FIL. 2: 12 – 18 (10/3/24)
# Ons wil vandag nadink oor die tema “God in my werk.”
- Maar waar ons gaan begin nadink, is by die laaste paar woorde van vers 12 wat ons nou gelees het, en dan ook die woorde van vers 13.
- Kom ons lees dit net weer: Paulus sê: “Werk met vrees en bewing aan julle verlossing. Want Hy wat die gewilligheid en die optrede in julle bewerk soos Hy dit goedvind, is God.”
- En nou kan iemand dalk vra: Wat op aarde beteken dit as Paulus in vers 12 sê: Werk aan julle verlossing?
- Het ons dan nie van kleinsaf geleer dat ons nie onsself kan verlos nie?
- Dat ons net verlos word omdat Jesus sy lewe aan die kruis in ons plek verloor het?
- En dít is mos oor en oor die boodskap van die Nuwe Testament.
- Ons word net uit genade verlos, deur dit wat Jesus vir ons gedoen het.
# So, wat bedoel Paulus dan as hy sê: Werk aan julle verlossing?
- Ek dink hy wil daarmee sê dat ons moet leer om ons hele lewe vir die Here te leef.
- Ons hele lewe moet meer en meer wys dat ons verlos is.
- Nie net ons lewe van Sondagoggend hier in die kerk nie, maar ons hele lewe.
- En dit is iets waaraan ons moet werk.
- Ons lewe by die werk moet wys ons is verlos.
- En ons lewe by ons huise moet dit wys.
- En waar ons ontspan, moet mense dit kan sien.
- 24/7 moet ons lewe wys ons is verlos.
- En dit is hoekom die kenteken van hierdie week se tema ’n horlosie is.
- Elke minuut wat die horlosie in my lewe aftik, moet tot eer van die Here wees.
- Elke minuut moet wys dat ek ’n verloste mens is.
- En ek kry dit natuurlik nie altyd reg nie.
- Daarom is dit so goed dat Paulus vanoggend vir ons sê: Werk aan julle verlossing.
- En ons hoef dit gelukkig nie in ons eie krag te probeer doen nie, want in vers 13 sê Paulus dan ook: “Want Hy wat die gewilligheid en die optrede in julle bewerk soos Hy dit goedvind, is God.”
- Die Here self help ons om ons hele lewe soos verlostes te kan leef.
- Hy self help ons om aan ons verlossing te kan werk.
# Maar kom ons vra dan nou ook: Hoe kan ons by ons werk en in ons beroep aan ons verlossing werk?
- Baie mense in die gemeente, seker die meeste, staan in ’n werk waar hulle van Maandag tot Vrydag, van 8 tot 5, hulle geld moet verdien.
- En natuurlik is daar mense met ander werksure en skofte.
- Maar ’n groot deel van ons werkende mense se dag word dan by die werk deurgebring.
- En die eerste belangrike beginsel vir ons as verlostes by ons werk is dat ons eintlike werkgewer die Here is.
- Hy is ons eintlike Baas.
- En al tik ek dan net by die werk ’n briefie namens my afdelingshoof, dan tik ek as gelowige daardie briefie ook vir die Here.
- In 1 Kor. 10:31 sê Paulus: “Of julle eet en of julle drink of wat julle ookal doen, doen alles tot eer van die Here.”
- So, ek tik ook daardie briefie tot eer van die Here.
- En ek hanteer daardie moeilike kliënt tot eer van die Here.
- En so werk ek ook by my gewone werk aan my verlossing.
- So oefen ek om elke oomblik in my werksplek soos ’n verloste mens te leef.
- En party keer sal ek misluk, en sal ek die Here en ander mense moet vra om my te vergewe.
- Maar môre kry ek dan weer ’n kans om daar in die werkplek soos ’n verloste te gaan lewe.
# Nou, in die geval van predikante en ander geestelike werkers is daar dikwels in die verlede gesê dat hulle werk nie net ’n beroep is nie, maar ’n roeping.
- Dat hulle ’n roeping van die Here uitleef in hulle werk.
- Maar eintlik kan enige gelowige se werk vir hom of haar ’n roeping wees.
- ’n Christen-onderwyser kan mos ook ’n roeping van die Here hê om met kinders te werk.
- En ’n Christen-dokter of -verpleegster kan ’n roeping hê om met siek mense te werk.
- En as jy ’n gawe van die Here gekry het om met jou hande te werk, of met syfers, of met rekenaars, of met kos, hoekom kan dít nie ook ’n roeping van die Here wees dat jy vandag dié werk doen wat jy wel doen nie?
- Elke eerbare werk op aarde kan vir my as gelowige ’n roeping van die Here wees.
- En in elke eerbare werk kan ek werk aan my verlossing en daarmee die Here vereer en verheerlik.
- En ek wil graag vir elke werkende persoon hier vra: As jy dit nie reeds so doen nie, wil jy nie jou werk of beroep begin sien as ’n roeping van die Here nie?
- En wil jy nie aan jou werk dink as ’n baie belangrike geleentheid om te werk aan jou verlossing nie?
# Nou is dit natuurlik so dat mense ongelukkig kan wees in hulle werk, ook baie ongelukkig.
- Die baas is dalk ’n probleem, of die werksomstandighede, of die werksdruk.
- En maklike oplossings is daar heel moontlik nie.
- Maar ook dan, selfs al is dit hoe moeilik, is die werkplek nog steeds ’n plek waar ek aan my verlossing moet werk.
- In vers 15 wat ons gelees het, sê Paulus juis dat gelowiges tussen ongelowiges moet skyn soos sterre in die heelal.
- Juis in moeilike en donker omstandighede, ook moeilike en donker werksomstandighede, moet ons skyn soos sterre in die heelal.
- Dis ons roeping: Om die Here se lig oral te laat skyn!
# Maar kom ons laat die horlosie nou ’n bietjie verder aanstap.
- Dit is nou na 5 in die middag.
- Die dag se werk by die werkplek is klaar.
- Of dit is Vrydagmiddag na 5 en die week se werk is klaar, as dit wel in jou geval so is.
- En die vraag is: Hoe werk ek nóú aan my verlossing?
- Hoe werk ek na-ure en naweke aan my verlossing?
- En hier gaan dit nou, soos u sal weet, oor ’n klomp verskillende dinge.
- Dit gaan bv. oor saam wees in jou huwelik en gesin en familie.
- Dit gaan oor kuier saam met vriende.
- Dit gaan oor sport en ontspanning.
- En in al hierdie dinge het ons ook die roeping om dit vir die Here te doen.
- Dink bv. maar aan die geleenthede wat ouers na-ure en naweke met hulle kinders het.
- Dalk moet jy jou kind help om teleurstelling of verwerping te hanteer.
- Of om ’n gesonde selfbeeld te ontwikkel.
- En dink aan die verhouding tussen jou en jou lewensmaat en ander gesinslede.
- Dalk moet jy nog baie meer moeite doen om genoeg tyd saam met hulle deur te bring.
- En dan is daar die kuier saam met vriende, en ander maniere van ontspan.
- En ook dáárin moet ek werk aan my verlossing.
# Maar daar is iets oor na-ure wat ek graag apart wil beklemtoon.
- En dit is dat ons almal deel is van ’n groter gemeenskap waarin ons bevoorreg is om te kan leef.
- Ons woon en leef in die Paarl.
- Dit is die woonplek en gemeenskap wat die Here vir ons gegee.
- En daar is baie keer dinge of organisasies waarby ons vrywillig betrokke kan raak in ons gemeenskap.
- Natuurlik kan almal nie lede van die stadsraad wees nie.
- Maar as ons iewers kan help om ons gemeenskap veiliger of skoner of groener te maak, dan moet ons dit as gelowiges tog sekerlik doen.
- En as daar een of ander vorm van nood in die breër gemeenskap is, soos bv. na ’n brand in ’n plakkerskamp, of na skade met oorstromings, dan moet ons as gelowiges tog sekerlik ook ons hand uitsteek en help waar ons kan.
- Om betrokke te wees in ons gemeenskap, dit is nog ’n geleentheid om na-ure aan ons verlossing te werk.
- Om te skyn soos sterre in die heelal.
# Maar nou wil ek graag ook kom by ons afgetrede lidmate.
- Ek is self semi-afgetree, en werk nog net 15 uur per week in die gemeente.
- En dit is natuurlik ’n ideale werkslading – ek kan dit regtig sterk aanbeveel!
- Maar, oor die algemeen, is daar mos hierdie een ding waarvan afgetredenes eintlik te veel het, en dit is tyd!
- En dit beteken daar is nou oorgenoeg tyd om by jou familie en vriende betrokke te kan wees.
- Ook oorgenoeg tyd om te kan stil word by die Here.
- En wat van daardie stokperdjie waarvoor jy dalk vroeër in jou lewe nie genoeg tyd gehad het nie?
- Maar dalk is daar ook iets in die gemeenskap of die gemeente waarby jy vrywillig betrokke kan wees.
- Die vraag is ook vir ons afgetredenes: Hoe werk ek aan my verlossing in hierdie fase van my lewe?
- Hoe streef ek ook in my aftrede daarna om alles wat ek doen tot eer en verheerliking van ons Verlosser, Jesus Christus, te doen?
# Maar kom ons kom by ’n laaste vraag.
- Ek het vroeër in die boodskap probeer sê dat nie net predikante en geestelike werkers ’n roeping van die Here kan hê nie.
- Elkeen van ons kan dit so ervaar dat die Here ons roep om ons gewone werk vir Hom te doen, of om by iets betrokke te raak waarin Hy ons wil gebruik.
- Maar hoe ontdek ons so ’n roeping van die Here?
- Hoe hoor ons sy stem daaroor?
- En dit is ’n baie belangrike vraag, want ’n mens hoor baie stemme in jou lewe.
- En nie elke stem help jou om te weet waarvoor die Here jou roep nie.
- Party stemme lei jou juis op ’n dwaalspoor.
- Tom Smith, van wie se boek ons in ons reeks van hierdie eerste kwartaal gebruik maak, vertel dat hy op ’n tyd as predikant met studente van die Universiteit van Johannesburg gewerk het.
- En een van die kleingroepies van studente onder sy sorg het uit voornemende rekenmeesters bestaan.
- Dit kon natuurlik ook studente gewees het wat studeer het vir ’n ander beroep, maar hierdie groep was net voornemende rekenmeesters.
- En toe Tom vir hulle vra waarom hulle besluit het om rekenmeesters te word, was almal in die groep se antwoord: “Ons wil baie geld maak.”
- Maar dan is Tom se kommentaar dat hierdie studente, met hulle eerlike antwoord, eintlik gewys het dat hulle na ’n verkeerde stem geluister het.
- Hulle het na die stem van Mammon, die geldgod, geluister.
- En daarom wou hulle in daardie stadium veral een ding met hulle opleiding en hulle lewens bereik, en dit was om ryk te word.
- En natuurlik is daar baie Christen-rekenmeesters vir wie dit nie net oor geld gaan nie.
- Vir wie hulle beroep ook ’n roeping van die Here is.
# Maar die punt is: Om by ons roeping uit te kom, moet ons na die regte stem luister, en dit is die stem van die Here.
- En ons weet dat die Here natuurlik baie keer ook deur ander mense met ons praat.
- Dan lei Hy ons eintlik deur ander se stemme.
- Of Hy lei ons deur omstandighede wat ons in ‘n sekere rigting stuur.
- Maar dan, natuurlik, moet ons ook luister na wat die Here in sy Woord vir ons sê.
- Luister na hoe Hy ons aanspreek deur die Bybel.
- En terwyl ons dan so stil is by die Here, is dit so belangrik dat ons vir Hom sal vra: Here, help my asb. om te weet wat u roeping vir my is.
- Help my om te weet wat my roeping by my gewone werk is, maar ook na-ure en naweke en ook in my aftrede.
- Ja, Here, hoe wil U hê moet ek al die ure van my lewe deurbring?
- Hoe moet my lewe 24/7 lyk?
- Hoe moet my hele lewe lyk, sodat dit in pas sal wees met u wil vir my?
AMEN
