Kinderboodskap – 28 Julie: Samevatting van die boek Ester

Ons storie van vandag speel af in ’n baie moeilike tyd vir God se mense, die Jode. Hulle wou nie na die Here luister nie, en na baie waarskuwings, het ’n aaklige ding gebeur. Die magtige koning van Babel het hulle hele land verwoes en die mense wat oorgebly het as slawe na sy land toe gevat.

In die tyd was daar ’n pragtige Joodse meisie met die naam Ester. Sy was ’n weeskind wat aangeneem is deur haar oom Mordegai. Die groot koning van Babel, Ahasveros, was besig om vir hom ’n nuwe koningin te soek. Mooi meisies uit die hele koninkryk is bymekaar gemaak en vir ’n hele jaar lank het hulle skoonheidsbehandelinge gekry, amper soos in ’n spa! En Ester, was een van hulle. Almal met wie sy te doen gekry het kon sien sy is baie spesiaal, maar niemand het nog geweet sy is ’n Joodse meisie nie. Haar oom het haar verbied om te sê…

Toe al die meisies ’n beurt gekry het om na die koning te gaan, het hy uit almal vir Ester gekies, die Joodse meisie wat ’n weeskind is! Ter ere van haar het hy ’n groot fees gehou vir al die belangrike mense van die land.

Toe gebeur daar ’n vreeslike ding: ’n Bose man met die naam Haman is deur die koning die bevorder tot die die baas van al sy amptenare. Haman het ook vreeslik baie van homself gedink en die koning gevra om almal te beveel om voor hom te buig. Ester se oom Mordegai wou dit nie doen nie (Haman is mos nie God nie) en dit het vir Haman baie kwaad gemaak. Hy kry dit toe reg om die koning om te praat om hom die reg te gee om al die Jode in die hele land om een spesifieke dag dood te maak.

Ester se oom Mordegai het haar van hierdie bose plan laat weet. Sy moes iets doen! “Miskien is dit juis met die oog op ’n tyd soos hierdie wat jy koningin geword het!”, het hy vir haar gesê.

Ons moet onthou dit was ’n baie ander tyd as ons s’n. Vrouens was nie so belangriks soos mans nie. En die koning mag doen net wat hy wou. Almal het geweet dat as jy na die koning toe sou gaan sonder dat hy jou laat roep het, dan kon hy jou net daar doodmaak! As ’n jong vrou, en boonop deel van die slawevolk, moes Ester iets doen om haar volk te red!

Dink net hoe moes sy voel! Sy het haar reggemaak en voor die koning op sy troon verskyn. Toe hy haar sien het sy hart sag geraak: Hy het sy septer uitgesteek! Dit het beteken hy verwelkom haar. “Jy kan my enige iets vra, Koningin Ester, en ek sal dit vir jou doen,” het die koning gesê. Ester het gevra dat die koning en Haman by haar moet kom eet, dan sal sy vir hom vertel.

By die ete, het sy die koning gesmeek om haar en haar volk se lewe te spaar. Eers toe sy verduidelik het die koning verstaan: Haman het hom om die bos gelei! Die koning was woedend. Hy het Haman laat ophang aan die galg wat Haman vir sy vyand Mordegai laat bou het!

En Ester en al haar mense, is gered. Daar is ’n gesegde: God roep nie bekwame mense nie. Hy maak die wat Hy roep bekwaam. Die Here gebruik juis mense waarvan die wêreld dit nie sal verwag nie. Dan kry Hy die eer.

css.php