Dis verbasend hoeveel goed op jou selfoon kom sit as jy slaap! Die nuutste nuus, miljuisende whatsapps, hier en daar ‘n verdwaalde sms, lywige e-posse, dagboek, die weer en die ewige Facebook …. En waar kry jy ‘n nuuskieriger wese as die mens (dis nou ek en jy)? Daarom hoef niemand ons te leer om, as eerste beweging wanneer ek my eerste ooglid oopmaak, die foon te gryp nie. 8
Aristoteles het eeue gelede al geskryf: “Ons is dit wat ons by herhaling doen”. As jy eerste ding in die oggend jou foon gryp (foon = die wêreld buite jou) word jy die slaaf van die foon se “bevele”.
As gelowige weet ons dat ons elke dag God se kompaslesing moet neem en ons lewens daarvolgens rig.
Psalm 143:8 Laat my elke môre u liefde ondervind, want in U stel ek my vertroue. Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop is op U gevestig.
Ons identiteit lê in Christus en nie in wat ons doen of moet doen of in die wêreld om ons nie.
Daarom is ons 4de gewoonte om eerste na God se liefde te kyk voor ek na die wêreld om my kyk. Dan begin ek die dag met my regte identiteit – as kind van God en nie in die eerste plek die gevolg of slagoffer van die wêreld om my nie.
Voor jy dus kyk na enigiets op jou foon, lees ‘n teksgedeelte uit die Bybel. Dit hoef nie jou stiltetyd te wees nie, maar luister na die belangrikste “nuus” eerste. Laat ons begin met ons ware identiteit: Geliefde kinders van die Koning!