Oorgegee aan liefde en lewe
Stilword:
In Jesus is dood en lewe en kante van dieselfde munt – ons moet deelneem aan die dood – al die klein sterftetjie van elke dag en ons liggaam aan die einde, om ten volle deel te neem aan sy lewe – ewige lewe; nie net in tyd nie, maar in gewig.
Votum/seëngroet:
Die ware lig wat elke mens verlig,
was aan die kom na die wêreld.
10Hy was in die wêreld,
en die wêreld het
deur Hom ontstaan,
en tog het die wêreld
Hom nie erken nie.
11Hy het gekom na wat syne was
en tog het sy eie mense
Hom nie aanvaar nie.
12Maar aan almal wat Hom
aanvaar het,
het Hy die reg gegee
om kinders van God te word –
hulle wat in sy Naam glo.
13Hulle is nie uit bloed nie,
ook nie uit liggaamlike drang nie,
ook nie uit die wil van ‘n man nie,
maar uit God gebore.
14En die Woord het vlees geword
en onder ons kom woon,
en ons het sy heerlikheid aanskou,
‘n heerlikheid soos dié
van die unieke Seun van die Vader –
vol genade en waarheid.
Skriflesing:
Joh 12:1-8
Preek:
Aan die begin van die Nuwe Testament kry ons mos die vier boeke wat vir ons die storie van Jesus vertel. Die eerste drie, wat bekend staan as die sinoptiese evangelies, het baie oorvleueling. Geleerdes meen dat Markus die oudste is, en dat Mat en Luk reeds Markus tot hulle beskikking gehad het toe hulle hulle weergawes van die evangelie geskryf het – van daardie basis af het hulle hul eie ervaring en getuienis bygewerk. Al die evangelies is fyn saamgestelde getuienisse oor Jesus – eintlik ’n teologie in storievorm; dit wil nie net die koue feite oor Jesus gee nie, dit wil ons saamneem, beweeg, oortuig om Jesus te erken vir wie Hy is en Hom ook te volg.
Johannes se evangelie is dan die uniekste met heelwat materiaal wat ons net by hom kry. Hy is die een wat simboliek na ’n nuwe vlak toe neem – hy nooi ons uit om die heeltyd dieper te kyk. Van die begin af, is sy benadering anders.
“In die begin was die Woord en die Woord was by God en die Woord was self God.”
In Jesus skep God weer. Die Griekse woord Logos hou twee dinge vas en bring hulle bymekaar. God se woord wat volgens die Ou Testament nooit onverrigter sake na Hom toe teruggaan nie – dit laat God se wil gebeur. Van die eerste skeppingswoorde af hoef God net te praat en dit gebeur
Dan ook het Logos onder Grieke verwys na die dieper, verhewe kennis wat mense verlig tot ’n goddelike lewe. En dit, wil Johannes sê, is die skande van God wat mens geword het en sy lewe gegee het.
Wat alles gebeur tussen Jesus en sy goeie vriende, Lasarus, Martha en Maria van die dorpie Betanië, is van die belangrikste goed wat uniek is aan Johannes – en wat vir ons die mooiste en menslikste oomblikke in Jesus se lewe bring. In Joh 11, het ons seker een van die merkwaardigste stories in die Bybel – Jesus wat een van sy beste vriende opwek uit die dood, nadat hy al vier dae in die graf was. (En steeds hartseer was).
Maar hierdie wonderlike oomblik, laat die spanning net verder oplaai. Sommige Jode glo in Jesus, maar ander gaan dra stories by die Fariseërs en Joodse raad aan – en hulle begin beraadslaag om Hom dood te maak.
So hier aan die begin van hoofstuk 12 is dit ses dae voor die Pasga of Paasfees, waarvoor Jesus Jerusalem toe sou gaan en die nuwe offerlam sou word deur sy eie lewe te gee. En nou moet julle saam met my iets van die heilige, (sakramentele) gebeure beleef met jou sintuie.
Hier het ons hierdie pragtige aandoenlike oomblik – van oorvloed liefde en lewe – letterlik ’n wonderlike geur teenoor die doodsreuk van Lasarus se graf. Maar die dood bly nog steeds ’n bedreiging – nie net wil die Joodse leiers vir Jesus doodmaak nie, maar ook vir Lasarus, vertel Joh ons net in die volgende verse. Maar te midde van hierdie tekens van dood, vind ons hierdie viering van die lewe wat Jesus gee. Sy lewe is groter as die dood.
Baie spesifiek noem Joh vir ons al drie die familie-vriende in hierdie gedeelte. Maria steel natuurlik die kalklig, maar Martha bedien almal – sy is die voorbeeld van ’n dissipel (“As iemand My dien, sal die Vader hom eer.” 12:26). Lasarus lê ook aan by die tafel – dieselfde woord wat in 13:23 beskryf word om die dissipel te beskryf vir wie Jesus baie liefgehad het (“Een van sy dissipels, hy vir wie Jesus liefgehad het, het teen Jesus se bors geleun…” Al drie hierdie vriende van Hom is deur Jesus gevorm, gelei en liefgehê tot ware dissipels van Hom.
Maria se aksie is egter die fokus van verwondering en skande. As ’n mens ’n kort stukkie in Lukas wat net vir Martha en Maria noem (en nie Lasarus en enige van die ander verhale nie), dan is Maria vir die derde keer by Jesus se voete. Die eerste keer om net in stilte na sy lering te luister. Die tweede keer val sy by sy voete neer en huil oor haar broer. Maar die hartseer en pyn word nou vervang met oorvloed dankbaarheid. Die derde keer kniel sy om Hom met duur olie te salf vir sy begrafnis. Haar teenwoordigheid wys alreeds na Jesus se opstanding. Jesus het pas haar eie broer uit die dood uit opgewek. Maria ken die pyn en brutaliteit van die dood, maar sy weet ook dat die graf nie vir Jesus sal kan vashou nie.
Maria salf nie Jesus se kop nie, maar sy voete. Jesus gaan Jerusalem binne, wel as God se gesalfde (sy uitverkore Koning), maar nie op sy kop soos mens vir ’n Koning sou verwag het nie. Hy word nie deur die hoëpriester gesalf nie, maar deur ’n vrou. Jesus se intog in Jerusalem en sy identiteit as die Messias pas nie lekker by die vooropgestelde idees in nie.
Net in die volgende hoofstuk sou Jesus dissipelskap aan sy dissipels illustreer deur hulle voete te was. Dit was die sterk boodskap waarmee Jesus se dissipels los net voor sy dood: as Ek wat julle Heer en Leermeester julle voete was (dien), dan moet julle ook mekaar se voete was. Maria snap hierdie dienskarakter van dissipelskap nog voordat Jesus dit aan die ander dissipels moet illustreer. Die werkwoord vir “afdroog” word net hier en in die voetewastoneel deur Joh in sy evangelie gebruik.
Miskien is dit die hart en diepste betekenis van hierdie storie as Maria vir ons ’n voorbeeld word van dissipelskap nog voordat Jesus dit aan haar moes leer. Dit is haar liefde wat haar dryf om alles te gee, om niks terug te hou nie. Sy gooi omtrent ’n gewone arbeider se loon vir ’n hele jaar op Jesus se voete uit; daar is so baie van hierdie salf dat sy dit met haar hare moet opdroog – ’n intieme toneel. Hierdie simbool van haar dissipelskap dra sy nou aan haar eie liggaam. Sy deel as’t ware in Jesus se salwing.
Miskien het sy teruggedink aan Jesus se eerste wonderwerk by die bruilof in Kana – die reinigingswater wat wyn word. Jesus se eerste teken wat dui op die verrasende oorvloed, vrygewigheid en vreugde van God se komende koninkryk.
Maar geen wonder Judas is geskok deur die vermorsing nie. Maria is die beeld van dissipelskap en geloof, en Judas is die beeld van ongeloof en misleiding. Hy probeer Maria beskaam deur die Bybel se diep hart vir die arme, maar sy bedoelinge is nie suiwer nie. Hy soek ‘n kans om homself te help aan so ’n lekker bedraggie.
Godsdienstige skuld en skaamte word vandag nog gebruik om mense te mislei – want dit lyk altyd so voorbeeldig en preuts; deesdae praat mense van “virtue signalling”. Jy probeer jouself voorhou as baie ernstig oor sekere waardes, maar dit is net voorgee. Jou hart is ver van opreg, ver van God en die waarheid af. Net soos die duiwel in die woestyn gebruik jy die Bybel vir jou eie doeleiendes en manipulering. In die lewe van Judas sien ons waarop hierdie pad uitloop.
Ons kan weereens Jesus se woorde hier verdraai om te sê dat dit in elk geval nie sal help om iets vir die armes te doen nie – hulle sal mos maar altyd daar wees. Dit is nie die punt nie. Die koninkryk van God en die boodskap van die evangelie is juis ook vir hulle. Jesus se woorde hier eggo juis Deut 15:11 “Ja, behoeftiges sal nie uit die land verdwyn nie. Daarom beveel ek jou: Maak jou hand wyd oop vir jou volksgenoot, vir die magtelose en die behoeftige in jou land.”
Dit is juis as ons wonder of ons pogings om ’n verskil in hierdie wêreld te maak enisgins nog sin maak wat Maria vir ons die weg aandui met haar verrassende oorgawe aan lewe en liefde – aan Jesus self. Haar aksie het groter betekenis as wat sy dalk self besef. Jesus gee aan haar daad spesifieke betekenis deur dit op te neem en deel te maak van sy eie sending. Sy kry die grootste hoëpriesterlike funksie van alle tye.
Dieselfde is waar vir ons. Weens die lewe wat ons s’n is deur die dood van Jesus, word ons aksies ook opgeneem en deelgemaak van God se sending, sy doel hier op aarde – en so word dit gevul met waarde en betekenis, ten spyte van die vermorsing wat dit soms blyk te wees. Om oor te gee aan die liefde en die lewe van Jesus, in diens aan ander, maak saak! Amen.