JOH. 1:43-51 (9/1/22)
# Ons staan vanoggend nog aan die begin van hierdie nuwe jaar, hier op dag 9.
- En dit beteken onder andere dat daar in die volgende 12 maande allerhande uitdagings op ons wag.
- En hierdie uitdagings verskil natuurlik van persoon tot persoon, soos ons elkeen se lewe en omstandighede ook verskillend is.
- Maar as ’n mens nou vanoggend vir ’n oomblik terugdink aan Jesus se lewe op aarde, besef jy dat Jesus mos ook met baie uitdagings te doen gehad het.
- En sommige van hulle was sommer baie groot uitdagings!
- So moes Jesus bv. vir Hom ’n span dissipels kies, ’n span van 12 wat baie nou met Hom sou saamleef, en baie dinge by Hom sou leer, en ook baie dinge saam met Hom sou beleef.
- En wat dan, ná sy hemelvaart, sy werk sou moes help voortsit.
- So, dit moes vir Jesus ’n baie groot uitdaging gewees het om uit al die mense rondom Hom juis hierdie sekere 12 te kies.
# En nou gaan dit in die gedeelte wat ons so pas gelees het, oor twee van die 12 dissipels wat Jesus vir Hom sou bymekaar maak.
- Dit gaan oor Filippus en Natanael.
- En in die heel eerste vers wat ons gelees het, staan daar dat Jesus vir Filippus iewers raakgeloop het en vir hom gesê het: “Volg My!”
- En dit lyk of Filippus onmiddellik positief gereageer het.
- Jesus roep Hom, en hy begin dadelik om vir Jesus te volg.
- Filippus word in een oomblik ’n dissipel van Jesus.
- Maar in Natanael se geval, so lyk dit, verloop dinge so ’n bietjie anders.
- Hy hoor hoe Filippus, seker baie opgewonde, vir hom vertel: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef.”
- So Filippus sê vir Natanael: Ons het die Messias gekry, die Christus, die Een wat vir Israel gaan verlos.
- Ons het die Een gekry oor wie Moses en die profete geskryf het in ons heilige geskrifte.
- Maar Natanael is nie dadelik oortuig nie.
- Hy klink eerder ’n bietjie skepties as hy vir Filippus vra: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?”
- Jesus se tuisdorp Nasaret was maar ’n klein en onbenullige dorpie.
- ’n Klein plekkie op die platteland.
- En Natanael dink nie dat die Messias uit so ’n plekkie sou kon kom nie.
- Hy glo nie dadelik wat Filippus vir hom sê nie.
- Nee, hy bevraagteken dit.
- “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?” vra hy.
# En so laat dink Natanael ons dalk vanoggend aan baie mense in ons eie tyd.
- Mense wat dit ook vandag moeilik vind om te glo, of selfs onmoontlik vind om te glo.
- Mense wat die dinge wat in kerke geleer en verkondig word, betwyfel en bevraagteken.
- Ja, daar is mos mense wat ook sommer reguit sê dat die Bybel maar net ’n gewone boek is met ’n klomp ou verhale en mites, en dat moderne mense nie meer hierdie dinge kan glo soos mense van vroeër dit geglo het nie.
- En natuurlik verskil ons ook almal van mekaar.
- Sommige van ons sal baie makliker dinge glo wat deur ander aan ons oorgedra word, of wat deur die Bybelskrywers so lank gelede geskryf is.
- Ander sal weer baie moeilik oortuig word en eers self wil ondersoek instel voor hulle glo en aanvaar wat aan hulle oorgedra word.
- Party van ons glo seker van nature makliker, ander moet eers ’n klomp twyfel en onsekerheid oorwin voor hulle kan glo.
- En nou dink ek ook nie dat dit verkeerd is om vrae te vra oor ons geloof nie, en om vrae te vra oor die Bybel nie.
- Die Here het ons tog so gemaak dat ons dinge wil en kan ondersoek en dat ons dieper wil delf om dinge beter te kan verstaan.
- En dit lyk of Natanael ook iemand was wat eers diep gedelf het voor hy tevrede was met ’n antwoord.
# En nou is dit natuurlik so dat dit nie altyd maklik is om met mense te doen te hê wat baie vrae het nie.
- Mense wat skepties is en dinge bevraagteken.
- Mense wat dalk nie tevrede is met die antwoorde wat jy vir hulle probeer gee nie.
- En Filippus sou seker ook met Natanael kon sukkel in hulle gesprek oor Jesus.
- Want wat sou hy moes sê dat Natanael ook kon glo dat Jesus die Messias is?
- Watter argumente en bewyse sou hy moes aanvoer om vir Natanael te oortuig?
- Maar ons sien dat Filippus heeltemal ’n ander roete met Natanael volg.
- Hy raak nie in ’n woordewisseling met hom betrokke nie.
- Hy probeer nie self vir Natanael oortuig nie.
- Nee, hy sê eenvoudig vir hom: “Kom kyk.”
- En dan neem hy vir Natanael na Jesus toe.
- Dis asof Filippus vir Natanael wou sê: Kom kyk, en ontmoet vir Jesus, en besluit dan self of Hy die Messias is.
- Kom kyk, en besluit self.
# En dan is die volgende stukkie van Natanael se lewensverhaal ’n baie aangrypende stukkie geskiedenis!
- Jesus sien vir Natanael aankom, en Hy sê: “Hier is ’n ware Israeliet, ’n man in wie daar geen bedrog is nie.”
- So Jesus praat oor Natanael asof Hy hom goed geken het.
- En vir Natanael is dít natuurlik ’n groot verrassing.
- Maar as iemand wat graag vrae vra, en wat hom nie maklik van dinge laat oortuig nie, vra Natanael ook dadelik ’n vraag vir Jesus: “Waarvandaan ken U my?”
- Hoe weet U so goed wie ek is?
- Wat is hier aan die gang?
- En dan sê Jesus vir hom: “Voordat Filippus jou geroep het, toe jy nog onder die vyeboom was, het Ek jou al gesien.”
- Ek het jou al vooraf reeds geken, sê Jesus vir Natanael.
- En so sien ons dan duidelik dat Natanael hier in die teenwoordigheid van die Seun van God was.
- Hier staan hy nou voor dié Een wat ook vir elkeen van ons deur en deur ken.
- Dié Een vir wie die digter van Ps. 139 so treffend in sy gebed gesê het: “Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. U omsluit my van alle kante, U neem my in besit. Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.”
# Natanael ontmoet die Seun van God.
- Hy ontmoet vir Jesus wat ook vir elkeen van ons deur en deur ken, en dwarsdeur ons kan sien.
- En in sy ontmoeting met Jesus word Natanael ook ’n oortuigde volgeling van Jesus.
- Hy twyfel nie meer oor die Man van die dorpie Nasaret nie.
- Nee, hy roep nou uit: “Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!”
- En so het dit dan gebeur dat Filippus vir Natanael na Jesus toe gelei het.
- So het dit gebeur dat ’n persoonlike ontmoeting met Jesus, en nie ’n argument of redenasie oor Jesus nie, vir Natanael ’n dissipel van Jesus laat word het.
- En ons wat vanoggend hier saam is, sal seker almal kan vertel van ’n geleentheid of geleenthede waar ons ook vir Jesus ontmoet het.
- Natuurlik nie op dieselfde manier as toe Jesus destyds op aarde was nie.
- Maar dit gebeur tog nog steeds dat ons as mense vir Jesus ontmoet.
- Hy kom dalk na ons toe deur iets wat ons in die Bybel lees of hoor.
- Of Hy kom na ons toe deur iets wat in ons lewe gebeur.
- Of deur ’n gedagte of oortuiging wat die Heilige Gees ons net skielik laat kry.
- En dan weet ons net: Nou het ons hier met Jesus self te doen gehad.
- Nou het ons hier vir Jesus self ontmoet.
- En ons is oorweldig deur Hom, deur sy liefde en genade, en sy grootheid.
- En ons kan ook nie anders nie as om soos Natanael te sê: “U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!”
- Of soos die Romeinse offisier wat later vir Jesus aan die kruis sien sterf het en toe gesê het: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”
# Ons as mense verander gewoonlik nie maklik ons eie sieninge as gevolg van die argumente of redenasies van ander nie.
- Ons is baie keer seker ook net te trots om van standpunt te verander, of om te erken dat ons verkeerd was.
- Maar ’n persoonlike ontmoeting met Jesus het deur die eeue al miljoene mense totaal laat verander.
- En daarom kan ons ook maar net soos Filippus vir mense sê: “Kom kyk.”
- Kom ontmoet vir Jesus, en besluit dan self.
- Kom ontmoet Hom veral soos Hy Homself in die Bybel aan ons bekend maak.
- En besluit dan self of jy Hom wil volg.
- Ons beste argumente sal nie noodwendig iemand laat verander nie.
- Ons woorde sal nie noodwendig iemand help om ’n dissipel van Jesus te word nie.
- Maar Jesus self verander harte en gedagtes en lewens.
- En ek glo ons was almal al so bevoorreg om dit in ons eie lewens te kon sien gebeur: dat Jesus ook ons harte en gedagtes en lewens verander het.
- En natuurlik is ons nog nie soveel verander soos ons verander moet word nie.
- Die proses gaan nog voort.
- Maar ek glo ons kan almal vanoggend sê: Jesus hét my al verander.
- En nou kan ons weer vir ander daarvan vertel.
- En ook vir mense sê: Ek kan jou nie met my argumente oortuig nie.
- Ek gaan dit ook nie probeer doen nie.
- Maar gee vir Jesus self ’n kans.
# Deur sy persoonlike ontmoeting met Jesus het Natanael ook een van Jesus se 12 dissipels geword.
- En so begin sy pad saam met Jesus.
- En dit is werklik net die begin van die pad, want Jesus sê in vers 50 wat ons gelees het vir hom: “Glo jy omdat Ek vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom gesien het? Jy sal nog groter dinge as dit sien.”
- Op jou pad saam met My sal jy nog groter dinge sien, sê Jesus vir Natanael.
- En daarvan sou Natanael natuurlik ook later baie kon vertel.
- Van hoe Jesus bv. talle wonderwerke gedoen het, en hoe Hy sy lewe aan die kruis verloor het om ons te verlos, en hoe Hy uit die dood opgestaan het om die dood te oorwin.
- Natanael sou eintlik later eers werklik verstaan wat sy eie woorde op daardie eerste dag beteken het, toe hy gesê het: “U is die Seun van God.”
- U is Immanuel, God by ons.
- In U het die hemel vir ons oopgegaan en het die koninkryk van die hemel tot by ons gekom.
- In U het ons dinge gesien wat te groot en te wonderlik is vir ons begrip!
# Ons word almal vanoggend opnuut deur Filippus genooi na Jesus toe.
- Soos hy vir Natanael gesê het, sê hy ook vir elkeen van ons: “Kom kyk.”
- Kom kyk, en beleef die wonder van ’n persoonlike ontmoeting met Jesus.
- En volg Hom.
- En leef ook in 2022 as sy dissipel, wat sy boodskap van liefde uitleef en uitdra hier in die Noorder-Paarl, maar ook oral waar jy in hierdie jaar mag kom of gaan.
AMEN
