Geloofsgewoonte 6 - Grense vir sosiale media
2. Bestuur jou Sosiale Media
Alle mense (jy ook!) is van nature nuuskierig. Ons wil graag weet van nuwe gebeure en dinge en wat aangaan met vriende en wat in die nuus is en… Vir ons Boomers was die koerant, die radio en die biblioteek en later die TV min of meer die hoofbronne van inligting. Op ‘n manier kon ons dit nog hanteer.
Dinge het drasties verander. Ons gaan haal nie meer stories en inligting van rakke af nie – hulle kom aangehardloop na ons! Hulle kom 10
na ons deur Facebook, elke app, Netflix, Youtube, Amazon, elke TV kanaal, Instagram, Twitter… En ons kan nie ‘n fraksie van al daardie inligting eers probeer hanteer nie. Dus: Ons sal moet kies. Die Latynse woord vir “kies”, is “Cide”. Dit beteken “sny af” of “maak dood”. En dit is wat ons sal moet doen met inligting as ons enigsins mens wil bly. Die keuse is ook belangrik want die stories wat ons toelaat in ons lewens vorm ons ook. Nie net die stories nie, maar ook die manier hoe hulle na ons kom.
As jy niks daaraan gaan doen nie, gaan hulle met jou maak wat hulle wil. DAAROM moet ons alle inligting in ons lewens bestuur. Die skrywer stel voor dat jy nie meer as 4 ure spandeer op sosiale media per week nie, maar jy kan dit aanpas soos dit vir jou werk. Ons het net soveel uur per dag. As jy nie keer nie, gaan sosiale media dit alles opvreet ten koste van baie ander belangrike dinge in jou lewe. As jy dus ‘n perk stel, maak jy dit vir jouself net makliker om reg te kies. Dis die raamwerk wat help. Onthou wat ons gesê het: Grense alleen gee vir ons vryheid.
Verder help dit ons om die skoonheid van die lewe te sien. Ek kan nie binne
10 minute 100 skilderye se skoonheid waardeer nie, maar wel een. Dit help ons ook om te onderskei – wat is reg en wat nie. Daarom is dit so belangrik om bv genoeg tyd te hê om die ware nuus te lees en nie net skinderstories en waarvan ek hou nie.
Wat beteken dit prakties?
Kyk bietjie hoeveel tyd jy op die oomblik spandeer op Sosiale media. Jou foon behoort jou daarmee te kan help. Stel dan vir jouself ‘n doelwit (bv 1 uur per dag) wat jy nie oorskrei nie.
Maak lyste van goeie flieks, nuuskanale of podcasts waarna julle kan kyk. Moenie blaai en blaai en blaai en vat wat voorkom nie.
Mag die Here ook hierdie geloofsgewoonte gebruik om jou te help op die pad van egte dissipelskap.
