Geloofsgewoonte 2 - Saameet

Eet saam

Om saam te eet, is meer as om net jou honger te stil. Wanneer ons saam eet, gebeur daar meer as net om gelyktydig kos en drank in te neem. Ons is so gemaak! Om saam te eet, herinner ons nie net hoe afhanlik ons van God is nie, maar ook van mekaar. Ons het mekaar nodig. As ons mekaar moet liefhê, is saam eet ‘n baie belangrike deel van ons omgee-lewe. En dit begin by saam eet as gesin. Jesus het dikwels sy bediening gesentreer rondom saam eet: By Levi en ander sondaars, toe Hy kos gegee het vir 1000de mense, die saamviering van die Paasmaaltyd, die troue by Kana…

Die “etenstafel” is ‘n baie belangrike aspek daarvan om jou naaste lief te hê. In dié tyd kan ons nie kuier by mekaar nie, maar ons kan sorg dat ons as huwelikspaar of gesin een ete saam rustig eet. Hier doen ons die “saam ding”. Ons help met die voorbereiding, eet saam, gee kos aan vir mekaar, bid saam, dek saam die tafel af en sorg saam (of om die beurt) vir die skottelgoed. Om die etenstafel verskil ons ook, raak kwaad vir mekaar en vergewe. Om die tafel gee ons komplimente, wys ons dankbaarheid, vertel stories en vra vrae. Dis ook die plek waar ons luister na mekaar en saam bid en lees uit die Bybel. Elke keer kom ons weer terug na die tafel, eet ons weer saam – elke dag.

Om ons naaste te lief te hê soos onsself, begin by ons eie familie en onder andere ook rondom een ete saam per dag. Maar daar bly dit nie. Om iemand buite die familie af en toe te nooi om saam te eet, is min moeite maar propvol liefdespotensiaal. Veral ook nuwe intrekkers en mense wat nog nie jou vriende is nie. (Ek besef dit sal moet wag tot na die grendeltyd).

Deur ook ongelowiges te nooi om by geleentheid saam te eet en dalk vriende te kan word, is ons besig om die Boodskap op ‘n manier te bring waar mense ons woorde nie meer hoor nie. ‘n Mens kan vinnig wegstap van ‘n argument of gesprek, maar nie van ‘n etenstafel nie.

Uiteindelik, aan die einde van die tye, hoor ons die Bybel so praat:

Luk 13:29 Daar sal mense uit die ooste en die weste kom, uit die noorde en die suide, en aansit by die feesmaal in die koninkryk van God.

Is dit nie ook waarna ons uitsien as ons saam die Nagmaal gebruik nie?

Kom ons vat saam:

 Probeer, sovêr dit enigsins moontlik is, elke dag as egpaar of familie een ete saam eet by ‘n tafel (nie voor die TV nie). Kies ‘n ete wat julle die beste pas, sonder gejaagdheid.

 Nooi op ‘n gereelde basis ook bure of nie-vriende vir ete. (Vriende nooi mens vanself!)

 By die werk: Nooi kollega’s of ander personeel om (wanneer julle ‘n ete eet) dit saam te doen. Al

Al is dit net elkeen sy/haar eie kos soos ‘n gekookte eier of toebies. Dis ook maklik om vir iemand wat alleen is of eenkant is te nooi om sommer sy kosblik te bring en saam te eet.

css.php