Wat bind ons saam?
Efes 2:11 – 22
Tema: Wat bind ons saam?
TEKS:
11Daarom, onthou dat julle destyds volgens julle sondige aard heidene was. Julle word onbesnedenes genoem deur diegene wat besnedenes genoem word, al is dit bloot liggaamlik deur hande verrig. 12Onthou dat julle in daardie tyd sonder Christus was, uitgesluit van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten opsigte van die verbondsbeloftes, sonder hoop en sonder God in die wêreld. 13Maar nou, in Christus Jesus, het julle, wat destyds ver weg was, naby gekom deur die bloed van Christus. 14Hy is immers ons vrede – Hy wat albei één gemaak het, en die middelmuur van skeiding, die vyandskap, deur sy liggaam afgebreek het. 15Hy het die wet met sy eise en reëls tot niet gemaak, sodat Hy, deur vrede te maak, in Homself die twee tot een nuwe mens kon skep, 16en sodat Hy albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, deurdat Hy daaraan die vyandskap vernietig het. 17En Hy het vrede as goeie boodskap aan julle kom verkondig, aan julle wat ver was, en ook vrede aan diegene wat naby was. 18Want deur Hom het ons albei toegang tot die Vader deur een Gees. 19So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar julle is medeburgers van die heiliges, en lede van die huisgesin van God, 20gebou op die fondament van die apostels en profete, met Christus Jesus self as hoeksteen. 21In Hom verrys die hele gebou, goed saamgevoeg, tot ‘n heilige tempel in die Here. 22In Hom word julle ook saam opgebou tot woonplek van God deur die Gees.
PREEK:
Ek dink die meeste van ons onthou nog met groot lekkerte die Rugby wêrelbeker-oorwinning van die Springbokke in 2019. As ‘n mens sou vra wat die geheim van hulle oorwinning was, dan sal mens seker baie dinge kon noem: Goeie spelers, baie goeie afrigter, slim tegnieke, fiksheid en nog ‘n hele paar ander goed ook. Maar dis duidelik dat daar ‘n sterk eenheid tussen die spelers was en daarin het goeie spanpraatjies (team talk) ‘n baie groot rol gespeel.
Ek wil nie vanoggend oor rugby gesels nie, maar die gedeelte wat ons gelees het is eintlik ook ‘n spanpraatjie onder mekaar sodat ons die beker kan wen en die beker wat ons moet wen is om geloofwaardige en getroue getuies van God se liefde kan wees sodat die wêreld (die ander spanne) sal glo. Ons afrigter is die HG en die woorde wat Hy gebruik is die gedeelte wat ons vanoggend gelees het. Wat is dit wat ons Afrigter vir ons wil sê?
Ek dink ons sal dit beter verstaan as ons so ‘n bietjie teruggaan op hoe dinge in en voor Jesus se tyd was met die Jode. In vers 14 praat Paulus van die middelmuur van skeiding wat afgebreek is. Waarvan praat hy? Hier is ‘n plan van hoe die tempel van die Jode in daardie tyd gelyk het. In die middel was die altaar en dit was dan ook die allerheiligste genoem. Daar mag net die priesters gekom het en ook net een maal per jaar as hy die offerande gebring het.
Dan was daar die voorhof wat bekend gestaan het as die voorhof van Israel. Daar mag net manlike, besnede Jode ingekom het. En dan was daar die voorhof waar die vroue van die Israeliete kon inkom. Aan die buitekant, was daar plek vir die nie-Jode (of Heidene, soos die Jode van daardie tyd hulle genoem het) as hulle na die tempel sou wou kom. En tussen hulle en die ander was daar mure wat hulle uit mekaar gehou het. As ons wat vanoggend hier sit, in daardie tyd na die tempel sou wou gaan, is dit die plek waar ons sou moes gaan staan: Buitekant die tempel.
Kan julle dink as ons so vandag kerk moes wees en die kerkgebou ook so moes gebruik het! Die wat meer as ‘n R1000 offergawe per maand gee, gedoop is en elke nagmaal gebruik het, mag in die eerste 5 rye sit. Die volgende 5 rye is dan vir die wat een nagmaal gemis het en tussen R500 – R1000 dankoffer gee. Ek wonder wie sou die wees wat dan daar op die gallery gesit het en die wat in hulle karre oor die radio buite moes luister!
Al wat mens hoor is mure, klasse, verskille, status – erger as apartheid! En wat meer is, dis juis ons wat buite sou moes staan – nie-Jode, eintlik heidene!
As ek weer die beeld van die Springbokspan kan gebruik: As daar groot verskille in die span was omdat sommige dink hulle is beter as ander omdat hulle nou al langer vir die Bokke speel as ander of omdat hulle swart of bruin of wit is of as daar verskille was oor uitvalle wat sommige spelers met mekaar het, dan is ek seker sou Rassie die span bymekaar geroep het en iets gesê het soos: “Manne, ek wil net vir julle sê: Nou draf ons op die veld as een span! Niemand speel vir homself nie. Jy is net so belangrik soos die speler langs jou of agter jou. Voorspelers is nie slegter of beter as die agterlyn nie. Gaan wen nou die beker!”
En eintlik is dit wat Paulus hier sê in die spanpraatjie met ons ook vanoggend.
13Maar nou, in Christus Jesus, het julle, wat destyds ver weg was, naby gekom deur die bloed van Christus.
Hy sê dat ons nou nie meer buitekant hoef te staan nie. Daar is nou nie meer mure wat maak dat sommige gelowiges beter as ander is of dat daar skeiding tussen kinders van die Here moet wees nie. Die bloed van Jesus aan die kruis het ons nou EEN span gemaak! Ons is so bevoorreg om almal na Christus te lewe want nou is al die mure wat daar ooit kon bestaan afgebreek. Dan gebruik hy die beeld van ‘n huisgesin wat omgee vir mekaar en ook die beeld van ‘n gebou wat stewig staan omdat Christus die Hoof van die gesin is en die hoeksteen van die gebou. En die gevolg wat Jesus se dood op almal wat in Christus glo het, is dat daar vrede is tussen mekaar. En die vrede beteken nie net nie-baklei nie maar omgee en liefde vir mekaar. Om te vergewe en mekaar te aanvaar en saam te werk. En dit alles om die beker te wen: Om getroue getuies van God se liefde vir mense te wees. So sê ons Hoofafrigter, Jesus immers Self:
35Dit is hoe almal sal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde teenoor mekaar het.”
Ons leef in ‘n wêreld wat uitmekaar verskeurd is. Elke 2de berig in die nuus gaan oor hoe stukkend die wêreld is. Ons sien dit verhoudings tussen mense en in huwelike, gesinne, in die politiek, die werksplek en selfs op die sportveld.
Dit was nog altyd so en sal vir seker so bly omdat die wêreld net een here dien – hulself.
Maar ons as Christene is geroep om ‘n ander moontlikheid te wys, maar nie net ‘n ander moontlikheid nie, maar ook ‘n ander werklikheid waar daar ruimte, vrede en liefde vir mekaar is.
Ongelukkig sluip hierdie selfaanbidding ook die kerk binne en bou gelowiges ook weer mure tussen mekaar. Verskillende maniere van klas en inkomste en hoe jy die Bybel lees en ras. So maklik kan die kerk ook ‘n groepie word van mense wat van mekaar hou of wat in alle met mekaar saamstem. Maar dis nie wat ons Afrigter sê nie. Ons getuienis aan die wêreld het eintlik geen krag en effek as ons maar net soos die wêreld is nie. Iemand het op ‘n keer gesê dat die kerk juis sy kragtigste getuies uitdra waar Christene van mekaar verskil – dus op die manier hoe ons verskil.
Die vraag is: Hoe kan ons as “span” saamspeel, lief wees vir mekaar, vrede hê met mekaar met al die verskille wat daar tussen ons is? Dit help ook nie ons maak asof ons van mekaar hou nie. Die verskille gaan ook nie verdwyn nie. Ons kulture gaan nie anders word nie en ons gaan nie skielik een taal praat nie. Christene gaan nie skielik van dieselfde musiek hou of saamstem oor alle etiese sake nie. Hoe op dees aarde gaan ons leef sonder mure sodat die wêreld kan glo?
Miskien sal ‘n komiese storie ons help daarmee. ‘n Klompie jare terug kuier ek net na Kunstefees by ‘n ouerige tannie op Oudtshoorn wat al redelik doof is. Haar man is toe al oorlede en sy vertel my dat haar 2 dogters haar genooi het vir na Whiskey-proe tydens die Fees. Sy vertel dit toe so:
“ Ek weet van whiskey af niks nie. Ons kom toe daar en daar sit ons toe in ‘n halfmaan by tafels met elkeen ‘n paar glasies iets in voor ons. Daar voor ons staan ‘n man wat prentjies wys op die muur en iets vertel, maar ek kan nie ‘n woord hoor wat hy sê nie. Ek begin toe maar so proe-proe aan die goedjies in die glasies en weet jy wat? Na ‘n rukkie kan ek elke woord hoor wat die man sê! En so proe ons toe al die glasies leeg en vertel hy mooi stories oor die goedjies in die glasies. En weet jy, toe ons daar uitstap, is daar nou ‘n mooi gesindheid onder ons!”
Nou-ja, die klompie mense daar om die tafel kom nie almal uit dieselfde agtergronde of oortuigings of ouderdomme nie, maar tog was daar ‘n mooi gesindheid onder hulle! Die goedjies in die glasies het gehelp dat daar ‘n mooi gesindheid onder hulle was.
Wat sal maak dat daar ‘n mooi gesindheid onder Christene kom? Dat die mure afgebreek word en daar onderlinge vrede sal wees tussen gelowiges, ‘n liefdeseenheid wat sal maak dat die wêreld sal glo? Paulus het die antwoord vir ons:
13Maar nou, in Christus Jesus, het julle, wat destyds ver weg was, naby gekom deur die bloed van Christus. 14Hy is immers ons vrede – Hy wat albei één gemaak het, en die middelmuur van skeiding, die vyandskap, deur sy liggaam afgebreek het.
Jesus Christus maak die verskil. Wanneer Christus die middelpunt van my lewe is, sal Hy die mure afbreek wat ekself bou tussen my en ander gelowiges. So, hoe maak en hou ek Christus die middelpunt van my lewe?
Dalk net ‘n paar rigtingwysers wat ons daarmee kan help:
- Dank die Here gereeld dat ek nie meer ‘n heiden is nie maar gered is deur die bloed van Jesus alleen.
- Bid dat die HG (die Gees van Christus) jou daagliks sal volmaak met sy gesindheid en liefde sodat ek en jy ook die vrug van Sy Gees sal dra.
- Vra die Here om nie net die verskille in ander gelowiges te sien nie maar ook Christus in hulle.
- Volg die voetspoor van Jesus – hoe dink jy sou Hy opgetree het teenoor gelowiges wat anders as ek is?
- Leer doelbewus ook gelowiges ken wat juis anders in baie opsigte as ekself is.
- Stel jouself tot beskikking van die Here en sy Koninkryk.
Daar word vertel dat in sommige dele in die dorre binneland van Australië die boere nie drade span om hul vee binne te hou nie maar slegs watergate maak. Die beeste word dan nie gekeer deur die drade nie maar getrek deur die water.
Wanneer ons as gelowiges ook al hoe meer die drade en die mure tussen ons afbreek, sal ongelowiges ook getrek word na die Bron van die Lewe wat Self gesê het:
… “Ek is die brood van die lewe. Wie na My toe kom, sal nooit honger word nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors word nie.” Amen.
SEËNBEDE:
Mag die Genade van ons Here, JX, en die liefde van God ons Vader, en die gemeenskap van die HG, ons Voorspraak, by elkeen van ons wees en bly. Amen.
