Gemeentefinansies - Maart 2020

Wat het die afgelope paar jaar gebeur?

Sedert 2015 het ons inkomste jaarliks afgeneem sodat ’n totale inkomste van 2 975 454 einde 2015 gedaal het tot 2 527 724 aan die einde van die pas afgelope boekjaar (29 Feb 2020). Met stygende kostes is ons finansies dus al hoe meer onder druk.

Die Corona-virus

Bogenoemde maak dit natuurlik nie makliker nie! Geen eredienste beteken ook geen bankkollekte! Hou dit asb in gedagte wanneer jy jou dankoffer oorweeg.

Hoekom stel ons ’n nuwe dominee aan as ons finansies afneem?

Die kerkraad praat al ’n geruime tyd oor ons bedieningsbeplanning vir hierdie twee “groot” jare waar ds Hugo en ds Schalk onderskeidelik Julie 2020 en Oktober 2021 sou aftree (ds Hugo het intussen sy aftrede vervroeg tot einde Maart 2020 om die las op die gemeente te help verlig). Ons aanname is dat ons na ds Schalk se aftrede met slegs twee permanente leraars sal voortgaan. Indien huidige tendense voortduur behoort ons finansies dan in mooi balans te wees.

Die uitdagings was egter om die oorgangstyd met wysheid te bestuur sodat ons bediening nie skade lei nie. Die Internskap-opsie (waar die sinode twee-derdes van ’n pos subsidiëer) was vir ons ’n goeie geleentheid om ’n jong dominee in ons gemeentesisteem te kry met die oog op die toekoms, en natuurlik veral bediening aan ons jong volwassenes en jeug. Om die waarheid te sê betaal ons reeds in die 2020/21 boekjaar MINDER aan salarisse as in die vorige boekjaar!

Waar is ons nou?

Op die stadium is ons onder druk. Tydsraamwerke is dikwels moeilik om te bestuur. Ons beplan ook reeds jare aan die onderhoud aan die kerk en kon dit nie meer langer uitstel nie. Ons het van ons reserwefondse daarvoor geoormerk. (Die verf van die toring het ook probleme meegebring wat ons ’n ekstra R33 000 aan die verfprojek moet spandeer.) Daarmee saam moet ons ’n verlies van om en by R190 000 in die pas-afgelope boekjaar befonds wat beteken dat ons reserwes met die begrootte tekort van amper R130 000 vir die huidige boekjaar feitlik volkome uitgewis. (Die sinode beveel aan dat ’n gemeente ten minste 6 maande se uitgawes op belegging hou.) Dit beteken dat ons die gevaar loop om kontantvloeiprobleme te ontwikkel en nie ons maandelikse verpligtinge te kan nakom nie.

Hoe vergelyk ons met die res van die NG gemeentes in die Wes-Kaap?

Die goeie nuus is dat ons gemeente in die boonste helfte van gemeentes val as dit kom by wat ons na buite spandeer (13,4% teenoor die sinodale gemiddeld van 11,9%); en dit is voorwaar iets om op trots te wees.

Die slegte nuus is egter dat terwyl die Wes-Kaap se NG Gemeentes se totale inkomste die afgelope jaar met 7% toegeneem het toon ons ’n daling. Uit 225 gemeentes lê ons 134ste as dit kom by ons gemiddelde jaarlikse inkomste per lidmaat van R2122 p.j. teenoor die sinodale gemiddelde van R2668.

Wat kan ek doen om te help?

Jy kan bid vir ons gemeente (en dit is nie ’n manier om jou te manipuleer nie!). Ons vertrou dat die Here ons inkomste sal verhoog as dit sy wil is of ons sal leer hoe om te sny as dit sy wil is, of albei! Maar meer nog, dat ons al hoe meer lig en sout vir ons gemeenskap sal wees!

Ons moet egter ook weer ernstig besin oor die finansies wat die Here aan ons toevertrou en waarop ons dit spandeer. Ons erken dat tye swaar is, maar ons moet ook bereid wees om eerlike met onsself en die Here te wees oor ons prioriteite. Dit is moeilike vrae, maar hoe vergelyk ons dankoffer bv. met ander dinge (DSTV, selfone, tekkies, ons vakansies) waarop ons dikwels so maklik geld spandeer?

Ons as Kerkraad het vir mekaar gesê dat ons bereid is om voor te stap in hierdie pad van verootmoediging.

As jy nog nie ’n maandelike bydrae gee nie, wil jy dit nie oorweeg nie?

Wil jy nie dalk jou huidige bydrae ’n bietjie verhoog nie?

As ons die las versprei kán ons saamwerk om ons gemeente (en die Here se werk deur ons!) volhoubaar te maak!

Wat gee ons hoop?

Ons glo daar is ruimte vir groei. Ons gemeente het goeie harte en is altyd bereid om te help. Slegs 346 huishoudings uit 900 gee ’n gereelde maandelike bydrae en ons glo dit kan uitgebrei word. Die vergelykings met die res van ons streek bevestig dat ons tot ’n groter inkomste in staat behoort te wees.

Met slegs ’n toename van 3% in ons dankoffers, kan ons hierdie jaar afsluit sonder ’n tekort. Kom ons maak dit ons kollektiewe uitdaging!

Met kreatiwiteit en meer lidmate wat hul roepings en gawes ontdek en uitleef, kán ons gemeente floreer!

css.php