Jim baie belangrike woorde en ‘n baie belangrike optrede van Jesus raakgesien.
- Jesus word hier in Joh. 9 ‘n vraag gevra deur sy dissipels.
- En die vraag klink baie soos die vraag wat Jim se mede-predikant vir hom gevra het.
- Ons het gelees hoe die dissipels saam met Jesus by ‘n man was wat blind gebore is.
- En dan vra hulle vir Jesus: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?”
- En dan antwoord Jesus deur te sê: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.”
- En net daarna maak Jesus dan hierdie blinde man gesond.
- Hy praat m.a.w. nie eers verder met sy dissipels oor sonde en God se straf nie, want Hy stem ook nie met hulle vraag daaroor saam nie.
- Nee, Hy maak maar net die blinde man gesond.
- En so laat Hy almal daar sien hoe groot en hoe goed ons God is.
- Ons God is nie Iemand wat ‘n man sal straf met iets soos blindheid omdat sy ouers gesondig het nie.
- Nee, ons God is goed!
# Dit is sekerlik so dat enigeen van ons kan twyfel aan God se goedheid.
- Soos in Jim se geval kan ons veral maklik daaraan twyfel wanneer slegte dinge met ons of met ander mense gebeur.
- En as hier dalk ook vanoggend iemand hier is wat wil sê: Ek twyfel juis op hierdie oomblik, of in hierdie tyd van my lewe, aan God se goedheid, dan is dit tog ook iets wat ons moet erken.
- Ons kan dit tog in elk geval nie vir die Here wegsteek nie.
- En dis veel beter om dit ook eerlik teenoor Hom te erken.
- Maar die belangrike ding is: Wat doen ons dan daarna?
- Wat doen ons nadat ons erken het ons sukkel om te kan sê God is goed?
- Ek dink Jim van ons boek wys vir ons die pad aan.
- Hy het gaan kyk na wat Jesus gesê het oor die goedheid van ons hemelse Vader, en ook na dinge wat Jesus gedoen het, wat wys op die goedheid van ons Vader.
- En kom ons sê maar weer: Vir die ryk jongman het Jesus uitdruklik gesê: God is goed.
- Daar is net Een wat goed is, en dit is God.
- En toe Jesus se dissipels Hom hulle vraag gestel het oor die blinde man, en wie dan sou gesondig het, toe sê Jesus vir hulle: Nee, dit werk nie so nie.
- En Hy wys vir hulle die grootheid en goedheid van God deur die man gesond te maak.
- En as ons nóg ‘n belangrike Skrifvers vir vanoggend mag byvoeg by wat Jesus ons oor God se goedheid leer, dan kan ons beslis dink aan Matt. 5:45.
- Daar sê Jesus: “Ons hemelse Vader laat sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.”
- Jesus sê: God is goed vir alle mense.
- Nie net vir dié wat elke dag soet genoeg is, of wat naby aan Hom lewe, of wie se geloof sterk is nie.
- Nee, Hy laat sy son opkom oor almal en Hy laat reën oor almal.
- Hy sorg en voorsien vir alle mense.
- En sy goedheid bly onveranderd teenoor ons, selfs al stel ons Hom teleur en al twyfel ons dalk ook aan sy goedheid.
# Maar ek wil afsluit en u ook nog graag herinner aan iets wat Paulus in een van sy briewe oor die goedheid van God geskryf het.
- Ons het nou reeds vanoggend so ‘n klein bietjie stilgestaan by wat Jesus oor die goedheid van God gesê het.
- Maar Paulus sê in Tit. 3:4 iets baie besonders oor die goedheid van God.
- Kom ons lees vers 3 saam met vers 4.
- Paulus sê, in Tit. 3: 3 en 4: “Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en sinsgenot; ons het ons lewe in kwaadwilligheid en jaloesie deurgebring; ons was haatlik en het mekaar gehaat. Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn.”
- So, wat sê Paulus hier van die goedheid van God?
- Hy sê dit het aan ons verskyn.
- a.w. mense kon dit sien.
- Hulle kon die goedheid van God letterlik sien.
- En Paulus verwys hier natuurlik na Jesus.
- Toe Jesus na die aarde toe gekom het en ons kom verlos het van ons sonde, was dit niks anders nie as die goedheid van God wat sigbaar geword het.
- Jesus het gekom om alle twyfel hieroor uit die weg te ruim.
- God is goed.
- En ons sien dit die heel duidelikste in Jesus se lewe én in sy dood ter wille van ons.
# Dalk is daar vanoggend of in hierdie tyd iets wat vir jou of vir my laat twyfel aan die goedheid van God.
- Dalk het daar iets langs die pad van die lewe met ons gebeur wat hierdie twyfel by ons veroorsaak.
- Maar kom ons maak soos Jim en kyk weer mooi na wat Jesus gesê het oor die goedheid van God en ook gedoen het om te wys God is goed.
- En dan is daar ook Paulus wat eintlik vir ons sê: Kyk maar net na Jesus en julle sal weet: God is goed!
- Sy goedheid het in Jesus aan ons verskyn!
- Ja, in Jesus sien ons al die goedheid en liefde van ons God!
AMEN